ANDROGENITEIT, FEMINITEIT EN BRITSE IMPERIALE SEKSUALITEIT IN DIE LAAT VICTORIAANSE ERA
Emeritus- senior professor aan die Universiteit van die Vrystaat ANDRIES RAATH het die verheerliking van manlikheid en mans as byna opperwesens in die Victoriaanse era ondersoek en verduidelik die uitwerking daarvan op die Britse houding teenoor vroue in die Anglo-Boereoorlog.
Boerevroue met hul rug na die fotograaf terwyl hulle wag om na ‘n konsentrasiekamp weggevoer te word. Die foto jukstaposisioneer die kwesbaarheid van Boerevroue en Britse Imperiale Androgeniteit wat vanuit die Britse offisier se verhewe posisie- by die opening van die veetrok-volkome beheer oor die vroue onderweg na ‘n konsentrasiekamp uitoefen.
Op die vooraand van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 was die ideologiese drywers van Britse imperialisme uitgesproke rasbewustheid, klasverskille, die narratief van militarisme, onaantasbare “paramountcynensis” en die ikonografie van falliese androgeniteit. Radhika Mohanram se Imperial White: Race, Diaspora, and the British Empire tipeer Britse imperialisme van die laat Victoriaanse era as ʼn versweë narratief van maskulariteit (gespierdheid) en die welgevormde manlike liggaam – nie as erotiese subjek nie, maar as gesublimeerde manifestasie in ʼn scientia sexualis: in mediese terme, biologiese verwysings en in rasdiskoerse. Manlike Britse liggaamlikheid is opgeroep deur diskoerse met die Ander liggaam – dié van vroulikheid en rasverwysings. Peter Stallybrass en Allon White identifiseer androgene liggaamlikheid as die kern van die sosiale topografie en kulturele landskap van Victoriaanse imperialisme. Diskoerse oor liggaamlikheid het die opvattings oor publiek en privaat bepaal en toenemend op die onoorbrugbare verskille tussen manlikheid en vroulikheid gefokus. Die oplewing van die antieke Griekse beeld van manlike dapperheid, lojaliteit en suiwerheid het, volgens Jeffrey Richards, die klassieke Atheense opvattings oor manlikheid deel van die skoolopvoeding van die middelklas seuns in die Britse publieke skole gemaak. Negentiende eeuse perspektiewe op rasverskille het die diskoerse oor manlike androgeniteit in erotiese terme versluier; terselfdertyd het dit egter as wentelpunt van 19de eeuse rasteorie gedien. Die opkoms van frenologie, die pseudowetenskap wat mense se verstandelike vermoëns met die vorm van hul skedels korreleer, het in die loop van die negentiende eeu tot vergelyking van menslike anatomie gelei en die verskille tussen individue is op groepe getransponeer. Robert Knox se The Races of Man (1850) en Charles Darwin se The Descent of Man (1871) het die teorie van rasverskille in die rigting van verskillende vlakke van menslike evolusie gestuur. Die effek van Darwiniaanse legitimering van rasverskille was, volgens Mohanram, die hermeneutiese sleutel wat raswetenskap gelegitimeer het, betekenis aan swart liggaamlikheid verleen het en dit teenoor witheid as sosiale, kulturele en juridiese gegewe gestel het. Die jukstaposisie van swart en wit word teen die einde van die negentiende eeu ook die hermeneutiese sleutel ter verklaring van vroulikheid binne die imperiale etos: “… linking of whiteness with masculinity, and within the context of the expanding Empire … the embodiment of women – their weakness, their sexual availability, their penetrable bodies – becomes a liability for establishing the supremacy and invulnerability of whiteness” (Mohanram). Wit vroulikheid staan teenoor die witheid van imperiale androgeniteit slegs as ʼn supplement of komplement tot afgeronde imperiale androgeniteit. Teen die middel van die negentiende eeu manifesteer die merkers van androgene imperialisme in manlikheid, jeugdigheid, die bourgeoisie, atletisiteit, gesondheid en ontverpersoonliking in bykans alle sosiale en politieke diskoerse.
