Oos, Wes, Tuis Barrydale
Ná vele omswerwinge op soek na ’n blyplek, het twee lewensmaats onverwags op Barrydale afgekom en besluit om net daar nes te skop. MARLIZA VAN DEN BERG het gaan kyk hoe dit lyk.
Oos, Wes, Tuis Barrydale
Photography
Ná vele omswerwinge op soek na ’n blyplek, het twee lewensmaats onverwags op Barrydale afgekom en besluit om net daar nes te skop. MARLIZA VAN DEN BERG het gaan kyk hoe dit lyk.
Vir dekades al is hy ’n bekende modeontwerper. Een wat veral droomtrourokke vir plaaslike en oorsese bruide skep. Die laaste paar jaar maak sy ontwerpersoog ook die binnekant van huise mooi. Hy is veelkantig en sy talent om te skep, te stileer, dinge op ongekende, maar kunstige wyse bymekaar te sit op ’n manier wat leefbaar en huislik is, is grensloos. Hy het ’n sin vir die alledaagse en aardse. Vermeng glans met die gewone, antieke dinge met die moderne en onverwagse. Sy energie is soos sy sin vir kreatiwiteit. Onblusbaar. Vir Gert van de Merwe is Rome in een dag beeldskoon gebou.
Dis ’n groot antieke sleutel wat die voordeur van die wit huis in Van Riebeeckstraat op Barrydale oopsluit. ’n Sleutel met ’n storie. Die binnekant boul my uit. Soos elke rok wat hy skep. Dis jare gelede toe ek die eerste keer ’n ruimte betree waar Gert van de Merwe leef. Dit was die binnekant van sy destydse woonstel in De Waterkant, Kaapstad. Ons vriendskap strek oor dekades. Daar was baie kuiers oor rokke, kooksessies en vele glase wyn. Van die Kaap tot die noorde waar hy gewoon en gewerk het. Tot nou hier in die Klein Karoo.
Die pad na die koop van die huis in Barrydale het in Bakoven begin, vertel hy. Hy is gevra om die binnekant van ’n huis in dié buurt aan die Atlantiese seefront in Kaapstad te herskep. Die woorde van die eienaars was: “Treat it as your own.”
Covid tref die land en alles ruk tot stilstand. Vliegtuie hou op vlieg, maar Van de Merwe ken nie van stilsit nie. Die mooimaak in Bakoven gaan voort en hy begin ry tussen Kaapstad en sy bly- en werkplek in Pretoria. Tydens die op-en-af ryery, met net vreesbevange polisie in opgewasemde motors by padblokkades, raak die Karoo vir Van de Merwe al mooier.
Gedurende die winter van 2020 sê Van de Merwe vir sy lewensmaat, Jaco Janse van Rensburg: “Wat van ons gaan soek na ’n blyplekkie in die Karoo. Die gogga gaan dalk lank neem voor dit wyk.”
Van de Merwe vrek oor ’n nuwe projek en die koop in die Karoo word so een. Hulle kyk op Property24 na elke ding met ’n dak, van Graaff-Reinet tot by Worcester. Hulle besluit die N1 is die afsnygrens. Hulle wil nie weer in Kaapstad bly nie.
Van de Merwe en Janse van Rensburg en hul Weimaraner Alexia vat toe die pad Karoo toe met ’n lang lys van potensiële eiendomme waarvan die besigtiging hulle omtrent twee weke lank gaan besig hou. ’n Week later ry hulle via Calitzdorp en Ladismith deur die Naauwkloofpas op die bekende Roete 62 na Montagu. “Die volgende oomblik ry ons teen ’n bergpas af en vir die eerste keer in ses dae van ja, nee en miskien, sê ons albei gelyk: “F** maar dis mooi. Watter dorp is dit?” Barrydale het soos die hemel voor hulle gelê.
Van de Merwe wou verby hou tot in Montagu, maar Janse van Rensburg het beveel hulle moet afdraai. “Ons het amper Tinleystraat se naambord in die proses saamgevat. Ons ry straatop in Van Riebeeckstraat. Die dorp is skoon. Daar is nie ’n elektriese heining in sig nie. Die mense waai vriendelik van hulle voorstoepe af. Ons ry verby die mooi NG kerk, die hotel en Kahn se winkel wat alles van selfone tot opblaasmatrasse verkoop. Aan die einde van die straat sien ons ’n lang huis aan die regterkant. Geverf in gebleikte skakerings van ligpienk, blou en groen in die Karooson. Ons stop summier.
