DIE VERSKRIKKING WAT VERSWYG WORD

Oorlog beteken dood en verwoesting en chaos, maar die geweld en verkragting wat teenoor vroue gepleeg word, word dikwels toegesmeer soos CHARNÉ KRUGER se soektog daarna in die Anglo-Boereoorlog dit aan die lig bring.

 

 

Die verskrikking wat verswyg word

Die laatmiddag son werp lang swart skaduwees, al langs die burgher op sy weerbarstige perd, dis ’n gewapende jong man wat nog ’n laaste keer na sy jong vrou en hul baba in haar arms terugkyk.

Francois Smith, skrywer, kyk na die standbeeld Afskeid by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein. Dan volg sy skaduwee hom verby die tuin van herinnering ter nagedagtenis van gestorwe wit en swart mans, vroue en kinders wat in konsentrasiekampe (65 vir swart mense en 49 vir wit mense) en in die veld tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) tussen 1899 en 1902 dood is. Hul name, ouderdomme en geslag in graniet vasgelê.

Êrens tussen daardie name is daar ’n vrou soos Susan Nell, die hoofkarakter in Kamphoer, Smith se bekroonde debuutroman wat losweg op The Boer Whore van Nico Moolman geskoei is. Kamphoer is ook in ’n gelyknamige bekroonde toneelstuk verwerk met Sandra Prinsloo in die hoofrol terwyl ’n rolprent ook in wording is.

“en die bloed spuit en ek proe die bloed in my mond, dit is in my oë en ek word aan my been tussen die tente deur gesleep en by die kampopsigter se helder tent ingestamp, en by die tafel is die twee Kakies, ek ken hulle, ek  sien hulle elke dag, en Krisjan Schutte die joiner skreeu hier is sy, die kamp se hoer, hier is sy en hy gooi my op die grond neer, en een van die Kakies gryp my aan die hare en trek my regop, en ek gryp sy baadjie vas en ’n knoop, ’n goue knoop, breek af en rol op die vloerseil en Schutte val op sy knieë om dit op te tel, en die drie van hulle, Schutte en die twee Kakies, druk my op die bed vas en hulle ruk my rok op en oor my kop sodat ek niks sien nie en nou weet ek wat hulle gaan doen, ek weet wat hulle gaan doen en ek voel dit voordat dit rêrig gebeur en ek ruk en ruk my kop onder my rok uit en wat hulle doen, ek het nog nie die woorde daarvoor geleer nie.” (Smith, 2014, p. 143)

’n Weesmeisie word met behulp van ’n joiner deur twee dronk Britse offisiere in die Winburg-konsentrasiekamp verkrag en vir dood agtergelaat. ’n Swart egpaar red haar, en sy studeer sielkunde in Europa met behulp van weldoeners. Tydens die Eerste Wêreldoorlog verhuis sy na Engeland waar sy in ’n hospitaal werk vir soldate wat aan bomskok ly. Dan loop sy in een van haar verkragters vas.

Vir Smith was dit ’n fiktiewe verhaal wat toevallig teen die agtergrond van die ABO afspeel. “Dit was tog noodsaaklik dat die verhaal waarheidsgetrou moet wees. Die moeilikste was om myself as ’n man in te dink hoe ’n vrou wat verkrag word sou voel, reageer, dink. Nadat die boek gepubliseer is, het ’n leser my vertel die verhaal is presies wat met een van haar voorsate gebeur het,” sê hy.

Dagboeke, beëdigde verklarings en militêre verhore getuig van voorvalle van seksuele aanranding. Hoeveel meisies en vroue in konsentrasiekampe, in die veld of in hul eie plaasopstalle gemolesteer is, sal volgens kenners nooit bekend wees nie. Die verskrikking van oorlog was so erg dat vroue, verpleërs en ander nie hul belewenisse in dagboeke kon skryf nie. Boonop is die vrouestem in die Victoriaanse tydperk onderdruk en hul taal, Afrikaans, was in ontwikkeling. Sommige woorde het nie bestaan nie.

