Onmeetlike skoonheid in verval – Henk Serfontein

GERARD SCHOLTZ het die sprong geneem en die kunstenaar Henk Serfontein persoonlik in sy woonstel in Romarco Court in die Kaapstad gaan ontmoet.

Onmeetlike skoonheid in verval – Henk Serfontein

Photography

 

GERARD SCHOLTZ het die sprong geneem en die kunstenaar Henk Serfontein persoonlik in sy woonstel in Romarco Court in die Kaapstad gaan ontmoet.

Ons ken mekaar van kopknip en hoe gaan dit? Beleefd. Afstandelik. Met respek. Ek volg sy loopbaan soos ’n “stalker” en lees sy Soutbos-dagboeke op Facebook. So word ek deel van sy binne- en buitelewe in die woonstelblok Romarco Court en Kaapse stadskom wat hy elke dag vir volgelinge oopgooi. Hy laat ons toe om voyeurs te word.

Maar skielik staan hy voor my in sy voordeur. Die ywerige stapper en waarnemer. Korter as ek. Bril wat my terugkaats as hy opkyk. Met ’n masker en ’n plastiekhouer in sy hand. “Laat ons net eers ontsmet,” sê hy lewendig. Ek sien blokkiesvloere blink. Daar lê ou Persiese matte op die vloer. Die mure hang vol skilderye, maar ek wil nie te nuuskierig kyk nie. Ek kén dit mos. Die ingeleefdheid van sy ruimte. Almal kén dit. Maar ken ons werklik die Henk wat so onder die topografie van ander se velle inkruip? wonder ek toe ons by die netjies gedekte tafel met ’n uitsig oor die stad en Tafelberg aansit. Koeksisters en vars druiwe in beenwit en jade bakkies. Serfontein skink koffie en tee. Ek sien die Wilna Stockenström versreël wat op sy binne-arm in fyn lopende skrif getatoeëer is: egalig haal die nagte asem … 

Ons handel die geografiese besonderhede vinnig af. Serfontein praat in duidelike, oorgeronde Pretoriaans. Hy is op 9 Desember 1950 in die ou Verwoerdburg gebore. “Daar waar die Bermuda-driehoek lê – paternalisme, kerk en skool.” Sy pa was ’n brigadier in die weermag. Sy ma ’n epilepsielyer. Op 30 verhuis hy na die Kaap.

Tussenin lê daar gebeure wat vandag in sy kuns neerslag vind. Donkertes wat in sy werk eggo. ’n Teerheid teenoor veral ouer vroue. Die verval van die menslike liggaam. Swewende ledemate van ou mans. Die skoonheid wat hy in verval en verganklikheid en randfigure raaksien. ’n Soeke na identiteit in die nabyheid van digters en skrywers, of is dit ’n soeke na erkenning of homself? Sy medium is meestal houtskool wat alreeds deur ’n loutering gegaan het. Houtskool op Hahnemühle-papier met roet wat in waaiers weggeblaas word. Die papier word eers swart comté bewerk, ’n saamgepersde houtskool, en dan werk hy dit in na die lig wat op ’n mens val. Na realisme.

Serfontein se kinderjare was nie maklik nie. Daar was geen verhouding tussen die gay seun  en sy meestal afwesige militêre pa nie. Tog moes hy in later jare sy pa versorg toe hy niks meer self kon doen nie. Die seun moes in sy pa se privaatheid dring: hom bad en sy hare kam. Tot die pa sterf. Die seun was toe 21 jaar oud. Sy moeder was ’n ernstige epilepsielyer wat sewe keer van vooraf moes leer loop. Sy het aanvalle in winkels, die kerk en by skoolfunksies gekry. Dit het die seun verder gedryf om ’n marginale figuur te word. Hy versorg haar tot haar dood, toe hy 30 jaar oud was. Sy moes ook gebad word en hy moes haar intimiteit ook binnedring. Dan begin jy sy werk verstaan. Hy bly die soeker na intimiteit. Die soeke tot onder die vel van sy modelle. Veral in sy werke oor Wilna Stockenström in sy reeks Winterreise word dit duidelik dat hy ook ’n ligsoeker en ligmaker is. Hy neem haar na die donkerte van haar slaapkamer. Daar word hy ook die versorger en vertroueling, as jy dieper kyk. En luister.

