Kuns

RUAN HUISAMEN, BEPERK EN ONBEPERK

Op 25-jarige ouderdom is Ruan Huisamen een van die deelnemende kunstenaars wat ’n werk moes lewer vir die 2016 US Woordfees se uitstalling, Bosch in Afrika, wat deur die 15de-eeuse kunstenaar Hieronymus Bosch geïnspireer is. Huisamen se Ship of Fools het ’n sensasie veroorsaak. ’n Haas onbekende jong kunstenaar sonder enige formele opleiding het die tonge los oor sy hiperrealistiese werk vol sosiale en politieke kommentaar. Skielik staan hy as kunstenaar sy aan sy in die teenwoordigheid van groot name. Gerard Scholtz vertel van sy ontmoeting met die ongewone jong kunstenaar en hoe hy hom leer ken het.

 

’n Paar maande later by ’n ete tydens ’n Kuns vir Kankerveiling sit ek langs ’n jong kunstenaar. Sy naam klink vaagweg bekend tot ek besef hy is die kunstenaar van Ship of Fools – die kunswerk in houtskool en wit kryt op Hahnemühle papier waar Zuma en andere met ’n groot anguskoei op ’n houtskuit vaar. Ek en die skugter jong man sukkel om die gesprek te laat vlot, soos dit soms met vreemdes gaan, tot hy vra waar ek woon. Ek antwoord, Rooiels. Sy gesig helder op met:

“Dit is waar ek kreef duik! Kan ek vir jou kreef bring?”

Op elke mooiweer kreefduikdag daarna kry ek ’n oproep. “Dis Ruan. Is jy tuis?”

Dan weet ek die motor staan alreeds in die koelte van die wildevyeboom. Dan kom hy druppend en half verleë om die hoek met ’n sak. Sy vangs vir die dag wat hy vir my gee, soos ’n offer. Vier krewe. ’n Grootse somergeskenk.

So is hy. En so het ek hom leer ken. Half skaam, die oë ontwykend. Ernstig en soms afwesig asof hy aan groter dinge dink. Maar as hy as eers aan die gesels kom, is daar geen keer aan onderwerpe of sy wye kennis nie. Dié buitengewone jong man met drie broers, wat vanuit sy ouerhuis in Durbanville werk, vertel dat hy gelukkige en gesonde kinderjare gehad het.

“Met ’n wêreld vol geïllustreerde boeke, blou lug, kakofoniese geelvinke en glimlaggende gesigte.”

Ek sê eendag vir hom toe hy so druipnat met die kreef voor my staan dat hy soos sy selfportret lyk, Idem II. Hy kry ’n trek om sy mond. Sy oë rol by my verby. “Die hoeveelheid detail wat ek daarin uitgebeeld het, is net soveel ’n simptoom van ydelheid as ’n poging om die uitbeelding so realisties as moontlik te maak.” ’n Tipiese antwoord.

Kyk ’n mens na die transkripsie van die werklikheid van daardie portretstudie is dit moeilik om dit van ’n super realistiese foto te onderskei wat met die beste lens geskiet is. Elke waterdruppel, elke porie op sy vel, elke nat haar op die jong man se gesig en lyf is ’n werklikheid, ’n groter werklikheid as wat die kamera se lens kan weergee. Geskets met houtskool op Fabriano-papier.

“Daardie selfportret is ’n studie wat standpunt inneem teen die massamedia waar daar die persepsie is dat fotografie, film of televisie realiteite die beste kan uitbeeld. Ek dink nie dit is waar nie. Hierdie is stadige kuns wat vir sowel my as kunstenaar en vir die kyker in ’n ander en dieper verhouding teenoor die kunswerk wil laat staan. Daardie nougesette aandag aan detail moet jou laat dink en voel,” sê hy en voeg hy by dat daardie selfportret, asook die Ecce Homo-reeks, se doel was om ’n ten volle besefde transkripsie van die werklikheid te skep.

Huisamen vertel dat hy as kind die eensame gewoonte gehad het om gesprekke met denkbeeldige mense te voer. Dan het hy tweedimensionele beelde geteken in die hoop dat hulle tot lewe sou kom.

Baie kere dwaal ons gesprekke weg van kuns en gooi ons wye draaie. Rolprente, ernstige leeswerk, geskiedenis, sake van die dag. Ek begin wonder of Huisamen nie ’n savant is wat feite en kennis, dag en datum, naam en titel, in een asem kan noem nie. Of dit nou oor die Japanse inval in Mantsjoerye is, of ’n rolprent wat in die 1950’s geskiet is met die naam van die regisseur en akteurs wat hy afrits. Ook huiwer hy nie om kritiek te lewer op die werk van Yuval Noah Harari nie. Waar kom hy aan al hierdie kennis en insigte?