Dr. Elizabeth van Heyningen, navorsingsgenoot in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, sê enige oorlog kan as ’n soort verkragting beskou word, “hoewel dit agter gevleuelde woorde soos eerbaarheid, patriotisme en dapperheid versluier word. Militêre historici sal begrippe soos wapens, strategie en taktiek in hul argumente gebruik asof mense nie deel daarvan is nie, en gewis nie vroue, ma’s of susters nie.

“Ek is seker daar was meer voorvalle van verkragting as waarvan ons weet, maar dit was nie toe ’n oorlogswapen soos deesdae nie. Geweld in oorloë is teen die ‘ander’ gemik, ander wat as minderwaardig en anders beskou word. Moontlike redes dat nie meer vroue verkrag is nie, is dat Boervroue wit was, Engels kon praat en in huise gebly het wat nie veel van soldate se eie huise verskil het nie. Die Britte was ook bedag op wat voorheen tydens die Indiese Rebellie van 1857 gebeur het, toe die geweld om die Indiërs te verslaan geregverdig is oor die wyse waarop die Indiërs Britse vroue na bewering sou behandel het. Teen 1900 was Brittanje meer demokraties. Die magtige pers durf ook nie sien dat die Britse weermag Boervroue behandel soos wat die Indiërs Britse vroue behandel het nie. In die algemeen het bevelvoerders aanranding probeer voorkom en verseker dat soldate nie konsentrasiekampe binnekom nie.”

Van Heyningen is weens ontbrekende getuienis onseker wat met swart vroue gebeur het, maar is seker dat hulle ook slagoffers van verkragting was.

Pres. M.T. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog het maande voor die einde van die oorlog met behulp van ds. J.D. Kestell die Britte se oorlogsvergrype en oortredings van die Haagse Konvensies – die verskroeide-aardebeleid waarin meer as 30 000 plase, plaas- en werkershuise vernietig is – onder die wêreld se aandag probeer vestig. Altesame 32 beëdigde verklarings oor 24 voorvalle van geweld is deur verskillende manlike ampsdraers afgeneem en deur Klasie Havenga, militêre sekretaris van Hertzog, versamel. Die verklarings beskryf wandade tussen 1901 en 1902 soos plundering, dreigemente tot geweld, verkragting en sielkundige teistering in die oostelike dele van die Vrystaat.

Hélène Opperman Lewis, ’n sielkundige en skrywer van die boek Apartheid: Britain’s Bastard Child, sê dis hoogs waarskynlik dat swangerskappe verkragtings kon volg. “Trots en skaamte in dié tydvak was belangrike waardes, daarom is gebeure versteek. Die psigologiese trauma van kinders wat uit aggressie en haat verwek word, asook die moeder se trauma, haar vernedering, bewustelike of onbewustelike ambivalensie en meer dikwels verwerping van dié kind, moet verskriklik wees.

“Verkragting word ’n wapen om die vyand te verneder. Duitse vroue is in weerwraak deur Russiese soldate verkrag ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Ook tydens die Nanjing-slagting met die Sino-Japanse oorlog van 1937 toe Japannese soldate Chinese vroue verkrag het en in Rwanda in 1994 met die volksmoord.”

