DIE VERGETE HELD

Johan Liebenberg is verlede jaar oorlede. Hy was vir baie jare ’n gereelde bydraer tot DeKat en ons herpubliseer ’n artikel wat hy in 2003 geskryf het. Hierin het die baie snuffelwerk en navorsing van sy kant ’n verlore Namibiese held in ere herstel en lewe gegee.

 

 

Johan Liebenberg is verlede jaar oorlede. Hy was vir baie jare ’n gereelde bydraer tot DeKat en ons herpubliseer ’n artikel wat hy in 2003 geskryf het. Hierin het die baie snuffelwerk en navorsing van sy kant ’n verlore Namibiese held in ere herstel en lewe gegee.

“Marengo” … “Marengo!”  Waarom gryp die naam my so aan? Sy einde tower beelde op uit Butch Cassidy and the Sundance Kid. Hy sterf in die verlatenheid van die Kalahari-woestyn in ’n skietgeveg teen ’n oormag.

Omdat dit klink soos iets wat ’n teksskrywer in Hollywood uitgedink het, begin ek wonder, “Is dit nie dalk verdigsel nie?  Het Marengo regtig bestaan?”  Daarom begin ek die hele Noord-Kaap plat te bel, en ook mense in die suide van Namibië, ou mense, gewese redakteurs, mense wat dalk mag weet. Niemand kan my help nie. Niemand het nog van Marengo gehoor nie. Tot iemand my aanraai om Riemvasmaak te bel – daar bly glo ’n klompie Namas, sê hy.  Miskien kan hulle my help. Ietwat radeloos, begin Marengo al hoe meer na ’n newelbeeld in die woestyn te lyk.

Riemvasmaak?

Ná ’n paar luie antwoord ’n mansstem by die nedersetting beleefd en ek vra hom: “Het u al van Jakob Marengo gehoor?”  ’n Paar  oomblikke heers daar stilte aan die anderkant en dan kom die antwoord: “Ja, hy was my grootoupa. Hy was ’n groot man …”

Met hierdie woorde word Marengo as’t ware in die lewe geroep, byna soos God vir Adam geskep het. Marengo bestaan, of het bestaan! Soos ’n silwer draad speel die agterkleinseun se woorde deur my gedagtes; in biblioteke, op straat, in die klein stowwerige dorpies van die Noord-Kaap waar ek my later bevind: “Hy was ’n groot man.”

Dit is by die lees van Kalahari Mac se boek In die veld teen Marengo dat ek opnuut onder die indruk kom van hierdie merkwaardige man en ’n hoofstuk wat as’t ware van die tafel van die geskiedenis gevee is: Die skrywer, wat as penkop teen die Britte geveg het, sluit by die Duitse troepe in Duits-Wes aan. In sy boek beskryf hy Marengo as “die glansrykste en mees romantiese figuur van die oorlog”, en ’n man met ’n “uitsonderlike persoonlikheid”.   

Hy sluit sy boek af met ’n dramatiese pleidooi: “In daardie ou dae, veertig jaar gelede, was Suidwes nog maar ’n halwe wilde land. Sulke dinge soos koerante, tydskrifte en gereelde posdiens was feitlik onbekend. Miskien is dit die rede waarom Jakob Marengo geen erkenning van enigiemand ontvang het vir sy buitengewone vernuf en dapperheid nie, maar ek is seker dat daar nog baie oumense lewe wat saam met my die hoed by die graf van Jakob Marengo met eerbied sal afhaal. Dit sal my en ander groot genoeë doen as hierdie werkie daartoe sal bydra dat die grootste figuur van die Nama-oorlog ’n huldeblyk in een of ander vorm, al is dit maar net ’n grafsteen, mag kry.”

Tot vandag toe het hy nie ’n grafsteen nie, en lê sy lyk begrawe in
die Pan van Eensaamheid in die Kalahari. ’n Triestige naam – maar gepas, soos ons sal sien. 

