Quo vadis Afrikaanse musiek?
Photography
’n Mens kan die vraag: waar staan Afrikaanse musiek vandag? kortliks as volg beantwoord:
Afrikaans is ’n dinamiese taal, en net so ook is die kunste (insluitende musiek) in Afrikaans, en solank as wat mense Afrikaans praat, sal mense in Afrikaans musiek maak. Ongelukkig is Afrikaanse mense nogals geneig tot intense introspeksie as dit kom by taal en kultuur, vandaar SCHALK VAN DER MERWE se onderstaande, langer verduideliking.
Die ontwrigting wat tegnologie gebring het tot die Afrikaanse musiekbedryf – eintlik die globale musiekbedryf – bring daarmee saam opwindende geleenthede. Sulke veranderinge is niks nuuts nie. In die 1930’s is die eerste plaaslike opnameateljees in Suid-Afrika opgerig wat gelei het tot ’n bloeitydperk van Afrikaanse plate met sangers soos Chris Blignaut en David de Lange – iets wat ondenkbaar was voor die tyd. En toe die SAUK in 1936 gestig is, met ’n Afrikaanse diens wat bygevoeg is in 1937, het dit weer die deur oopgemaak vir ’n nuwe generasie musikante soos Hendrik Susan. Toe Springbok Radio die lig gesien het in 1950 het dit plaaslike kommersiële musiek ’n groot hupstoot gegee. Só ook het die verskyning van langspeelplate in die middel 1950’s ’n superster gemaak van Nico Carstens. Die uiteindelike aankoms van televisie in 1976 het die deur oopgemaak vir ’n nuwe generasie kunstenaars wat bekendheid verwerf het met die program Musiek en Liriek, wat vanjaar 40 jaar herdenk. Van hulle, soos Anton Goosen, Laurika Rauch en Jannie du Toit, is steeds aktief. Voëlvry is vanjaar 30 jaar oud en Koos Kombuis – die enigste oorlewende voorsanger van die beweging – tree steeds op en reik albums uit met sy kenmerkende sosiale kommentaar. Ek was toevallig onlangs deel van ’n musiekproduksie wat ’n verwerking van Johannes Kerkorrel se ikoniese album, Eet Kreef!, opgevoer het. Wat my opgeval het, was hoe relevant die bytende lirieke gebly het. Die musiek van die Voëlvry-beweging verpersoonlik ná 30 jaar steeds die hoogtepunt van Afrikaanse protesmusiek. Natuurlik het die dinamika heelwat verander sedert 1989 – PW Botha is, helaas, nie meer met ons nie, maar tog bly die satiriese uitbeelding van Afrikanerdom in die kol.
Met die einde van die apartheidsjare het die streng sensuur wat die kultuurbedryf gereguleer het, verval, wat weer meer vryheid vir kunstenaars gebied het. So ook het die aankoms van CD’s in 1992 gelei tot ’n oorvloed van Afrikaanse musiek. Veral vanaf die vroeë 2000’s het ons ’n merkbare groei in CD-verkope gesien, met ’n aantal hoofstroom Afrikaanse kunstenaars wat elk honderde duisende eenhede per CD verkoop het. Dink maar aan mense soos Juanita du Plessis – die grootse vroulike kunstenaar tot dusver wat verkope betref – Kurt Darren en Theuns Jordaan. Dit is myns insiens sekerlik die era in Afrikaanse musiekgeskiedenis wat die meeste verkope gesien het. Daardie goue golf het nou grootliks sy gang gegaan. Goudstatus is nou 15 000 waar dit eens 25 000 was, en bitter min kunstenaars bereik byvoorbeeld dubbelplatinum-, of selfs net platinumstatus. Verder het die onlangse dood van Piet Botha, wat vir soveel jare ’n vaderfiguur was vir alternatiewe kunstenaars, my weer herinner aan die jare lange spanning tussen die hoofstroom en die rockers. Hierdie tweespalt is egter nie meer so eng nie. Kyk maar na Francois van Coke en Karen Zoid, wat albei die hoofstroom betree het sonder om hulle klank enigsins te verander.
