…bring ook fabelagtige tennisskouspel na die Moederstad

Op seker die mooiste tyd van die jaar in Kaapstad, veral as jy deur ʼn buitelander se oë kyk, is Rolex se internasionale Mentor en Protégé Kunste-inisiatief op ʼn volmaannaweek in Februarie vir die heel eerste keer in sy geheel na Afrika gebring. LISEL KRIGE berig oor dié inspirerende inisiatief.

Die mees onlangse mentorskaptydperk, wat weer behels het dat belowende jong kunstenaars met uitsonderlike talent die geleentheid gegun is om oor ʼn tydperk van twee jaar gehalte-tyd saam met erkende meesters in die onderskeie velde deur te bring en kreatiwiteit uit te ruil, het pas ten einde geloop.

Terwyl politici en ander magshebbers, magnate, rykes en beroemdes jou soms amper-amper ʼn rat voor die oë draai – om te glo die wêreld en alles daarop draai om…wel, geld en mag, word die sluier vir ʼn oomblik weggetrek. Jy sien met ʼn sprankie hoop dat dinge van blywende, ewigheidswaarde, tog nie vergete of verlore raak nie. Jy beleef helder en duidelik dat ʼn mega-maatskappy – wat nogal in Switserland gesetel is en van krag tot krag gaan – nie net superduur horlosies verkoop nie, maar ook met massiewe beleggings in programme en projekte die oordra van kennis en vernuf van geslag tot geslag wil verseker.

Onmeetbaar waardevol

“Ek is daarvan oortuig dat die unieke krag van die kunste die magiese gom tussen mense, die samelewing en kontinente is, ongeag ras, velkleur, godsdiens en geslagsoriëntasie.” Só het Fruzsina Szép, artistieke kurator van die Rolex Kunstenaweek gesê. “Die Rolex Kunste-inisiatief bewys dit en is ʼn baken van kreatiwiteit, samewerking en positiwiteit. Om by mentors van formaat te leer, is onmeetbaar waardevol; en om kennis uit te ruil, is ʼn kosbare menslike gawe.”

Sy het gesê om die kreatiewe proses wat deur elke protégé onderneem is, te ondersteun, was vir haar ʼn loutere plesier. “Elkeen van hierdie begaafde siele sal hul uitsonderlike werk op sy beste ten toon stel: die uitkoms van die mentorskap, tesame met ʼn tikkie van hul eie towerkrag.”

Rolex se diepgaande en langtermyn verbintenis tot kuns en kultuur was nog altyd deel van die nalatenskap van die visie en die waardes van die maatskappy se stigter, Hans Wilsdorf. Hy was ʼn entrepreneur én filantroop. Sy doel was sedert die begindae van die maatskappy om uitnemendheid, prestasie en voortdurende verbetering in al die maatskappy se bedrywighede te bevorder.

Oordra van kennis

Die “voortsetting van kennis” is intiem verweef met die maatskappy, of dit in die maak van horlosies of in die ondersteuning en bevordering van kuns en kultuur is. Ook natuurlik sport.

Die Mentor en Protégé Kunste-inisiatief, wat in 2002 geloods is om juis ʼn hupstoot te gee aan die oordra van kennis van een geslag kunstenaars na die volgende, se uitgangspunt is dat kuns ʼn kontinuum is. Dit gaan oor die opgaar van ondervinding uit die verlede oor geslagte heen, en die veronderstelling dat alle kunstenaars hul inspirasie kry van dié wat hulle vooruitgegaan het. Dis ʼn proses wat homself in die toekoms in moet herhaal en herhaal…

Op Vrydag 7 Februarie, die eerste dag van die opwindende naweekprogram, het Rolex uit Genève, Switserland bekendgemaak dat meer as 100 vooraanstaande kunstenaars en kreatiewe wêreldleiers hulle in Kaapstad by honderde plaaslike kunsgeesdriftiges sou aansluit. Die doel? Om erkenning te gee aan die opkomende kunstenaars van die pas afgelope Mentor-/Protégé-fase en die uitkomste van die ‘vennootskappe’ waarvan hulle deel was, te beleef.

Protégés van vorige jare wat die naweek se verrigtinge bygewoon het. Altesame 54 het al baatgevind.

Vroue

Die “Rolex Kunstenaweek” was ʼn ware fees. Alles het gespreek van finesse en fyn afronding, uitstekende beplanning, uitmuntendheid. ʼn Baie verblydende verskynsel was die groot aantal vroue wat prominente rolle in sowel die uitrol van die naweekprogram, as deelname aan die tweejaar-inisiatiewe en paneelbesprekings gespeel het.

Die Universiteit van Kaapstad se Baxter-teater – wie se uitvoerende direkteur, Lara Foot, in 2004/2005 ʼn protégé in die program was – het met trots en waardigheid bekende en bekroonde mentors ontvang vir die naweek se viering van die Mentor- en Protégé-program.

Die foyer van die Baxter-teater, wat tydens teetyd ‘n byekorf van bedrywigheid was. Die teaterkompleks was deurentyd ‘n trotse baken, onder leiding van Lara Foot.

Die vier mentors van die afgelope twee jaar was die veelsydige en charismatiese Ierse skrywer Colm Tóibín, gesogte Kanadese choreograaf Crystal Pite, een van die wêreld se

mees gerekende tabla-spelers, Zakir Hussain van Indië, en gerespekteerde Tanzaniese argitek Sir David Adjaye. Op hul beurt was die vier protégé’s die jong Ierse skrywer Colin Barrett, Senegalese hip-hopdanser en choreograaf Khoudia Touré, Amerikaanse musikant (tromme) en komponis Marcus Gilmore en Niger-gebore argitek Mariam Kamara.

