Ria Winters se langverwagte biografie van Karel Schoeman — Daardie lewe — verskyn in Junie 2026 by Protea Boekhuis. Dit is ’n omvattende lewensverhaal van een van die belangrikste skrywers wat Suid-Afrika opgelewer het, en berus op bronne wat nog nooit voorheen benut is nie — onder meer sy uitgebreide navorsingsnalatenskap wat aan verskeie argiewe bemaak is. Waar Schoeman se eie Die laaste Afrikaanse boek (2002) opgehou het, gaan Winters voort tot sy dood in 2017. Met vergunning van die uitgewer plaas ons hierdie uittreksel uit Hoofstuk 9, “Kaapstad. Stabilisering: 1989–1998” — die jare waarin Schoeman ná dekades van omswerwing sy laaste tuiste in Kaapstad vind.
Uittreksel
Op 26 Oktober 1989 word Karel vyftig. Hy is “reeds oud”, het hy aan Elisabeth Eybers geskryf. Moontlik het hy dit grappenderwys bedoel ná die misverstand oor sy gespottery met háár ouderdom van ’n paar jaar vroeër, maar waarskynlik was Karel ernstig toe hy dit gesê het. Liggaamlik het hy ’n knou gekry deur die hoë werksdruk wat hy homself opgelê het vir die afhandeling van die Schreiner-boek, en geestelik is hy deur die aftakeling van sy moeder na ’n bespieëling oor sy eie wese gedryf. Wat ook bygedra het tot die oorpeinsing was die beëindiging van ’n verhouding met ’n man, “’n Christen met ’n wye verwysings- en belangstellingsveld […] en ’n uitsonderlike beheer van Afrikaans”.
Tydens een van sy vlugte vanaf Port Elizabeth na Kaapstad, ná ’n besoek aan sy huis in Cradock, het Karel uit die boek Inner healing, wat hy in 1978 gekoop het, gelees en “was dit skielik asof iets in my breek en die trane het oor my wange geloop waar ek alleen sit in die eersteklasafdeling[!] van die vliegtuig”. Waar Karel sy hele lewe lank die herinnering aan sy vader onderdruk en weggesteek het, dring die verlange na geestelike versoening onkeerbaar op. In sy outobiografie beskryf Karel ’n ander gebeurtenis wat ook hiermee verband hou:
… toe ek by my werk by die biblioteek laat een middag my kantoor binnekom en ontdek dat my kollega weg is huis toe sonder om my te laat weet. Hoogstens was dit nalatig of onbedagsaam van hom, want daar moes altyd iemand aan diens wees; dog wat ek ervaar het, was nie begryplike ergernis nie, maar blinde angs, ’n gevoel van volslae verlatenheid en selfs verraad so driftig en heftig soos die paniese reaksie van ’n klein kind, wat geensins geregverdig of verklaar kon word deur die omstandighede waarin ek my bevind nie, selfs met inagneming van die feit dat dit gaan om iemand met wie ek ook buite ons kontak by die werk ’n persoonlike verhouding van vriendskap gehad het. Verwonderd het ek die heftigheid van die emosie betrag wat my oorrompel – ek het reeds Jung begin lees, en emosies en onbewuste was nie meer vir my vreemde of dreigende begrippe nie, – en met dieselfde verwondering het ek besef dat dit inderdaad ’n klein kind is wat so panies reageer; verwonderd moes ek, met volharding en geduld, uiteindelik vasstel dat dit ’n kind van drie jaar is wat oor die jare nog altyd besig is om blindelings op die onbegrepe verlies van sy vader te reageer. […] Verras moes ek vasstel dat wanneer ek in ’n vertroulike of ontspanne situasie oor my vader praat, of selfs terloops na hom verwys, ek deur heftige emosie oorweldig word, ’n man van in die vyftig verstik in trane.
