ons sal seker klokkies aan die kersboom hang

ek’t vanaand ‘n kers gebrand en

die was daarvan laat uitloop in my palm

ek’t ‘n ster daarvan gemaak

 

ek’t jou teen my hart afgetel –

in ligjare – asof jy ‘n gegewe was

maar vanaand ken my voete nie my spoor nie

want my asem is swaar en my trap is

kleinserig soos die van ‘n mank ding

 

en ons sal seker maar weer klokkies aan die kersboom hang

 

en vir drie verdomde dae het die

krampkant van my hart geween soos

‘n ou maagd oor haar seuns

en ag kyk hoe plegtig roer die hegting

tussen vlerk en wind en hoe vermetel tuis

sit die sterre teen die nag soos iets wat hoort my ding

 

maar kyk hoe swart word die nag as die

drif opsteier uit droef en ander goed en

kyk hoe pluk die donker ‘n ster uit die nag se bors

soos ‘n verbeurde kans of iets

 

ja kyk hoe val ‘n ster haar lig uit op die aarde en teen die

blitse van ‘n tong wat nog nie weet dat

pyn woede en woede drif en drif bloed word nie

 

want kyk – ek’t vir jou rose gebring – rooies met gladde stele

maar jou oë het dorings daarteen verbeel en jou

vingers vertel om te bloei en jy’t die bloed gevat en

teen jou lippe gesmeer dat die krygers kan kom

 

en ons sal seker maar weer klokkies aan die kersboom hang

 

en ‘n ou maagd sal kerse brand –

en haarself vasverbeel teen die bors van die nag

jy sal haar ken want sy sal ‘n swaard dra deur haar hart

en kerswas in haar hand want sy weet nie meer hoe om lig na te maak nie

 

en ons sal seker maar weer klokkies aan die kersboom hang

 

francisgrobler2018©

 

By |2018-12-04T10:17:26+00:00December 4th, 2018|Uncategorized|