Select Page
DEKAT
Oor ons · Sedert 1985

Veertig jaar van die Afrikaanse kultuurgeheue – en ’n lewende tydskrif wat steeds groei.

DEKAT het in 1985 verskyn – in die diamantjaar van Afrikaans as amptelike taal – as ’n nuwe tydskrif met die klem op gehalte. Vier dekades later staan daardie belofte steeds: intelligente, gesaghebbende leesstof vir die ingeligte, oordeelkundige leser.

Die naam

Waarvandaan “DEKAT”?

DEKAT is genoem na die Kat in die Kasteel die Goeie Hoop – die oorlangse konstruksie wat die binnehof in twee verdeel, ter beveiliging van die vesting. Op dié Kat staan die beroemde Thibault-balkon met sy Anreith-versiering, ook bekend as die De Kat-balkon. Die naam verwys na ons vervlegte Hugenote-, Geuse- en Dietse herkoms.

Die Kat self is ’n sluitstruktuur – ’n skans wat die vesting se skatte beskerm. So is DEKAT bedoel as ’n skans vir norme: vir gehalte, vir taal, vir kultuur.

Die missie

Nie net ’n lewe nie, maar ’n goeie lewe

“Dit is nie die lewe wat van die grootste belang is nie, maar die goeie lewe.” Na Socrates · uit die eerste uitgawe

Hierdie woorde het in die heel eerste uitgawe gestaan. Dit was nog altyd DEKAT se maatstaf: nie blote vermaak nie, maar ’n lewenspeil gerig op die instandhouding van gehalte.

Om sy hoë standaard te handhaaf, het DEKAT van die staanspoor af op alle terreine medewerkers gewerf wat reeds vir hul prestasies bekroon was – Hennie Aucamp · W.A. de Klerk · P.G. du Plessis · Anna M. Louw · Rykie van Reenen · Louis Krüger · Madeleine van Biljon · Martie Meiring · Thys Odendaal · Amanda Botha · William Pretorius – met buitelandse korrespondente in Londen, Nice, Milaan, Los Angeles en Genève.

Daardie toewyding aan gehalte het nooit verander nie. Deur die jare het die grootste name in Afrikaans vir DEKAT geskryf, en het die tydskrif stories vertel wat hul tyd vooruit was – oor kuns, taal, geskiedenis en die samelewing.

Die redakteurs

Veertig jaar, vele hande

DEKAT is gevorm deur ’n reeks redakteurs, elk met ’n eie stem – maar almal getrou aan dieselfde standaard.

1985–1988
Johan van Rooyen
Stigtersredakteur
1988–1996
Irna van Zyl
Redakteur
1996–1999
Joan van Zyl
Redakteur
1999–2000
Schalk Schoombie · Max du Preez
Redakteurs
2000–2002
Cobus Ackermann
Redakteur
2002–2006
Elzilda Becker
Redakteur
2006–2008
Wilhelm du Plessis
Redakteur
2008–2011
Louïne van der Vyver
Redakteur
2011–vandag
Elzilda Becker
Redakteur
Vandag

Ons brei uit

Vandag word DEKAT deur African Sky Publishing uitgegee, onder die leiding van redakteur en eienaar Elzilda Becker. Sedert 2006 verskyn dit ook in Engels.

DEKAT druk steeds boeke – onder meer die jaarlikse DEKAT LUX, ’n luukse 320-bladsy-koffietafelboek. Ons gaan nié heeltemal aanlyn nie; ons brei uit. Naas die gedrukte uitgawes is daar nou ’n lewende digitale tydskrif, ’n maandelikse nuusbrief en DEKATv.

En ná jare se werk het ons elke uitgawe sedert 1985 saamgestel tot één volledige argief – ’n kultuurskat van veertig jaar – wat nou aanlyn beskikbaar is. Die Afrikaanse storie, op een plek, deursoekbaar en bewaar.

Die argief

Word deel van ons eksentrieke familie.

Blaai deur die argief