Featured postSake

SO, NOU KAN ONS MAAR JEANS DRA?

deur Kerry Morris, uitvoerende hoof, Tower Group

Ek was ’n provinsiale swemmer. Lank voor snyerspakke, hoëhakskoene en raadsale, het ek vir KwaZulu-Natal geswem… en my gate uit geniet. Wat ek waarskynlik die meeste daarvan geniet het om op professionele vlak te swem, was die dissipline wat daarmee gepaard gegaan het: die roetine van daagliks oefen, die presisie van die swemslae en die obsessie om die horlosie te klop; elke keer nadat die skoot geklap het.

Dit blyk nou dat dit in die korporatiewe wêreld presies dieselfde is.

 

Kerry Morris

’n Dekade of wat later (voor COVID-19) is ek nog altyd ’n voorstander van voorspelbaarheid, struktuur en werknemerdissipline. Ek wil ook steeds die horlosie klop. My dae is, veiligheidshalwe, die een soos die ander: gefokus op wins en op die eindstreep, elke dag in dieselfde snyerspakkie (darem in verskillende kleure). As gesertifiseerde korporatiewe dier, was ek heeltemal tuis in my borrel van gedragskodes…totdat die wêreld op sy kop gedraai is en ek net één kode nodig gehad het – die toegangskode om aan te meld.

Wat?!

Komende uit ’n roetine-agtergrond, was dit vir my allesbehalwe maklik om my korporatiewe algoritme te verander. ’n Wagwoord en pantoffels was nie my idee van ’n spanvergadering nie.

Maande lank het ek geworstel met die konsep van slenterdrag op bestuursvlak en laat my in hemelsnaam nie begin met ‘kamera aan, kamera af’ nie! Die onvoorspelbaarheid van alles het my rasend gemaak. Ek het selfs begin om my span met Zoom te bekruip (op ’n veilige afstand, natuurlik), en hulle gedurende die dag lukraak te bespied, net om te bepaal of hulle gepas geklee was vir die ‘kantoor’.  Gek! Maar, as korporatiewe kaptein is ons in ’n mate almal skuldig daaraan.”

Tradisionele korporatiewe omgewings het immers jare lank gepredik dat beheer gelyk is aan struktuur, aan mag, aan resultate. Ons het geleer dat om werknemers ‘gehoorsaam’ te maak, skering en inslag moet wees.

Teen die tyd dat ons ons vrees vir ‘demp’ (mute) verloor het en later in 2020 ontbied is na die egte raadsaal, raai ’n bietjie wie het in ’n paar jeans in die raadsaal ingestap? Die uwe!

“O, so nou word ons toegelaat om jeans te dra?” het my ontvangsdame opgemerk. Ek was verward, want, om die waarheid te sê, ná al die maande in stille afsondering het ek nooit daaraan gedink nie. Ek was nie seker of sy my berispe of uitgedaag het nie. Nee, nie een van die twee nie – trouens, terwyl ek na my jeans staar, het sy my op daardie oomblik die waarheid van korporatiewe leiding geleer:

Ware leierskap is nie voorskriftelik nie. Dit luister. Ware leierskap is nie beperk nie, dit is vloeibaar. Dit verander, pas aan, ruk reg, verander selfs van klere en kleur. Maar die rede waarom die meeste van ons in 2021 nog nie ware leierskap omarm het nie, is omdat ons steeds vasgevang is in strukture en bang is vir buigsaamheid. En buigsaamheid is die ’kode’ vir verandering.

Daardie woord: verandering. Verandering is die voorloper van transformasie en transformasie is vreesaanjaend en oorweldigend. Ons struikel, val vas, moontlik omdat ons glo dat transformasie op papier, in die boeke is, die seremonie, die swier en vertoon, die groot aankondiging.

Dit is nie. Dit hoef nie ’n vryslag-‘flip turn’ te wees nie. Dit kan jeans op ’n Dinsdag wees.

Die kuns van ware leierskap is om jou mense iewers in die middel te ontmoet. Om mekáár na transformasie te lei en dit langsaam te doen, stap-vir-stap aan te pas.

In ons die huidige COVID-omgewing, het ons gesien hoe hiërargië en tradisionele stelsels verbrokkel omdat politieke leiers te lank geleenthede vir verandering misken het; lugtig was vir die opwelling van chaos, disrespek en verset – ’n beheervraat se nagmerrie. En ek vermoed dis presies waar ek ook was.

Ware verandering is slegs moontlik as ons ons spanne toestemming gee om aan te pas, om tyd daaraan te bestee om die stelsel reg te ruk pleks daarvan om ons daarteen te  verset.

As sakeleiers is dit hoog tyd dat ons ons bloudruk vir leierskap versien: hoe dit lyk, hoe dit voel en veral watter klere dit aantrek. Verandering dwing ons om ag te slaan op die reëls en dit aan te pas, om perspektief te verander, om ons werknemers en ons waardestelsels te herwaardeer. Toegegee, dis ’n vreemde wêreld vir ons en ons is almal ’n bietjie kwetsbaar en bang…maar nogal gretig om jeans te dra. Oplaas is ons almal menslik en saam in hierdie leierskapsding.

As mens ’n betekenisvolle maatskappy wil bou, gaan dit nie meer om reëls nie. Dit gaan om die nodige vloeibaarheid in die feite, en herkalibrering in die klousules te vind. Die tyd het aangebreek dat ons vloeibaarheid, onsekerheid, kompleksiteit, dubbelsinnigheid as die nuwe werkleier erken – en van waar ek sit, lyk sy vir my nog steeds deftig!

 

 

 

 

 

About author

Articles

Short bio on DEKAT here...
Related posts
Sake

Kantar BrandZ Most Valuable Global Brands 2021

The world’s most valuable brands have experienced record growth according to the Kantar…
Read more
SakeStyl

What’s Your Mode?

StyleMode – new eCommerce fashion portal launches in South Africa Officially taking to the…
Read more
Johan LiebenbergSake

Top South African brands could lose over R65 billion from COVID-19

As the COVID-19 pandemic wreaks havoc on the global and national economy, South Africa’s top 50…
Read more
Newsletter
Become a Trendsetter

Sign up for DEKAT's newsletter and get the best of DEKAT, tailored for you.