MET LAAGWATER KAN JY SIEN WIE KAAL SWEM
DEON MAAS het Suid-Afrika se stof van sy voete afgeskud en woon nou in Berlyn. Hy het geen verlange na sy heimat nie, want vir die eerste keer in sy lewe slaap hy rustig met albei oë toe en wat is dit nie ‘n wondersoete ding nie!
In Berlyn kan jy álles kry. Daar is die ketamien- en speed-mengsel wat jou 48 uur lank sal laat dans by die vure wat hoog brand langs die Spreerivier wat verby die techno-klub Griessmüle loop.
Dan is daar die politieke vryheid wat saam met jou kontinentale ontbyt bedien word en die gemak van beweging wat veilige openbare vervoer jou bied. Berlyn bied ook ’n tuiste vir elke subkultuur wat jy mag ken, dié wat jy nie ken nie en ook aan dié wat nog nie buite Berlyn bestaan nie. Niemand word berispe, aangestaar of uitgekryt vir wie hulle is nie. Alles is aanvaarbaar, behalwe ’n hakekruis.
Die een ding wat jy nie in Berlyn sal kry nie, is slaap. Verwag middernagtelike oproepe om jou uit te nooi om gou te gaan aandete eet, ’n band wat eers twee uur in die oggend op die verhoog gaan en die spätys wat deurnag drank verkoop wat jy dan in vroeë oggendure in die veilige parkies of op die sypaadjie kan gaan sit en drink.
Tog is die een ding wat ek in Berlyn doen, om te slaap. Ná dekades van slaap met een oog oop met die vrees dat die huisalarm in die middel van die nag sal afgaan en dit dié keer nie die wind gaan wees nie. Wanneer my hond nou in die middel van die nag grom, is dit ’n teken dat hy droom, eerder as ’n waarskuwing dat daar ’n inbreker/verkragter in die tuin is.
So, nou slaap ek. Ek slaap die slaap van die dode, want vir die eerste keer in my lewe kan ek rustig slaap.
Terwyl die techno-koppe hulle tiete af trip, slaap ek. Terwyl die geroesemoes van die stad uitgeblok word deur die dubbel glasvensters, slaap ek. En as die son opkom in die oggend staan ek vars op en loop met my honde deur die leë strate, want almal wat tot laat wakker was, slaap dan nog.
Ek glo vas alle Suid-Afrikaners, ongeag hul ekonomiese status, ly aan posttraumatiese stresversteuring. En die enigste manier om dit te behandel is om nie in Suid-Afrika te bly nie.
Waar almal anders skynbaar Berlyn toe kom op soek na ’n 24-uur-lange partytjie, het ek rus en vrede in die Duitse hoofstad gevind. Ek het hierdie rus en vrede gekry danksy die feit dat ek kan slaap. Siende dat ek nou vir die eerste keer in dekades gemaklik kan slaap, het ek ook baie tyd om te dink. Wanneer daar nie baie stres in jou lewe is nie, kan jy vryer dink. Sodra jou brein vir die eerste keer daardie blokkasie van vrees verwyder, is dit verbasend waaroor jy alles kan dink en tot watter gevolgtrekkings jy kan kom.
Ek dink op die oomblik baie oor my Suid-Afrikanerskap en oor my Afrikanerskap en ek wonder hoekom ek so lank daaraan vasgeklou het. Ek wonder hoekom dit so belangrik was vir my en hoekom dit so maklik was om daarvan weg te loop.
For starters was ek nog nooit een vir nostalgie nie. Ek kyk vorentoe en nie terug nie. Die gereelde vraag uit Suid-Afrika oor wat gaste kan saambring word altyd negatief beantwoord. Ek het niks nodig nie. Ek was nog nooit ’n biltong-, blatjang- of bobotiemens nie.
Soos ek hier op my balkon sit en uitstaar oor die ou wêreld waarin ek my nuut bevind, wonder ek hoe ek vir so lank die leuens kon glo wat aan my opgedis is. Dit is dat Suid-Afrika beter is as die res van Afrika en dat Afrikaans eintlik ’n goeie hart het.
Een ding kan ek jou sê, van hier af lyk dinge baie anders. Dis asof ek vir die eerste keer perspektief het, asof ek my eie herkoms deur nuwe oë sien. Oë sonder gloukoom of katarakte. Die prentjie is nie ’n mooi een nie.
Met afstand en tyd lyk die werklikheid van Suid-Afrika elke dag net nóg skrikwekkender – dis ’n ondergrondse middelaarde waar robotrowers jou dwing om jou motor se vensters toe te draai en opportunistiese sluipers, wat tussen tronkvonnisse is, hul tyd op sypaadjies verwyl.
Ek dink ook aan die korporatiewe zombie sielesuiers wat jou leeg suip van idees en dan op straat laat beland. Suid-Afrikaners laat my aan ’n giftige slang dink wat alles wil doodmaak wat te naby aan hulle kom. ’n Nydige emmer vol krewe wat mekaar terug sleep in die holtes van Dante se dieptes om te keer dat die een beter vaar as die ander.
Ek dink ook aan die feit dat daar te veel mag in te min hande is, van die regering tot televisiestasies. Ek bekommer my oor die hoë werkloosheid onder die onopgevoedes, maar ook aan die opgevoedes wat sukkel om werk te kry. Die middelklas dra hul juk terwyl hulle aanhou hoop dat dinge beter sal word, maar steek hul duur rooiwyn weg vir gaste omdat hul inkomste nie meer is wat dit was nie.
