TWEE WEKE IN ’N KLOOSTER

In Augustus het JEAN MEIRING twee weke lank die rus van Pluscarden-abdy, net buite Elgin in die noorde van Skotland, opgesoek. Daar het hy ’n rare, sagte wêreld ontdek.

TWEE WEKE IN ’N KLOOSTER

Photography

In Augustus het JEAN MEIRING twee weke lank die rus van Pluscarden-abdy, net buite Elgin in die noorde van Skotland, opgesoek. Daar het hy ’n rare, sagte wêreld ontdek.

As die glasvoordeur skril oopgeskuif is, loer ’n oompie daarom – ’n bril so groot en vierkantig soos Bennie Boekwurm s’n prekêr op sy neus. Sy sousogies blink. Reën plas op my blinkgevryfde voorkop neer en in die agtergrond lê my ongeduldige bagasie in ’n luierende taxi.

Jy’t inderdaad by die regte voordeur by die juiste abdy gearriveer, laat Jim in sy singerige Sheffield-aksent weet. Die gasmeester – so word die monnik genoem wat vir ons gaste pa moet staan – het hulle ingelig oor my verwagte aankoms.

Jim kom vir donkiejare al gereeld hierheen om sy kragte te herwin en beskou derhalwe die abdy en die gastekwartiere daarneffens, tereg, soos sy eie agterplaas.

Hy lei my na my sel op die eerste verdieping terwyl hy so in die stap stuk-stuk, sagkens, die abdy se leviete voorsê. Daagliks vind daar ’n allemintige agt dienste plaas, seg hy. Pluscarden is die enigste klooster in Brittanje waar al die dienste boonop in Latyn gehou word.

Die eerste een begin om 4:45 in die bibberdonker. Dit duur ’n volle uur en van begin tot ent word ’n enkele musieknoot gehandhaaf.

Ek ril, my bloed stol en ek wil-wil sê dié ou Adam hou graag sy kooi tot goed ná die daeraad geselskap. Net daar begin ek – my uitnodiging om twee weke te vertoef ten spyt – terstond my uitkoms karteer.

Maar, die gode sy gedank, ek besef gou dié klooster is oop en omarmend. Nêrens voel mens die vingerswaaiende oordeelslus wat deesdae die Rooms-Katolieke kerk skyn te kenmerk nie.

En – halleluja! – daar lê geen onus op jou om al die dienste by te woon nie – veral nie die heel vroeës nie.

As Broeder Gabriel, die gasmeester, later in sy roomwit jurk aan my selletjie se deur kom klop, vra hy heel ongeërg of ek ’n bok of ’n skaap is.

Nee, ek’s nie Katoliek nie, sê ek. Tóg is daar in my dampkring talle van dié spesie. As ek vertel ek ’t in die NG kerk grootgeword – en die verlede tyd van dié affiliasie vasbeslote benadruk – knik hy gewoon.

Elke tipe afvallige is hier welkom – solank jy die stil lewe van die abdy respekteer en die broeders hul toegewyde gang laat gaan.

Saans vergader die gaste, natuurlik almal mans, net voor etenstyd stil-stil aan die onderpunt van die gastekwartiere se hoofgang. Daar lei ’n reusedeur na die klooster self.

Voor ons daardie aand aanmeld, drentel ek en Jim en enkele ander voor die losieshuis in die sagte sonnetjie wat mirakelagtig deur die gifgrys wolkbank sypel.

As jy jou op die bankie sitmaak, lê ’n netjies uitgelegde tuin voor jou, wat strek tot teenaan ’n bank onverdunde groen. Pluscarden nestel in ’n diep en barmhartige vallei.

Soos dit ’n goeie Benediktynse huis betaam, eet ons in stilte. In rangorde van senioriteit – ek’s die nuutste aankomeling en is heel laaste in gelid – neem ons plaas aan die gastetafel, langs die muur soos mens die eetsaal, binnestap.

Bo teen die muur langs my is ’n hoë preekstoeltjie ingemessel, met trappies wat daarnatoe lei. Terwyl ons nog orent is, gaan die ab in gedempte Gregoriaanse pryssang voor. Die twintigtal monnike val saam in.

Die ronde klanke kantel, en word dan weer sagkens, swiepend opgeskep. Die jongste stem, dié van die nuwe Mexikaanse broeder, is twee-en-twintig jaar jonk. Die oudste raak-raak aan negentig.

Dan rinkel ’n klokkie. Ek sak met welbehae, maar tog ook skrikkerig, op my stoel neer. Ek’s die nuwe seun in die kosskool en hou die ander pieringoog dop om te sien wat ek moet doen, en in watter volgorde.

Broeder Gabriel bestyg die trappies en slaan ’n boek oop.

Een van die ander monnike, met denimskutte oor sy roomwit arms getrek, stoot ’n trollietjie deur die kombuis se swaaideur uit en sit bakke vis, met hul leepoë ongeskonde, op die tafel neer.

Oorkant my, in die senior stoel, sit ’n besoekende priester wat met humorlose mond die doek oor die broodmandjie opslaan, ’n sny neem en dit dan vir my aanbied. Die snye brood lê groot en dik en bruin, soos Sakbybeltjies, die een bo-op die ander.

Fieterjasieloos is dié kombuis. Maar die vis is geil en smaaklik. Daarmee saam eet ons oopgebarste blusaartappels.

