VERDOEMENDE KANSELLEERKULTUUR

Sosiale media is ’n seën, maar ook ’n straf en om aan die verkeerde kant van Facebook-volgelinge of die Twitterati te beland, kan die skandvlek op jou plaas en van jou ’n paria op alle gebiede maak. JOHAN LIEBENBERG en die DeKat-span het die soeklig op dié hedendaagse tendens geplaas.

 

 

Die slagoffer

Pasop! Jy kan maklik in die strik trap en ’n slagoffer word! Die slagoffer van ’n nuwe gier wat deel uitmaak van die “woke”-bewussynsbeweging en wat bekende staan as kanselleerkultuur (cancel culture).  Die beweging het in Amerika en Kanada ontstaan en hierheen oorgewaai (hoewel die kanselleerkultuur geensins heeltemal nuut hier is nie). Die aanvanklike doelstelling was edel – om rassisme en sosiale ongeregtigheid te beveg – en, belangriker, om “oortreders” tot verantwoording te roep. Maar dit het ontaard in ’n monster omdat dit nou die “oortreder” bestraf wat enigiets kan beteken van openbaarmaking op sosiale media tot die einde van ’n loopbaan. Dit is nie ongewoon dat doodsdreigemente ook ’n gevolg is nie.

Ek sou ’n onderhoud met ’n teaterregisseur in Kaapstad vir hierdie artikel gevoer het omdat sy ’n slagoffer van kanselleerkultuur was tydens die produksie van ’n toneelstuk, afgesien daarvan dat dit suksesvol in die buiteland opgevoer is. Ná verskeie e-posse het sy haar onttrek aan die onderhoud uit vrees vir gevolge. Ek dink haar antwoord spreek boekdele.

“Ek voel baie onseker om myself bloot stel en my storie te vertel. Ek het lank hieroor nagedink en ek moet eerlik wees met jou. Dit is ’n groot risiko vir my, dus moet ek my ongelukkig onttrek. Ek is so jammer. Ek kan nie. Ek wens jou sterkte toe, maar ek kan dit eenvoudig net nie doen nie. Dit behoort jou ’n idee te gee van hoe skadelik dit was.”

Die skrywer Kazuo Ishiguro het joernaliste toegespreek nadat hy die Nobelprys gewen het en gewaarsku dat jong skrywers die gevaar loop om nie te skryf wat hulle wil nie uit vrees dat hulle gekanselleer sal word.

 

Verdoemende kanselleerkultuur
Verdoemende kanselleerkultuur

“Ek dink dit is ’n gevaarlike toedrag van sake,” het die skrywer bygevoeg, wat onder meer The Remains of the Day en Never Let Me Go geskryf het.

Hy het gesê dat hy veral bekommerd is oor jong skrywers “wat tereg miskien voel dat hul loopbane kwesbaar is, hul reputasie nog ongevorm is en dat hulle onwillig is om hul loopbane op die spel te plaas”.

Hulle vrees dat die Twitter-trop hulle sal bykom. In die media word na hulle verwys as die “Twitter mob”.

Twitter is vandag baie invloedryk en daar is natuurlik positiewe aspekte: dit het onder meer vroue wat teistering ervaar (soos die #Me Too-beweging) wêreldwyd ’n gevoel van samehorigheid gegee. Maar wee jou as jy deur die Twitter-trop geteiken word. Waarom dink ek aan ’n trop jaghonde wat bloed ruik?

Die Twitter-trop is natuurlik altyd reg en altyd seker van hul saak. So anders as Karl Popper wat ’n voorstander was van onsekerheid.

In die boek Open Society wat Popper gedurende die Tweede Wêreldoorlog geskryf het, voer hy aan dat andersdenkendes of alternatiewe standpunte aangemoedig moet word en nie onderdruk word nie. Op hierdie manier kan ons vorentoe beweeg en leer, eerder as om vas te val in valse sekerhede en in die illusie dat dit progressief is.

