RADIKALE VERBEELDING VAN AFROFUTURISME
’n Nuwe generasie kunstenaars omarm die konsep van Afrofuturisme in verskeie genres, maar in Suid-Afrika het kunstenaars nog nie die ryk verbeeldingswêreld ten volle ontgin nie. JOHAN LIEBENBERG het dié veld ondersoek.
“Verbeeldingsvlugte is deel van elke kwashaal, elke streep oor papier,” sê Ras Silas Motse, ’n Suid-Afrikaanse kontemporêre minimalis, meester van die Afro-sentriese aanslag, en eksperimenteerder met Afrofuturisme.
Dit was op die vooraand van sy solo-uitstalling by die Alliance Francaise du Cap in Kaapstad. Hy het hom toe ook voorberei vir ’n uitstalling in die suide van Frankryk.
Hy voeg sy stem by dié van Wangechi Mutu van Kenia, Emo de Medeiros van Benin, Osborne Macharia van Kenia en Pamela Phatimo Sunstrum van Botswana.
In Suid-Afrika, sê hy, is die genre van Afrofuturisme nog nie ten volle ontgin nie. Altans, baie kunstenaars weet nog nie dat hulle daarmee eksperimenteer nie omdat hulle nog nie die konsep verstaan nie, meen hy.
Hyself geniet die fassinerende verbeeldingsvlugte van futurisme.
“Ek wil dieper in die genre indelf,” sê die kunstenaar wat verskeie gemengde media in sy werke gebruik.
Afrofuturisme kom ook tot uiting in musiek, kuns, rolprente en mode en ontwerp; asook teater en dans. En so byna het ek ’n ander medium weggelaat – dit is die belangrikste ene, naamlik storkiesprente. En ek praat natuurlik van Marvel Comics, die voedingsbron van superhelde, mans wat ’n buffel se skedel met een vuishou kan verbrysel en vroue wat soos donker engele deur die lug sweef.
’n Nuwe generasie waaronder Solange, Rihanna, Beyoncé, Erykah Badu, Missy Elliott en Janelle Monáe het die temas van die futuristiese verbeeldingswêreld in hul repertoire begin insluit.
Afrofuturisme is ’n kulturele, estetiese filosofie van wetenskap, ’n filosofie van die geskiedenis wat die kruispunt ontgin wat die Afrika-diaspora met kuns en tegnologie het. Afrofuturisme ondersoek die temas en betrokkenheid van die Afrika-diaspora deur middel van tegnokultuur en spekulatiewe fiksie. Dié genre omvat ’n hele reeks media en kunstenaars wat ’n gedeelde belangstelling het om swart toekomste te visualiseer wat voortspruit uit ervarings van die Afrika-diaspora.
Ytasha L. Womack se boek oor futurisme The World of Black Sci-Fi and Fantasy Culture ontgin dié veld. Womack is ’n bekroonde skrywer, onafhanklike rolprentvervaardiger en dansterapeut in Chicago. Sy is maar een van verskeie outeurs wat hul stempel in die uitgewerswêreld in die genre afdruk.
Tade Thompson, ’n Brits gebore Yoruba-skrywer, is die enigste skrywer van swart Afrika-erfenis wat die Arthur C Clarke-toekenning vir wetenskapfiksie verower het. Drie van die ses titels op hierdie kortlys is deur skrywers van kleur, wie se werk in ’n TV-reeks omskep is, of ’n Pulitzer-prys verower het. Die lys is lank; hierdie swart skrywers se prestasies indrukwekkend.