Terwyl die Herero-opstand van 1904 binne enkele maande bloedig
onderdruk is, sleep die Nama-opstand byna vyf jaar lank voort, en die Duitse prestige as’n wêreldmoondheid word ’n knou toegedien. Die Duitse keiserryk het laat tot die wedloop om kolonies toegetree, en in daardie dae van “Empire building” was jou kolonies die maatstaf van jou mag. Die rede hoekom die Schutztruppe die Namas nie ’n beslissende slag kon toedien nie, was omdat die Namas, soos die Boere, hulle gewend het tot guerrilla-oorlogvoering.

Marengo was ’n baster Herero/Nama wat onder die Bondelswarts in die suide van Namibië grootgeword, en sy opleiding aan ’n sendingstasie ontvang het. Dat hy as leier ontpop het, is al klaar van belang en dui op sy statuur, omdat die Herero’s en die Namas aartsvyande was en gedurig in oorloë betrokke was.  Boonop moes hy min of meer die status van ’n slawekind onder die Nama’s gehad het aangesien sy vader, ’n Herero, deur die Namas gevange geneem is.  

Daar word beweer dat hy saam met ’n groep Nama-kinders na Duitsland gestuur is om daar “beskaaf” te word. Van die Duitse offisiere meen dat hy die militêre denker Von Clausewitz  bestudeer het – die enigste rede wat hulle kon vind om sy briljante militêre strategieë te verklaar.

Volgens die getuienis van ’n Duitse veearts weer, het Marengo sy naam met drie kruise geteken en kon hy dus nie skryf nie. Maar beslis kon hy vyf tale vlot praat. En oor sy onverskrokkenheid in die stryd is daar geen twyfel nie.

Dit is waarskynlik die skitterende welslae wat Marengo sedert 1903 teen die Duitse troepe behaal, wat die tagtigjarige Nama-kryger Hendrik Witbooi beweeg om teen die einde van 1904 teen die Duitse gesag in opstand te kom, en sodoende word die ganse Duits-Suidwes in oorlog gedompel. Uit Berlyn hou die Duitse keiser sake onrustig dop want Marengo behaal vernederende welslae teen die Duitse magte, al het hy nooit meer as 300 vegters onder sy bevel nie.  Eenmaal trek daar selfs vier afdelings teen hom op: goed bewapende soldate wat oor artillerie, masjiengewere en die modernste kommunikasie-middelle beskik. 

Maar Marengo weet waar die watergate is, en hy ken die Karasberge, waar die meeste van die gevegte plaasvind, soos die palm van sy hand. Dikwels is die Duitse magte oortuig dat hulle Marengo vasgetrek het, maar dan verdwyn hy en sy Namas eenvoudig spoorloos.

Selfs beveel hy eenmaal sy volgelinge om ’n pad teen die bergsteiltes te bou. Heimlik skud sy manne hul kop. Dit klink nou na ’n mors van tyd! mor hulle stilweg onder mekaar – maar hulle durf hul leier nie teenstaan nie. Dit gebeur dan ook soos hy voorsien het en die pad is hul redding as ’n Duitse oormag toeslaan. Toe twee van die Duitse afdelings in mekaar vasloop – onder die indruk dat Marengo nou werklik vasgekeer is, is hulle net betyds om te sien hoe die laaste Namavroue en -kinders die bergpad uitklouter na veiligheid.

Kalahari Mac beskryf hoe, nadat die Duitsers die Namas ’n gevoelige slag toegedien het, hulle die vroue en kinders soos vee onder mekaar verdeel – asook die vee wat hulle gebuit het. Met die terugtog bars daar ’n hewige donderstorm los en dis kompleet of emmers water op hulle neergegiet word.

