Uittreksel: Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey deur Charl-Pierre Naudé

“Die wêreld bestaat oorlat die mense hom so dink,” het oom Willempie my vertel. Die skinkbord van ’n hoed wat hy op gehad het – dit het gelyk op ’n vliegdekskip van die Amerikaners of die Russe – het dié dag amper van sy kleinerige kop afgeval waar hy voor my gesit het vir die konsultasie.
“Wanner die laaste mensekjent vir die laaste keer aan die aardetjie-magoed staat dink, sal dit ophou te bestaat. Dan sal mensekjenners die pad moet vat.”
Dít was die wyshede van oom Willempie toe ek een laaste keer by hom gaan aanklop het vir sy gebroude woorde. Ek wou iets waardevols met my saamneem voordat ek ook moes gaan.
Die stoom het soos ’n kapokhaan op die kokende keteltjie in die hoek van die rondawel getrappel. Dit was ’n lewensvorm wat lewe én raas, net soos enige vleeslike variant, volgens die oom. Die deksel het geklepper.
“Hoor jy sy kloue op daai deksel?” Sy oë het so skerp soos kokorotvlerk-in-skemerlig geflits. “Jy sien, hy perbeer nie af te val nie.” Die oom het hygend geskater vir “die haantjie wat so uit mistigheid bestaat”.
En met die plathand slaat hy daai “kniege” van hom van die lekkerkry, “oordat die mensekjenners dinge wat só duidelik is, staat te betwyfel”.
Weerskante van sy hanglappie kon ek sy skraal boudbene op die sement sien, pure jakkalskakebeen was dit. Ek het ’n donker glimp op die petatte in sy mik gekry.
“Maar dis ’n ander wêreld dáái,” sê hy toe sy gegierery bedaar het. Hy was besig om iets oor die wêreld se stoomhane met my te deel.
Toe verduidelik hy dat só ’n haan nie ophou bestaan net omdat die ketel geskink het nie, net omdat die stoomhaan nou in verskeie pieperige kuikens bo-op elke teekoppie verdeel het nie. En oorlat die ketel nou sy kroonhaan kwyt is nie. Nee, wat, “hulle is maar almal hier rond, tot volgende keer”. Die stoomhoenders, nou.
Ek moes verneem waarom stoomkuikens minder sigbaar is as stoomhane. Nie net omdat hulle kleiner of meer donserig van stoom is nie, o, nee.
“Die ellendage pluimveetjies verdrink mos man, hulle kan glad nie swem nie, nie eens in ’n spoegsel teewater nie.”
Hy het gelyk of hy homself verwens dat hy niks aan die saak kan doen nie. Die oom se respek vir lewe was g’n afgewaterde kwessie nie.
En toe vertel oom Willempie my ’n lewenswaarheid “wat die mens geweet het maar mos aanhoudend aan’t vergeet is”. Hy het vertroulik oorgeleun om my te laat verstaan dis gevaarlike kennis dié.
“As mens iets gedink het, dan bestaat daai ding, soos ander dinge wat mens met die oog kan sien. Oorlat hy nie bestaan op die plek waar jy nou besag is met jou kykwerk nie, maak nie dat hy weg is nie. Hy bestáát,” het hy gesê.
“Die wêreld is geslát met blindheid, en weet helfte van die dinge wat daar is glad nie. Verstaan jy?”
Ek het gesê ja. Dit het nie gelyk of daar vir my ’n keuse is nie.
“Maar nou moet jy ook weet.” Die oom se manier van asemskep was ’n teken hier kom iets. Hy het luidrugtige slukke aan sy tee gegee, die adamsappel wat swaar op en neer beweeg.
“Die boere is dom. Hulle gaan die oorlog verloor.”
“Ekskuus, Oom?”
“Jy het my gehoor.” Ek hét seker.
“Die boere het gewere. En die Amerikaners is aan hul kant.”
“Hulle kan soveel gewere het as wat hulle kan wegsteek, dit maak geen strooi verskil nie.” Die oom het driftig met vierhande bedui. “Want hullese gedagtetjies is effens.”
Ek het hom gevra wat bedoel hy nou.
“Waar sien jy mý geweer?”
“Oom Willempie se geweer?”
“Ja! Waar? Ek het nie een nie.”
“Miskien moet die oom maar een kry?”
“Daar is geen niks se nodigheid voor nie. Loop kyk na die dorp daarbyte.”
Ek het by die hut se venstergate gaan bukstaan vir uitkyk. “Dis ’n dorp wat vergaan, Oom.”
“Presies. Arme ou dorpie.” Weer het hy gierend gelag.
Is lag ’n manier van doodgaan? Ek het aan Anna se hoonlaggies gedink. Daar het nou ’n leedvermaak in die bossiedokter se keelgeluid gesteek. En hy was klaarblyklik ’n grap aan die raaksien wat ek self nog nie kon sien beweeg nie. Hy het sy talismanstokkie met die tossel vooraan met mening van die vloer opgeraap en in die lug rondgewiks. Hier kom ’n allemintige punt.
“Hierdie dorp is een van die dae jíltemal weg. Poef! … En dit gaan wees oorlat hy weggedínk wôrre,” was die aansienlike mededeling.
“Óns het hom weggedink.” Met die woordjie “ons” het hy met ’n ergerlike wysvinger beduie: homself en die ander rondom hom, die mense van die lokasie, voor hulle vort is, plus “die spatsel wat nog hier is”.
“Maar vir jou is daar nog so ’n klein bietjie tyd oor. Jy is darem veel minder van ’n stuitige wit mens as vroeër.”
Ek het geweet: Ek moet hom ernstig opneem.