“Onder die hoë voorstoep wat letterlik tot op straatvlak strek, verdruk stokou roosbome en irisse mekaar. Daarnaas staan ’n Te Koop-bordjie met ’n selfoonnommer. Ons stap agter om die huis en daar strek drie akker grond met dooie appelkoos- en ander vrugtebome tot by ’n leidam in die verste hoek.”
Hulle ry Montagu toe en kyk vir twee dae na ander eiendomme. Die droewige Langhuis bly in hulle gedagtes, maar nie een van hulle rep ’n woord nie.
Die laaste oggend in Montagu besluit hulle om die selnommer op die Te Koop-bord te skakel. ’n Prokureur antwoord en verduidelik die huis is deel van ’n bestorwe boedel. Hy is op daardie oomblik in Barrydale en kan dit vir hulle gaan wys. “Ons het na die hoë plafonne en die rooibruin kleivloere gekyk, die ruimte en die chaos van restourasie wat voorlê.
“Teen 12 uur het ons ’n huis gekoop op ’n dorp waarvan ons ’n paar dae gelede nog nooit gehoor het nie.”
Die trustees het toestemming gegee dat hulle kan intrek voordat die oordrag deur is. Bang dat die verwaarloosde en onbewoonde plek plunderaars kan lok. Middel Desember 2020 het Van de Merwe en Janse van Rensburg met genoeg selfdoen-voorraad om ’n ysterwarewinkel oop te maak, begin werk.
Sowat 28 dooie appelkoosbome, ’n dooie bougainvillea wat van die dorp se kant, en ’n rankroos wat van Montagu se kant die huis se buitekant beset, is uitgepluk. Van de Merwe is met ’n wit Wedgewood porseleinteekoppie na die SSK op Swellendam met die opdrag dat die wit verf wat hy vir die buitekant soek, Wedgewood wit moet wees. Dit was nie maklik nie. 280 liter wit verf later was die dorp in skok oor die juweel wat skielik in die hoofstraat verskyn. Een wat hulle nooit voorheen raakgesien het nie en wat in 1856 as woonhuis met ’n anneks gebou is. Laasgenoemde het gedien as handelspos vir die ossewaens om voorraad aan te koop op pad na Oudtshoorn. Van de Merwe-hulle se idee was om die Langhuis in ’n blyplek vir hulle oudag te omskep. Dalk met ’n klein winkeltjie wat hulle met hulle aftrede kan bedryf.
Toe Rick en Sue Melvill van Melvill & Moon-faam die hotel op die dorp koop om dit in ’n glorieryke, klassieke Karoo-hotel te restoureer, het die idee van ’n kontreiwinkel by Van de Merwe posgevat. Dit was teen die einde van die winter van 2021. Die binnemure van die voorste vertrekke is verwyder om een lang vertrek aan die straat se kant te skep sodat hulle in Desember ’n opwipwinkel kan bedryf. ’n Haarsalon waar Janse van Rensburg, ’n voorste haarstilis, kliënte kan sien, was deel van die planne.
In die laaste week in November pak Van de Merwe hul bestaande winkel met huisware in Pretoria in ’n paar van Jannie Kleynhans Vervoer se lorries en vertrek Barrydale toe. Vir twee weke lank pak hy winkel uit en toe Janse van Rensburg op 17 Desember van die vliegtuig afklim, kondig Gert aan: “Die winkel maak môre oop en jou eerste kliënt is bespreek vir 9 uur.”
In die winkel is daar meer as die mooiste linne, porselein, glas en huisware wat op die mooiste manier denkbaar uitgestal word. Dis is ’n skouspel van Van de Merwe se leeftyd van mooi leef. Hy sê hy koop eintlik al ’n leeftyd lank vir die winkel. Sy jare lange verslawing aan antieke winkels en veilings het hier rakspasie gekry. Sigbaar en bereikbaar. Dis loshande die mooiste winkel ooit. Net so beeldskoon bedraad soos Van de Merwe se ontwerpe en leefstyl. En die storie van die sleutel wat hy destyds buite ’n vervalle plaashuis langs die Kaapse Weskus opgetel het?
Die antieke sleutel het vir jare aan ’n lint in hulle huis gehang. Toe hulle in Desember vir die eerste keer na die Langhuis kom, pak Janse van Rensburg dit in. Vas oortuig dis die Langhuis se sleutel. In Barrydale besef hulle die twee sleutels is identies. Die een wat destyds aan die Weskus opgetel is en die een wat aan hulle oorhandig is toe hulle eienaars van die Langhuis geword het en albei sluit die voordeur oop.