Boerevroue en-kinders agter die doringdraadheining van ‘n Britse konsentrasiekamp tydens die anglo-boereoorlog, 1899-1902. Die met doringdraad omheinde Britse konsentrasiekampe was die biopolitiese ruimtes (agamben) waar mag nie teen reghebbende vroulike en kindersubjekte uitgeoefen is nie, maar teen blote biologiese liggaamlikheid. Vir Giorgio Agamben is die konsentrasiekamp die biopolitieke ruimte waar die kwesbaarheid van menslike lewe negeer word en in geval van die Britse konsentrasiekampe, waar vroulike kwesbaarheid slagoffer van die ideologiese meesterparadigma van imperiale androgeniteit geword het.
Rasmatige geslagtlikheid – feminiteit en die “witheid” van vroue
Die opkoms van die Britse middelklas het ʼn stedelike bourgeoisie geskep wat feminiteit in klas- en rasterme herkonstrueer het. Die uitdyende middelklas, in die nawerking van die Industriële Revolusie, het ʼn morele afstand tussen stedelike en landelike vroue geskep. As supplement van androgene witheid, beskik vroue oor minder regte en aansprake op gelykheid as hul manlike teenhangers. Edward Freeman se Anglo-Saksiese meerderwaardigheidsteorie en Robert Knox se Races of Man (1850), Herbert Spencer se “oorlewing van die sterkere” en sir Francis Galton se Hereditary Genius (1869), wat mense in stereotipiese raskategorieë verdeel het, was die matriks wat rasseteorie, klasverskille, geslagtelikheid en seksualiteit saamgebind het – die skep van ʼn bepaalde wit imperiale identiteit. Imperiale vroulikheid is vertolk as die beliggaming van afhanklikheid van die manlike, onderworpe daaraan en vergestalt in huislike vroulikheid en moederskap – ʼn beeld wat literêr deur John Ruskin bevorder is as synde “(t)he perfect loveliness of a woman’s countenance can only consist in the majestic peace, which is found in the memory of happy and useful years …” Tipiese middelklas vroulikheid behels nie-werkende vroue, tuisgelokaliseer in die private sfeer van spirituele versorging van die gesin – ʼn vroulikheid van domestisiteit wat gepoog het om die spanning tussen Christelike morele waardes en die eise van industriële kapitalisme in belang van die Britse imperiale droom by te lê. Geslagtelikheid is verhef tot die status van ʼn metafoor vir klas of ras, huislike ideologie dien as substituut vir wit hegemonie, van middelklas dominansie; geslagtelikheid fundeer in ras en laasgenoemde in klas. Die oppermagtigheid van rassefaktore (lees: wit), klasseverskille (lees: middelklas) en geslagtelikheid (lees: manlikheid) veronderstel die interdiksie van historiese veranderlikes. Regsmaatreëls wat gestalte aan middelklas feminiteit gee, verskyn spoedig op die wetboek. Die toepassing van die Wet op Oordraagbare (Geslag)siektes (1864, 1866 en 1869) sonder werkersklasvroue uit ter beperking van hul burgerlike vryhede. Vroulike prostitute van die Britse werkersklas is grootliks aan bande gelê, maar soortgelyke beperkings is nie op manlike prostitute van toepassing gemaak nie. Sentraal tot hierdie stappe was die idee dat die teenwoordigheid van vroue in die publieke sfeer deur prostitusie en ander sedelike misdrywe uit die werkerskultuur opkom. Die 19de eeuse historikus Peter Gaskell het die lys van euwels wat deur vroulike werkers veroorsaak is en die negatiewe effek daarvan op die gesinslewe in ellelange paragrawe beskryf: “Recklessness, improvidence and unnecessary poverty, starvation, drunkenness, parental cruelty and carelessness, filial disobedience, neglect of conjugal rights, absence of maternal love, destruction of brotherly and sisterly affection, are too often its constituents.” Volgens Michel Foucault, in sy The History of Sexuality, het seksualiteit – hoewel gesublimeer in Victoriaanse sosiale kodes – in alle mags- en kennisregimes gefigureer. Britse imperialisme se gesublimeerde androgeniteit het gemaklik aansluiting gevind by Franz Josef Gall se frenologiese beheptheid met skedelmeting en korrelerende breinkapasiteit. Frenologiese geslagsverskille het ook feminiteit betrek: “For instance, like people of lower races, white women too had low brain weights. Like Africans, they too were long-headed with narrow skulls and were discovered to have protruding jaws. As were observed in people of lower races, the white woman’s nose was flatter, her forehead misshapen, het earlobes attached – she was atavistic. The white European (working class) prostitute … was related through her facial features and her enlarged genitals to the Asian and African woman. Like people of lower races she was lazy; she was corpulent.” Britse imperiale geslagsopvattings het klasmobiliteit uitgesluit, tot starre tiperings gelei en die vroulike Ander van die werkersklas na vore geroep: “The laboring class, like the blacks, was dirty, unhygienic, unwashed, illiterate, sexually perverted, inferior. They were a double metaphor for blackness, in that their dirty labor made them literally black every day. And so in blackening them, they also became less threatening within the discourse of progress and improvement. They too became the white man’s burden, ultimately unequal to the bourgeoisie. All of these anxieties become visible on … the woman’s body” (Mohanram). Vertolkings van witheid in die dominante voorstellings van Victoriaanse vroulikheid wentel om heteroseksualiteit, wat op sy beurt berus op duidelike afbakening van afwyking en behoorlikheid, publiek en privaat.