Egalig haal die nagte asem
in leë kamers en leër strate;
herinnering vervaag in ‘n wasem
van selfsug, spreiend oor die ruite.

 “Ten spyte van my moeder se liggaamlike uitdagings was sy iemand wat ontsettend emosioneel nurturing was. Binne die fragiliteit van haar liggaam was daar hierdie innerlike krag, ’n veerkragtigheid. Haar toestand het in my kinderlike gemoed apokaliptiese proporsies begin aanneem. Maar daardie terugveg het so half die fragiliteit in my kop dekonstrueer tot ek besef het dit is net ’n deurgangsroete. Dit het ’n massiewe impak op my psige en my werk gehad. Dit was soos om te sien hoe iemand op water loop. Amper iets betowerends daarin as jy kan sien hoe iemand opstaan uit ongelooflike devastation van ’n liggaam wat jou faal en weer opstaan en begin loop. Haar dood was vir my ’n primêre verlies. Om van al die omstandighede weg te kom, verhuis ek tien dae later Kaap toe. Dit was ook ’n dekonstruksie van my lewe en ek moes wegkom.”

Stiltes hang tussen ons. Ek kyk by hom verby. Daar hang ’n muur vol grafiese werke van Walter Battiss, Cecil Skotnes, Helen Sebidi, Penny Siopis, Patrick Bongoy, Louis Maqhubela en een oliewerk van Christo Coetzee. En in jukstaposisie, ’n delicious monster met blinkgroen blare op ’n tafeltjie onder die skilderye.

Serfontein die versorger. So tuis in sy woonstel met ’n rykdom van ou matte en kunswerke. Ook die kunsobjekte wat hy by opelugmarkte uitsnuffel. 

Kokon is my naam. In ewewig
tussen toe en dan kan ek besin,
kan ek vooruit beplan in die lig
van ‘n suiwer stilte wat ek stil aai.

Ek vra hom uit oor sy ontmoetings en vennootskap met digters en skrywers. “Hulle is almal vroue. Die nurterers van baie vroeg in my lewe was almal vroue. My ouma en my ma. Op skool was die enigste onderwysers wat na my uitgereik het en my raakgesien het nie noodwendig die kunsjuffrouens nie, maar ook dié wat effens eksentrieke taaljuffrouens was. Ek onthou hoe ek in ’n opstel die woord karmosyn gebruik het wat ek in ’n argaïese woordeboek gevind het en die juffrou het so ’n lekker bohaai daaroor gemaak. In daardie tyd het ek gekliek gedigte impliseer beelde, en beelde impliseer woorde. Woorde impliseer weer narratiewe. Met my werke met skrywers is daar ’n yin-yang verhouding. Die strategieë is soortgelyk. Met die lees van gedigte is daar die vloei van die onbewuste wat my inspireer, en ek weet idees sal na my toe kom.”

Serfontein staan op en ons gaan buite op sy balkon staan. Groet die buurvrou en hulle praat oor Mistique, die kat wat by almal kuier. Ons kyk na die stadskom en berg en ek wonder of hy nie liewer nou wil gaan stap nie. Tafelberg lê so naby. Jy kan net jou hand uitsteek en aan die poskaart vat.