Uit ’n reuseteepot tap ons in koppietjies rooi straaltjies. En as die monnik wat vandag sy lyf kelner hou dié skottels verwyder, word houtborde met groot wîe liggeel Cheddarkaas daarop neergesit en die broodmandjie doen weer die rondte.

Eers as die klepel weer gehoor word, val ons met die tweede gang weg. My kake beweeg geruisloos op en neer, soos my mond, oormatig ingetoë, op ’n kuise knop getrek is.

En terwyl ons so in stilte tesame eet, lees Broeder Gabriel voor. Toevallig het hy ’n aand of wat tevore ’n stuk oor die totstandbrenging van ’n Benediktynse abdy in die ou Noord-Transvaal begin. Dis ’n stuk geskiedenis wat my hier in die noorde van Skotland, onthutsend, met ’n harde klap weemoed tref.

Met lofwaardige mannemoed takel hy die warboel Afrikaanse plekname, en kry hulle met voorspelbare reëlmaat heerlik verkeerd. (Later word my advies ingewin sodat dit die volgende aand beter sou gaan.)

Die son is byna dood as ons die eetsaal een vir een uitstap. As nuweling word ek uitgekatrol om net buite die saal vir die ab te wag.

Sy wangetjies is pruime en sy oë flikker met humor as hy my welkom sê. Die toeval van die leesstuk en my herkoms word deur Broeder Gabriel opgehaal. Giggelend wankelstap die ab weer weg.

En so val mens gou in dié plek se stil, maar buiglose roetine in.

Pluscarden is in 1230 deur koning Alexander II van Skotland as deel van die Orde van Valliscaulium, wat in Frankryk gesetel was, opgerig. (Dié Latynse naam vertaal as “vallei van die koolplante”.)

Dié orde het iets van die streng hermetiese Kartuisers met die meer sosiaalgerigte Sistersiërs vermeng.

Maar in daardie rowwe tye was kloosters allermins van die buitewêreld se politieke onstuimighede beskut en Pluscarden is telkens deur Engelse magte oorrompel.

Ironies genoeg is daar vandag wéér ’n beduidende, maar onsigbare militêre teenwoordigheid in dié geweste. Net oor die bult is daar ’n lugmagbasis, en elke dan en wan hoor mens iets die blou lug deurdruis. Die monnike sê hulle merk dit nie meer op nie.

In die jare sestig van die sestiende eeu het die gewyde lewe by Pluscarden tot ’n stilstand gekom toe die grond met die Skotse Hervorming in nie-kerklike hande beland het.

Eers in 1943 word dit aan die Benediktynse gemeenskap van Prinknash, in Gloucestershire in die suide van Engeland, geskenk. Prinknash was aanvanklik ’n Benediktynse gemeenskap binne die Anglikaanse kerk, maar is in 1913 in die Katolieke kerk verwelkom.

Bietjie vir bietjie is die vervalle geboue deur ’n groepie van vyf van Prinknash heropgerig, en in 1948 is ’n kloostergemeenskap, ná soveel eeue, weer in dié salige vallei tot stand gebring.

In my selletjie is ’n ambisieuse ry boeke staangemaak. Die doel van my verblyf van twee weke by die abdy is om stilte te vind, die lewe te bepieker – en te lees.

Dié deels werkgerigte program van my klop heel goed met die broeders se eie daaglikse gang. As hulle nie met een van die agt deurgaans gesonge dienste besig is nie, trek hulle hul denimjurke aan en werk dat die bye zoem.

Die een is vir die groentetuin verantwoordelik; ’n ander sien na die byekorwe om; nog een verf Picasso-geïnspireerde skilderye; ’n vierde maak die heel fynste, pragtigste ikone.

Tussendeur moet een die winkeltjie beman; ’n ander, ’n oue, sit in die telefoonluik vir elke dan en wan se oproep wat inkom. (Hy doen die blokkiesraaisel, maar – merk ek – laat die Sudoku-spel onaangeraak.)

Broeder Finnbar, wat al goed twee dekades hier is en voorheen ’n kroegman was, leer tans sierskrif bemeester. Hy vertel my die plesier wat dié moeisame leerproses hom bied, as ons een Vrydag – toevallig my versweë verjaardag – oor ’n glasie rooiwyn klets.

Dis ’n sonderlinge dag, dié Vrydag. Selfs televisiekameras is buite die abdy opgestel en onderhoude word met die ab gevoer. Maar dis ’n trietsige dag.

Vader Maurus, wat een van die vyf 1948-nedersetters was, was vroeg in die negentig toe hy presies drie maande gelede op ’n dies non (’n rusdag wat die broeders maandeliks beskore is) op sy eentjie in sy roomwit kleed en wandelstaf die omliggende groen in is.

Teen sononder daardie dag het hy nog nie teruggekeer nie. Die volgende oggend ook nie. Ten spyte van goedgeorkestreerde soektogte deur die Skotse polisie en wye mediadekking is sy lyk, as hy wel omgekom het, nog nie gevind nie.

Sy lot is vandag steeds in duisterheid gehul, maar daar’s min twyfel dat die brose bejaarde wel oorlede is. Derhalwe die besluit om dié Vrydag vir hom ’n requiem-mis te hou. Van heinde en verre kom vriende van die abdy en van dié wydgeliefde kerkman byeen om sy lewe te vier.