In ’n opspraakwekkende ope brief wat in Harper’s Magazine in 2020 gepubliseer is, en wat bekendes soos J.K. Rowling, Salman Rushdie, Martin Amis geteken het, is een van die skrywers van die brief Thomas Chatterton Williams, ’n swart intellektueel, se mening: “Twitter is alomteenwoordig, veral as jy in die media of in die akademie werk, en dit voel dus asof Twitter hierdie onsigbare, onpersoonlike vorm aangeneem het wat deur mense werk, maar deur niemand in die besonder nie, wat openbare vernedering toepas en straf en dit het ’n onsigbare toetreder tot ons bestaan geword.”

Soos Paul Theroux geskryf het: “Ek vermy groot skares en is bang vir die  onnadenkendheid van skares wat blindelings optree en volg.”

’n Slagoffer van die kanselleerkultuur is Bari Weiss, voormalige joernalis van die New York Times, wat uit hierdie prestigeryke publikasie uitgewerk is en wat haar in haar bedankingsbrief soos volg uitlaat: “Twitter se naam verskyn nie in die mashoof van die The New York Times nie. Maar Twitter het inderdaad sy werklike redakteur geword.”

Die Suid-Afrikaner prof. Adam Habib, die nuwe direkteur van die School of Oriental and African Studies (SOAS) in Londen, is vroeër vanjaar gevra om opsy te staan. Habib was voorheen die visekanselier aan die Universiteit van die Witwatersrand. Maar kort ná sy aanstelling, vroeër vanjaar, is hy uitgeskuif nadat hy die N-woord in ’n Zoom-vergadering met studenteleiers by die SOAS gebruik het. Hy het die woord in ’n sekere konteks gebruik en ’n student aangehaal en studente selfs gewaarsku om die woord nie te gebruik nie. Nietemin het hy gesondig en is hy gestraf!

’n Onafhanklike eksterne ondersoek het bevind hy moet aanbly, maar daar moet ’n herstellende geregtigheidsbenadering in plek wees.

