Van Pretbesie tot Gesinsbul

Toyota se hersiene RAV4-reeks sluit twee E-Four-hibriedmodelle in. EGMONT SIPPEL skryf.

Van Pretbesie tot Gesinsbul

Photography
 

Toyota se hersiene RAV4-reeks sluit twee E-Four-hibriedmodelle in. EGMONT SIPPEL skryf.

Hoeveel onthou mens werklik van jou eie lewe?

Ek meen, waar was jy op die vyfde dag ná jou sewende verjaardag? En wat het jy gedoen?

Die Duitse filosoof, Martin Heidegger, het van ’n “gedruis van denke” gepraat. Ons lewens, ons herinneringe maal in die moeras van daardie gedruis en verdwyn in die vergetelheid.

En tog is daar oomblikke wat so verwonder of skok dat dit soos ’n vlagpaal vassteek. Geboortes. Troues. Sterftes. Chris Barnard se hartoorplanting. Mannetjies Roux se drie. Die reuk van nartjies of kaneel.

Nog so ’n oomblik het vir almal wat daar was in die middel van een mooi sonnige 1995-oggend op die Kaapse kus aangebreek.

Voor ons was ’n bussie en ’n besie. Die bussie was oulik. Maar die besie het visioene van ’n vergange sorgelose era opgeroep, een wat ’n vars nuwe klank uit die Amerikaanse weskus sou toor: Surf music. Sand-en-see-rock.

Die lewe was nie die donker, swoel nagklubaffair vol uitdagende kyke en tartende heupe soos Elvis s’n of ’n kreet om die mure van die establishment te verbrokkel, soos die Beatles en Stones dit sou doen nie.

Nee. Die lewe was veel eenvoudiger. Dit was ’n melodie of ’n lied, om flêt-out te geniet. Bring net ’n baaibroek, ’n branderplank en ’n Toyota RAV4 om die Kaap weer Hollands te maak.

Nou’s dit amper drie dekades later en mens onthou asof jy kaneel ruik hoe daai eerste RAV4’s – die langer vyfdeur-bussie maar veral die korter driedeur-besie – jou idee van vervoer soos ’n voorhamer getref het.

Farmer Brown se hoenders smaak so lekker, want hulle eet so lekker.

Toentertyd se RAV4 – Recreational Activity Vehicle with 4 wheel drive – het na sulke funky jôllers gelyk want hulle het so funky gejôl. As sodanig het hulle die motorplaneet op sy kop gekeer.

En op twee maniere.

Eerstens het Toyota ’n nuwe nis tussen konvensionele motors (soos sedans en luikrugte) en groot regop uitspanwiele (soos die Kombi of Jeep Cherokee) geïdentifiseer. Met sy hoër dak en pens het die RAV iets van laasgenoemdes se funksionaliteit gebied en met sy eenheidsromp iets van eersgenoemdes se goeie padgedrag.

Met die oog op laer koste en gewig en beter verbruik het die meeste RAV’s egter net deur die voorwiele getrek. Selfs húlle het egter die gees van avontuur met ’n noodwiel op die agterklap besweer.

Oorvloedige skermbekleding om die laere lendene het boonop die vyfdeurbussie in ’n veldtaaie stasiewa verander, terwyl die driedeurbesie se kort, regop lyfie so kordaat soos ’n meerkat op sy agterpote sou staan.

Inderdaad het die RAV se oorbruggingskarakter hom die planeet se eerste hoofstroom-kruisvoertuig gemaak. En glo dit as jy wil of nie, maar deesdae is kruisvoertuie en leefstylers (oftewel es-joe-wies) besig om tradisionele voertuigvorme soos die sedan en selfs die luikrug lewend te begrawe.

Blameer die RAV4!

Die tweede manier waarop Toyota se nuweling die wêreld op sy kop sou keer, was met die elektriese weergawe van die RAV4.

Baie mense is natuurlik onder die indruk dat dit eintlik Toyota se Prius is wat die elektriese voertuigbeweging afgeskop het.

Hulle’s reg maar, ook op twee maniere verkeerd: (1) General Motors se EV1 uit 1996 was die eerste massa-geproduseerde vol-elektriese motor deur ’n groot voertuigvervaardiger en (2) die RAV4 EV het in 1997 saam met die Prius in die EV1 se voetspore gevolg.

Die verskil tussen die twee Toyotas was dat die Prius-hibried as persoonlike vervoer aan Hollywoodsterre soos Tom Hanks, Brad Pitt en Leonardo di Caprio verkoop is, terwyl die vol-elektriese RAV4 EV van 1997 tot 2003 in klein getalle as vlootmotors sou dien.