Die Franse spotprentkunstenaar, Jean Veber, se subtiele uitbeelding van Horatio Kitchener, opperbevelhebber van die Britse magte in Suid-Afrika tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, as vergestalting van androgene primtivisme- die padda as seksuele simbool en fertiliteitsikoon in jukstaposisie tot vertrapte feminiteit van boerevroue deur die hiel van Britse militarisme.
‘n Groep vroue wat vanaf die plaas taaibos weggevoer is, nadat hulle gefotografeer en hul huis afgebrand is. Die naakte werklikheid van vroulike kwesbaarheid toon- in die konteks van gemeganiseerde magstoepassing deur gedwonge wegvoering per trein na ‘n konsentrasiekamp- die diepgrypende impak van verdingliking: gestroop van hul burgerregte en eiendom, staan hulle uitgelewer aan die Britse imperiale manlikheid van oorheersing oor werkersklas minderwaardigheid.
Vroue word met wa en osse na vreemde en onbekende oorde weggevoer. Uitgelewer aan die Britse imperiale etos van boerevroulike mind-erwaardigheid is die teelaarde geskep vir seksuele teistering en verkragtings van boerevroue onderweg na die konsentrasiekampe.
Boerekinders met wateremmers onderweg na hul tent. Die werklikheid van menslike kwesbaarheid in die ongenaakbare biopolitieke omgewing van tente, stof en ‘n uitsiglose bestaan onder britse militêre supremasie.
Sigmund Freud en Brits-imperiale feminiteit
Freud transponeer die Griekse Oedipus-legende op 19de eeuse narratiewe van vroulikheid in Brittanje en Duitsland as vertrekpunt vir sy beskrywing van die seksuele identiteitsontwikkeling by meisies – ‘n trajek deur feminiteit en heteroseksualiteit tot vrouwording. Die komplementariteit van moederlike liggaamlikheid tot ʼn sentrale vaderfiguur dwing die ontwikkeling van meisies tot ʼn falliese hermeneutiek – in die teoretiese huls van Freud se teorie “the female subject, in lacking the penis, lacks perfectability of form. Lacking the penis, she develops a mental defect, penis envy, neurosis, melancholy, hysteria. Lacking the penis, she finds it very difficult to move beyond the Oedipal crisis. Lacking the penis, she cannot develop a superego. Lacking the penis and the superego, she lacks a conscience, a sense of justice, a sense of the public. Lacking the penis, she is closer to the criminal, the pervert, the Other, all of whom also lack a conscience and a sense of the public good. Lacking the penis, and like the racialized Other, she lacks an evolved form. Lacking the penis, she wears the stigmata on her body, in her mind, and in her heart. Lacking the penis, her form converges with all forms of perversion. Lacking the penis, she will never be bourgeois or white in herself, for whiteness, like the perfect form, was masculine” (Mohanram). Tong in die kies merk dieselfde skrywer op: “She is neither white nor perfect. She is black, poor, and a degenerate in form. If all women are black and only white middle-class men are white, I wonder: what is the colour of heterosexuality?”