Was dit hierdie bewuswording, hierdie aansporing, vérder op die pad na volwassenheid, wat bygedra het tot die nugtere besef dat die huis in Cradock ’n fout is? Hy het steeds vasgehou aan die gedagte van ’n huisie op die platteland, maar besef die Oos-Kaap is nie die regte plek nie. Oënskynlik doen hy sonder veel moeite afstand van die ganse projek, die historiese woning wat hy met soveel insette en onkoste laat restoureer het, en ál die meubels, gordyne, matte en breekgoed wat hy met groot noukeurigheid uitgekies en gekoop het. Daar is briewe aan Nellie en Sandra Antrobus wat die indruk gee dat hy verlig is om van die huis ontslae te raak. Waarskynlik het die voorstel van Gerdrie van der Merwe dat daar in Trompsburg ’n mooi huisie op ’n hoek, naby die dorpskern, te koop is die wegvlug uit Cradock aangehelp. Gerdrie se ma, Bettie, woon in Trompsburg en daar was ’n vooruitsig op nuwe vriende en ’n nuwe tuiste. Trompsburg was ook nader aan sy Vrystaatse vriende, soos Zaza Pieterse en haar man Jan le Roux Pieterse. In hierdie tyd het hy hulle weer Besoek op hul plaas Groningen in Smithfield; Zaza het gerou oor die dood van haar seun wat in 1989 in ’n noodlottige ongeluk sy lewe verloor het en het diepe berusting by Karel gevind. “God is goed. God maak nie foute nie” het hy vir haar gesê.
Dit was in hierdie tyd dat Zaza en Jan werk daarvan gemaak het om plekkies soos Smithfield op die toeristekaart te probeer plaas. Hulle het gereël dat daar ’n bemarkingsvideo gemaak word waarin hul gasteplaas en die Vrystaatse plaaslewe uitgebeeld word. Karel was die skrywer van die teks en het ook die taak van regisseur op hom geneem. Karel voel ook dadelik tuis op Gerdrie se plaas in Donkerpoort. Gerdrie besit ’n baie groot biblioteek met ’n omvangryke geskiedkundeversameling, wat Karel dankbaar geraadpleeg het. In Augustus 1989 skryf Karel vir Sandra Antrobus: “Ek het nou egter die beoogde huis op Trompsburg gekoop en hoop om a.s. naweek op te gaan. […] Sodra ek op Trompsburg kan intrek, wil ek opkom Cradock toe en my goed pak, en hopelik sal ek met die verhuiser kan saam ry Vrystaat toe.” En net so verkoop hy via Sandra ’n deel van sy goed; die res trek hy in Oktober 1989 Trompsburg toe. Hy skryf: “Dis die 16de verhuising in 23 jaar, as ek reg getel het, en ek is heeltemal gelate – ek sien trouens nogal daarna uit om nogmaals ’n nuwe woonruimte te kan skep, al is dit met bestaande materiaal!”
In September 1989 word sy moeder vyf-en-tagtig. Begin Desember beplan Karel om Lesotho toe te gaan om ds. Albert Brutsch, die kurator van die argief in Morija, te besoek en navorsing in dié argief te doen. Chris Schoeman sou bestuur en onderweg foto’s neem wat hy vir sy eie werk nodig gehad het. Karel skryf in sy outobiografie: “Ek het geaarsel oor die onderneming, want sy was kennelik sterwend, maar dit was onseker hoe lank die proses kon duur, en bowendien het sy meestal geslaap en nouliks nog geweet wat óm haar gebeur, sodat ek ten slotte maar gegaan het.” Hy het sy navorsing gedoen in die ou sendingstasie in Morija waar die argiewe van die Franse sendelinge bewaar is. Daarna het hulle via Roma, waar hulle vriende besoek het, na Maseru gereis waar Karel van sy prokureur, wat ook ’n persoonlike vriend was, op 11 Desember verneem dat sy moeder vroeg daardie oggend oorlede is.
… toe die begeerde oomblik aanbreek, was daar net die verblindende pyn van verlies …
Karel Schoeman
In sy outobiografie skryf hy: “Só lank is ek hierop voorberei en het ek dit verwag, só intens het ek dit begeer as verlossing vir haar sowel as vir myself, en toe, toe die begeerde oomblik aanbreek, was daar net die verblindende pyn van verlies, ’n ontwrigtende fisieke pyn asof ’n ou, gevestigde boom met wortels en al uit my liggaam losgeskeur word; en daarna slegs vrede en verligting.”
Chris onthou hoe hartseer hy was die volgende oggend toe hy hom vertel van sy moeder se afsterwe. Hy het teen die verdriet geveg, sy hand oor sy oë gesit, maar dadelik weer sy selfbeheersing herwin. Sy prominentste herinnering van haar in haar laaste dae het hy vir Chris gesê, was “net die klein ou gesiggie in die bed”.