Shakespeare se verwysing in The Tempest na “a brave new world”, sou hier gepas wees. Dit is voorwaar ’n brawe nuwe wêreld wat hier geskep word. Womack beskryf dit soos volg: “Dit is die soeke na ’n alternatiewe identiteit in ’n denkbeeldige futuristiese wêreld met ’n swart toekoms in die vooruitsig wat voortspruit uit Afro-diasporiese ervarings. Dit word gedefinieer as ’n kruising van verbeelding, tegnologie, die toekoms en bevryding en gaan oor vooruitdenke sowel as denke wat terugkyk. As jy ’n ontstellende verlede het, ’n ontstellende hede, maar steeds uitsien daarna om in die toekoms te floreer, dan is Afrofuturisme jou voorland! Ons beskou die tyd as liniêr, maar in Afrofuturisme is die verlede, hede en toekoms alles ineengevleg.”
In die musikale sfeer is die Amerikaanse komponis Sun Ra die eerste naam wat hom outomaties aanmeld. Sun Ra glo vas dat hy van Saturnus af kom. Sy musikale komposisies is buitengewone ruimtetydsmusiek, wat by mense beelde van buiteruimtelike wesens optower. En as jy so sit en luister, kan jy nie help om te wonder of hy inderdaad van Saturnus afkomstig is nie!
En dan is daar die grootste medium van almal: die silwerdoek (naas sy voedingsbron strokies): en op die hakke van Batman en Spiderman volg die nuutste superheld, Black Panther, en soos die naam aandui, is hy swart.
Die fliek Black Panther was ’n reusesukses, en het meer as $1 miljard by die loket verdien (en nog is het einde niet). Die karakter, Black Panther, is vertolk deur Chadwick Boseman wat triomfantelik oor die silwerdoek swiep, atleties gebou geklee in ’n swart, nousluitende kostuum en ’n swart pantermasker; en dis asof hy die uitverkorene is wat die verlange van die diaspora na ’n halfgod vergestalt.
Onvermydelik, en moontlik onvanpas, dink mens aan die woorde van die Duitse filosoof, Friedrich Nietzsche: “Kyk, ek bied jou die superman.”
En nou ontstaan die vraag: Kan mens dit dus as suiwer ontvlugting beskryf?
Kinders, veral diegene wat mishandeling ervaar, vind hul toevlug in ’n denkbeeldige wêreld om te ontsnap aan die harde werklikhede wat die lewe vir hulle ondraaglik maak.
In Amerika is die situasie vir baie swartes haglik. Daar heers armoede, polisiemoorde word gepleeg, onluste breek uit, en geweld is aan die orde van die dag. Dit is dus nie verbasend dat ’n alternatiewe werklikheid geskep word as toevlugsoord nie.
Maar Afrofuturisme het nie ontstaan byvoorbeeld weens die Black Lives Matter-beweging of die huidige situasie in Amerika nie. Daar is ironie opgesluit in die feit dat die term nie deur ’n swart man geskep is nie, maar wel ’n wit man, Mark Dery.
In die vroeë negentigerjare het hierdie skrywer en kultuurkritikus ’n essay geskryf met die titel: “Black to the Future”. Hy het begin skryf oor Afro-Amerikaanse wetenskapfiksie, ’n verskynsel wat hy “Afrofuturisme” genoem het.
Mens wonder of die nalatenskap van hierdie traumas ’n onuitwisbare merk gelaat het en uiting vind in Afrofuturisme?
Die bekroonde Amerikaanse skrywer Nora Keita Jemisin verklaar byvoorbeeld dat sy geïnteresseerd is in die tema van onderwerping. Op ’n treffende foto verskyn Beyoncé as ’n kosmiese godin en kryger met swart slawe in kettings aan haar voete.
Begin dit alles by die kinders? In die begin is die kind, wil mens amper sê. Is ons vroeë siening van Afrika nie gevorm deur die werke van Edgar Rice Burroughs in die denkbeeldige wêreld van Tarzan wat in ’n denkbeeldige Afrika van boom tot boom swaai nie?
Inderdaad, veral as mens dink aan die koningin van Skeba se swierige besoek aan koning Salomo. Maar sommige sou egter beweer dat hierdie lande in die noorde in wese nader was aan Arabië as Afrika. Die manuskripte van Timboektoe is byvoorbeeld in Arabies geskryf en sommige van die lande het belangrike sentrums vir Moslemstudies gehuisves.