Androgeniteit, feminiteit en die militêre ruimte van imperiale hegemonie tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902
Imperiale rasbewustheid, klasverskille en androgene seksualiteit, gesublimeer deur die romantieke teruggerype na antieke Griekse deugdelikheid en militarisme, het sy stempel op alle terreine van die laat Victoriaanse samelewing afgedruk. Britse militarisme, “patriotomyrotics” (verwronge patriotisme) en “paramountcynensis” (robuuste manlike oorheersing) het in haatspraak, geweld, anti-feminisme en seksuele eksploitasie tot uiting gekom. Op 11 Oktober 1899 is imperiale oorloggeweld, gerugsteun deur die ideologiese drywers van ras, klas en seksualiteit op die twee Boererepublieke losgelaat. Dit bereik ʼn laagtepunt in die Britse konsentrasiekampbeleid wat deur middel van biopolitiese isolering (Agamben) van Boerevroue en kinders, die vroulike en kindergemeenskap van die Boererepublieke van burgerlike regte en vryhede uitgesluit het. Gesublimeerde androgene seksualiteit het in die gedaante van ʼn mistieke roeping van imperiale bourgeois-denke geparadeer en sy volle impak op die Boerewerkersklasse laat geld. Alle vertakkinge van die Britse publieke sfeer – en oorlogspoging – is deur rasmeerderwaardigheid, klasbewustheid en manlike seksualiteit op sleeptou geneem – tendense wat selfs in Brittanje met kommer waargeneem is. In Brittanje is selfs Christelike kerkdenominasies daardeur meegevoer. In September 1900 skryf eerwaarde F.W. Farrar, deken van Canterburykatedraal, ter ondersteuning van die Britse oorlogspoging: “In English, the word ‘Imperialism’ has the wider meaning of that view of national duty and policy which maintain that we are bound to uphold even at the cost of war, and in spite of all hazards, the Empire over the vast regions which the Providence of God had placed under our dominion and immediate influence.” Farrar vergoeilik die imperiale oorlog as ʼn fragment van die Armageddon-stryd teen die bose in die Bybelboek Openbaring: “It is a fraction of that Armageddon struggle, described in the Apocalypse, in which the Son of God rides forth at the head of all His saints to subdue the machinations of the Devil and his angels.” Die diabolisering van Boereverset teen Britse militarisme vertoon eksplisiete ondertone van ras. ʼn Londense dagblad beskryf die Boerwerkersklas as “cowardly”, “shuffling”, “unpatriotic, ,“boorish”, “ungrateful”, “shifty-eyed”, “clod-hopping”, “cruel”, “clumsy”, “greedy”, “cheating”, “mean”, “underhand”, “foxy”, “savage”, “dull-witted”, “misshapen”, “treacherous” en “brutal” – eienskappe wat met Boerefisionomie verband hou. Pres. Paul Kruger is as die toonbeeld van misvormde Boeregelaatstrekke geskilder – raseienskappe waaroor die Weekly Budget Special met die aanvang van die oorlog nie uitgeskryf kon raak nie: groot en swaar kop en liggaam met dun en kort bene; die kopmates voldoen aan die standaard van ʼn “square head” met klein oë; “(t)he bridge of the nose grows wide as it goes outwards from the point between the eyes” , “(t)hen it spreads out on either side, and covers fully two inches of area above his upper lip. He is not attractive, but in that it follows the general condition of his facial landscape.” In die Daily Chronicle is ʼn pleidooi gerig dat die fisionomies-agterlike landelike Boere geen genade behoort te verwag nie: “The half-breeds will get first blood, and their hangmen will find halters for every tree. Oom Paul will swim through seas of blood upon his belly.” Britse militêre offisiere ontleen hul