OP DIE KRUIN VAN DIE GOLF
Dat Cathy van Zyl van Somerset-Wes met verloop van tyd, soos op talle ander terreine in haar lewe, ook as ‘Master of Wine’ sou uitblink en tot voorsitter van die gesogte Institute of Masters of Wine (IMW), met sy setel in Londen, verkies sou word, was net ’n kwessie van tyd, glo van haar kollegas en vriendinne. WILMA DE BRUIN het met haar gesels oor haar rol as voorsitter van IMW, uitdagings vorentoe en haar lang en vervullende pad in die wynbedryf.
OP DIE KRUIN VAN DIE GOLF
Photography
Dat Cathy van Zyl van Somerset-Wes met verloop van tyd, soos op talle ander terreine in haar lewe, ook as ‘Master of Wine’ sou uitblink en tot voorsitter van die gesogte Institute of Masters of Wine (IMW), met sy setel in Londen, verkies sou word, was net ’n kwessie van tyd, glo van haar kollegas en vriendinne. WILMA DE BRUIN het met haar gesels oor haar rol as voorsitter van IMW, uitdagings vorentoe en haar lang en vervullende pad in die wynbedryf.
Alsydig, toegewyd en doelgerig om haarself te oortref en “110% te gee”, doen Van Zyl alles wat sy in die lewe aanpak met volle oorgawe. Sodoende behaal sy nie konsekwent sukses nie; maar bereik sy meermale die topsport. Van kleintyd af tot vandag.
Op haar lang lys van prestasies pryk onder meer die volgende:
- Eerstespan-uitblinker in netbal en hokkie op hoërskool;
- Wit skoolbaadjie vir akademiese en sportprestasies;
- Hoofmeisie van Sandringham High School in 1981;
- Voltooi 21 Midmar Myle (swem), 21 Argus fietstoere;
- BCom: Wits;
- Finansiële skakelwerk vir banke, genoteerde maatskappye (om vir ’n hokkietoer te betaal);
- Bemarkings-, rekenaarjoernalis en -redakteur;
- Vryskut-wynskrywer, wynbeoordelaar, wynopvoedkundige;
- Mederedakteur van Platter’s SA Wine Guide;
- Die eerste MW wat die Afrika-vasteland oplewer, in 2005;
- En, op die kruin van die golf: Voorsitter van The Institute of Wine Masters vir 2022 en 2023!
Gee meer
Te meer, Van Zyl strewe deurgaans daarna om almal in haar dampkring te behandel soos sy graag behandel wil word.
“’n Les wat ek as kind by my pa geleer het, en later as jong joernalis by Marketing Mix ondervind het, was om ander te behandel soos ek graag behandel wil word. Later, in die middel-tagtigerjare, toe ek vir die Institute of Marketing Management (IMM) onderhoude moes voer met finaliste vir Man of the Year-kompetitisie en SAB se uitvoerende hoof, Meyer Khan ontmoet het, het hy my vir 45 minute sy onverdeelde aandag gegee en nie een keer toegelaat het dat telefoonoproepe ons gesprek onderbreek nie. Hy het my én die werk waarvoor ek gekom het, gerespekteer; anders as ’n hele klomp handelsnaambestuurders, wat my lank laat wag het en waar dit kennelik meer om ‘mag’ gegaan het.
“Ek glo ook nog my lewe lank dat as ek – én my medemens – meer gee as wat van ons verwag word, sal ons almal beter daaraan toe wees, of hoe?” Anders as in die geval van baie ander mense, is daar nie ’n ‘goue riglyn’ waarvolgens ek lewe nie, maar ek glo ek het wel ’n ‘goue maaggevoel’: wanneer ek ook al ’n besluit moet neem of ’n koers moet inslaan, dink ek eers deeglik daaroor na. As ek ‘vlinders’ op my maag voel, wéét ek ek moet die besluit heroorweeg.
Lang pad
Haar belangstelling in wyn kom van ver, vertel Van Zyl.