Prof. Antjie Krog, bekroonde digter, skrywer en navorsingsgenoot aan die UWK se sentrum van veeltaligheid en diversiteit-navorsing, het met ’n storie grootgeword. Sy skryf daaroor in ’n artikel “They couldn’t achieve their goal with me” wat handel oor seksuele aanranding in die ABO. Dit is ’n storie van ’n vroedvrou wat nagmaaldienste bygewoon maar nooit wyn of brood geneem het nie, oor wat sy in die oorlog moes doen. Krog haal ’n gedeelte aan uit die skrywer Dot Serfontein se boek Rang in der Staaten Rij, waarin ’n pasgebore baba, die produk van ’n verkragting, vuiste maak en skop. Dan trek ene tante Bet ’n lap oor die baba se gesig, die baba se hand gryp in die lug, die ruggie trek styf, waarna dit stil word. “Dit is doodgebore,” sê die tante. Krog haal van die beëdigde verklarings in die Havenga-versameling aan. In een getuig Aletta Cecilia de Jager:

Die verskrikking wat verswyg word

‘n Slagoffer van Ondervoeding

Die verskrikking wat verswyg word

Abraham Carel Wessels het die konsentrasiekamp oorleef

[…] ik woon op de plaats Sterkfontein District Bethlehem op die 8ste Februarie 1902 trok een lager van de Engelshe omtrent twee mylen van mijn huis voorby van de troepen kwam by mijn huis ging weg sonder om iets te doen dat onbehoorlyk is nadat de troepen omtrent drie minute weg was kwam bij mijn huis twee gewapende k*****s die onder de vyand behoort de een kwam mijn huis in en vraag my om by my te slaap in mijn kamer ik dreigde hem met een mes te steek doch hy neemde de mes uit my hand ik wilde toen de deur uitvluch doch de k****r pakte my en sleep my naar de kamer toen kham zyn maat ook de huis in en gryp my ook zy scheurde toen myne kleeren de een houde my toen vas en de andere was bezig om my te verkracten hetgeen hy ook deed ik verweerde my maar zij waren te sterk en ik wilde my verwurg waardoor mijn krach toe ook verzwak en zij instaat was my geheel te verkrachten de een was eers bezig en toen klom de andere een op mij en verkrachte my ook ik heeft aan hun gezegt ek is ziek maar zij hoorden niet ik is zeker dat altwee in mijn lyf was; nadat altwee klaar had heeft zij my gelos en toen weggegaan; ik was toen vier dagen bedleggend vanwee de stampe en mishandeling.
Johanna Catherina Geldenhuys verduidelik in haar verklaring hoekom sy haar liggaam verruil het sodat haar dogter verkragting gespaar is.
Dit was in die tydperk toe lord Kitchener, Britse bevelvoerder, sowat 100 kolonne van tussen 1 200 en 2 000 soldate die platteland ingestuur het. Teen die einde van die oorlog was daar niks meer oor om te plunder as vroue en meisies se liggame nie, meen Krog. Nogal in ’n tydperk waarin dit taboe was om oor maandstonde of geslagsorgane te praat.
Heelwat van die vroue vertel dat hulle die aanvallers kon afweer, of dat ander mense of huilende kinders die soldate se aandag afgetrek het: “They couldn’t achieve their goal with me.”
Die vroue vertel, en vertel ook nie.
John Boje maak in ’n artikel melding van die gebrek aan meer verslae oor voorvalle van seksuele geweld. In Mag ons vergeet wat M. Neethlingh in 1938 uit die herinneringe van meer as 70 deelnemers saamgestel het, word nie een gewelddadige voorval deur ’n Britse soldaat genoem nie. In haar boek The Brunt of the War verwys Emily Hobhouse na twee voorvalle van seksuele teistering van vroue in Krugersdorp. ’n Vrou se nek is permanent beseer toe sy haar aanvaller afgeweer het en haar dogter in die bors gesteek is toe sy haar ma te hulp wou snel.