***

Dit was in hierdie tyd dat ek bewus geword het van ’n onverklaarbare verandering in die voorkoms van dinge rondom my, selfs van klein dingetjies. Die dinge in die Lyksovlakte.
Dit het begin by ’n randjie deurskynendheid rondom voorwerpe. En toe sien ek dit aan van die huise, selfs rondom die gestaltes van oorblywende dorpenaars.
En die volgende keer dat ek kyk, sou dié randjie breër wees en dieper in sy voorwerp insny. Wat eers net deurskynendheid was, het in die daaropvolgende dae ’n randjie van onsigbaarheid gekry wat in die dinge ingevreet het, en gelyk het of dit die dinge wil opvreet.
Dit het my nie lank geneem vir sommetjies maak nie. Ek is darem ’n gesoute waarnemer, nie dat dit my teen die verdrietigheid daarvan beskerm nie. Punt is, ek het besef dinge is besig om te verdwyn. Anna se woonwa was die beste voorbeeld.
In die oggendson van ’n doodgewone dag, ek dink dit was ’n Woensdag, wat mos beskou word as die onskuldigste weeksdag, sien ek hoe ’n kwart van die woonwa vir ’n kort tydjie onsigbaar word. Met Anna daarbinne! Was sy in die ander gedeelte van die woonwa? Was sy darem veilig?
Ek het na haar geroep en sy antwoord toe, dank die Vader. Toe loop vat ek aan die onsigbare deel van die woonwa, druk daaraan. Dit was daar, maar ook nie. In die daaropvolgende dae kon ek by geleenthede dwarsdeur die onsigbaarheid stap, deur die staal waar dit was, deur die voormalige woonwabed en die karavaan se hangkas.
Dit was óf ’n situasie van groeiende wegkalwing hierdie óf ’n visioen oor verdwyning. Nie veel te kies tussen die twee nie.
Ek het vir Anna, by wie ek nou amper elke dag gekuier het terwyl ek my lewe op die Lykso aan die opruim was, van my gewaarwording vertel. Sy het dit doodluiters beaam.
Sy het dit ook gesien, het sy vertel. En dít was iets wat my ekstra bang gemaak het. Anna was tog ’n skeptikus, ek het op haar peil getrek daarvoor.
“Soos met Jackson,” was haar bondige antwoord. “Die drommel gaan binnekort nie alleen wees nie.”
Ek het haar vertel van oom Willempie se interpretasie van dié roeringe. “Sê nou net ons is niks meer as die gedagtes van ander mense nie?”

By |2018-12-14T12:59:10+02:00December 14th, 2018|Boeke|