KULTUUR EN TAAL IS ’N TROJAANSE PERD
Is Afrikaans se dae getel? PIET CROUKAMP ondersoek verskeie omstandighede en omwentelinge in die wêrelde in en om ons wat ’n uitwerking op die voortbestaan van taal en kultuur uitoefen.
Is Afrikaans se dae getel? Piet Croukamp ondersoek verskeie omstandighede en omwentelinge in die wêrelde in en om ons wat ’n uitwerking op die voortbestaan van taal en kultuur uitoefen.
Baie Suid-Afrikaners emigreer oor die wêreld heen na nuwe geleenthede, en dalk ook soms na ’n nuwe lewe. Sedert 2016 het reeds ongeveer 20 000 Suid-Afrikaners net na Nieu-Seeland geëmigreer. Indien jy egter ouer as 50 jaar is, is jou kanse skraal om toegelaat te word in die meeste lande wat wel belangstel in ons vaardighede. Wat beteken dit is meestal relatief jong mense wat die land verlaat om hul heil elders te soek.
Die ekonomiese mobiliteit van die huidige geslag toetreders tot die Suid-Afrikaanse arbeidsmark is waarskynlik beduidend meer elasties en aanpasbaar as dié van hulle ouers. Snel groeiende ekonomieë in Asië en dele van Europa kom onder druk van vaardigheidstekorte wat net deur migrante aangevul kan word. Wit Afrikaanssprekende kinders in Suid-Afrika en Namibië word gebore in relatiewe bevoorregting, en ironies genoeg maak dit van hulle ideale arbeidsmigrante.
Die huidige geslag wit kinders en jeugdiges sien die eerste lewenslig met ’n haas ongeëwenaarde demografiese dividend van toegang tot gesondheidsorg en kwaliteit skolastiese blootstelling, wat weer gerugsteun word deur hul ouers se toegang tot bates en kapitaal. Dit is ’n voorreg wat oor generasies heen opgebou is te midde van die koestering van ’n gesinsverband, die ordelikheid van ’n Calvinistiese ontologie, en die formalisering van kohesie binne taal- en kultuurverband.
Kultuur en taal kan egter ook as ’n Trojaanse perd manifesteer. Dit skep die verwagting van geborgenheid, konsensus en kohesie, maar soms is dit ’n kognitiewe benoudheid verpak in die versmorende ruimtes van ’n kulturele gemaksone. Hierdie gemaksone kan tipies geïsoleerd wees, met die klem op dit wat eie is aan die kollektiewe identiteit. Sonder uitsondering word die reikwydte van die veilige hawe gekodifiseer deur die voorafgaande generasie. Ons trek ons kinders tot teenaan die bors, waar ons hulle isoleer teen die “hulle”, ter legitimering van die “ons”.
Die primitiewe instink van die stammtisch – of dan stamgebonde – geslag is om ’n veilige ruimte te skep waarbinne die volgende generasie kan ontdek en reis sonder om noodwendig deel te word van die universele, dog mededingende, waardes van die leefruimte buite die gemaksone. Ouers repliseer hul eie ervarings en transponeer dit op hul kinders. Een generasie hou die volgende generasie gevange met die romantisering van hul subjektiewe ervarings, kulturele rituele en fabelagtige narratiewe. Dit is nie ’n verskynsel eie net aan Afrikaans of Afrikanerskap nie; stamgebondenheid is deel van die evolusionêre instinkte van alle primate. Maar, dalk het dit nou noodsaaklik geword dat ons ontsnap uit die beklemming van ons genetika.
Dit kan ewe maklik gebeur dat kinders in die spervuur van hul ouers se angste beland. Hulle word betrek by historiese stryde; “ons” word opgestel teen “hulle”. Die ouer generasie romantiseer die vermoeiendheid van “die goeie ou dae”. Vir die nuwe generasie, egter, is die hier en nou die “goeie ou dae”. Die wêreld was nog nooit minder gewelddadig en ekonomies beter af as nou nie. Vir die eerste keer in die geskiedenis van die mensdom leef meer as die helfte van alle mense in die gemaksug van ’n middelklas. Ons leef langer omdat ons gesonder is as ooit. En, daar was nog nooit minder oorlogsterftes as in die tye waarin die huidige geslag migrante hul opsies oorweeg nie.