Die Versrikking wat verswyg word

Die Britte was traag om te erken wat gebeur het. Boje sê nadat genl. Louis Botha ’n verkragtingsaak by lord Roberts aangemeld het, het dié gesê die vrou moet na Pretoria reis en die beskuldigde tussen duisende soldate uitken. Só ’n vrou sou in ieder geval die skande en stigma dra. Die Britse media het ook ’n baie positiewe beeld van soldate voorgehou. Gedurende die oorlog is 14 sake van seksuele wandade deur militêre howe aangehoor, waarvan nege beskuldigdes vrygespreek is.
Prof. Andries Raath, emeritus senior professor en navorsingsgenoot in publieke reg, geskiedenis en filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê die verterende Britse imperialistiese etos van chauvinistiese mag, beheer en waarin op geloof neergesien is, was ook rassisties.
Die Boere was kwansuis nie so beskaafd soos die Britte nie, het nie sulke adellike hoë voorkoppe gehad nie. Die Britse mondering het egter swak plekke gehad.
“Sommige bevelvoerders was onbekwaam of het nie beheer oor ongedissiplineerde en swak opgeleide troepe toegepas nie. Omdat van die kolonne in die platteland bedrywig was, was daar nie oorlogskorrespondente om hul bedrywighede dop te hou nie.
“Nie alle kampdokters was professionele mense nie. Sommige dokters het drank en selfs morfien misbruik of verpleegsters seksueel aangerand. Die verkragtings van Boervroue het reeds begin toe Britse soldate aan die begin van die oorlog uit Natal opgeruk het. Selfs swanger vroue is nie gespaar nie.
“Konsentrasiekampinwoners was uiters kwesbaar omdat hulle van die owerhede vir kos en ander benodighede afhanklik was. Die Britte het bitter min empatie gehad. Wrede voorvalle het plaasgevind, soos in die Barberton-kamp waar die kampkommandant kinders tot 48 uur sonder kos of water opgesluit het. In die Irene-kamp is jong meisies seksueel misbruik ter wille van Britse offisiere. Dit is hier waar ’n kampverpleegster nie die gruwels wat sy gadegeslaan het in haar dagboek kon neerpen nie. Selfs ds. J.D. Kestell wou sommige gebeure nie in sy dagboek beskryf nie.”
Oorlog durf nie in getalle soos gesneuweldes soldate of artillerie ontleed te word nie, dit moet eerder ’n besinning wees oor menslike lyding, sê hy.
Op sy beurt sê prof. André Wessels, senior professor in geskiedenis aan die UV, dat oorlogsgebeure in perspektief gesien moet word. “Die Boere het nie by die konvensionele reëls van oorlog gehou en oorgegee nadat die Britte Bloemfontein op 13 Maart 1900 en Pretoria op 5 Junie 1900 beset het nie. Die Boere se besluit op ’n krygsraadvergadering om die stryd voort te sit, was die begin van die guerilla-fase van die oorlog – iets waarop die Britte aanvanklik nie voorbereid op was nie.
“Vir die Boere was elke plaas ’n bron van inligting en ’n plek waar hulle mediese hulp, kos en voer vir hul perde kon kry. Die Britte se verskroeide aarde-beleid en interneringskampe (konsentrasiekampe) is ook gebruik om die Boere te verswak.
“ ’n Mens kan redeneer dat die verskrikking van die oorlog nie sou gebeur het as die Boere vroeër oorgegee het nie. Lê die morele verantwoordelik by lord Kitchener of die Boere? Verder: Die Boere is net so skuldig aan oorlogsmisdade, soos die summiere teregstelling van swart en bruin persone wat aan Britse kant geveg het, byvoorbeeld soos wat by die Leliefontein-sendingstasie in Namakwaland gebeur het.”

Die verskrikking wat verswyg word

Terwyl oorlogsmisdade veroordeel moet word, moet ’n balans gehandhaaf word en niemand gedemoniseer word nie. 

“Die hedendaagse mens moet die gebeure in historiese konteks sien, toe begrippe soos menseregte nie bestaan het nie. Min Britte glo deesdae dat imperialisme wenslik was. Die kern van die probleem is oorlog; dus wanneer geskille nie polities besleg kan word nie. Soos wat onlangs in Afghanistan en vroeër in die Balkanlande en in die twee wêreldoorloë gebeur het met oorlogsmisdade in die afwesigheid van menseregte.