Habib het op 12 Maart vanjaar die  studente om verskoning gevra en gesê hy erken dat sy gebruik van die N-woord leed en kommer wveroorsaak het.
Etlike prominente figure het vorentoe getree om hom te verdedig, onder andere Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer van Suid-Afrika en nou professor in die regte aan die Universiteit Stellenbosch, wat namens die groep voorspraak gemaak het.
“Waar dit by universiteite gebeur, sal dit die versmoring van die kultuur beteken; dit sal die einde beteken van die strewe na kennis. By ’n universiteit moet daar ’n vlak van intellektuele dissipline bestaan en debat moet gevoer word oor betekenisse, strategieë en beoogde uitkomste.”  
Klink dit bekend? Dit weerspieël die siening wat Ishiguro uitgespreek het aan die begin van hierdie artikel.
As hierdie tendens voortduur, is ons op pad na ’n eng, gesaniteerde  omgewing waar geen afwyking  geduld sal word nie en wat nie ongestraf sal bly nie. 
Steeds op eie drumpel moet Jan Christian Smuts se naam genoem word. Hy was die voormalige premier van die Unie van Suid-Afrika en veldmaarskalk –  ’n rang wat slegs vir enkeles in die wêreld beskore is. Hy het nie net in die Anglo-Boereoorlog geveg nie, maar ook in twee wêreldoorloë; was die eerste buitelander wat lid geword het van ’n Britse oorlogskabinet – naamlik, dié van Churchill. Tog sou jy vandag sukkel om melding van hom in die  hoofstroommedia te vind. Hoekom? Omdat daar beweer word dat hy ’n rassis was.
’n Uitvloeisel hiervan is dat die raad van die Universiteit van Kaapstad in Junie 2021 besluit het om die naam Smuts Hall, ’n studentekoshuis op die kampus, te verander. Die raad se besluit is met onmiddellike effek in werking gestel en die naam Smuts Hall is oral verwyder. Die koshuis se tydelike naam is nou Upper Campus Residence.
Die geval (reg of verkeerd) van Adam Catzavelos is ’n voorbeeld van hoe vinnig en verbete Twitter iemand op alle gebiede kan vernietig. Hy is ’n Suid-Afrikaner wat in 2018 op ’n Griekse strand ontspan het waar hy ’n video gemaak het wat sy lewe onomkeerbaar sou verander. In die video het hy gesê sy vakansie is “hemel op aarde” en dat hy so bly is daar is geen swart mense op die strand nie. (Sy presiese woorde was: “Not a k***r in sight, f*cking heaven on earth … You cannot beat this.”)
Oornag was #AdamCatzavelos oral op Twitter en die reaksie het ’n tsoenami veroorsaak wat hom en sy familie se besigheid, St George’s Fine Foods, in die golf van die kanselleerkultuur gedompel het.
Sy familie het hom dadelik afgedank, maar ondanks verskeie pogings om die skade te beheer het die maatskappy die vuur van die kanselleerkultuur ervaar. Byna geen maatskappy wou meer hul handelsmerk op hul rakke plaas nie. Die braairestaurant, The Butcher Shop, het dadelik die gebruik van die groep se produkte gestaak. So ook die restaurantgroep The Baron Group. Van die maatskappye het ’n “zero-tolerance”-beleid teenoor rassisme en ook Nedbank en Radio 702 het hulle gedistansieer van Catzavelos, ’n deelnemer aan hul besigheidsversnellingsprogram in 2014.
Dis hoe dinge in die kanselleerkultuur werk, wat ’n mens byna as ’n eie soort Kremlin kan beskryf. As daar iets is waarvan hulle nie hou nie, word dit summier gekanselleer. Daar is geen verhoor nie. Jy het eintlik geen verweer teen die trop nie.
In hierdie opsig kan die gety van kanselleer by die Washington Post en Wall Street Journal met van die vergrype van die McCartney-era vergelyk word. ’n Voorbeeld: J.K. Rowling het ’n opmerking gemaak oor iets wat iemand geskryf het: “the person menstruated”. Haar antwoord was: “Daardie persoon het ’n naam: dit is ’n vrou.” En vir hierdie verskriklike oortreding het die LGBT-gemeenskap geëis dat haar werk geboikot word.
’n Vriend, wat ’n invloedryke lid is van die Erfenisstigting van die Wes-Kaap, het ’n voorstel geopper wat sentraal is tot hierdie kwessie: die idee dat standbeelde nie vernietig moet word nie, maar dat ander naas die gewraakte standbeelde opgerig moet word sodat ’n soort dialoog ontstaan tussen die hede en die verlede, of overgeset synde, tussen “goed en kwaad” of wat as sodanig beskou word.