Karel en Chris het dieselfde dag verder gery en oornag in die Oxbow Lodge, hoog bo in die Malutiberge. Hulle het deur die skouspelagtige Motengpas gery met ’n afgrond aan die een kant. Hoe bedroef en alleen Karel was blyk uit sy woorde aan Chris: “So as ons hier die afgrond aftuimel, wat maak dit nou eintlik saak?” Chris onthou:
Die pad daarheen was geteer maar soos alle Lesotho-paaie was daar geen grensdrade weerskante nie, en ’n mens moes op die uitkyk wees vir kinders en diere langs en in die pad. By sommige plekke langs die pad het kindertjies vanuit die niet verskyn en “Money! Money!” gebedel, en hier en daar het beeswagters met hul kleurryke komberse om die skouers in die veld gedwaal. Vroue het ook in die lande met hul skoffels gewoel.
Oxbow kry baie sneeu in die winter en ek onthou nog die ski’s wat in die dakbalke van die gesellig-ingerigte kroeg ingeryg was. Ongelukkig was die atmosfeer vir ons gedemp deur die teenwoordigheid van ’n Lesotho-weermaggeneraal wat daar oorgebly het vir sy forelvangekskursie. Soldate het oral in die hotelletjie rondgesit. Een het nog naby my kom sit en gevra waarvandaan ons afkomstig was. Karel het agterna my aangeraai om so min moontlik aan die weermaglede te sê. Hy het nietemin nie senuagtig voorgekom oor hul teenwoordigheid nie.
Ons het in basiese bungalows oornag. Die rivier loop langsaan verby en daar is ook ’n-paar-meter-hoë waterval baie naby, en Karel meld juis die geluid van die water wat hy in die nag langs die bungalow kon hoor ruis. Die nagte in Oxbow is soos te verstane baie koud en temperature daal maklik ver onder vriespunt.
Die volgende dag is hulle verder. By Senekal wou Karel sy halfsuster opsoek om haar van sy moeder se dood in te lig. Hulle het haar by die huis aangetref en hy het vir ’n kort rukkie met haar gesels. Daarna ry hulle weer verder deur Clocolan, Wepener en Zastron. Hulle maak ook ’n draai in Cradock en besoek Sandra Antrobus op haar plaas. Dit was die laaste keer wat hy die dorp besoek het.
Suzette Botha verneem van kennisse van die afsterwe van sy ma en skryf aan hom. Karel antwoord: “Baie dankie vir die brief en deelname. Afgesien van ’n kort oomblik van intense verlies toe ek die nuus verneem, kan ek eerlik sê dat ek niks anders ervaar het nie as oorweldigende vreugde en verligting – vir ons albei. Die las het ook vir mý die laaste tydjie baie swaar geword.” Kort ná hul tuiskoms in Kaapstad reis hy af na Bloemfontein waar hy oorbly op Onze Rust, en ook by Suzette en haar gesin vertoef. Zaza reis ook op om haar simpatie te betuig.
Karel se prokureur het die verassing van sy ma gereël. By die begrafnisondernemer is sy moeder se as aan Karel oorhandig “in ’n wit kartondoos van die tipe waarin gebak verpak word, in ’n plastieksakkie gevul met wat lyk soos gruis, so slordig volgemaak dat van die as gemors het, los op die bodem van die doos, deur die besige strate van die middestad het ek die vrag gedra, verbaas oor die gewig daarvan”. Drie maande later, einde Maart 1990, neem hy die as na die Vrystaat en op Witlaagte, die familieplaas van die Botha’s, strooi hy dit soos sy moeder wou hê. Karel het ’n plek gekies naby Basotho-grafte. Net Suzette, haar geliefde Staffordshireterriër, en Karel was aanwesig. Toe Karel die as strooi, het die hond begin snuffel en die as gelek. Suzette was paniekbevange en het probeer om die hond weg te lei. Maar Karel het aan haar gesê: “Los die hond. Die natuur moet sy eie gang gaan.”
Karel het uit sy moeder se Nederlandse Bybel Psalm 103 voorgelees: “Want zoo hoog de hemel is boven de aarde, is Zijne goedertierenheid geweldig over degenen, die Hem vrezen. Zoo verre het oosten is van het westen, zo verre doet Hij onze overtreedingen van ons. Gelijk zich een vader ontfermt over de kinderen ontfermt zich de Heere over degenen die Hem vrezen.”
Intussen begin Karel aan nóg ’n nuwe roman skryf. Op 7 Januarie 1990 begin hy die eerste reëls skryf van die roman wat later die titel Verliesfontein sou kry. Hierdie datum van sy eerste notas verleen ’n sekere dimensie aan dié boek, gedagtig aan die feit dat hy toe pas sy moeder verloor het.
