Stellenbosch Hills vier vanjaar ’n groot mylpaal met die vrystelling van die nuutste oesjaar van die Muscat de Hambourg. Die bekroonde kelder het hierdie wyn 30 jaar gelede vir die eerste maal gemaak – Suid-Afrika se enigste kontemporêre weergawe, wat as enkelkultivar gebottelleer word.

Die Stellenbosch Hills Muscat de Hambourg 2018 spog met ’n aanloklike robyn-amber skynsel – die kleur van sononder. Kersie- en bessiegeure word saam met ’n skeutjie Turkish delight bespeur, wat deurrol na ’n pikante smaak, waar dit met soet speserye hande neem. Die smaak talm lank ná die laaste slukkie.

“Hierdie wyn het ’n effense tweesydige persoonlikheid, soos ’n superheld,” sê die keldermeester,  PG Slabbert. “Dit word dikwels in ’n styl-kategorie ingedruk, maar die eerste slukkie is ’n onthullende verrassing: ’n wyn met sterk geure, kompleksiteit en elegansie.”

Stellenbosch Hills is een van slegs twee kommersiële Muscat de Hambourg-produsente, maar die enigste wynkelder om dit as enkelkultivar te bottelleer. Die wingerd is oorspronklik in 1987 geplant, maar moes in 2001 vervang word. Vandag beslaan die opgeleide wingerde net minder as een hektaar.

Muscat de Hambourg is in Duitsland ontwikkel en die kultivar is ’n kruising tussen Muscat d’Alexandrie en Frankenthal. Stellenbosch Hills maak die wyn in ’n Jerepigo-styl, wat beteken die ongegiste druiwesap word met ’n wynspiritus gefortifiseer.

“Soeter wyne het ’n lojale volgelingstal in Suid-Afrika en is dikwels die beginpunt vir baie nuweling-wyndrinkers,” sê Stellenbosch Hills se wynmaker, James Ochse. “Ons het dikwels besoekers wat ywerig hul nostalgie oor die Muscat de Hambourg deel; elkeen het ’n storie.

“Dit is waarlik spesiaal omdat dit so raar in Suid-Afrika is en só deel van ons wynkelder is,” voeg hy by.

The Muscat de Hambourg 2018 is nou op sy heel beste, maar sal met bottel-veroudering vir die volgende vier tot vyf jaar, aanhou verbeter.

Dis nie net hemels in die glas as dit yskoud of met fyn ys bedien word nie, maar ook oor vanieljeroomys en aarbeie.

Die Muscat de Hambourg 2018 verkoop teen R65/bottel en is by die kelder en landswyd by uitgesoekte handelaars en restaurante beskikbaar.

Die kelder is geleë op die hoek van die R310 en Vlottenburgpad, naby Stellenbosch. Die proelokaal is van Maandag tot Vrydag van 09h00-17h00 en Saterdag van 10h00-15h00 oop. Dis gesluit op Sondag en openbare vakansiedae.