Ironies genoeg is Tesla Motors juis in 2003 gevestig, met ’n eerste produk – die Roadster – eers in 2009. Einste in dieselfde era help Tesla egter ook om die tweede RAV4 EV vir 2012 te ontwikkel.

En hier’s ons nou, by die derde RAV4 met elektriese vermoëns, alhoewel die nuweling nie ’n vol-elektriese voertuig soos sy twee voorgangers is nie, maar ’n hibriede wa wat, nes die Prius, merendeels op konvensionele petrolkrag loop.

Voorts dryf hy deur al vier wiele, maar nogmaals nie op die konvensionele manier nie.

’n Gewone 4×4-stelsel verdeel enjinkrag tussen die voor- en agteras.

Niks van die krag (131 kW, 221 Nm) wat deur die RAV4 Hybrid se konvensionele petrolbron (’n 2.5-liter-viersilinder) gelewer word, haal die agteras nie. Alles pomp via CVT-kegeltransmissie na die vooras.

Die Hybrid spog egter ook met twee elektriese motors – een op die vooras wat 88 kW en 202 kW lewer en een op die agteras wat ’n verdere 40 kW en 121 Nm ontwikkel om, saam met ’n elektroniese sluitewenaar, beter vastrap deur draaie of op gladde oppervlakke te waarborg.

Die Hybrid – wat voorkomsgewys deur ’n blou getinte Toyota-kenteken op die voertuigneus en Hybrid-kentekens op die kante asook die agterklap van konvensionele stalmaats onderskei word – staan dus as ’n E-Four bekend, eerder as ’n 4×4 of ’n AWD (alwieldryf).

Puik toerusting, veral op die topgespesifiseerde VX-variant, sluit leerbekleedsel, vyf USB-sokke, Apple CarPlay en Android Auto in, asook ’n panoramiese kamerabeeld en Toyota Safety Sense (laanhou-, blindekol- en kruisverkeerhulp, plus aanpasbare kruisbeheer en ’n sleepwa-stabiliseerder). Die truspieël kan ook ’n kamerabeeld lewer as jy wil sien wat agter jou volgepakte RAV aangaan.

Vir so ’n hoë voertuig (onder meer met ’n penshoogte van 200 mm) wat sag geveer word om goeie ritgehalte te waarborg, hanteer die RAV goed.

Maar sy sterk punte is ruimte, meganika en tegnologie. Buiten ’n vermoë om vir kort afstande in algehele stilte op suiwer elektriese batterykrag te loop, is dit juis hierdie krag se hupstoot van die lyn af wat beïndruk.

Die E-Four kan ook ’n (geremde) ton tou.

Die beste van als is egter dat jy die hibriedstelsel se battery nooit hoef te herlaai om die voordele van elektriese hulp te geniet nie. Herlaaiing geskied outomaties as jy rem of teen steil afdraandes af ry sodat jy maklik met ’n verbruik van 4,5 liter/100 km in die dorp of stad kan klaarkom.

Op die oop pad kan jy op iets minder as 8 liter/100 km reken.

Als in als het die RAV4 dus ’n lang pad oor die afgelope kwarteeu geloop.

Eens op ’n tyd was hy ’n rakker, ’n karnallie, ’n vars strandbriesie, die wêreld se eerste kruiswiele. Jy kon nartjies in die Kaapse oggendlug ruik.

Nou’t hy grootgeword en ’n bietjie kaneel bygekry. Met meer as ’n miljoen eenhede per jaar is vandag se ruim, volwasse RAV4 inderdaad die wêreld se topverkopende leefstyl- en gesinswa.

Met die Hybrid-variant het hy hom ook by die planeet se kader van toekomsvegters aangesluit. Die eens oulike besie het nie vergeet dat dit deel van sy missie was om die wêreld ten goede te verander nie.

* Pryse: Toyota RAV4 2.5 Hybrid GX-R E-Four – R644 100; 2.5 Hybrid VX E-Four – R723 200. 

Van pretbesie tot gesinsbul Toyota se hersiene RAV4-reeks sluit twee E-Four-hibriedmodelle in. Egmont Sippel skryf.Hoeveel onthou mens werklik van jou eie lewe? Marliza gaan haal haar jare lange vriend en mode-ontwerper, Gert van der Merwe, op die Oudtshoornse lughawe. Hulle vat die pad deur die natuurskone Tradouwpas met die nuwe Toyota RAV4 Hybrid, tot in Barrydale waar hulle verder kuier in sy nuwe Langhuis.