Deur Louise van Wingerden

Lizelle de Klerk Anna- Mart

Eers was daar die intussen alombekende liedjies van Christopher Torr en Laurika Rauch, toe die musiekblyspel en nou kry die verhaal van Tante Koba en Oom Frans op hul plaas Dwarsbult lewe op die silwerdoek. Deur Louise van Wingerden

Dit mag dalk verleidelik wees om te steun op die gewildheid van die liedjies, die formidabele spel van ons top-akteurs of die skitterende natuurtonele van die Karoo, maar die vervaardigers (Bosbok Ses Films) en regisseur (Paul Eilers) van die nuwe Afrikaanse rolprent Stuur groete aan Mannetjies Roux, het met hul vernuftige keuses ‘n diamant van ‘n fliek geslyp wat gerus boaan enige ranglys mag pryk.

Niemand ontglip hul noodlot nie, selfs nie Oom Frans (Ian Roberts) wat al dekades lank oorvertel, of liewer ooruitbeeld, hoe Mannetjies Roux sy hemelse drie in 1962 in Bloemfontein gedruk het, want “ hy was mos daar”. Al verklap die openingstoneel van die fliek ook andersins, weerhou dit nie die kyker om teen ‘n verteerbare pas ingesuig te word in die tragiese sameloop van omstandighede wat op sy plaas, Dwarsbult, in die mooie Karoo uitspeel nie. Mens sien dit aankom en tog wanneer dit gebeur, is die skok onuitwisbaar.

Kykers sal dieselfde verhaallyn van die musiekblyspel herken, asook Laurika Rauch as die volwasse Engela, met ‘n paar treffende veranderinge. Die draaiboekskrywer Sallas de Jager verduidelik dat die rolprent los geskoei is op die verhoogweergawe, om kinematografies meer impak te maak. Dit werk. Soos wat die intriges tussen Tante Koba (Anna-Mart van der Merwe), haar man Oom Frans, haar susterskind Engela (Lizelle de Klerk) en suster (Steffie le Roux) ontknoop op die maat van Christopher Torr se ontroerende komposisies, word die kyker op verfynde manier as voyeur en onderdeel van die omgewing ingetrek.

Die balans tussen die verbale en non-verbale kommunikasie tussen die karakters is manjifiek en sorg vir daardie “dit het onder my vel ingekruip en ek kon dit nie keer nie” gevoel. Die kamerawerk en regie is uit die boonste rakke. Jong Engela se traumatiese verlede wat haar mondigwording beïnvloed kan ‘n akteur maklik tot melodrama laat omswaai, maar Lizelle de Klerk se natuurlike spel verhef haar vertolking na ‘n ontluisterende ervaring. Elton Landrew stap weer in sy skoene keil as Toemaar, die vreemdeling wat uit die niet uit opdaag en wederom “dink [hy] sal maar bly” om ongevraag ‘n muur te bou. Die simboliek in die rolprent is by tye so subtiel dat mens met die tweede, derde, seker agste keer van kyk weer nuwe filmiese beeldspraak en simbole sal opmerk, so ook met die luister na die meesterlike klankbaan wat nie net op die toneel af, maar ook op die karakter af tot in die fynste puntjies ambagtelik verweef is.

Soos sy voorgangers van die afgelope jaar, dui hierdie rolprent op ‘n nuwe generasie van rolprentmakers wat met passie en kundigheid die plaaslike rolprentbedryf weer op ‘n sterk been bring, dapper en trots soos Mannetjies Roux daardie dag op die veld in Bloemfontein.