Waar die einde van die wêreld begin

Tydens haar Russiese skoolvakansie het FRANSI PHILLIPS in Witdraai die familie van Dawid Kruiper ontmoet, skool gehou in die veld en verskeie kuns- en kultuurprojekte aan die gang gesit

Waar die einde van die wêreld begin

Photography

 

Tydens haar Russiese skoolvakansie het FRANSI PHILLIPS in Witdraai die familie van Dawid Kruiper ontmoet, skool gehou in die veld en verskeie kuns- en kultuurprojekte aan die gang gesit.

Die einde van die wêreld begin omtrent 200 km noord van Upington.

Onder ’n boom langs die verlate pad na die Kgalagadi-oorgrenspark, staan daar ’n Boesman in sy tradisionele klere van springbokvel en handwerk verkoop. Ja, hy praat Afrikaans, die taal wat die Boesmans noodgedwonge êrens in hulle omswerwinge by die Kalahariboere moes leer. Ek vra vir hom wat is sy naam. Hy maak ’n oergeluid wat ek dadelik vergeet, en toe hy die onnoselheid op my gesig sien, help hy my: “My wetenskaplike naam is Elvis”. ’n Glimlag helder sy gesig op as ek vra oor die familie van my gunsteling-Boesmankunstenaar, Vetkat Regopstaan Kruiper, wat die broer was van die legendariese Boesmanleier Dawid Kruiper. Hy wys my die sandpad wat ek moet volg om by Witdraai te kom.

Langs daardie pad, sit ’n skraal tienermeisie in ’n  Pep Stores-uitrusting, maar met duidelike Boesmangelaatstrekke: hoë wangbene, skewe oë, klein neus, woestynsand gelaatskleur, op ’n klip in die versengende hitte, in die posisie van Rodin se Denker. Ek hou stil. “Is daar ’n probleem? ” vra ek. Sy bly vir ’n rukkie stil voordat sy teatraal uitroep: “Hierdie spul maak my mal.” Ek vra nie watter spul nie: Ek sien net sand waar sy beduie. Ek vra of sy wil saamry. Sy staan op, loop om die kar en klim voor langs my in. Haar naam is Degai Kruiper. Toe ons by die huise aankom waarheen sy my beduie het, vra sy of ek haar lappoppe wil sien. Vir seker wil ek. Sy bring verskillende halfmens halfdiere gemaak uit wit katoen en klein stukkies leer. Ek vra wie het die materiaal vir haar gegee. Sy’t haar kopkussing opgesny, verduidelik sy, en soms gee iemand vir die Boesmans bietjie afval leer. Ek koop ’n lappop met gemsbokhorings en -stert, en ’n gesig en lyf wat bietjie meer soos ’n Boesman lyk. Ek gee ekstra vir ’n nuwe kopkussing. Sy bedank my, maar sy val nie op haar knieë nie, sy’s immers ’n Boesmanaristokraat. Degai: ’n klank uit die begin van tyd, wat mens laat wonder oor die pad waarop dit tot hier gekom het.

Teen die muur van ’n klein kliphuisie, waarop een of ander ambisieuse wit kunsstudent ’n trop stormende olifante geverf het, sit ’n maer, geplooide klein Boesman met ’n gebreide hoedjie waarin die woord “dope” ewe behendig ingebrei is. Hy stel homself voor as Oupa Gert. Hy sê hy is verlam ná ’n beroerte, nadat hy medisyne van die kliniek verkeerd gebruik het vir een of ander kwaal. Hy  begin uitvaar teen die olifante op die muur van die huis. “Wat soek olifante op ’n Boesmanhuis in die Kalahari?” vra hy. “In ons park is daar nie olifante nie.” Ek neem aan “ons park” is die Kgalagadi-park, waaruit die Boesmans in die vroeë sewentigs uitgesit is en waarna hulle altyd sal terug verlang. Ná die uitsetting moes hulle vir baie jare rondswerf voordat hulle hervestig is op hierdie onherbergsame stukkie sand waar net die skerpioene ’n bestaan kan voer. Ek vra liewer nie oor die kinderagtige eendjies en kuikentjies op die muur van een van die ander hutjies nie: dis die eerste ontmoeting, en iets sê vir my ek is nog nie gereed vir die volle omvang van die oudste mense se minagting vir die moderne wêreld nie.

