Renaissance-tuig
Vergeet van verstaan. Kyk en ry net, en ’n huwelik tussen mens en masjien sal jou van die vol-elektriese Audi e-tron GT se geloofsbriewe oortuig. EGMONT SIPPEL het die wieletoekoms ontdek.
Renaissance-tuig
Vergeet van verstaan. Kyk en ry net, en ’n huwelik tussen mens en masjien sal jou van die vol-elektriese Audi e-tron GT se geloofsbriewe oortuig. EGMONT SIPPEL het die wieletoekoms ontdek.
Aldus die Suid-Afrikaanse popgroep, die Peanut Butter Conspiracy, ’n halfeeu gelede. Om lief te hê. Om begrip te toon. Om dinge uit te redeneer. Om te verstaan.
Dis belangrik.
En nie net in menseverhoudinge nie. Rasionaliteit en rede loop inderdaad soos ’n goue draad deur die Westerse intellektuele geskiedenis. Dit baar insigte en antwoorde, aldus denkers soos Descartes, Leibniz en Kant.
Aikôna, het Bacon, Locke en Hume teruggekap. Die verstand is ’n tabula rasa, ’n skoon lei, wat kennis empiries verwerf, via sintuiglike ervaring.
Ieder geval was dit ook ’n filosofiese uitdaging om sin te maak van die maatskaplike en sosiaal-politieke strominge wat uit wiskunde, wetenskap, die kunste en tegnologie gebore is, onder meer die Renaissance, die Eeu van Verligting, die Franse Revolusie, twee industriële revolusies en in moderne tye die Derde Industriële Revolusie.
Nou’s die Vierde Industriële Revolusie (4IR) op ons en hoe om hom te verstaan?
Wel, op baie maniere. 4IR behels fop-intelligensie, kwantumrekenaars, nanotegnologie, robotika, outonome voertuie en veel meer.
Terselfdertyd word die planeet met ’n potensiële katastrofe in die vorm van klimaatsverandering gekonfronteer.
Outonome voertuie op sigself is dus geen oplossing nie. Om onnodige besoedeling te voorkom, moet gifgasuitlate ook na zero geknip word.
Ergo: vol-elektriese voertuie (EV’s) met aandrywing uit suiwere batterykrag, soos Audi se nuwe e-tron GT (350 kW/630 Nm), plus die kragtiger weergawe van dieselfde vierdeur-sportkoepee, die RS e-tron GT (440 kW/830 Nm).

Nou’s die vraag: Hoekom is die RS e-tron GT sterker en vinniger as die e-tron GT as hulle uit dieselfde battery met dieselfde kapasiteit vuur?
Aah! Want die battery is ’n brandstoftenk wat reikafstand bepaal, nie dryfkrag op die wiele nie. Hoe groter die tenk, hoe verder kan jy ry. En hoe vinniger jy ry, hoe gouer tap jy jou tenk leeg.
In EV’s word die funksie van ’n klassieke binnebrandenjin – om die wiele te laat rol – oorgeneem deur ’n elektriese motor en die omskakelaar tussen die battery en einste motor. Die meeste EV’s het voorts net een elektriese motor; die e-tron GT het twee: Een op die vooras, een op die agteras.
En dís die verskil tussen die GT en die RS GT. Eersgenoemde se omskakelaars plus elektriese motors wek genoeg krag op om die 5 m lange sportkoepee in ’n fraksie meer as 4,0 sekondes van 0-100 km/h te werp. Die RS knip die versnellopie na ’n knerts bo 3,0 sekondes.
Dis blitsig vir iets met die gewig van ’n renoster. Kan jy jou laasgenoemde teen 255 km/h indink?
’n Groot deel van die GT se 2,3 ton is natuurlik aan die battery onder die motorvloer te wyte; ’n groot, plat, vierkantige litium-ioon-batterypak wat uit 36 modules (of blokke) met 12 selle elk bestaan.
Dis 432 batteryselle in ’n struktuur wat na ’n enorme selfoonbattery lyk, maar met 10 000 keer die stoorkapasiteit.
Gegee hierdie “brandstof-volume” en die GT en RS kan net-net meer en minder as 480 km op ’n enkellading (of “tenk”) haal as jy stadig versnel en ry. Anders as petrol- en dieselgedrewe voertuie is EV’s se relatiewe stadsverbruik egter beter as hul ooppad-verbruik.
Op hierdie manier vorder die e-tron soms dan drie of vier kilometer in staan-gaan verkeer, terwyl hy net ’n enkele kilometer op die battery se oorblywende reikafstand inboet.
Buiten twee pleks van net een elektriese motor, spog die Audi ook met ’n tweespoed-ratkas op die agteras teenoor die meeste ander EV’s se enkelspoed-transmissie. Dit nou vir goeie verrigting teen lae én hoë snelhede.
Die e-tron se 800 volt-argitektuur is boonop doeltreffender en laai byvoorbeeld vinniger as die 400 volt-argitektuur wat deur feitlik alle ander EV’s (insluitend Teslas) ingespan word.