“Gegewe die aard van menswees is die kanse ongelukkig skraal dat blywende wêreldvrede ooit bewerkstellig sal word, maar ons moet bly hoop,” sê Wessels.

Francois Smith maak aanstaltes. Agter hom steek die gedenknaald van die Vrouemonument  in die blou lug. In die skaduwee van die bome by die rye gedenkpanele gaan staan hy by ’n granietpaneel. Sy vingers vryf oor uitgekerfde letters van ’n bekende van. Vir ’n wyle hou selfs die voëls hul asem op.    

Voorvalle van verkragting

Verkragting  op plase

In Julie 1900, skaars ’n jaar nadat die Anglo-Boereoorlog (ABO) in Oktober 1899 uitgebreek het, stel Britse opposisiepartye indringende vrae in ’n Britse parlementsitting oor beweerde verkragtings deur Engelse soldate van inwoners in die Natalse kolonie tydens die opmars van Britse magte. Die opposisiepartye wou weet of die regering ondersoek gaan instel en optree.

Mnr. P. O’Brien, destydse parlementslid stel die vrae, gegrond op ’n verklaring deur ’n Amerikaanse bevelvoerder, kapt. John Hassell, wat aan Boere-kant geveg het. Hassell word as geloofwaardig deur mnr. Michael Davitt beskryf, wat die verklaring geneem het. (Davitt het later as Ierse nasionalis en lid van die Britse laerhuis bedank weens sy besware oor die ABO.)

O’Brien verwys na ’n voorval in Dundee waarin ’n Britse infanterie-patrollie van 20 soldate nie net plaashuise verwoes het nie, maar ’n vrou wat alleen tuis was, glo verkrag het. Hassell en Boere-vegters het ’n halfuur ná die voorval op die betrokke plaas aangekom. Die vrou het hulle gesmeek om eerder na die buurplaas van die Bestergesin te gaan waarheen die soldate op pad was. Hier was die boervrou en haar vier dogters alleen tuis. By die plaashuis het Hassell-hulle gesien hoe die soldate teen ’n heuwel af probeer vlug. Hulle het drie van die vermeende verkragters doodgeskiet. Die meeste van die “wreedaards” het  weggekom, benewens ’n sterwende gewonde soldaat in ’n Highlands-uniform. Vier vroue (48, 18, 14 en 12) is verkrag en met “afgryslike” geslagsiektes besmet.

Volgens Hassell het Engeland se eie soldate in hul eie kolonie geplunder en burgers aangerand nog voor die oorlog begin het en voordat lord Roberts na Suid-Afrika gestuur is. Vroue, oud en jonk, tussen Dundee en Ladismith is verkrag voordat die Boere hulle verjaag het. Hy het gewonder hoe die Engelse wat op die Boere neersien, kan aanvoer dat hulle die “agterlike Boere” Christelike waardes wil leer.

Mnr. George Wyndham, ’n goeie vriend van Cecil John Rhodes, het in die parlementsitting namens die regering geantwoord. Volgens hom was daar geen inligting oor dié beweerde verkragting in die Dundee-omgewing nie. Die verklaring is van ’n Boere-bevelvoerder geneem. Hy twyfel of dit gepas sal wees om voorvalle te ondersoek wat net op ’n gesprek gegrond is. Dié dade kan die doodstraf inhou indien dit tydens amptelike pligte gepleeg is.