Nuus trek vinnig in ’n dorpie waar daar so min gebeur dat mens uit desperaatheid die bewegings van die skaduwees met jou iPad se videokamera begin verfilm. In daardie tyd hoor die plaaslike skool van my en vra of ek kans sien om met my ervaring as Engelse onderwyser in Rusland die Boesmans ook te leer. “Hulle is aandagafleibaar en ongeletterd,” waarsku die onderwyseres wat met my praat, “en hulle voel vasgekeer tussen vier mure. Dit sal beter wees om hulle in die veld te gaan leer.” Ek is bly oor die verskoning om hulle weer te sien.

Nie ’n enkele Boesman daag op vir die eerste klas nie. Oupa Gert sit teen die muur met ’n baba en speel. Ek vra vir hom wanneer kom dit reën: die vraag wat in die Kalahari die heeltyd op almal se lippe is. “Een van die dae,” sê hy hoopvol, “die skilpaadjies loop.”

Ek het ’n bal by my wat ek die vorige dag by die algemene handelaar op Askham gekoop het: dis gewoonlik al wat mens vir ’n eerste les met beginners nodig het. Ek gee dit vir Oupa Gert om die baba besig te hou, en begin in die veld na ’n stok  soek. Al is daar niemand in die klas nie, weet ek ek word fyner dopgehou uit die omringende bosse as in ’n klas vol studente.

Ek trek die eerste drie letters van die alfabet in die sand, en toe ek opkyk is daar ’n stuk of tien Boesmans van alle ouderdomme wat in die sand by die letters hurk. Almal praat en lag. Die eerste les  begin met Boesmans wat die bal na die letters gooi soos wat ek dit uitroep, daarna na die eerste letters van hul name, wat hulle moet nateken in die sand. Teen die einde van die les kan almal hulle name skryf.

Groot bruin papiere en tekenkryt word eers in die tweede les gebruik, toe ek die studente vra om diere te teken waarvoor ons die name eers in Afrikaans en daarna in Engels sou skryf. Dis hoe ek ontdek dat die eeue oue rotstekeninge wat volgens alle aanduidings verdwyn het nadat die Boesmans uit meer rotsagtige dele van die land na die woestyn toe gedryf is, in werklikheid bly voortbestaan het onder die nageslagte, hoewel die meeste Boesmans nog nooit eers die oorspronklike rotstekeninge gesien het nie. “Dis maar oorgeërf,” sê Lys Kruiper, Dawid se oudste dogter. Ek herinner my dat haar beroemde oom, die kunstenaar Vetkat Regopstaan Kruiper, in ’n artikel aangehaal is waar hy presies dieselfde sê. Dawid Kruiper se kleindogter, Oulet, laat val iets van ’n grot in die omgewing waar daar tekeninge is, maar waar hulle nie kom nie omdat daar iets boos woon. ’n Masker van misterie sak oor haar gesig as ek verder probeer uitvra.

My klasse begin teen vieruur in die middae, wanneer die ergste hitte verby is. Dit kan egter nooit langer as twee uur duur nie, want dan word die elektriese kragopwekker aangeskakel vir Sewende Laan, en die hele Boesmangemeenskap kom kyk.

Teen die tyd dat die reën uiteindelik kom, is ek al wys genoeg om te weet mens probeer nie om ’n Boesman Engels te leer in ’n donderstorm nie. Ek loop onder die blitse deur na my kar en van daar af sit ek en kyk hoe die seuns vir Oupa Gert in ’n stukkende kruiwa laai en hom uitstoot in die stortreën terwyl die res uitgelate agter die kruiwa aan dans.