Want as jy dit nie “kop” nie, mis jy – volgens die Peanut Butter Conspiracy – die beste ding in die wêreld.
Wel, die Conspiracy was dalk verkeerd. Daar mag net sowel iets beter as begrip en verstaan wees en dis die wonder van ontdekking.
Die eerste keer as jy die Victoria-waterval ervaar. Of Beethoven se Negende hoor. Of Messi op ’n sokkerveld sien.
“Many years later, as he faced the firing squad, Colonel Aureliano Buendía was to remember that distant afternoon when his father took him to discover ice.”
Dis die openingsin in Gabriel García Márquez se One Hundred Years of Solitude. Gekonfronteer met die dood is dít wat die kolonel onthou: Die dag toe hy droë ys ontdek het.
Het hy verstaan hoekom die ys “stoom”?
Nee. Maar die ontdekking het hy nimmer vergeet. Dis lewenslank vertroetel, nes mens met Shakespeare-sonette of Breytenbach se Ysterkoei maak.
Ingolstadt se vol-elektriese Gran Turismo is ten dele gebou uit staal (wat uit yster stam). Maar hy’s g’n koei nie. Die e-tron swiep soos ’n arend en saag soos ’n jagluiperd.
Gee gas en die vuurwa spring byvoorbeeld met ’n toekomstuig se “whoom” (eerder as ’n straalvliegtuig se “whoosh”) uit sy blokke. Versnelling is verstommend vinnig. Breë bande, ’n lae swaartepunt, vierwielstuur en alwieldryf – oftewel quattro – waarborg uitstekende hantering. En met die oorgrote meerderheid van motorgewig tussen sy wiele is ritgehalte op driekamer-lugvere puik.
Jy kan skaars glo wat jy voel.
En jy kan skaars glo wat jy sien. Marc Lichte en sy ontwerpspan het inderdaad ’n dinamiese beeldhouwerk in die beste Europese tradisie gelewer; die GT is verruklik verby.

Die neus sloep slank uit ’n dramatiese gesig tot by ’n dak wat glad en gemaklik onder die wind deur glip. Vir goeie vastrap plant die agterwiele wyd onder breë en sterk geskulptureerde heupe. ’n Ligstreep tussen twee baldadige stertligte plus ’n stewige lugversneller voltooi die ontwerp met flair.
Die totale prentjie slaan jou asem weg. Die GT is tegelykertyd aggressief, elegant en emotief.
Ditto die binneruim. Die voorpaneel se driedimensionele argitektoniese opbou betower. Materiale en bekleedsel is van die hoogste orde. Elke detail beïndruk. Audi is die meesters van kajuitontwerp en die GT spog met Ingolstadt se beste nog.
Om alles te kroon lewe al vier insittendes onder ’n enorme panoramiese glasdak wat ’n goeie blik lewer op die hemel waaruit die Audi geval het.
Uiteindelik lui die e-tron die metamoderne wielewêreld in. Hy’s op die voorpunt van ’n nuwe revolusie, ’n nuwe renaissance. Hy verpletter ontwerpgrense en oorheers die pad. Hy vul jou tabula rasa en rig die eeu van elektriese motors.
Die Vierde Industriële Revolusie het ’n weeldegesig op wiele gekry.
En jy hoef hom nie eens rasioneel te beredeneer nie. Verstaan is vir die voëls. Ten aanskoue van die Audi sal selfs Descartes, Leibniz en Kant rede oorboord gooi.
Want jy moet die e-tron GT net ontdek om lief te hê en te weet: Dis die beste ding ter wêreld.
* Pryse: Audi e-tron GT quattro – R2,715 miljoen; RS e-tron GT quattro – R3,3 miljoen.