Serfontein moes ’n opdragwerk vir die KKNK skep. Hy wou graag ’n portret van Wilna Stockenström doen. “Sy het net twee blokke van my af gewoon en is ook ’n stapper soos ek. Ek het haar altyd sien stap en haar bewonder. Hierdie wonderlike vrou met haar asketiese voorkoms. Ek het haar pakkend gevind, as aktrise en digter-skrywer met al die visuele kodes wat sy om haar persona en haar gelaatstrekke dra. ’n Jaar vantevore het ek haar in Checkers in Kloofstraat gesien. Op die ingewing van die oomblik het ek vir haar ’n bos blomme gekoop, en agter haar aangehol en die blomme vir haar gegee. Dit was amper stalkerig vir my – hierdie vrou wat ek soms in die stad sien stap het en die gevoel wat ek gekry het dat ons in ’n gedeelde stad en geesteswêreld woon. Sy was ’n bietjie oorbluf en het my uitgevra oor wie ek is en wat ek doen. Toe ek haar ’n jaar later kontak, het sy my onthou en het ek ’n olieportret van haar geskilder en só het ’n vriendskap tussen ons ontstaan. Ons het op ons stappery geselsies gemaak en eendag het ek by haar gaan tee drink. Daar gee sy vir my een van haar bundels, Van vergetelheid en glans. Ek het deur die bundel gelees en daar vind ek “Winterslaap” wat by my begin spook. Ek het een dag in my bad gelê en gevoel ek dryf. Gewigloos, en my onderbewussyn het oorgeneem. ’n Vonk vir ’n idee om ’n kunswerk te maak van ’n slapende digter het daar ontstaan. Sentrale temas in my lewe soos verlies, kontemplasie oor die naderende dood, weerloosheid, melankolie, en ook troos was alles in hierdie gedig.”

Winterslaap is my naam, en waterblink
lê die dae op ’n streep in die son:
so mooi my verworwe rus, ek dink
’n glimlag het die aarde aangeraak.

Vir Serfontein is sy werk ’n nabetragting. Hy leef eers lank saam met die beelde voordat hy besluit hy is emosioneel gereed om te begin. Hy voel soos ’n dirigent wat baie dinge bymekaar moet hou – die implikasie van die narratief, en ook om die visueel estetiese gevoel te vind waarmee gekommunikeer moet word.

“Ek het die hele Desember en Januarie aan Winterslaap, ’n reeks van 12 skilderye gebaseer op die gelyknamige gedig van die slapende Wilna Stockenström, gewerk om dit vir die Woordfees gereed te kry. Ek het toe ’n studio bokant ’n mechanic gehad en dit was verskriklik warm en ek onthou ek het die dag ná Kersfees in die hitte daar gesit en vir die slapende digter op my esel gekyk. Toe vir drie maande daarna het ek aanmekaar vir haar gekyk. Dit is ’n verskriklike intieme verhouding wat uitspeel tussen jou en ’n kunswerk en dit is ook baie kontemplatief. Jy moet ook toelaat dat die alchemie van die medium saam met jou werk. Eendag het ek net so teruggesit en gewonder waaroor gaan hierdie slapende digter met haar toe oë? Toe tref dit my.  My verbintenis met hierdie kwesbare beeld het iets te doen met my ma wat terminaal siek was. Ek het ses maande langs haar bed gesit en sy het meestal geslaap en later in ’n koma verval.”

Ek kis die vrou

telkens as sy met haar vinger

tekens trek oor my lense.

“Kom ek wys jou my studio.”

Ek kan sien hier word sistematies en georganiseerd gewerk. Die bietjie chaos op ’n wit tafel lyk soos ’n portret. ’n Kunstenaarstafel. Oop boeke, koerantknipsels. Maskeerband. Verfkwaste regop in houers. Porseleinbakkies met verslane grys kleurmengsels. Die enigste spatsel kleur is ’n blou skêr en ’n blou lino-mes, en twee gekleurde foto’s van arms wat sweef teen die mure. Tydelik met skeursels maskeerband vasgeplak. Die skilderye vir sy solo-uitstalling in Gent, België, staan gereed om die volgende dag verpak en verskeep te word – The Topography of Skin. Teen sy aansteekbord is klein kwitansies, notas, verfsmeersels op papier. Ek lees woorde op los papiertjies soos snelskrif, menslikheid, humanness, fluistering, palimpses, De Profundis, Reverence…

Wandel ek dan deur gouddeurweekte strate

in akwamarynaande van mymering

wat my wasig omhul, wandel ek dan

in my eie wêreldjie

waarin kleure plets en biggel,

dis knus, dis goed, en ten minste my eie.

My medemens het sagte kontoere.