Binne minute is hulle kamp in ’n modderbad omskep. As die reën ophou,heers daar ’n doodse stilte, en dan hoor hulle die onaardse geluid van die snerpende wind wat inwaai vanaf die Suidpool af. So ysig is hierdie wind dat die skrywer halfbevrore deur sy makkers na beskutting gedra moet word.

Die gekerm van die Namakinders en -vroue styg uit bokant die huilende wind en duur die hele nag voort. Met hul vertrek die volgende môre lê die toneel besaai met die lyke van dooie kinders en vee wat halfbegrawe is onder die modder.

Wat die terugtrekkende magte egter nie besef nie, so vertel die skrywer verder, is dat Marengo elke beweging van die terugkerende troepe op ’n afstand dophou.  Dan slaan Marengo onverwags op die niksvermoedende Duitser toe, en in die  daaropvolgende geveg buit hy ’n groot gedeelte van die vee terug en red hy ook die meeste van die Namavroue.

Wat ’n mens egter die meeste van Marengo opval, is sy menslike behandeling van krygsgevangenes, iets wat beslis nie in die teken van die tyd staan nie. Die oorlogvoering is wreed, en daar word aan albei kante min genade getoon.  Miskien kan ’n mens al hier praat van “totale oorlogvoering” wat die toon sou aangee vir die 20ste eeu. Marengo is die uitsondering.

Eenmaal, ná ’n Duitse sersant se arm in ’n skermutseling afgeskiet is, verbind Marengo die gewonde, voorsien hom van kos en water en begelei hom selfs persoonlik tot digby sy eie fort.

By ’n ander geleentheid, ná die Schutztruppe swaar verliese gely het, word die gewondes in veiligheid gebring oorkant die Oranjerivier, waar ’n Duitse dokter aan die Kaapse kant na hul wonde omsien. Terwyl die dokter besig is om die gewondes te verpleeg, tik ’n Britse konstabel hom op die skouer en oorhandig aan hom ’n pakkie sjirurgiese instrumente.

Verbaas vra die dokter wie dit aan hom gegee het want hy het sy instrumente aan die Duitse kant van die grens verloor. Die konstabel antwoord dat dit Marengo was wat hom gevra het om dit aan die dokter terug te besorg.

“O … hierdie man, Marengo!” roep die dokter uit, en ’n mens kan sy
verbasing begryp.

Op ’n keer ontbied Marengo ook selfs ’n dokter vir swaar gewonde Duitse gevangenes, en skud hy elke manskap se hand, wissel ’n vriendelike woordjie en belowe dat elkeen van hulle se lewe gespaar sal word. Eenmaal spring Marengo selfs met sy sambok onder die Namas in om ’n gevangene se lewe te beveilig.

Kalahari Mac se boek bied die leser enkele grepe uit Marengo se lewe: Die skrywer se broer, Sam, vertoef een aand by ’n Rooms Katolieke sendingstasie.  Op aandrang van die priester moes Sam noodgedwonge sy geweer by die kamp los, en dus is hy nou ongewapen. Hulle het pas aangesit vir ete toe hulle  mansstemme buite hoor. Die priester staan op en gaan na die voordeur toe.

“Voordat hy nog tyd het om te besluit, stap die priester die eetkamer binne, gevolg deur niemand minder as Jakob Marengo nie. Sam moes seker baie groot geskrik het, want toe hy so skielik teen hierdie mooi frisgeboude en so gevreesde Jakob Marengo se gesig vaskyk, het hy soos ’n blits uit sy stoel gespring en regop gestaan. Die priester stel hulle bekend. ‘Kommandant Jakob Marengo en mnr. MacDonald.’

“ ‘Moenie bang wees nie, my basie,’ sê Marengo ewe beleefd, ‘sit maar en geniet jou maaltyd. Niks sal met jou gebeur nie. Ek maak nie met ongewapende mense oorlog nie.’

“Intussen wag Marengo se manskappe buite op hom, en as een met ’n boodskap kom, waag hy dit hoed in die hand net tot by die deur van die eetkamer.