“Jare gelede het my oupa ons graag vir Kersfees na die Old Edwardians-klub in Johannesburg genooi. Hy het altyd wyn bestel, dus was dit vir my iets vir ’n spesiale geleentheid. Tuis het my ouers glad nie wyn of alkohol gebruik nie. Maar toe ek en my vriende vleis by mekaar se huise gebraai het (toe ons ouers vir die dag uit was) het my vriende rum en Coke of Esprit gedrink – albei gans te soet vir my. So het ek begin om ’n bottel Nederburg Edelrood of Baronne as my drankie saam te vat. My hokkievriendinne het ook hulle kant gebring…
“Ná ons troue, het ek en my man, Philip, ons by die Wyn van die Maand-klub aangesluit. Toe loop hy my suster se wynboekie van die Kaapse Wynakademie raak, en, op voorwaarde dat hy die Argus-fietstoer saam met my sou aanpak, oorreed hy my om ’n bekendstellingskursus in wyn saam met hom te volg. Die koeël was deur die kerk, en al die kursusse van die Kaapse Wynakademie het gevolg. Ons het ook begin reis om wynkelders te besoek. Ná ons verhuising van Johannesburg na Somerset-Wes, het ons ons by ’n wynklub in Somerset-Wes aangesluit – waarvan ek vandag nog lid is. As redakteur van Platter’s Wine Guide, het Philip onlangs sy 25ste uitgawe van dié gewilde wyngids bekendgestel.
“Daar het ek ’n vriend geword van ’n jong MW wat in Suid-Afrika kom werk het, asook van ’n Cape Wine Master (CWM). Ná een van ons proegeleenthede het ek gehoor hoe hulle argumenteer oor die meriete van MW én CWM…en dat hulle my naam noem. Binne dié verband het ek hulle uitgevra. Die één ding waaroor hulle wél saamgestem het, was dat ek die enigste persoon was wat húlle geken het, wat moontlik die MW-eksamen kon slaag terwyl ek in Suid-Afrika gewoon het (sonder toegang tot al die wyn wat inwoners van New-York en Londen gehad het). ‘So, waarom durf jy dit nie aan nie en gee uitsluitsel oor ons argument,’ het hulle gevra. So gesê, so gedaan…Ons is vandag nog vriende én hulle gesels, soms, met mekaar!” skerts Van Zyl.
Dit was inderdaad ’n lang, maar vervullende wynpad, vervolg sy.
Nadat sy in 2005 die MW-kwalifikasie behaal het, het Van Zyl haar stempel deeglik op die bedryf afgedruk, nie net as gerekende wynkenner nie, maar ook as wynopvoekundige, – beoordelaar en -skrywer. In 2007 het sy ’n oog gehou oor die koördineerder van die Vlak 2-studenteseminaar in Bordeaux en daarna het sy self dié seminaar vir sewe jaar aangebied; vier jaar lank as voorsitter van die Opvoedkundige komitee gedien en haar toe as Raadslid verkiesbaar gestel, ’n posisie waarin sy vir twee driejaartermyne gedien het en steeds dien: eers as vise-voorsitter en tans as voorsitter – die eerste Suid-Afrikaner wat dié eer te beurt geval het.
“Ek het besluit om my as voorsitter verkiesbaar te stel omdat ek enersyds geweet het ek kan die werk doen, en andersyds gedink en gehoop het dat ek dit góéd kan doen. Maar ek het ook dit ook gedoen omdat dit nog ’n geleentheid was om Suid-Afrikaanse wyn in die kollig te plaas. My termyn as voorsitter is twee jaar, dus sal ek in dié tyd in aanraking kom met talle leiers in die wynbedryf, veral in die Noordelike halfrond, wat gedwing gaan word om stil te staan en te dink: ‘Aha, ’n Suid-Afrikaner as voorsitter…dit sê iets oor die bedryf’,” verduidelik Van Zyl.

Uitdagings
Geografie is een van die grootste uitdagings voor haar – baie van die IMW-geleenthede en sakebedrywighede is in Londen – en met die vliegtuig is dit 12 ure ver. “Tien jaar gelede sou dit straks nie ’n kwessie gewees nie want mens sou bloot op ‘die vliegtuig gespring’ en daar gekom het. Maar vandag is ons baie bewus van klimaatsverandering, daarom word elke vliegtuigrit sorgvuldig oorweeg. Dit beteken dat ek baie hard sal moet werk om goeie verhoudings, via Zoom en gewone ou telefoonoproepe, met die IMW se ondersteuners, die uitvoerende kantoorspan en MW-kollegas te handhaaf.”
Geografie is ook een van die grootste uitdagings voor die MW-kandidaatgemeenskap, voeg sy by. “Kortom, kandidate wat in plekke soos New York en Londen woon, is geografies beter daaraan toe as dié in Afrika, Suid-Afrika en Australië. Dít beteken dat ek mense wat verantwoordelik is vir ons onderwys-rugsteunprogram uitdaag om die speelveld gelyk te maak sodat elke MW-kandidaat dieselfde ‘reis’ ervaar, ongeag van waar hulle woon,” verduidelik Van Zyl.