“Op dieselfde manier as die jongmense van my generasie: die internet. Om te dink jy kan met ’n selfoon al die kennis van die menslike bestaan in jou handpalm vashou. Vir politiek, geskiedenis, kunskritiek, sosiologie en filosofie lees ek akademiese joernale. My gunstelingbronne oor rolprente is Sight and Sound, Criterion, Metacritic en die fliekblog They Shoot Pictures Don’t They? Alhoewel ek veral klassieke werke verkies, lees ek meer internasionale kontemporêre literatuur. Ek gebruik Chimurenga, The New York Review of Books, Paris Review en die London Review of Books as verwysings.

Op ’n mooi kreefduikdag staan Huisamen weer met die sakkie met vier krewe voor die deur. Ek wil nie ’n kunstenaar oor sy eie interpretasies van sy werk vra nie, maar Ship of Fools bly by my spook. Hy is nie suinig om te deel nie.

“Hieronymus Bosch se Ship of Fools het my geïnspireer vir die Bosch in Afrika-uitstalling. Die oorspronklike gelykenis van ’n skip van dwase dateer van Plato se Res Publica en dien as ’n allegorie vir hoe strukturele samelewing altyd in pandemonium verval. Ek het geprobeer om kommentaar uit te beeld op die kontemporêre Suid-Afrikaanse samelewing, waar die heersers hulle vergryp aan aardsondeugde.”

Ek stel dit aan hom dat hy ’n paar doelbewuste motiewe bygebring het.

“Ja, daar is die seksueel suggestiewe gebare by die jonger figure as ’n teken van verlore onskuld, of eerder die geperforeerde potensiaal van die toekoms. Die gevlekte hiëna heel voor simboliseer uiterlike dualiteit – die vroulike hiënas is bekend daarvoor dat hulle faux manlike genitalieë het om die manlike hiënas te verwar. Die swart angus dui op ’n donker en dreigende toekoms vir Suid-Afrika se kommersiële boerdery. In werklikheid kan die hele werk gelees word as ’n waarskuwing teen die gevare van ’n veranderende en vyandige klimaat vir die menslike samelewing.”

Huisamen verkies om met ’n houtskoolpotlood te werk omdat dit die kenmerke van sowel potlood en houtskool het. Hy voel houtskool bied ’n meer dinamiese verskeidenheid lig en skaduwee as wat grafiet doen, en ook ’n ryker sielkundige ervaring vir die kyker. Ten spyte van houtskool se reputasie, vind hy die medium ook baie meer plooibaar as hy foute maak.

“Het jy ’n eidetiese geheue?” vra ek hom eendag. Vir ’n oomblik ontmoet ons oë. Sy stem is altyd rustig en wanneer hy praat, klink sy volsinne formeel.

“Nee, ongelukkig nie. Hoe ouer ’n beeld in my geheue word, hoe meer waarskynlik word dit verdraai en word dit vervang met ‘n geïdealiseerde weergawe van wat ek dink ek gesien het.”

“Maar hoe gaan jy dan te werk?”

“Ek val soms terug op die metodes van die antieke Grieke deur ’n groot tekening in klein roosters te verdeel. Dan begin ek gewoonlik van die boonste linkerhoek na die onderste regterhoek teken. Ek probeer nie om ’n foto met meganiese akkuraatheid te skep nie, want dit sal my kreatiwiteit inperk.”

“Werk jy van foto’s af?”

“Alhoewel ek aanvanklik ’n foto as verwysingspunt gebruik, gooi ek dit halfpad uit en vertrou op my intuïsie. En gee meer aandag aan sekere aspekte van die tekening. Hierdie hele proses word gewoonlik binne ’n maand voltooi. So 130 ure per portret.”

“Jy moet dan seker emosioneel verknog raak aan so ’n werk?”

“Nie regtig nie. Ek beskou my werke as maniere om my denkproses visueel oor te dra. Selfs as ek die kunswerk verkoop, bly die inspirasie nog by my. Om die waarheid te sê, ek raak nie lief vir die werk nie. Ek hou van wat in die werk is.”

Wanneer daar na Huisamen se werk gekyk word, is dit moeilik om te glo dat hy geen formele kunsopleiding gehad het nie. Wat hy doen en wat hy weet, is selfgeleer. Hy het egter drie keer meesterklasse by Louis Jansen van Vuuren in Frankryk gevolg.

“Dit was ’n interessante leerproses.  Louis se benadering tot die visuele medium is versigtig, maar liries en uitbundig – ’n metode wat in skerp kontras is met my eie stadige en noukeurige modus operandi. Louis dring aan op gedurige herinterpretasie en verandering van tegniek in vergelyking met my eie onbuigsame en beperkende metode. Miskien die mees waardevolle insig wat hy by my tuisgebring het, is volgehoue ​​intellektuele nuuskierigheid en onbeperkte eksperimentering. Wanneer ek terugkyk op my eie werk sien ek hoe selftevrede ek geraak het, en dat ’n gevoel van stagnasie en ontevredenheid geleidelik ingetree het.”