“Marengo gaan aan tafel sit op ’n stoel wat die priester hom aanbied. ’n Paar nonne verskyn en groet hom besonder vriendelik en dek vir hom ’n plek.

“Marengo het op sy gemak lekker geëet onderwyl hy vlot in Duits gesels met die priester. Af en toe wissel hy ook ’n paar woorde met my broer. Sam, wat regoor Marengo gesit het, het van hierdie geleentheid gebruik gemaak om hom deeglik te beskou: ’n Mooi geboude man, met breë skouers: sterk gespier, met vriendelike en innemende maniere. Sy manlike gesig getuig van skranderheid en vasberadenheid. Hy is netjies geklee in ’n pak ryklere en, behalwe sy patroonband, dra hy ook ’n Mauser-rewolwer.

“Dan laat merk Marengo terloops op dat hy effens las het van ’n wond in sy sy.  Dadelik spring die priester en ’n non aan die werk en Sam kom agter dat hierdie nie die eerste maal is dat hulle sy wonde verbind nie. Daarop vertrek Marengo haastig want ’n Duitse troepemag is in aantog.” 

Die skrywer bevind hom dan ook onder hierdie troepe. Toe die twee broers die volgende oggend mekaar raakloop, was dít Sam se reaksie: “Hy kon nie Marengo se lof hoog genoeg uitspreek nie, en het my ook versoek om tog nooit kwaad aan Marengo te doen nie. Natuurlik het ek dit ook bereidwilliglik aan my broer belowe. Ek het verder gegaan en my broer verseker dat ek voortaan nie op Jakob sou skiet waar ons in gevegte so naby mekaar is dat ek hom kon herken nie. Teen hierdie tyd het ek geweet dat daar ook ’n hele paar Duitse soldate was wat dieselfde gevoel en respek vir Marengo gekoester het as wat my broer en ek vir hom gevoel het …

“Waar hierdie voorval met Sam getuig van Marengo se menslikheid, het ons ook goeie bewys gehad van hoe beslis hy kon wees as omstandighede dit vereis.  Êrens in die Karasberge het ’n hooggeplaaste Duitse offisier met Jakob Marengo in verbinding getree en onderhandel oor ’n wapenstilstand om oor vrede te gesels. Jakob Marengo het die versoek toegestaan en die wapenstilstand sou op ’n bepaalde uur en minuut begin. Die ooreenkoms het gelui dat vir die duur van die wapenstilstand geen troepebewegings aan enige kant mag geskied nie.  Nadat die wapenstilstand in werking getree het, het die Duitsers ’n kommissie, bestaande uit die Hauptmann as leier en twee luitenante, met ’n witvlag na Jakob Marengo gestuur. Hulle is baie vriendelik deur Marengo ontvang en dadelik het die drie met die Namakommandant in ’n takskermpie langs ’n vuurtjie begin onderhandel.

“Nadat hulle reeds ’n uur of wat gesels het, het ’n Nama te perd uit
die teenoorgestlede rigting aangejaag gekom en iets aan Marengo kom rapporteer in Nama. Marengo het in Nama geantwoord en die ruiter het weer in dieselfde rigting verdwyn. ’n Rukkie later het ’n tweede Nama aangejaag gekom.  Weer het Marengo in Nama ’n paar woorde met die ruiter gewissel en weer het die Nama haastig teruggejaag. Intussen het Jakob Marengo ewe bedaard en kalm met die kommissie gesels en onderhandel. Toe skielik breek ’n hewige skietery los in die rigting vanwaar die twee rapportyers gekom het. Die Duitse offisiere spring natuurlik dadelik op en vra verskrik wat nou gaande is. ‘Sit maar,’ beveel Marengo, ‘en laat ons praat, ons sal netnou wel weet wat gaande is.’