beskrywings van Boerevroue aan die ikonografiese propaganda wat in die pers en rolprentwese hoogty gevier het. Stereotipies word Boerevroue geteken as “a dirty, careless, lazy lot”, hul waens en laers is “models of disorder and usually extremely dirty”. Konsentrasiekampbeamptes stel hulself aan as paternalistiese voogde oor die lae werkersklas van vroue, terwyl kampbeamptes hul beskryf as “ongedissiplineerde afwykings”; Boerevroue staan in jukstaposisie teenoor Britse imperiale militarisme as “gereedskap van modernisering” (Elizabeth van Heyningen). Dr. Kendal Franks vergelyk Boerevroue met die “lowest classes” in Brittanje, terwyl ʼn kampinspekteur in erotiese ondertone verklaar dat hulle oor geen stamina beskik nie en “inter-marry to a perfectly shocking extent and uncles, nieces, cousins, sisters and brother in-laws all live together in a ghastly way.” Teenoor viriele Anglo-Saksers staan die Boere in sosiaal-Darwinistiese terme afgeteken as synde “not a healthy race.” In tipiese laat-Victoriaanse feminiteitsterme veroordeel die Times en Daily Mail vir Hobhouse cum suis as histeriese vroue wat hul neus in politieke aangeleenthede steek – hulle is “unnatural women” wat inmeng in manlike militêre aangeleenthede en hul moederlike pligte verwaarloos. Voorstellings van die Boere as “nomadies” en “half-savage” het die proses van dehumanisering en gedwonge konsentrasie ingelui. Britse verkragting en seksuele eksploitasie van Boerevroue tydens die oorlog kan nie uit die imperiale kontekste van rasmeerderwaardigheid, klasverskille en androgene manlikheid geskeur word nie – daarvoor was die aanloop tot talle humanitêre vergrype teen Boerevroue en -kinders te veel geanker in die ideologiese profiel van die Britse middelklas van laat Victoriaanse imperialisme: werkersklasvroue se geslagtelike onvoltooidheid kon as guns na willekeur deur Britse imperialiste tot wasdom gebring word.
Die Franse spotprentkunstenaar, Jean Veber, hekel met die Britse imperiale beeld van seëvierende manlikheid van die laat Victoriaanse era. Sy spotprent versinnbeeld die versweë narratief van imperiale maskulariteit en die welgevormde manlike liggaam as gesublimeerde manifestasie van die scientia sexualis, teenoor boerevroulikheid en kwesbare vorme van menslike lewe in die Britse konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902. In hierdie prent figureer Lord Horatio Kitchener, opperbevelhebber van die Britse magte in Suid-Afrika, as rolmodel van Britse onverstoorbaarheid te midde van vernietiging van laer vorme van (Boere)lewe – die vrug van sosiaal-darwinisme op die Britse imperiale psige.
Egotekste van seksuele kwesbaarheid en trauma
Krygswet het die Boerevroue en -kinders in ’n biopolitiese ruimte afgesluit; ’n niemandsland sonder burgerregte, regsbeskerming; voëlvry verklaar vir die seksuele attensies van die Britse troepe en meelopers onder hul beheer. Mej. Aletta Engelbrecht lê ’n verklaring af – tans in die gen. Hattingh-versameling in die Vrystaatse argief – dat sy die aand van 23 Desember 1901, tussen 11:00 en 24:00, deur sewe of agt gewapende swart Britse militêre troepe op hul plaas aangeval is. Hulle gryp mej. Grové en een van die dogters in die huis en poog om hulle te verkrag. Die aanvallers word afgeweer, waarna hul mej. Celliers en die jongmeisie Zannie Grové beetpak. Sarie Celliers word op die grond vasgepen en met ’n sambok geslaan. Toe sy ontvlug, gryp hulle mej. Engelbrecht, pen haar op die grond vas en poog om haar te verkrag. Hulp daag op en die pogings tot verkragting misluk.