Hierdie uitdaging aan Huisamen se onbuigsaamheid vind neerslag toe Van Vuuren hom weer na Frankryk nooi om ’n reeks voor te berei vir die uitstalling L’acte final.

“Daar was vroeg alreeds spanning tussen my en Louis oor ons verskillende benaderings. Ek het op deeglike voorbereiding aangedring. In teenstelling het Louis en die ander vier kunstenaars slegs op instink staatgemaak en byvoegings en weglatings gemaak terwyl hulle werk. Ek het op ’n manier van hulle roekeloosheid en oorspronklikheid gehou, en hoe vinnig en doeltreffend hulle kon werk sonder om uit te vee. Louis maak staat daarop om met die kreatiewe brein te teken. Hy sal begin om lyne baie vinnig op die bladsy te teken sonder om te weet wat volgende gaan kom. ’n Proses van konstante herkalibrasie. Dan begin hy om detail by die basiese vorms te voeg soos vase, eiers, neste, irisse … Ek het so lank in isolasie gewerk en selftevrede geraak. En skielik word ek gekonfronteer met ’n ander manier van doen. Ek moes my eie reëls oortree en sien wat daaruit gaan kom. So het die Vintage-reeks ontstaan. Portrette gebaseer op verwysingsfoto’s. Ek moet erken dat hierdie ‘onvoltooide’ werke my op ’n manier naak laat voel. Daar is geen maklike lesse in kuns of die lewe nie …”

Huisamen het ses werke vir L’acte final gelewer. Vyf is verkoop.

Wanneer die kreefman kom, is hy soms blou van die koue met: “Die water was rof en koud vandag.” Dan drink hy koffie met warm melk. Hy het al lankal aanspraak op ’n stoel op die stoep gemaak. Half in die hoek.

(Ons gesprekke keer altyd terug na letterkunde en flieks. Ek weet al dat hy fiksie en nie-fiksie lees, ook akademiese joernale en natuurlik opstelle oor rolprent- en literêre kritiek. Die nuutste op sy leeslys is Jamie O’Neill se poëtiese At Swim, Two Boys waar hy baie keer ’n woordeboek moes nadersleep – ongewoon vir hom wat soms verkies om na Engels oor te slaan. Hy vermy Twitter en Facebook en hy het nie ’n belangstelling in moderne poësie nie.)

Eenkeer kom sy pa saam. Bruingebrand. ’n Golfspeler. Ruan is daardie dag stil in die teenwoordigheid van dié joviale man. Daar word oor alles behalwe Ruan en sy kuns gesels. Ek begryp wat hy bedoel het toe hy my vertel het dat daar nie juis aanmoediging van familie of vriende was om sy kunstalent te laat ontwikkel nie. “Dit was my eie keuse, ek het self gekies. In my hoërskooljare was dit ’n bepalende kern van my identiteit. In 2018 moedig my kunsonderwyser my aan om aan die Tygerberg eisteddfod deel te neem. Ek kry toe hoogste lof, asook ’n trofee. Dit was die begin.”

Huisamen raak altyd stil as ons groet. Asof hy buite die gesprek staan. Soos ’n vreemdeling. ’n Buitestander. Hy glimlag nie. Hy het eenkeer vertel:

“Tydens ’n ysskaatsvoorval probeer ek ’n meisie beïndruk met ’n sprong wat verkeerd loop en ek val. Een van my snytande breek tot in die wortel en vir tien jaar dra ek ’n plastiekskerm oor my tande. Daar het ’n vrees ontstaan om te glimlag en dit bly steeds by my – tot vandag toe.”

Dit is Huisamen. Beperk en onbeperk.

 

About author

Articles

DEKAT is an award-winning lifestyle icon that celebrated its 35th birthday in 2020. Enjoyed by modern, free-thinking readers DEKAT is an award-winning lifestyle icon.
Related posts
CalendarEventsKuns

Tracey Rose retrospective on display at Zeitz MOCCA

The largest comprehensive retrospective of work by artist Tracey Rose will be on display at Zeitz…
Read more
CalendarEventsKuns

Corporeal forms on display at Goodman Gallery

Silence calling from one continent to another  is the upcoming exhibition presented by the Goodman…
Read more
CalendarEventsKultuurKuns

Jazz & Classical Encounters Festival Vol 2 @ Spier

The 2020 Jazz & Classical Encounters Festival Vol 2 @ Spier Amphitheatre featuring some of the…
Read more