“Die eerste boodskapper het – so het dit geblyk – kom rapporteer dat ’n Duitse mag reg op die Namas se stellings aanruk. Marengo het net bevel gegee dat hy moet teruggaan na die wag en, as die troepe aanhou om nader te kom, moet hy weer kom rapporteer. Die tweede ruiter het kom vertel dat die troepe reeds baie naby aan die Nama se posisies is en nog steeds aankom. Jakob het daarop bevel gegee dat die Nama moet skiet as die Duitsers hulle posisies tot binne geweervuur-afstand nader … Hierna het die skietery losgebreek. Maar selfs toe die skietery in volle swang was, het Jakob Marengo nog ongestoord gesit en onderhandel totdat die derde ruiter sy verskyning gemaak het met die rapport dat hulle nou in ’n geveg gewikkel is met die aanvallende troepe.

“Toe staan Marengo op en beveel die drie Duitsers om op te staan. Hy gaan staan voor hulle en verduidelik wat die verskillende rapportryers aan hom kom rapporteer het asook wat sy instruksies aan hulle was. ‘So,’ gaan hy voort, ‘julle sien nou dat julle verraad gepleeg het deur, terwyl ons ’n ooreekoms het vir ’n wapenstilstand, julle my laat aanval.’ Die Hauptmann, wat natuurlik dadelik besef het dat hierdie nou ’n uiters gevaarlike posisie was, wat waarskynlik hulle lewens sou kos, het verduidelik dat dit sekerlik ’n misverstand moet wees.

“ ‘Dit is presies net wat my opinie ook is, maar dit is nie my skuld
dat julle versuim het om seker te maak dat al julle troepe behoorlik
kennis gekry het van ons ooreenkoms nie,’ antwoord Marengo. 

“ ‘Julle besef natuurlik dat ek nou ten volle geregtig is om julle al drie hier op die plek dood te skiet. Maar, daar ek vas glo dat dit net ’n misverstand is wat aan julle nalatigheid toe te skrywe is, sal ek met een van julle drie se lewens tevrede wees.’

“Met hierdie woorde trek Marengo sy rewolwer uit en skiet die
Hauptmann dood. Net so kalm en bedaard, steek hy sy rewolwer weer terug in die skei en sê aan die twee luitenante: ‘Julle twee kan nou maar gaan. Rapporteer aan julle hoof wat julle hier gesien het en hiermee verklaar ek die wapenstilstand beëindig.’ ”

Ná die Duitse troepe Marengo tot diep in die Kaapkolonie agtervolg, word hy swaar gewond, maar slaag nogtans daarin om te ontsnap waarop hy hom aan die Kaapse owerheid oorgee. Ses maande lank word hy in ’n Kaapse tronk aangehou. Die Namas wis waarskynlik nie dat hy nog lewe nie, en nou is hulle blus uit. Hulle sluit vrede met die Duitsers want, soos Hautmann Ludwig von Estorff dit beskryf: “Marengo is die siel van die Nama-weerstand.”

Miskien moet mens hier ’n wyle stilstaan en kyk na wat die lot was
van vele Namas wat deur die Duitsers gevange geneem is. Die skrywer, Randolph Vigne, onder die titel Haai-eiland (Haifischinsel ) – die Belsen van Namibia, skets die toestande wat op hierdie konsentrasiekampeiland vir gevangenes geheers het, en vertel hoe byna 2 000 Witbooi en  Bethaniërs, asook ’n paar honderd Herero’s hier van honger, of van skeurbuik, blootstelling of verwaarlosing omgekom het.

Sommige het gewoon verdrink terwyl hulle probeer het om na die
vasteland te swem en dié wat dit wel kon regkry, het daarna in die woestyn omgekom.