Van dans gepraat: die nag toe die Boesmans my nooi om te kom kyk na hulle danse onder die sterre, is die nag toe ek die eerste keer vir AmAm ontmoet. AmAm is bekend as die wildste en skaamste een van die Boesmans, en ’n weeskind wat Dawid Kruiper grootgemaak het. Die Boesmans begin opgewonde skree en lag toe ’n skaduwee in die maanlig skielik verander in AmAm wat tussen die kinders dans. In die patrone wat die vlamme en die skaduwees maak, verskyn en verdwyn hy, en eenkeer voel ek vir  ’n oomblik sy kop op my skouer, en toe ek in sy laggende, skewe Boesman-oë vaskyk, fluister hy iets wat ek verkies om nie te herhaal nie, voordat hy op die ritme van die ratelende peule om sy enkels terug in die nag in verdwyn.

Die skrywer Patricia Glyn vertel in haar boek What Dawid Knew dat AmAm as kind eenmaal op twee plekke gelyk gesien is: by sy huis tussen die ander kinders en ver daarvandaan by die ystervarke se gat, waar hy met die diere sit en praat het. Daaruit het die Boesmans die afleiding gemaak dat hy die vermoë het om in ’n ystervark te verander.

Glyn verduidelik ook die Boesmans se vermoë om met diere te kommunikeer deur hul spore: ’n spoor sê nie bloot net waar die dier vandaan kom, waarheen hy op pad is, watter soort dier dit is en hoe groot of klein hy is nie, maar dit kommunikeer ook die emosies van die dier: of hy haastig of rustig is, of hy bedreig voel, of hy ’n kleintjie beskerm, of hy aggressief is, of hy jag of vlug. So goed kon die Boesmans die diere se emosies uit hul spore lees, dat ’n mens byna tot die slotsom kan kom dat die eerste skrif nie tussen mense onderling gebruik is nie, maar tussen mense en diere.

Die boek verskaf ook wetenskaplike bewyse dat die Kruiper Boesmans die afstammelinge is van die oudste menslike ras op aarde.

Ek wou nie die Kruipers groet voordat ek terug is Rusland toe nie: ek het net vir hulle ’n klomp komberse gaan gee, en soos wat ek gekom het, weer verdwyn. Maar ek kon nie van hulle vergeet nie. Ná nog ’n jaar in die koue kom ek terug. Alles is nog dieselfde, behalwe dat Oupa Gert intussen met blindheid geslaan is. Te bang vir die Westerse medisyne wat hom in die eerste plek ’n beroerte laat kry het, sit hy nou in ’n swart pak klere in die skaduwees, in sy eie taal en droom van sy lewe in sy park.

Ek merk nog iets op wat nie voorheen daar was nie: ’n installasie van plastiek Coca-Cola-bottels in verskillende kleure, wat ’n mens herinner aan die Jamie Uys rolprent, The Gods Must Be Crazy, voor Lys Kruiper se hek. “Dis vir my baie pragtig,” sê Lys trots.

“Ek stem saam. Ons moet meer doen met die plastiek wat hier in die omgewing op die duine rondlê,” sê ek. “Op die manier kan die eerste mense die planeet help beskerm.” “Dit sal vreeslik wonderlik wees,” stem sy in, en so word die San(d) & Sterre-projek gebore. Toe ek groet aan die einde van die gesprek, word ek skielik bewus van ’n spierwit perd wat tydens ons gesprek verskyn het en nou soos ’n engel by Oupa Gert staan en waak.

 In Pretoria gaan sien ek die bekende argitek Pieter Mathews van Mathews and Associates Architects. Hy is dadelik entoesiasties oor die idee van ’n argitektoniese paviljoen in die vorm van ’n landmerk vir die Kruipers met ’n tema van ’n elandgod en gebou uit herwonne plastiek.

Terwyl die argitekte nog soek na geld vir die installasie, reël ons ’n Boesmankultuurweek in November 2019, waartydens die Boesmans help ontwerp aan die landmerk. In Junie 2020 word dit opgevolg met ’n Coronavirusprojek in samewerking met twee nie-winsgewende organisasies: ’n internasionale organisasie, Les voix d’Orphée, gesetel in Parys, en die Breytenbachsentrum in Wellington. DeKat-tydskrif tree op as ons mediavennote. Die idee is om uiteindelik ’n uitstalling te hou van die kuns wat die Boesmans gedurende die Coronavirus-projek maak.

