Strooi Valentynsliefde met Polkadraai & Springmielies

Dit is die Maand van die Liefde en om hierdie romantiese tyd te vier, het Stellenbosch Hills die perfekte paartjie geskep: Polkadraai & Springmielies! Eksklusief vir Valentynsmaand, beloof dié wynkelder met sy kleurvolle en prettige Polkadraai-wynreeks trou aan heerlike, gourmet-gegeurde springmielies.

Haak in by jou geliefde en leef ‘n bietjie aan die Polka-kant van die lewe. Bespreek jou plek onmiddellik of selfs nog beter: gee die liefde vlerke en kry sommer al jou vriende, enkellopend of nie, bymekaar. Nie net is dit ’n heerlike dag in die platteland nie, maar Stellenbosch Hills se vier Polkadraai & Springmielie kombinasies sal jou hartsnare daar en dan tokkel.

 Net soos die Polkadraai wyne, is die springmielies geen oorhaastige by-die-huis-gemaakte affêre nie. Dis handgemaak deur die bekende gourmet springmielie-maestros, Guzzle & Wolf.

Die Polkadraai Sauvignon Blanc Brut 2017  die nuutste toevoeging tot die reeks, wat net by die kelder beskikbaar is – skop dié smelt-in-die-mond liefdespel af. Hierdie droër styl vonkel met sy vars vrugtegeure is ’n absolute Tarzan sa
am met Guzzle & Wolf se piesangspringmielies. Die tropiese geure is só aanloklik dat wanneer jy jou oë toemaak dit jou wegvoer na ’n liefdesboot op die oseaan, daar iewers naby die Maldives.

Die Polkadraai Chenin Blanc/Sauvignon Blanc 2017 cha-cha met die gunsteling: sout-karamel springmielies. Verwag weer tropiese geure in die glas, maar hierdie keer met ’n grasserige ondertoon. Probeer die springmielies met ’n slukkie wyn en ervaar die towerkrag. Die springmielies se souterige soen laat die soeter note in die wyn ontwaak en laat blom die vrugtige aroma.

Donkersjokolade is heel te wagte in hierdie proe, veral as die springmielies bedruip is met dit en voetjie-voetjie speel met die heerlike Polkadraai Pinotage/Merlot 2016. Die ryp, swart- en rooibessie geure van die wyn pas die donkersjokolade-smaak so perfek soos Aspoestertjie se glas slipper.

Dan, pienk is ongetwyfeld die kleur van die liefde en daarom behoort die finale plek aan die Polkadraai Pinot Noir Sparkling Rosé 2017 wat met die ster van die vertoning op die tong dans: aarbei springmielies.

Die medium-styl, soet rosé is ’n verleidelike salmpienk vonkelwyn, wat oorloop van die rooibessie- en aarbeigeure met ’n spookasem walm. Knibbel aan hierdie veerligte springmielie-soentjies en daar is ’n Kupido-karnaval in jou mond.

Dis nie verniet dat Polkadraai wyne hierdie naam dra nie. Die ernstiger verduideliking verwys na die kronkelpad wat die diverse wingerde wat in sy wyne gebruik word, verbind. Dis terselftertyd ’n sinspeling op joie de vivre en alles wat met polka te make het – van die lieflike dans met sy oorsprong in Bohemië, tot die modebewuste se speelse polkakol-patroon.

Hierdie feestelikheid bereik elke week ’n hoogtepunt by die Stellenbosch Hills wynkelder.  Op Polka Vrydag skiet die kurke die gelukkigste dag van die week met ’n spesiale aanbieding – koop enige vyf Polkadraai wyne by die kelder en kry die sesde bottel heeltemal gratis.

Polkadraai deel ook hul voorspoed, deur by te dra tot die Polka Kids gemeenskapsprojek wat in 2008 geloods is. ’n Gedeelte van alle Polkadraai wynverkope word aan die naburige Vlottenburg Primêre Skool geskenk.

Die skool het 400 leerders, wat die jonger kinders van die meeste van die wingerd- en kelderpersoneel van Stellenbosch Hills insluit. Die fondse word aangewend vir opvoedkundige hulpmiddels, wat die opvoedkundige ervaring baie verryk.

Dus doen jy ook ’n goeie daad as jy vir die Polkadraai & Springmielies Proe bespreek.

Die Polkadraai & Springmielie Proe kos R50 per persoon. Elke proe duur ongeveer 30 minute, alhoewel jy baie meer tyd daar kan deurbring om die res van die Stellenbosch Hills-reeks kwaliteit-wyne te proe.

Die proeë word by die wynkelder, Maandag tot Vrydag van 9:00 tot 17:00 en Saterdag van 10:00 tot 15:00, gehou.

Besprekings is noodsaaklik. Bespreek per epos by info@stellenbosch-hills.co.za of bel 021 881 3828. Besoek www.stellenbosch-hills.co.za vir meer inligting.

Deel jou Polkadraai oomblikke op Facebook (https://www.facebook.com/StellenboschHills/), Twitter @STBHills en Instagram @stellenbosch_hills

 Stellenbosch Hills is geleë op die hoek van die R310 en die Vlottenburgpad, naby Stellenbosch.

By |2018-02-05T11:00:19+00:00February 5th, 2018|Kos, Kultuur, Reis, Uncategorized|