Die nuwe bevelvoerder van die Schutztruppe, Von Estorff, ’n skitterende en uiters gewilde offisier, is diep geskok oor toestande wat hy hier aantref, en verklaar: “Hiervoor kan ek nie verantwoordelikheid aanvaar nie.” Hy rig ’n versoek dat ’n einde gemaak word aan hierdie onmenslikheid, maar die onder-goewerneur, Oskar Intrager, staan dit teen, selfs wat vroue en kinders betref. Hy wys daarop dat Groot Brittanje toegelaat het dat 10 000 vroue en kinders in die Suid-Afrikaanse konsentrasiekampe sterf. 

Tydens die oorlog het Marengo by die Kaapse owerheid gekla dat die Duitsers op vroue en kinders skiet. Een van etlike gevalle wat vermeld word, is toe 50 vroue en 38 kinders summier tereggestel is. Dit is dus te verstane dat uit ’n bevolking van 20 000, daar uiteindelik net sowat 10 000 Namas in Suidwes oorlewe het. 

Die feit dat hier waarskynlik die eerste genetiese eksperimente deur Duitsers uitgevoer is, versterk die indruk dat hierdie voorwaar ’n voorloper tot die Holocaust was: Die genetikus, dr. Eugen Fischer laat 17 Namas se koppe afkap ná hul dood en sy bevindinge lê die grondslag vir sy latere berugte teorieë van
rassemeerderwaardigheid. Om dit te illustreer, maak hy gebruik van hierdie kopbene, skoongeskraap deur vroulike gevangenes met behulp van glasskerwe.

Dit word genoem dat Hitler sy rasseteorieë grond op dr. Fischer se werk, wat hy in die tronk lees terwyl hy Mein Kampf skryf. In Duitsland word die dokter ’n toonaangewende wetenskaplike by die Kaiser Wilhelm Instituut.

Dit is dus die heersende toestande in Suidwes. Die Namas wat nie in gevangeneskap verkeer nie, word nie toegelaat om vrylik rond te beweeg nie, maar moet ’n pas dra. Boonop word hulle verplig om op wit plase te werk.

Dan tref ’n weerligstraal Duits-Suidwes! Soos ’n veldbrand versprei die nuus dat die Kaapse owerheid van plan is om Marengo vry te laat, en sy aansoek om asiel toe te staan.

Die rol van die Kaapkolonie in hierdie oorlog is ietwat dubbelsinnig. Die magtige De Beers-diamantorganisasie het glo in die geheim vir sowel Marengo as Witbooi ondersteun. Maar terwyl die Kaapkolonie heimlik hoop om die Duitse koloniale aspirasies in suidelike Afrika te frustreer, het die Britse regering ’n ander agenda. Hoewel daar skynbaar ondersteuning aan Marengo verleen is deur ’n Britse agent, het die realpolitiek ’n ommeswaai in die houding van die Britse regering teweeggebring. ’n Geskiedskrywer het gewonder oor hierdie volte face van die Britse regering en om ’n antwoord op hierdie vraag te vind, moet mens kyk na spanning wat tussen Groot Brittanje en keiserlike Duitsland begin oplaai het.

Reeds in die vorige eeu begin die Kaiser met ’n ongekende opbou van die Duitse vloot, en veral met die bou van die Dreadnought Class oorlogskepe. Groot Brittanje durf nie toelaat dat sy heerskappy ter see bedreig word nie. Hierdie koorsagtige wapenwedloop put die Britse Eilande finansieel uit, en toe die Liberale Party in 1905 aan bewind kom, stel hulle hul dit ten doel om oorlog met Duitsland tot elke prys te vermy. Sir Edward Grey, minister van buitelandse sake, is deur tydgenote as ’n pasifis bestempel, wat nie in oorlog geglo het nie.

Hy is dus meer as bereid om toegewings aan die Kaiser te maak om verdere spanning te verhoed, en hy weifel nie om Marengo se kop op ’n silwer skinkbord aan die keiser te bied nie. Om die Britise erns oor die saak bo alle twyfel te bewys, is ’n Duitse offisier selfs as waarnemer genooi om deel te neem aan Marengo se agtervolging in die Kalahari.