Wat betref die Trans-Atlantiese slawehandel, is liggame in soveel verskriklike getalle oorboord gegooi dat die Amerikaanse digter Amiri Baraka (vroeër bekend as LeRoy Jones,) geskryf het: “Op die bodem van die Atlantiese Oseaan is daar ’n tapyt van die menslike gebeendere gesaai.”
En dit is in die vreemde waar die sade van Afrofuturisme en Black Panther gesaai is. Slawe het van sonop tot sonsondergang in die suikerplantasies en katoenlanderye geswoeg, en verlang na hul tuislande wat hulle kinders nooit sou ken nie behalwe deur hul eie vertellings en dié van die oudstes. ’n Mens kan die nostalgie, die verlange na ’n vaderland en na ’n utopiese verlede wat “anders” is verstaan.
Met die Black Panther kry hierdie vae verlange gestalte. Die Afrikadiaspora beleef hier ’n belangrike oomblik in die geskiedenis en hulle kon nie toelaat dat die betekenis daarvan ongesiens verbygaan nie. Daarom is ’n fonds in Amerika gestig om swart kinders in staat te stel om die rolprent gratis te sien. Uit die niet, kan mens maar sê, is ’n alternatiewe werklikheid geskep, ’n superman met magiese kragte wat futuristiese tegnologie gebruik in die koninkryk van Wakanda, ’n geïsoleerde land wat nog nooit beset is of gekoloniseer is nie.
As daar een ding is wat voorstanders van Afrofuturisme goed verstaan, is dit die mag van die verbeelding. En hoekom nie? Per slot van rekening, het Descartes nie voorgestel dat iets buite ’n mens se verstand onseker is nie, wat daarop dui dat die eksterne wêreld en ander gedagtes nie geken kan word nie en dat dit moontlik nie buite die menslike verstand bestaan nie?
Twee sleutelwoorde is hier van toepassing: Wat ons hier van praat, is geheue en verbeelding. Overgeset synde: “die verlies aan geheue” en die magiese “helende krag van die verbeelding”.
- R. R. Tolkien, die skrywer van onder meer The Lord of the Rings, het eens betoog dat die skepping van ’n denkbeeldige wêreld die hoogste vorm van artistieke uitdrukking is, maar dat dit ook maklik onderskat kan word.
Hy wou ook ernstig opgeneem word – net soos die Afrofuturisme daarop aandring om ernstig opgeneem te word. Soos die fantasiewêreld van Tolkien, is die fantasiewêreld van Afrofuturisme ook fyn uitgewerk.
Nie almal is egter ewe beïndruk met die sukses en impak van die rolprent Black Panther nie.
Khanya Mtshali is ’n vryskutskrywer in New York. In ’n artikel getiteld “Black Panther is wonderlik” sê sy: “…laat ons dit nie as ’n gebaar van weerstand beskou nie.” In die artikel, wat in The Guardian verskyn het, skryf sy: “As ons dink dat om ’n kaartjie kan koop om ’n fliek te sien, wat Disney vervaardig het, ’n vorm van verset is, is ons nie in staat om te onderskei tussen swart kuns wat revolusionêre temas aanraak en die werk wat nodig is vir revolusie self nie.”
Maar toe ek me. Khanya Mtshali se opmerking aan Womack herhaal, het sy net haar skouers opgehaal en gesê: “Daar is baie stories. Ons vertel altyd vir mekaar stories en hierdie twee stories kan langs mekaar leef.”
*Johan Liebenberg, die skrywer van hierdie artikel, is in Augustus 2021 oorlede voordat hy die artikel kon voltooi. Hy was bekend as akteur, smulpaap en joernalis. Die DeKat-redaksie het die artikel ná sy dood bygewerk.