Terug na die huidige tegnologiese ontwrigting. Die veranderinge wat ons ervaar, kan dalk die grootste omwentelings tot nog toe veroorsaak. Kunstenaars kan hul eie musiek die wêreld instuur sonder om staat te maak op platemaatskappye. Enigiemand, insluitende jong kunstenaars, kan musiek opneem in hul kamers met vandag se tegnologie, video’s goedkoop maak (selfs met ’n foon as jy baie kreatief te werk gaan), en dit op YouTube laai (of net bloot op ander aanlynplatforms verniet deel) en só ’n gehoor bereik sonder om ooit op radio gespeel te word. Ja, geld speel steeds ’n rol in produksie, maar dinge is veel meer toeganklik. As jy as kunstenaar slim te werk gaan met sosiale media, raak jy basies jou eie vermaaklikheidskanaal met ’n aanlyn gevolg. Dit is so maklik om via sosiale media jou gehoor op hoogte te hou met waarmee jy besig is. Die dae is getel dat jy plakkate moes druk en teen lamppale gaan opsit in die nag. Spoegwolf maak so opslae as ’n belangrike nuwe band. Die eens berugte Fokofpolisiekar vier vanjaar hul 16de verjaardag en gaan van krag tot krag. Hulle het ook uitgebrei op sakevlak en het nou ’n kroeg en hul eie bier. Dit wys vir ons dat die musiekekonomie moontlikhede bied as jy weet hoe om jou openbare profiel goed te bestuur. Die beste voorbeeld van almal is sekerlik Die Antwoord, wat as internetsensasie die grootste “Afrikaanse” (ek is dalk pedanties, maar die meeste van hul lirieke is in Engels) musiekuitvoerproduk ooit geword het. Daar is vele ander kunstenaars – te veel om op die naam te noem – wat goed aanpas met die veranderende tye.
Dit kan net goed wees vir Afrikaanse musiek. Veral as mens in ag neem die historiese beperkinge wat sommige Afrikaanse musiekkunstenaars uitgesluit het. Daarmee bedoel ek Afrikaanse musiek in wat hulle “nie-standaard Afrikaans” noem. Ná ’n lang en vele male hartseer geskiedenis van ras- en klasdiversiteit onder die mense wat Afrikaans hul moedertaal noem, asook die politiek rondom wat as standaard en nie-standaard geag is, behoort musiek in álle weergawes van Afrikaans verwelkom te word. Die mooiste lirieke in Kaaps en ander dialekte verryk die taal en dié linguistiese diversiteit onder moedertaalsprekers maak dit moontlik vir Afrikaanssprekendes van verskillende agtergronde om mekaar se lewenservaringe – soos byvoorbeeld die harde realiteite van die bendegeteisterde areas van die Kaapse Vlakte – op ’n dieper vlak te verstaan. Histories het die werk van Taliep Pietersen en David Kramer baie gedoen om die musiektradisies van bruin Afrikaanssprekendes te bevorder. Die ATKV doen spesifiek baie werk onder Afrikaanse jongmense van verskillende agtergronde om hulle te inspireer om liedjies in Afrikaans te skryf. Dit kan op lang termyn mooi vrugte afwerp. Tog duur ou tendense voort. Tot ’n mate reflekteer die Afrikaanse musiekbedryf die wyer kontoere van die Afrikaanssprekende gemeenskap – die goed én die sleg. Wie is die gehore wat duur kaartjies by kunstefeeste en teaters kan bekostig? Wit Afrikaanssprekendes het gemiddeld meer koopkrag en kan dit makliker bekostig om verskeie kunstenaars te ondersteun deur óf hul musiek te koop, en/óf lewendige optredes by te woon. Dit maak die wit – en ja, dit is ’n growwe veralgemening in ’n samelewing met baie fyn nuanses – segment van die Afrikaanse musiekmark sterker. Sommige kunstenaars slaan munt deur juis hul wit identiteit deel te maak van hul bemarkingstrategie. En dáárvoor was daar maar nog altyd ’n mark. Maar dinge verander. Kyk byvoorbeeld vir Emo Adams wat die nuwe aanbieder is van Noot vir Noot.
So wat ís dan die stand van Afrikaanse musiek? Die veranderinge op tegnologiese vlak bied uitdagings, maar ook geleenthede vir Afrikaanse kunstenaars. Solank daar belê word in die ontwikkeling van ’n wye verskeidenheid jong talent, sal die bedryf die vrugte daarvan pluk. Die nuwe generasie sing hul lewenservaringe en dit is goed so. Wat sou ek wou sien?
Ek hou reeds van wat ek sien. Laat die nuwe generasie doen wat hulle doen en laat diegene wat kan help, help. Daar is oorgenoeg fantastiese nuwe Afrikaanse groepe en kunstenaars vir elkeen se smaak. Soos die wêreld kleiner raak en grense afgebreek word, kan mens opwindende dinge verwag vir Afrikaanse musiek. Daar is geen tekort aan talent nie en groot dinge is aan die kom.