Teenstand kom uit onverwagse oorde: terwyl die Boesmans elke oomblik van die kultuurprojekte geniet en saamwerk tot so ’n mate dat daar amper sprake sou kon wees van ’n kulturele Boesman Renaissance, spreek die Boesmanskakelbeampte met wie ek werk, Oupa Jan Pieterse, die vrees uit dat daar probleme mag opduik. Mense in die omgewing waarsku my dat ek niks moet doen wat spesifiek die Kruipers sal bevoordeel nie. Van ’n lid van die Boesmanraad, wat meestal uit mense buite die Kruiper-familie bestaan, hoor ek dat daar geen installasies opgerig mag word op Witdraai nie, dat die idee om met plastiek te bou nie strook met die erfenisgebied nie, (plastiekbottels op ’n duin is dus verkieslik bo ’n landmerk vir die Kruipers), dat ek verkieslik net in samewerking met die Boesmanraad met die Boesmans moet werk, dat ek benamings soos “die oudste mense” moet vermy en dat die Boesmans op Witdraai slegs kuns mag maak vir hul ontspanning, en geen besigheid op die grond mag bedryf nie. Ek besluit egter om eenvoudig met projekte aan te gaan en alle besware op skrif aan te vra.

Dat die Kruiper Boesmans ten spyte van eeue se vervolging, uitbuiting, skreiende armoede en blootstelling aan Westerse verslawings en siektes nog tot vandag toe bly oorleef het, is ‘n wonderwerk wat ons nie ongemerk mag laat verbygaan nie. Inheemse mense, wat die skrif van diere en klippe en die boodskap van die veld kan lees en interpreteer en kan uitdruk in hulle kuns is ons  laaste verbintenis met die aarde.

Die einde van die wêreld begin dus hier op Witdraai, omtrent 200 km noord van Upington, waar die stemme besig is om stil te raak van die oudste mense op ons sterwende planeet.

ONDERSTEUN DIE KRUIPERS

Tydens die Covid19-pandemie, toe minder toeriste die Kalahari besoek het, is ’n projek onderneem om die Kruipers te help oorleef. Dit het uitgeloop op die uitstalling, Oppervlaktes wat in Februarie vanjaar in Pretoria gehou is.

Dit was vir my moeilik om hulle tydens inperking te bereik om kunsmateriaal af te lewer, en ons het besluit dat hulle op hul eie sal voortgaan terwyl hulle op my wag. Hulle het sketse begin maak op die enigste beskikbare oppervlakke, die woestynsand by hul tuiste in Witdraai in die Kalahari.

Hulle het foto’s van die sketse met hul selfone geneem en na my gestuur om uitgedruk te word, wat sou dien as agtergrond van ander sketse. Op dié manier kan hul eie foto’s en sketse gebruik word as agtergrond vir oorspronklike pensketse in hul tradisionele styl sonder om die oorspronklike sandsketse te verloor.

Elke sandtekening is ’n outentieke en spontane uitdrukking van ’n handjievol van die oorlewendes van die oudste ras op aarde, geteken deur  individuele kunstenaars. Die eindproduk kan enersyds gesien word as ’n uitdrukking van prehistoriese herinneringe en andersyds as ’n verbinding met moderne neigings soos omgewings-, konsepsuele en toe-eieningskuns. Die media wat die Kruipers gebruik, is rooi en wit Kalaharisand, klippe, as, bokmis en sade.

Hulle teken met stokke of hul vingers en met behulp van selfone neem hulle dikwels klein plantjies en voetspore van duisendpote, skerpioene en voëls af om later te gebruik as agtergrond vir pensketse van figure uit Boesmantradisies. Deur die sand en die materiaal tot hul beskikking te gebruik, hoop die Kruipers om vir hulle tradisionele kuns ’n plek in die moderne wêreld te vind.

 

Volg Krui.per op Instagram of kontak Fransi Phillips op culturecz@gmail.com.

Nader aan die aarde as die Kalahari kry jy nie. Die gasaanbieder, Ferdinand Veer kry vir Koopman en Kirrie by Vischgat, waar hulle hom deur die Kalaharisand begelei en die geheime van die kuns van spoorsny aan hom verklap.