Dit is al beskryf as die beste van sy soort ter wêreld, en vanjaar se Design Indaba-konferensie beloof om weer eens gestand te doen aan dié stelling waarin internasionale sprekers oor drie dae insig bied oor die jongste ontwerptendense van oor die wêreld heen.

Die Design Indaba-fees is ’n jaarlikse huldeblyk aan ontwerp en kreatiwiteit wat ’n toonbeeld is van die mees toepaslike talent oor die hele kreatiewe spektrum. Konferensiegangers kry ‘n kykie op wat aan die spits van die bedryf gebeur, en kry insig oor die werk, idees, leierskap en ontwerpidees – ’n kruissnit van wat tans op die gebied van kreatiwiteit gebeur. Dit gaan oor kreatiwiteit wat ’n beter wêreld bewerkstellig en bring op die verhoog saam diegene wat besig is om presies dit te doen.

Die program sluit in musiek van internasionale kunstenaars en ook Afrikamusikante van wat nou opslae maak.

Gewilde uitstallings sluit in die jaarlikse Emerging Creatives-program – ontluikende ontwerptalent om op die uitkyk voor te wees en die Most Beautiful Object in South Africa-uitstalling wat elke jaar een ontwerp uitkies wat dié eer verwerf.

Verskeie seminare en slypskole word aangebied, onder meer die hoogs aangeskrewe Trend Forecast deur die bekende Li Edelkoort.

Die bedrywighede is gefokus rondom die sentrale feeskern by die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad se middestad. Verskeie satelliet-geleenthede wat insluit direkte uitsendings en reisende uitstallings in ander stede word ook aangebied.

Van die sprekers wat deelneem, sluit in: Adebayo Oke-Lawal, stigter van Organe Culture, ’n klerereeks met ’n Afrika-estetiek, Alice Rawsthorn, ontwerpkritikus en skrywer van Designs as an Attitude en Hello World: Where Disign Meets Life, Annabelle Selldorf, van Selldorf Architechts, ’n argiteksfirma van New York, Dave Hakkens, ’n ontwerper, David Droga, stigter en hoof van Droga5, Dong-Ping Wong, direkteur van FOOD, ’n ontwerpfirma van New York, Eric Quint, van 3M Company, Faith XLVII, ’n internasionaal erkende straat- en ateljeekunstenaar, tans van Kaapstad en Freyja Sewell, ontwerper.

Die Design Indaba het bygedra tot die opheffing van Suid-Afrika se ontwerpsektor met opvoedkundige projekte en in 2019 vir die eerste keer word afgevaardigdes uitgenooi om hul eie bydrae te maak deur vrywillige skenking aan die Design Indaba Trust, wat behoeftige studente help.

Vanjaar se Indaba word van 27 Februarie tot 1 Maart gehou. Vir meer inligting oor die program en om kaartjies te bespreek besoek die webwerf: www.designindaba.com