Die idee is om uiteindelik ’n Karoo Emporium met produkte en kuns uit die Karoo te skep. Hulle het vir jare dekoritems vir hulle leefstylwinkel by hulle werkplek in Pretoria ingevoer. “Covid het ons geleer om weer skeppend en kreatief te dink en nie op invoere staat te maak nie.” Van de Merwe is verbysterd oor die plaaslike talent van mense wat hulle kontak om die winkel as afsetpunt te gebruik.
Behalwe al die dekoritems is daar kosprodukte soos gebottelde vrugte en beskuit. “Die tannies van Merweville bak vir ons en maak tuisgemaakte nougat.” Hendrien se muesli lok mense van Klein-Brak in die Tuinroete na die winkel.
Buiten dit is daar Van de Mewe se unieke ontwerperitems: Plekmatjies, voorskote, oondhandskoene en oorgroot servette wat hy self maak van linne met die Willow Pattern van sy Ouma Lettie van de Merwe se vleisskottels in klassieke wit en blou daarop gedruk. Die wit en blou kombinasie is ’n gunsteling van Gert. Verder is daar beddegoed, strooikussings, antieke breekware en boeke. Potte gevul met suurlemoentakke en blou salies. Daar is rooikoper en skottels vol kwepers. Glaskoepels, ’n outydse kasregister en die mooiste bagasie uit Van de Merwe se eie reeks. In die een hoek hang ’n reling van Van de Merwe se pasklaar vroueklere in Italiaanse linne. Dis eenvoudige ontwerpe. Tydloos en gemaklik. Onmiskenbaar Gert van de Merwe. In ’n eenvoudige palet van hoofsaaklik wit, vlootblou, olyfgroen en swart.
Vir Van de Merwe is mooi leef nie net ’n leefstyl nie. Dis ’n lewensfilosofie. Hy glo dit begin met ’n oop gemoed en positiewe denke. “Die lewe is te kort om iets te spaar as die beste. Drink elke dag ’n glas wyn uit jou beste kristal. As jy heeltyd binne sekere grense en vermoëns leef, het jy nie verbeelding nie.”
Vroeg in Januarie 2021 stop ek en my man by Van de Merwe en Janse van Rensburg in Barrydale. Hulle is midde die restourasieproses, maar twee vertrekke is leefbaar gemaak. Dis waar hulle bly terwyl hulle breek en bou. Die slaapkamerbed is laag vir laag bedek met die mooiste linne. In die leefvertrek staan ’n lang tafel en Franse kas vol tafellinne. Daar is kerskandelare en antieke tafeltjie met Baccarat kristalglase en kraffies en bottels met Pimm’s en jenewer. Ons drink vonkelwyn uit die mooiste langsteelglase. Daar is die geur van vars blomme en nat sement. Dis hoe hulle leef. Ongeag die omstandighede.
Hulle is opgewonde om permanent in Barrydale nes te skop en verder mooi te maak. Gastekothuise bo die leidam aan die bopunt van die groot erf is deel van die toekomsplanne. Die binnekant wil hulle eenvoudig hou. In tipiese Karoostyl met die gestroopte elemente en die wit gekalkte binnekant van huise op die Griekse eilande. In die groot tuin wil hulle groente en nuwe vrugtebome plant en weer naby aan die aarde leef.
Die lewe in Barrydale is kalm. Dis verwyderd van die stadsbestaan en pendel wat Van de Merwe vir jare tussen Kaapstad, Pretoria en sy ateljee in Londen gedoen het.
“Hier word ons rustig wakker en kyk oor die agtertuin vol laventel en wilde salie, verby die slaweklok na die berg. In die somermaande ry ons laatmiddag die Tradouwpas uit en klouter teen die krans af om af te koel in die bergpoele. Lê later saam met die dassies op die warm rotse voordat ons teen skemer terug ry Langhuis toe. Mens besef hoe eenvoudig beeldskoon die wêreld is.”
Voor die Langhuis blom ’n roos helderpienk teen die Wedgwood wit buitekant. “Vir jare het ons op die ingewing van die oomblik op ’n vliegtuig gespring en die wêreld vol gereis op soek na die beste plekke. Toe kry ons dit hier tussen die Langeberge in die Klein-Karoo.”
Marliza gaan haal haar jare lange vriend en mode-ontwerper, Gert van der Merwe, op die Oudtshoornse lughawe. Hulle vat die pad deur die natuurskone Tradouwpas met die nuwe Toyota RAV4 Hybrid, tot in Barrydale waar hulle verder kuier in sy nuwe Langhuis. Sy gesels met hom in die nuwe DEKATv reeks en doen ook ‘n wonderlik profiel oor hom vir die nuwe uitgawe van DEKAT. Koop jou digitale tydskrif hier: https://dekatdigitaal.co.za