Die oordrag van kultuur tussen generasies was eens ’n vorm van inisiasie tot die lewenservaring van ’n vorige geslag. Kultuur en taal het die ekonomiese en politieke gemaksone geskep vir die jong nageslag, maar dit het ook oorlewing in die onmiddellike omgewing gewaarborg. In die tye waarin ons nou leef, is daar die wesentlike gevaar dat die emosionele verknogtheid aan ’n historiese identiteit die drif na ’n noodsaaklike intellektuele en ekonomiese emansipasie kan striem.
Die wêreld het verander, ten spyte daarvan dat sommige onder ons steeds ’n hele geslag wil betrek by ons emotiewe verbintenis aan taal en kultuur. Onder bruin Afrikaanssprekendes is die taal besig om na die dal van doodskaduwee te migreer. Afrikaanse skole in histories bruin woonbuurte sterf uit. In die Wes-Kaap is daar slegs enkele moskees waar Afrikaans nog as gebruikstaal gebesig word. By universiteite is Afrikaans as akademiese taal nie net ’n minderheidverskynsel nie; die behoefte aan moedertaalonderrig onder wit Afrikaners is eenvoudig besig om weg te kwyn op tersiêre vlak. Daar word nie meer werklike akademiese tekste in Afrikaans geskryf nie, die mark is nie lonend nie. Linguisties is die wetenskap besig om aan te beweeg, en Afrikaans verloor die drif om op te vang.
Wat kultuur betref, is daar byna geen onderskeid meer tussen Afrikaans- en Engelssprekendes nie. Daar is weinig bewyse van ’n pertinente, onderskeibare kulturele bewustheid onder Afrikaners. Wanneer en waar dit wel voorkom, manifesteer die stryd om die behoud van bepaalde waardes in ’n karteerbare ideologiese spanning tussen wit en swart. Taal en ideologie is egter té vervleg om die integriteit van kulturele versugting te beoordeel.
Die vraag is, hoe moet veral Afrikaanse ouers wat hul kinders groet op lughawens hierdie geografiese vervreemding hanteer of ervaar? Die Afrikaner se stammtisch-instinkte word reeds sedert die 1990s ontwortel as gevolg van ’n onvermydelike kulturele sekularisasie. Die partikuliere maak plek vir die universele. Dit was waarskynlik altyd ’n noodwendigheid in die konteks van politieke magsverlies, maar die voorreg van ’n demografiese dividend wat van Afrikaners wêreldburgers maak, rem ook aan die naelstring tussen die ouer en die jonger geslagte.
Dit is egter, ironies genoeg, juis die akademiese wasdom van Afrikaans wat ’n hele geslag Afrikaanssprekendes aanmoedig om die onmiddellike te verlaat vir die einders van elders. Afrikaanse skole is uiters mededingende inkubasieruimtes vir voornemende wêreldburgers. Die kwaliteit van onderrig in Afrikaanse skole verleen ’n aanpasbaarheid aan skoliere wat universele mobiliteit aanmoedig.
Dit is ook een van die redes vir die verengelsing van Afrikaanse universiteite; Afrikaanse studente is dikwels goed tweetalig of word oor ’n kort tydsbestek volledig tweetalig. Ten spyte van die “bevrydingstryd” teen die koloniale karakter van tersiêre instellings, word die beter Suid-Afrikaanse universiteite toenemend universele ruimtes waar Afrikaanse studente met “ontstellende” gemoedsrus die besondere domein van Afrikaanse onderrig verruil vir iets so eenvoudig as “die mees praktiese vorm van kommunikasie”.
In ’n poging om regverdiging te vind vir ’n byna pre-moderne behoud van taal en kultuur, word daar groot gewag gemaak van die byna 7 miljoen Afrikaanse huistaalsprekers, waarvan die meerderheid bruin is. Die gebrek aan taalnasionalisme onder bruin Suid-Afrikaners maak egter die argument dat 60% van Afrikaanse huistaalsprekers bruin is bloot ’n teoretiese punt.
