Koos Kombuis

Ons ken almal so iemand. Hy is iemand se boetie se beste pel, hy woon op ’n plek waarvan niemand presies die adres kan onthou nie, en hy skryf die amazingste songs. “As Pietie net by die regte mense kan uitkom,” so word daar gesê, “sal hy wêreldberoemd wees.”

In die meeste gevalle hoor niemand ooit van Pietie behalwe sy ma, sy beste pel se sussie en sy onmiddellike bewonderaarskring nie. Pietie kom nooit sover om ’n video op YouTube te plaas nie. Die jare gaan verby, en later vergeet selfs sy beste vriende van hom en van sy Groot Talent.

Terwyl Pietie in die vergetelheid verdwyn, maak die een na die ander middelmatige Afrikaanse musikante geld soos bossies. Party van hulle word selfs bekend oorsee.

Hoe gebeur dit? Wat is dit wat sommige ouens laat uitstyg bo die res en hoekom let die wêreld sulke musikante op eerder as vir Pietie?

Die groepie Afrikaanse liedjieskrywers en sangers wat sedert die aanvang van die Afrikaanse musiekrevolusie internasionale sukses behaal het, is nie baie groot nie. Tog is dit die moeite werd om na hierdie handjievol suksesverhale te kyk. Dalk is daar ’n les te leer hier vir die Pieties onder ons?

Op die oomblik is verreweg die suksesvolste “Afrikaanse” groep – ek plaas Afrikaans in aanhalingstekens, want hulle sing meesal in Engels – natuurlik Die Antwoord. Hul sukses is 99% te danke aan bemarking en verpakking en 1% aan oorspronklikheid en talent. In daardie opsig is hulle die eksakte antitesis van Pietie, wat niks van bemarking, verpakking en selfpromosie weet nie.

David Kramer is ook bekend in Londen en elders, maar hy het dit nie werklik gemaak daar as Afrikaanse musikant nie, maar as dramaturg, regisseur en promotor van al die ander talentvolle plaaslike musikante wat in sy dampkring beweeg. Ten spyte van sy groot bekendheid in die West End, weet niemand daar hoe klink “Blokkies Joubert” nie. ’n Selfs groter tragedie is dat die Britte tot nou toe nie kennis geneem het van David se enkele Engelstalige album, die briljante Baboondogs nie. Hoewel dit tel onder sy beste werk, en ongetwyfeld van internasionale kwaliteit is, was dit ook plaaslik sy swakste verkoper tot dusver. Laat ‘n mens dink, né? As Arno Carstens dit kon maak met sy Engelse liedjies, wat skort met David Kramer?

Dis gelukkig nie waar dat slegs talentlose plaaslike kunstenaars oorsee sukses behaal nie, of dat slegs die minder goeie produkte van kunstenaars wat wel talentvol is, ’n kans kry. Van ons mees begaafde sangers het wel al naam gemaak in die Lae Lande: Johannes Kerkorrel, Amanda Strydom, Jack Parow, Wambuseun en Gert Vlok Nel, om maar net ’n paar te noem. Veral Gert Vlok Nel se briljante tweede album, wat plaaslik nie ’n groot indruk gemaak het nie, word daar werklik na waarde geskat.

Maar waarom so min van ons?

Ek kan nie help om te dink aan die swetterjoel werklik begaafde plaaslike kunstenaars wat eintlik hul plek sou kon vol staan op internasionale verhoë nie – musikante van wie sommige inderdaad reeds oorsee opgetree het – maar wat, om die een of ander rede, nooit werklik die verbeelding van die gehore oor die water op groot skaal kon aangryp nie.

Parlotones

Dit frustreer my geweldig dat mense met emmersvol talent soos Anna Davel, Zanne Stapelberg, Andra en Nianell nog nie op almal se lippe is nie. Wat het Suid-Afrikaanse groepe soos Seether, Just Jinjer, Danny K en die Parlotones wat hierdie sangers nie net nie?

Miskien die hartseerste geval van miskende talent waarvan ek weet, is die geval van iemand wie se naam toevallig soos Pietie s’n klink; ene “Pietman”.

Pietman Geldenhuys het alles aan sy kant, en tog weet selfs die meeste Suid-Afrikaners baie min van hom. Hy het die stem, hy het die looks, hy het die image en hy het ’n fenomenale talent met woorde en konseptualisering. As die wêreld van Pietman sou hoor, sou hy meer bekend wees as Justin Timberlake, One Direction en al die kamtige cool name saam.

Die Antwoord

Kom ons spot nie die Antwoord nie, hulle het die moed gehad om in hulle produk te glo.

Dis ook nie asof Pietman sy talent onder ’n maatemmer wegsteek nie. ’n Paar jaar gelede het hy ’n album met Engelse liedjies gemaak onder die naam Peter Mitchell. Die album, ’n klomp geweldig treffende, konseptuele liedjies onder die titel Hamlet by Night het enkele rave reviews gekry in een of twee plaaslike publikasies, waarna dit weer in die niet verdwyn het.

Ek beskou Hamlet by Night as een van die beste albums wat tot nog toe in Suid-Afrika vervaardig is. Dis ’n bewys van onse Pietman se enorme intelligentsia musicale en verwysingsveld, sy voortreflike musikaliteit en sy skeppingskrag met woorde. Om die waarheid te sê, ek voel oor Pietman soos wat sekere ouens oor die spreekwoordelike “Pietie” voel. Waarom het hy dit nooit gemaak nie?

Toe ek Pietman laas gesien het, het hy ’n koffie sit en drink in ’n klein kafeetjie op die Strand se promenade. Ek moes twee keer kyk voordat ek hom herken het. Ons het ’n paar woorde gesels en ek het aanbeweeg.

Ek weet dit, en daar is ’n paar fans van Pietman wat dit weet: hierdie ou behoort nie ongesteurd te kan sit en koffie drink in die Strand nie. Hy behoort martini’s te drink in Soho. Hy behoort van die een hotel na die ander gejaag te word deur paparazzi en bewonderaars. Hy moes al lankal op die voorblad van die internasionale Rolling Stone gewees het.

In stede daarvan sit hy en drink sy koffie in ’n onbekende kafeetjie in die Strand en staar uit oor die mistige see en wonder waar sy volgende ete vandaan gaan kom.

Dis ’n blerrie skande. En daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Behalwe om te hoop hy lees hierdie artikel. Dalk gee dit hom hoop om in homself te glo en weer te probeer.

As paloekas soos Die Antwoord dit kon maak, is daar sekerlik hoop vir al die Pieties van hierdie land…

Luister na Peter Mitchell se musiek by PETER MITCHELL – DEVIL’S GLARE
 
Het julle geweet? Die Afrikaanse sanger Willim Welsyn gaan ’n Engelse album uitbring onder die skuilnaam William Welfare en hy is nou ’n heavy rocker. Kyk na sy awesome video clip Four Cups of Dust op YouTube: William Welfare – “4 Cups Of Dust”

MusicianPietman