Op 31 November 1904 stort ’n anonieme skrywer vanaf Kalbasfontein, Grootolifantsrivierstasie, distrik Middelburg, haar bedroefde gemoed in ’n egoteks uit. Die hooftema van die egodokument is die misbruik van kwesbare vroue en meisies wat met karige rantsoene, onhigiëniese kos, afgesonder in troostelose kampomstandighede, die slagoffers van Britse imperiale seksuele uitbuiting was. In die teks resoneer die skokkende gevolge van seksuele misbruik deur Britse troepe, uitbuiting van meisies in die fleur van hul lewe en die verwekking van kinders buite die huwelik: “De jonge dames in de kampen het hul ook sleg gedraag dat zy niet getrout was en kinderen voor gebrag zonder vader als den kind een dag op gegroei is en de kind vraag aan zyn moeder waar is my pa wat zal de moeder dan zeg? …”
Hierdie foto kom uit ‘n Britse soldaat se foto-album: “Lt. O’Reilly stirring up the flames.” Nadat doe boerevroue en kinders op die plaas taaibos gedwing is om vir foto’s te poseer, is hul huis afgebrand en is hulle per trein na ‘n konsentrasiekamp weggevoer. Die triomfantelike beel van Britse opperheerskappy en androgeniteit ter uitvoering van die militêre beleid van verskroeide-aarde is meermale deur fotograwe by vernietiging van Boere-Eiendomme vasgevang.
Imperiale meelopers plunder ‘n Boerewoning tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902. Rasmeerderwaardigheid, klasverskille en androgene manlikheid was die drywers van ‘n vernietigingsbeleid wat die twee boererepublieke in ‘n niemandsland omskep het en uiting aan die Britse Imperiale oorheersingdrang gegee het.
Die imperiale oorlognalatenskap van onverwerkte trauma by vroue en meisies as gevolg van die Britse leër se “oop-gulp-beleid” was ná die oorlog ’n wederkerende tema in egotekste en koerantberigte. Op 4 April 1904 stort G.F. Enslin die opgekropte egosmart van seksuele misbruik deur die Britse oorlogsmasjien in haar herinneringskrif uit. Volgens Enslin was dit algemene praktyk van Britse troepe-afdelings om vroue met geweld na Britse blokhuise weg te voer om “schandelijke en smerige daden” jeens vroue en kinders te pleeg. Die enigste uitkoms vir vroue wat aan Britse seksuele geweld blootgestel is, was om met hul kinders en karige besittings te vlug. ’n Mev. Conradie, met haar klein kinders, het op 18 Februarie 1902, met skamele kleding en besittings die donkerte van die nag aangedurf om aan dié Britse seksuele geweld te ontkom.
Sluwe oorleg van Britse soldate om hul luste op Boerevroue en -kinders te bevredig het haas geen perke geken nie. In ’n beëdigde verklaring van mev. J.H. van der Merwe, dogter van kommandant J.B. Buys, word beskryf hoe ’n Britse soldaat van gen. Rimington se kolonne, op 2 Oktober 1901 naby Cornelia, in die distrik Vrede, deur Britse soldate gevang is. Op een van die Britte se advies dat sy in haar wa moes kuil, die seile digmaak, sodat die wa gespaar kon bly, “sprong hen ook in den wagen en trok het zeil af, waarna hy haar vroeg bij haar te slapen, en toen zij weigerde, greep hij haar met geweld, en zeer sterk zijnde kon zij niet loskomen, maer verzette haar degelijk, zoodat hij zijn zin niet kon krijgen.” In die gepaardgaande worsteling skeur hy haar klere en onderklere van haar lyf af. Toe sy drange ’n toppunt bereik, daag ’n ander soldaat gelukkig by die wa op en staak die aanvaller sy onsedelike aanranding. Daarna is haar wa geplunder en moes sy sonder beskutting met ander vroue en kinders die nag deurbring.
In die Het Westen van Maart 1919 herleef die onverwerkte trauma bykans twee dekades ná die oorlog in ’n beskrywing van die verkragting van die vrou van Hermanus Storm deur swart Britse meelopers van Maraba. Dié ongelukkige slagoffer is beurtelings verkrag en het “in de allerellendigste toestand” in Pietersburg aangekom.
Die nalatenskap van Brits imperiale trauma is waarskynlik die erfenis van die imperiale etos wat die meeste onverwerkte en versweë smart en opgekropte haat deel van die Suid-Afrikaanse geslagtelike landskap gemaak het en seksuele geweld as klasfenomeen ’n institusionele werklikheid gemaak het. Die ontkenning van Britse seksuele vergrype en geweld jeens Boerevroue en -kinders of ontrimpeling van die diep snydende effek daarvan, laat androgene meerderwaardigheid voortbestaan en hou vroue in ’n niemandsland van seksuele verdingliking gevange – die verlengstuk van Britse seksuele imperialisme.