“Match in Africa”

Maar wag! Rolex se affiniteit vir, en affiliasie met, sport het nie in dié uitsonderlike naweek (waarin Kaapstad se verkeer feitlik elke besoeker geskok het) agterweë gebly nie. Allermins die geringste van die items op die naweekprogram was die aanskoulike tenniswedstryd “Match in Africa”, tussen Suid-Afrikaansgebore Switser Roger Federer en die Spanjaard Rafael Nadal, wat Vrydagaand in die volgepakte Groenpuntstadion gespeel is.

ʼn Tennisbaan is spesiaal vir die geleentheid gebou! En ʼn rekordgetal van meer as 52 000 mense het die “Match in Africa” bygewoon! Die Roger Federer-stigting, wat op die bemagtiging van talentvolle maar behoeftige jeugdiges gemik is, het ʼn yslike $3.5 miljoen met die skouspel ingeoes. Die atmosfeer was elektries en die pretgees aansteeklik – veral met die dubbelspelwedstryd waarin Federer saam met Bill Gates vir Nadal en Trevor Noah aangevat het. Lekker.

Rafael Nadal het sy deelname aan die vertoonwedstryd agterna beskryf as ʼn eenmalige ervaring (“experience of a lifetime”).

Filantropiese inisiatiewe

Sedert Rolex byna 20 jaar gelede sy filantropiese inisiatiewe uitgebrei het om sy Mentor en Protégé-program in te sluit by reeds bestaande projekte, het 54 mentors wêreldwyd reeds met gekeurde protégé’s – ook vanoor die hele wêreld – saamgewerk.

Kulturele teoretikus prof. Homi K. Bhaba, wat gedurende die naweek se program in meer as een paneelgesprek op die verhoog as moderator/fasiliteerder opgetree het, het na die wisselwerking en sinergie tussen mentor en protégé verwys as die “gesamentlike aanvuur van die kreatiewe kunste”.

‘n Gesprek met prof. Homi K. Bhabha as moderator (middel). Met gespreksgenote Lara Foot, rolprentmaker Annemarie Jacir, musikant Yo-Yo Ma en skrywer/voormalige Nobelpryswenner Wole Soyinka.

Om rigting te gee aan die eerste gesprek met die onderwerp “Die kunste in tye van polarisasie” het hy ook die vraag gevra: “If all the world’s a stage, what is the stage of the world we are in now?” – waarop Wole Soyinka, Nigeriese skrywer, digter en essayis wat in 1986 die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het, geantwoord het “in ʼn tragiese komedie…”

Wêreld-premières

Die gehore was bevoorreg om twee wêreld-premières te beleef. Khoudia Touré van Senegal, wat in haar land ʼn leidende rol speel in “ondergrondse” hip-hopdans en vir Crystal Pite, gevierde Kanadese choreograaf as mentor gehad het, se produksie “When the Night Comes”, was aangrypend en het ʼn staande ovasie uitgelok. Op die musiekfront het Marcus Gilmore, dromspeler en komponis van Amerika, se komposisie “Pulse” ook gróót waardering en luide applous ontvang. Die gehoor was gaande oor sy samespel met sy mentor, Zakir Hussain van Indië.

Marcus Gilmore (naaslinks), ook ‘n 2018-2019 protégé, wat Zakir Hussain as mentor gehad het. Sy tromvertoning was ook ‘n wêreld-première.

Khoudia Touré, 2018-2019 dans-protégé van Senegal, saam met haar suster, Souka Lo.

Jean-Frédéric Dufour, uitvoerende hoof van Rolex, het bydie afsluitingseremonie ʼn kort toespraak gelewer voordat Rebecca Irvin, direkteur van die Rolex Kuns-inisiatief, die mentors en protégé’s vir 2020-2021 aangekondig het.

Die nuwe mentors word bestempel as vier van die invloedrykste baanbrekers in hul onderskeidelike dissiplines:

  • Spike Lee (Filmbedryf – hy word beskou as een van die mees maatskaplik-bewuste rolprentmakers van sy generasie en is onder meer benoem as President van die Jurie by die 73ste Festival de Cannes.)
  • Phyllida Lloyd (Teater – sy word wyd erken vir haar breë spektrum van uitgesproke en innoverende teater-, opera-, musikale en rolprentproduksies.)
  • Lin-Manuel Miranda (nuwe oop kategorie – hy is ʼn bekroonde komponis, liriekskrywer en akteur en was die oorspronklike ster van die gewilde Broadwayproduksies Hamilton en In the Heights.
  • Carrie Mae Weems (Visuele kunste – haar werk delf in komplekse menslike ervarings soos geslagsvooroordeel, rassisme en klasseverskille.

Die drie protégé’s wat gekeur is:

  • Kyle Bell (Filmbedryf), ʼn Amerikaans-Indiaanse rolprentmaker wat daarna streef om die stories oor sy mense te vertel. Hy geniet reeds wye erkenning en lof.
  • Whitney White (Teater), ʼn bedrewe regisseur, musikant/komponis en aktrise, is besig om naam te maak as een van die mees gesogte jong teatermakers in die VSA.
  • Camila Rodríguez Triana (Visuele kunste), is ʼn Colombiese rolprentmaker en visuele kunstenaar. Sy skep werke met groot emosionele krag wat die waarnemer/kyker bevraagteken.

 

Anet Pienaar-Vosloo, Hugo Theart en Emelda Brand

David Kramer

Judy Rebstein, Sandra Prinsloo en Urmila Jithoo