Dan is daar ook die uitdaging om die grondslag vir die Instituut se toekoms in ’n post-COVID-tydvak te lê. “Neil Hadley MW, wat tydens die grendeltyd voorsitter was, was basies in Sydney gestrand waar hy woon en werk. Hy het wonderlike werk gedoen om die Instituut in ’n moeilike tyd te lei, so ook die spanlede wat by die opvoedkundige program betrokke is. Soos die meeste mense, moes hulle ’n ‘persoonlike’ ondersteuningsprogram in ’n virtuele program omskep – ’n projek wat hulle met vlieënde vaandels geslaag het.
“Voorts fokus ek op konsolidasie en stabiliteit om te verseker dat ons personeel en kandidaat-MWs gemaklik is in die ‘nuwe wêreldorde’ waarin hulle werk en leer. Terselfdertyd probeer ek om ’n omgewing waarin die dinamiese raad van die IMW, hierdie en ander uitdagings kan oorweeg (soos dié van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), wat wêreldwyd petisies aan regerings rig om drankwetgewing en -verbruik strenger te maak) asook strategieë vir die Instituut te ontwikkel om te verseker dat die organisasie vorentoe nie net relevant en aktief gaan bly nie, maar ook van krag tot krag sal gaan.”
Waar plaas sy Suid-Afrika op die internasionale wynranglys?
“Suid-Afrika maak wyn wat met die beste in die wêreld kan meeding. Ons goeie wyn is baie, baie goed! En baie van ons intreevlakwyn, asook wyn vir die middelmark, is beter as wat jy elders kan kry – twee keer so duur! Die probleem is dat ons ons intreevlakwyn so lank vir baie min verkoop het, dat ons bekend geword vir ‘goeie-waarde-intreevlak-wyn’.
Nog ’n probleem is dat ons net beperkte hoeveelhede werklik goeie wyn het, dus kan ons nie die aantal mense bereik om die wêreld te oortuig om die paradigmaskuif te maak om ons pryse te verhoog nie. My hoop – en wens – vir die Suid-Afrikaanse wynprodusent is ‘’n groter, vriendeliker uiteet-gemeenskap in die plaaslike mark, want dít sal daartoe bydra dat hul verkope verantwoordelik groei. Ook om ’n manier te vind om groter volumes van hul topwyne in uitvoermarkte te kry.”
Kom dit by haar gunsteling-wynsoorte, wei sy ewe geesdriftig uit:
“Ek hou baie van droë, Spaanse sjerries. Klassieke fino, manzanilla en amontillado, asook droë oloroso is gunstelinge. In die wynkategorie, hou ek baie van Duitse en Oostenrykse rieslings, veral gruner veltliner van laasgenoemde land is baie spesiaal.
“Ek drink meer Suid-Afrikaanse wit as rooi, meestal chenin blanc en chenin blanc-versnitte. Maar ek is ook ingenome met die tendens in Suid-Afrika vir laer alkokolvlakke en varser, minder geperste rooi wyne van cinsault, grenache, syrah en selfs pinotage. Ek is gek oor die ‘skin-fermented’ koshu van ’n Japannese produsent. Ek is ook lief vir Italië se Barolo en Barberesco, die Rhone-streek se rooi en wit, Boergondiese rooi en wit en Rioja en Riberei de Douro van Spanje. Old Bordeaux, ou Duitse Riesling en spits-sjampanje (vintage) is ook hemels.
Net so geïnspireerd as wat sy is om Suid-Afrikaanse wyn internasionaal ’n hupstoot te gee, is Van Zyl ook op persoonlike vlak.
“Ek hou daarvan om lysies te maak…en ek maak baie! Ek hou daarvan om dinge op te spoor, te doen en op te los wanneer ander nie kan nie. Philip spot graag dat hy besluit het om my te trou as ek vir hom ’n 16V swart Gholf opspoor. Teen alle verwagting in het ek daarin geslaag en een in Boksburg gevind!
“Ek lees ook baie, meestal wetenskapfiksie, fantasie- en misdaadboeke, en ek geniet dit om te kook en maak ’n ‘mean’ kerrie- en ramengereg (noedels) en stap dikwels met my hond. Maar van tuinmaak weet ek niks nie…en kan die kere wat ek die klere wat ek in my lewe gestryk het, op my een hand tel.