Die feit dat daar met die vrylating van Marengo op die hoogste vlak onderhandel is, spreek kennelik van die man se belangrikheid. Daarby plaas die Kaiser in die geheim ’n losprys van 20 000 Duitse mark op Marengo se hoof – vandag  sowat een miljoen Duitse mark. Soos ’n stout kind word die Kaapse regering deur Grey gerepudieer en verklaar hy: “Hy (Marengo) sal nooit weer asiel kry nie!”  

Onder groot druk van London en Berlyn bring die Kaapse regering ’n berede mag van ongeveer 150 man, onder aanvoering van maj. Elliott, inderhaas op die been om Marengo te arresteer. Oorkant die grens wag 1000 swaar gewapende Duitse troepe. Etlike dae lank word Marengo en ’n klein groepie Namas, wat ook vier vroue insluit, waaronder Marengo se eie vrou, meedoënloos in die Kalahari agtervolg. Maar selfs te voet slaag Marengo byna daarin om te ontsnap, want die Namas ken die woestyn en weet watter plante om te eet om te oorlewe. 

Daarenteen is die Britse perde op die ou end byna gedaan van die versengende hitte. Maar oplaas haal die Cape Mounted Rifles die Namas in en onder hewige geweervuur word die heuwels waar die Namas skuil met koeëls bestook en in hierdie wilde skietgeveg word die vroue noodlottig getref, ongeag Marengo se voorsorg om hulle te beveilig. In wat bekend staan as “overkill” verg dit 5 000 koeëls om die Namas te oorrompel. 

As die verwoede geweervuur uiteindelik ná vier uur bedaar, lê Marengo dood met tweë koeëls deur sy kop en een deur sy hart. Een van die Cape Mounted Rifles wat in die skietgeveg dood is, word begrawe; die Namas word net so laat lê om te vrot in die son.

Maj. Elliott word deur koning Edward VII met die DSO vereer vir sy dapperheid. Ook ontvang Elliott die Koninklike Pruisiese Orde van die Kroon, tweede klas met gekruisde swaarde.

Ná sy dood word Marengo deur Von Estorff as ’n “militêre genie” beskryf. In sy herinneringe skryf hy oor die eerbare en edel karakter van hierdie man, wat dit betreur het as Duitse soldate tot die dood toe veg eerder as om oor te gee. Ook die Berlynse dagblaaie is vol lof: Marengo word bestempel as “die Vlieënde Hollander van die Steppe”, wat sy naam in die geskiedenis met bloed geskryf het. Ander dagblaaie vergelyk hom met hul eie oorloghelde. Maar bowenal is hy ’n man wat tot die dood toe vir sy vryheid geveg het.

’n Mens kan met reg wonder of enige veldheer ooit tevore soveel lof van ’n vyand ontvang het.

Maar so loop ’n verhaal tot ’n einde in die Pan van Eensaamheid, ’n verhaal wat reeds ’n halfeeu tevore sy beslag gekry het toe die Duitse vlag die eerste maal oor Duits-Suidwes-Afrika gehys is en met die Berlynse Konferensie, wat kort daarna plaasgevind het, het die doodsklok vir miljoene swartes gelui. Hier is Afrika soos ’n groot koek onder die Europese moondhede verdeel, en Duits-Suidwes as Duitse besitting bevestig. ’n Reuseruiker bestaande uit 200 olifanttande is uitgestal – ’n ruiker sonder geur, en weliswaar ’n doodsruiker vir Afrika.

VOETNOTA:
Ná sy naam vir byna ’n eeu vergete was, word Jakob Marengo se naam weer deel van die kollektiewe geheue van Namibië toe hy by die inhuldiging van Namibië se heldeakker deur die president, Sam Nujoma, in Augustus 2002 as een van nege amptelike helde verklaar word.