Dit bring ons by die omstrede kwessie van die standbeeld van die voormalige premier van die destydse Kaapkolonie, Cecil John Rhodes en die Rhodes-Must-Fall-beweging. Die beeld is op ’n hoogs onwaardige wyse verwyder, besmeer met menslike ontlasting. In teenstelling met hierdie woedende geknor van die aktiviste by die Universiteit van Kaapstad,  het ’n prominente aktivis op die kampus, redelikerwys gereageer. Professor Zethu Matebeni skryf in ’n Heinrich Böll Stifftung-publikasie dat sulke standbeelde nooit heeltemal verwyder moet word nie, maar dat dit geargiveer moet word. Dus sluit dit aan by my vriend van die Erfenisstigting se voorstel.
Daar is ’n spreekwoord in Frans wat lui: autres temps, autres mœurs. Ruim vertaal beteken dit ander kere, ander maniere. Dit kom dikwels in ons gedagtes op tydens bespreking van byvoorbeeld kolonialisme, omdat aksies uit die verlede beoordeel word deur ’n lens van die hede. Dit laat die vraag ontstaan, is dit regverdig? Sommige meen nie.
Tydens die Matabele-oorloë het Rhodes se Britse polisiemag die dodelikste wapen gebruik in die strewe na die sogenaamde “Scramble for Africa”. Met ’n vuurafstand van 5 000 meter kon dit 500 rondes per minuut afvuur. Dit was die Maxim-masjiengeweer, ook bekend as die Vickers, en volgens ’n ooggetuieverslag het dit die Matabele-krygers letterlik soos gras afgemaai. Die Matabele het ongeveer 15 000 sterftes gely; die BSAP, daarenteen, het net vier man verloor. Was dit dus regverdig of was dit ’n kwessie van ander kere, ander maniere?
Die Zoeloekoning, Shaka, ’n skrale halfeeu voor Rhodes, het na raming tussen 1 en 2 miljoen Afrikane vermoor. Rhodes se standbeeld is met ontlasting besmeer; daarenteen is ’n lughawe na Shaka genoem. Die lens van die geskiedenis kan soms baie selektief wees.
Verdien Rhodes se standbeeld die behandeling wat die studente dit gegee het – met ander woorde, verdien dit om gekanselleer te word? Die aktiviste sal ja sê. Ander, wat Rhodes goedgesind is, sal daarop wys dat hy verantwoordelik was vir die oprigting van twee universiteite, vir die Rhodes-beurs en die Kirstenbosch Botaniese Tuin, wat verskeie internasionale toekennings verower het, onder meer gereelde pryse op die Chelsea Flower Show.
Die vraag is wanneer vervul kanselleerkultuur sy idealistiese ideaal? Wanneer dien dit die edele doel om mense verantwoordelik te hou? Daar is ooglopende voorbeelde, soos Nazisme, en daar is apartheid en gedwonge verskuiwings, en daar is die onuitwisbare vlek van Distrik Ses. Mense skuldig aan misoginie moet gekanselleer word soos onder meer gesien in sy manifestasies deur die optrede van Harvey Weinstein en hier, nader aan die huis, moet prof. Lwazi Lushaba van die Universiteit van Kaapstad, gekanselleer word. Hy het vir sy eerstejaarstudente gesê dat die Nazi’s geen misdaad gepleeg het om miljoene Jode te vermoor nie, want dit is wat wit mense aan die swartes gedoen het. Die stelling is betreurenswaardig en misleidend, komende van ’n historikus met ’n doktorsgraad.
Maar om terug te keer na die punt wat my vriend van die Erfenisstigting sowel as prof. Matebeni gemaak het. Standbeelde moenie vernietig word nie, maar geargiveer word. ’n Britse kabinetsminister het gesê: as ons alles vernietig, hoe ver moet ons dan teruggaan? Elizabeth 1 sowel as Charles 1 was betrokke by slawerny; biskoppe het slawe besit. As jy alles vernietig, maak jy hierdie “dialoog” wat my vriend in die vooruitsig gestel het, onmoontlik.
’n Voorbeeld van hierdie tipe dialoog tussen die verlede en die hede, is die herrie wat losgebars het om die stigter van die Suezkanaal: die Fransman Ferdinand de Lesseps. Sy standbeeld is tydens die Israelies-Egiptiese oorlog van 1956 erg beskadig. Die owerhede was voornemens om die standbeeld weer by die ingang van die kanaal op te rig. Maar aktiviste is hierteen gekant, en beweer dat die standbeeld koloniale onderdrukking en rassisme verteenwoordig. Hulle voer aan dat duisende Egiptiese boere dood is toe die kanaal gebou is. Nou stel die owerhede voor dat saam met die terugkeer van die De Lesseps-standbeeld, ’n ander standbeeld daarnaas opgerig word, een van ’n Egiptiese boer wat die werkers wat die kanaal gegrawe het en hul lewens opgeoffer het, simboliseer.

Dit lei tot die uiteindelike vraag: In plaas daarvan om historiese geheueverlies aan te moedig, moet ons nie eerder dialoog in ’n historiese konteks voer nie om ons nie net aan die edele te herinner nie, maar ook die gruwels waartoe die mens in staat is?