Die spelfoute wat regses daagliks in kommentare op die internet maak en hul dreigemente dat hulle gewelddadig sal raak omdat iemand die voorbestaan van hul taal bedreig, is net amusant of lagwekkend as jy in Suid-Afrika is. Van ’n afstand sien jy dit vir wat dit regtig is: die dreigement van ’n histeriese dier wat in ’n hoek vasgekeer is. Hoe goed is Afrikaans se hart regtig? Daar sal natuurlik ook niks van die dreigemente kom nie, want daarvoor is dié soort Afrikaner te lafhartig.
Die taalstryders, sowel dié wat redes soek om Afrikaans te beskerm as dié wat die taal wil afbreek, vergeet een ding: Afrikaans as akademiese taal is die resultaat van ’n nasionalistiese rassisme wat dit gefasttrack het. Dit het veroorsaak dat Afrikaans kon boks in ’n gewigafdeling wat hoër was as waarvoor dit gekwalifiseer het.
Dié wat die taal wil afbreek, vergeet dat hulle dieselfde sou gedoen het as hulle in dieselfde posisie was. Afrika se geskiedenis van een stam wat ’n ander onderdruk as hulle die mag het, is nie net beperk tot apartheid nie. Institusionele xenofobie en die konsep van “it’s our turn to eat” as jou mense aan bewind kom, is nie uniek aan die wit Afrikaner nie.
As ek so in die bus sit en by die venster uitstaar na die realiteitstelevisieprogram wat Berlyn is en alles sien wat so netjies en ordentlik is, so veilig en onbedreig – van jou persoonlike vryheid tot jou inkomste – dan sien ek ook die zef om my wat my voorvaders ontduik het, net om hul eie weergawe daarvan op ’n nuwe kontinent te begin.
Dan wonder ek wie ons rêrig is en ja, ek gebruik steeds “ons”, want ek is steeds deel van my stam en ek kan dit nie ontvlug nie. Ek is deel van die genetika en die sosiale administrasie. Ek is ’n produk van my omgewing.
Ek is die produk van ’n kultuur wat gebou is op moord, onderdrukking en meerwaardigheid en ’n boek wat op sy beste met die sprokiesverhale van die Grimm-broers vergelyk kan word. Ek is ’n produk wat ’n toevallige saadstorting van dwarstrekkende Calviniste en matrose wat nie vinnig genoeg uitgetrek het voordat hulle na die volgende hawe vertrek het nie, ’n trots van statussimbole wat alles verkeerd is. Van te veel kinders tot ’n boepmaag as statussimbool, ’n motor wat te duur is en whisky wat blou is.
Ons is ’n sameflansing van gene wat almal iewers verloor het: die kerk, die bure, die regering. Mense wat te groot sissies was om die hitte en kompetisie in Midde-Afrika uit te staan, te besig was om prentjies teen die rotsmuur te teken om te leer ploeg of oorlog maak. Met ander woorde, ’n klomp verloorders.
Dit wys orals in die psige van ons volk. Mense wat altyd die skuld op iemand anders sal pak wanneer dinge verkeerd begin loop. Mense wat ’n rassis soos Mike Bolhuis steeds op televisie wil sien of stem vir Julius Malema.
Het ek nog altyd so gevoel? Het ek tevore net hierdie hatigheid teenoor my land wegsteek? Moes ek dit doen om in Afrika te kon oorleef/oor die weg te kom/aanvaar te word?
Suid-Afrika het ’n land geword waar die boelie koning is en waar mense die brandstapels van sosiale media aansteek en hul vyande soos Middeleeuse hekse daarop verbrand. Dan vertel hulle hulself “two wrongs make a right”.
Sentraal hiertoe is die gebruik van die woord “hulle”. Dit word met snobisme, agterlikheid en met moord in hulle harte gesê.
Ons s’n is ’n lewe van lieg, ’n kultuur van leuens wat van ’n vroeë ouderdom saam met ons ontbytpap vir ons gevoer is. Ons ware vyand is egter nie “hulle” nie. Ons grootste vyand is onsself. Anders as Neo in The Matrix het ons Morpheus se blou pil gedrink. En geen hoeveelheid moeite of logika of heropvoeding gaan ons herbedraad nie. Ons is wat ons is en ons moet vrede daarmee maak dat ons nie die uitverkore volk is nie, maar die verlore volk.
Ons is ’n gesteelde volk wat gebore is met die bloed van slawe wie se spermdonasies nie altyd voldoen aan die reël van die gewillige skenker/gewillige ontvanger nie. Albei metafories en werklik.
So hier sit ek nou in ’n plek waar seks wettig verkoop kan word in plekke soos Caligula in Martin Lutherstrasse, maar geweld teen vroue amper nie bestaan nie. Waar daar 5,5 miljoen wapens in private besit is, maar slegs 1,18 moorde per 100 000 mense. ’n Plek waar niemand dink ek lyk weird nie, ’n plek waar niemand dink my opinie is haatspraak nie. ’n Plek waar daar ’n R13 000 per maand belastingafslag is op my vrou se salaris omdat ek nie werk nie.
Dis nie ’n utopie nie. Natuurlik nie. Die Berlyners rondom my kla ook maar oor dinge want hulle is “aan beter gewoond” (hulle woorde, nie myne nie). Hier is bevoorregting in die grondwet ingewerk en word dit streng toegepas.
Ek wonder gereeld wie ek sou gewees het as ek hier grootgeword het. Ek wonder hoe dit my menswees en waardigheid sou beïnvloed het. Hoe anders ek dalk oor die lewe en dinge sou gedink het.
Dan vra iemand my of ek ooit sal terugkom Suid-Afrika toe.
Dan gaan slaap ek weer. Dis ’n wonder soete ding.