In Johannesburg het verskeie Afrikaanse skole busdienste wat wit kinders van oor die hele Rand aanry terwyl geen moeite gedoen word om bruin Afrikaanstaliges na die skool per bus aan te ry nie. Dit sou egter ’n ideale wyse gewees het waarop die wit middelklas ter wille van Afrikaans in die bruin werkersklas kon belê, maar die keuse was en is om dit nie te doen nie. Die behoud van die partikuliere word geprioritiseer ten koste van ’n verruiming van ’n Afrikaanse demografiese dividend. Die getalle bruin leerders in die tradisionele wit, Afrikaanse skole is omtrent onbeduidend. Dit is ’n nalatenskap van ’n vorige generasie wat die huidige generasie ouers nie wil regstel nie.
Bruin Afrikaanssprekendes sal waarskynlik ook moeilik inkoop op ’n model wat ’n gestigmatiseerde of ideologiese motivering huisves. Private Afrikaanse, tersiêre instellings bemark nie in bruin gemeenskappe nie en baie min bruin studente aan staatsuniversiteite verkies om die al skaarser Afrikaanse lesings by te woon. Die primêre eienskap van ’n Afrikaanse, akademiese instelling kan nie ideologies wees nie. Maar, selfs sonder ideologie sou bruin Suid-Afrikaners moes verengels; die noodsaak van oorlewing in ’n langsame politieke ekonomie – sonder die bevoorregting van ’n historiese demografiese dividend – laat hulle met geen ander keuse nie.
Daar is ook goeie rede om te vermoed dat die kenmerkende residensiële universiteit nie die model van die toekoms is nie. Akademiese opleiding soos ons dit tans ken, is kosteondoeltreffend. Vir baie ouers is dit belangrik dat hulle kinders ’n studentelewe ervaar soos hulle dit gehad het, maar dis ’n onvolhoubare romantiek. Binne net meer as ’n dekade behoort die tipiese BA-graad, asook verskeie ander akademiese programme, volledig aanlyn aangebied te word. Afrikaanse, private universiteite wat gestig word met die doel om die taal lewensruimte te gee, loop nie net die risiko om weens gebrekkige belangstelling sonder studente op te eindig nie, maar is waarskynlik ook totaal uit pas uit met die snelveranderende tersiêre landskap van ’n globale wêreld.
En, indien Afrikaans oor 50 jaar steeds voortbestaan, sal dit beslis nie as ’n akademiese taal wees nie. Afrikaans kan as ’n huistaal onder wit Suid-Afrikaners voortleef, en dalk sal daar nog enkele Afrikaanse skole wees oor drie dekades, maar die noodsaaklikheid van die universele sal uiteindelik die drang na die partikuliere smoor, en geïnstitusionaliseerde Afrikaans kan dit nie oorleef nie. Dalk is dit die opoffering wat nodig is ter wille van ons voortbestaan?
Afrikaanse media sal ook uiteindelik swig onder die wet van die noodwendige; nie omdat die huidige “ouer garde” dit nie kon keer nie, maar omdat toekomstige generasies nie ’n kultuurhistoriese belang sal hê by die behoud daarvan nie. Tale sterf uit en kulture transformeer. In die belang van oorlewing word die “onwerklikheid” van die hede die nostalgie van die verlede. Die romantisering van Afrikaans as organies aan Afrika kon nooit standhoudend wees nie; die taal is ’n verbasterde besoeker aan ’n kontinent wat nooit in vrede met haar sou kon leef nie.
Ons kinders emigreer, en dit is goed so. Dit is ’n teken van aanpasbaarheid en mobiliteit. Die onsekerhede van vasgevang wees binne ’n taal, kultuur of kontinent is ’n risiko wat die volgende generasie nie verdien nie. Die meerderheid Afrikaanssprekendes leef reeds buite die benoudheid van ’n partikuliere identiteit. Dit is net die vervreemding van politieke onbestendigheid wat die laer dig trek. Maar, laat ons in vadersnaam nie weer die kinders daarby betrek nie.