“Ek is ’n vurige Star Wars-bewonderaar, en my bynaam onder sommige wynkollegas en -kennisse is ‘Yoda’. Een van my kosbaarste besittings is my CD-versameling van al die Star Trek-rolprente en TV-reekse (met uitsondering van die animasiereeks en Deep Space Nine) My seun, Luke, glo dis sý versameling, maar net ék weet waar dit is,” vertel sy geestig.
Lewensfilosofie
“Sommer uit die staanspoor was dit my ’lewensbenadering’ om enigiets wat ’n seun kan doen, beter te doen. Ek het soms min selfvertroue en ek voel party dae soos ’n indringer, maar dan maak ek my skouers ‘breed’, haal diep asem en maak staat op my ‘vrouekrag’. Maar ek weet ook ek het die inherente vermoë, as ek hard genoeg probeer en skouer aan die wiel sit, om dom te lyk en vrae te vra en na die antwoorde te luister, om enigiets wat ek wil doen, te bereik…”
Sedert Van Zyl in September vanjaar as voorsitter oorgeneem het en haar man gehelp het om Platter’s by die drukkers te kry, om haar dagtaak te verrig én die huishouding te bestuur, het sy bitter min tyd gehad gehad om vir haarself te dink of te beplan, peins sy. “Al wat ek nou in die geestesoog sien, is ons huis op Pringlebaai, die rusbank en ’n klomp kussings wat in ’n lawende bries staan, wyn langs my boek op die koffietafel, en my Staffie wat op my bene lê…ek sien reikhalsend uit na ’n wonderlike, rustige Desember!”
KORT BIO
- In 1963 op Blyvooruitzicht naby Carltonville gebore.
- Die oudste van Patrick en Jean Murray se drie dogters. Shirley is in 1966 gebore and Megan in 1973.
- Verhuis in 1964 na Sandringham, Gauteng, en woon daar tot sy Philip van Zyl ontmoet en in 1988 met hom trou.
- Skool: Sandringham Laer- en Hoërskool, waar sy verskeie akademiese en sportprestasies behaal (sien elders).
- Benewens hokkie en netbal, waar sy vir die eerste span uitgedraf het, het sy ook geswem en atletiek beoefen (laasgenoemde nie “waffers” nie).
- Het nie van toneelopvoerings of debatte gehou nie.
- Hou ná skool vol met klubhokkie en -netbal ná skool, maar omdat sy nie lank genoeg was as doelskieter nie, het sy laasgenoemde gestaak.
- Sy en Philip verhuis in 1995 na Somerset-Wes om ‘nader aan die bron’ te kom en woon sedertdien op die dorp.
- Seun Luke is in 1997 gebore. Vandag is ‘n private vlieënier en geesdriftige gholfspeler.
IMW – KORTLIKS
- Die Institute of Masters of Wine (IMW) is ’n wêreldwye lidmaatskapsorganisasie wie se lede Masters of Wine (MW) is. Nadat hulle die MW-eksamen geslaag het, onderteken hulle ’n gedragskode, word hulle lede van die IMW, kry die titel Master of Wine en kan hulle die afkorting, MW, agteraan.
- Die missie van die IMW is om uitnemendheid, interaksie en opvoeding oor al die sektore van die internasionale wyngemeenskap te bevorder.
- As lidmaatskaporganisasie, bied die IMW reise en geleenthede aan spesifiek vir MWs en MW-studente. Daarbenewens word verskeie geleenthede ook vir die algemene publiek aangebied. Sommige jaarlikse geleenthede het gevestigde gunstelinge geword, onder meer die Bordeaux-proegeleenthede in Londen, Napa/San Francisco en Sydney. Die Instituut hou ook elke paar jaar ’n konferensie wat groot aftrek kry.
- Die IMW se huidige ledetal staan op 415, verteenwoordigend van 30 lande. Tans is daar 150 vroue en 265 manlike MWs;
- 498 kandidate het sedert 1953 die MW-eksamen geslaag;
- 21 kandidate het die eerste eksamen geskryf, ses het geslaag.
- Die IMW is in 1955 deur ses Masters of Wine in die Venigde Koninkryk tot stand gebring.
- Sedert 1955 was daar 56 voorsitters, met SA se Van Zyl nommer 56 in dié posisie.
- Ofskoon die instituut altyd toeganklik was vir vroue, was Sarah Morphew Stephen MW die eerste vroulike MW, in 1970;
- 1979 was die eerste keer dat dieselfde aantal vroue en mans die eksamen geslaag het;
- Michael Hill Smith MW (van Australië), was die eerste persoon buite die VK wat die MW-eksamen geslaag, en lid van die IMW geword het.