wat druis so in jou kop – francis grobler

wat druis so in jou kop vannag?

jy weet tog dit maak die roepers wakker

en hou my uit die slaap

 

moenie uitgaan nie my lief!

 

maar sluit jou mond om die

bors van die aarde en

teug die soetheid van haar bies

 

want hoor hoe sak die wind in sy

eie spore en voel hoe stort die

berge in jou skoene as jou staan so

diep brokkel in die donker

 

vannag sal my mond jou weer

oor-en-oor vertel in iets soos

bid of bieg en dalk sal die klem

tóg voor dagbreek uit jou kake sak

 

wat druis so in jou kop vannag –

jy hou my uit die slaap

 

francisgrobler2018©

By |2018-12-18T11:05:39+00:00December 18th, 2018|Hoofartikels, Kultuur, Skrywers, Taal|