Dr. Wilhelm Vallentin, ’n Duitser wat hom aan die kant van die Boere geskaar het, het ’n boek, Hunnen in Süd-Afrika! – Betrachtungen über englische Politik und Kriegsführung, oor die oorlog gepubliseer waarin hy Fred Lavelle, ’n medeBoerestryder se ervaring van gruweldade aanhaal. Volgens Lavelle het die Engelse vroue en kinders soos diere in die Irene-konsentrasiekamp ingejaag. Hy beweer hulle het ontugtige oogmerke gehad en wou die vroue met geweld en dwang, weerhouding van kos en marteling, meer gewillig maak. Sommige vroue en kinders is brutaal en onmenslik deur Engelse bevelvoerders misbruik. Wanneer hulle nie meer bruikbaar was nie, is hulle met “vars mensvleis” uit die kamp vervang. Alle soldate en bevelvoerders, lord Kitchener ook, was hiervan bewus.

Die voorvalle het sedelike gevolge op die vroue gehad, meen Lavelle. Waar die Engelse plaashuise afgebrand en alle vee en kos vernietig het, was die betrokke vroue op die soldate vir oorlewing aangewese. Hy vertel dat honger ma’s hul jong meisies van tien of 12 jaar oud na die soldatekampe gestuur het om kos te vra, in die hoop dat hul jeugdigheid hulle teen die soldate sou beskerm. Die meisies is dan aangehou onder die voorwendsel dat hulle sonder ’n vrypas betrap is, waarna hulle aangerand is. Baie van hulle het siektes opgedoen, swanger geword en moes boonop die skande daarvan dra, sê Lavelle.

Die verskrikking wat verswyg word
Die verskrikking wat verswyg word

Gevangenes in ‘n konsenstrasiekamp: Met erkenning van die fotografiese versameling van die Anglo-Boereoorlog-Museum.

In die konsentrasiekampe

In die reeks Vroueleed: Die lotgevalle van die vroue en kinders buite die konsentrasiekampe, 1899-1902 (Die konsentrasiekamp-gedenkreeks) wat die Oorlogsmuseum van die Boere-Republieke uitgegee het, word immoraliteit in die Bloemfontein-konsentrasiekamp bespreek. Die aangehoudenes was uit verskillende stande van die samelewing, sommige met laer sedelike waardes. Engelse soldate is in die kamp betrap. Die kamphoof het ’n militêre bevel uitgereik wat bevelvoerders en soldate verbied om die kamp te besoek en dat immorele vroue afsonderlik van die respektabele inwoners aangehou word. Die bevel het nie die gewenste uitwerking gehad nie en selfs nadat vrede gesluit is, is probleme ondervind. Tydens die oorlog het mans en enkele vroue binne die kamp ook gemeenskap gehad. Die skrywer meen dat Boervroue te midde van ’n geveg om oorlewing steeds trots, gelowig en heldhaftig was. Hulle is verneder en het ongekende beproewing beleef en het die Engelse in die algemeen verafsku. Net enkele vroue wat “ontroof van selfrespek” was, wat moed en hoop opgegee het, het die prooi van versoeking geword.

 Prof.  Andries Raath sê die gebeure is teen ’n agtergrond van die verskynsel van Britse imperialisme, ’n eiesoortige en hoogs komplekse verskynsel. “Een van die uitvloeisels daarvan was ’n beleid oor konsentrasiekampe wat rampspoedige afmetings aangeneem het. Die donker kante van Britse imperialisme is vandag so relevant en aktueel as wat dit tydens die Anglo-Boereoorlog was.

“Die motief van militêre opperheerskappy en onderdrukking is sterk deur ’n motief van androgeniteit gedra. Britse imperiale filosofie het geen geheim gemaak van die meerderwaardige manlike chauviniste wie se wil die norm was nie. Die is ’n element van Darwinistiese herinterpretasie, die verheerliking van die oorlewing van die sterkere. Hoër vorme van lewe moet meer beskerm word as laer vorme van lewe.

“Die Anglo-Saksiese Britse ‘civilisation’ word as verhewe bo die ‘agterlike en selfs dierlike Boere en hul vroue’ gestel. Dit is ’n Platonistiese motief dat vroue slegs daar is ter bevrediging van die androgene militêre helde se behoeftes en verwesenliking van verhewe politieke ideale.”