Ons gesels baie gesels daardie oggend. Gedagtes, woorde en wyshede sweef tussen tradisionele portretkuns, boeke, natuurlike beligting op voorwerpe, vertrouensverhouding tussen kunstenaar en modelle, emotiewe impak van ’n kunswerk op die kyker, Afrikanerskap en die gewildheid van sy Faceboek-inskrywings. Maar altyd kom die gesprek terug na verwonding, stigmata, verlossing van ’n mens in pyn, intimiteit, en hoe sy kunswerke groter begin raak het, skulptureel, verwrongend. Omdat dit so groot raak, aksentueer dit die rimpels, vlekke, plooie. Die verval. En vir die kyker, die onmeetlike skoonheid van verval in Henk Serfontein se werk.

Ons groet mekaar op die grondvloer, by die glasdeur. Ek sien weer my weerkaatsing in sy brilglase. Ek ry af, stad se rigting. Die paaie wat hy elke dag stap. Waaroor hy skryf.

Die geboue dryf soos ’n nat foto.

****

Facebook-inskrywing: Soutbos-dagboek

15 Maart 2020

 Liewe Dagboek

 Toe ek nog kind was, het ek my gedagtes laat uitbloei in blou vlekke op papier. Met die kanariegeel Bic-pen het ek met vloeiende handskrif die buigsaamheid van my innerlike stem verken. Soms het die pen ’n poeletjie op die kolletjie van die “i” gemaak. Dit het gelyk soos ’n blou druppeltjie water wat gevries word op die oppervlak van ’n bergpoel. Ek sou die Croxley-skryfblok omdraai en kyk of my gedagtes deur die papier soos water deur die grond kon syfer. Die papier was dun soos die blare van ’n papierblom en ek sou my gedagtes opvou en wegbêre in my laai. Soms sou ek my kamerdeur sluit, maar dis daar wat ek my los gedagtes uit my laai gaan haal, op my sit en dit hardop vir myself sou lees. Ek sou luister na my eie stem en hoor hoe sigbaar ek in my eie woorde word.

Dit was lank voor ek eers geweet het van die dagboeke van Anne Frank of Johannes Meintjies, maar dis daar waar ek my los gedagtes soos die kort sinne op die binnekant van Chappies-papiertjies neergepen het. Dis ook daar wat ek die antwoorde op die Chappies-vrae oor my lewe wou vind. Ek het geleer dat jy strepe deur sekere sinne kan trek en paragrawe kan omruil. Ek kon besluit wat ek wil onthou en wat ek wil vergeet. My dagboek kon onbetroubaar wees soos die geheue. Elke dag het ’n nuwe geleentheid geword om my eie storie se einde oor te skryf. Daar was iets magies aan die gedagte dat vandag se nuwe besluit die hoeveelheid lig in die oë in die vuurvoël in jou melkweg sou kon verander.

Deesdae tik ek my hartskrif op facebook op my foon met twee vlytige vingers wat lyk of hulle bergklimmers op Tafelberg is. Die spasies tussen letters word plekke van rus, kontemplatief soos die stiltes tussen note. Dis herfs in die Kaap en die stad se bors trek toe. Ek hoor hoe die klippe op Leeukop splinter, want President Ramaphosa het aangekondig dat Suid-Afrika in lockdown ingaan. ’n Plaag met die naam Covid 19 het ons getref en almal se  drome versplinter. Ek woon al meer as ’n dekade en ’n half in ’n tweeslaapkamerwoonstel in die Kaapse stadskom. Die woonstel se naam is Romarco Court en sy dra ’n ligpienk rok soos die Mount Nelson. Daar woon ’n kat in haar buik met die naam Anna Pavlova. ’n Prima ballerina wat by die trappe optrippel met ’n stert wat liggies wip soos ’n veerligte tutu in Giselle. Vir die volgende wie weet hoe lank sal die kleedrepetisie, die opvoering en die nabetragting vingeralleen in Romarco Court en in die strate van hierdie eindelose stad geskied.

Ek sal op my stoep skilder en die stad se toe bors probeer oopskryf. Die stomme aarde sal ’n stem kry in my twee vingers. Ek sal Leeukop se splinters in die palm van my twee hande probeer bymekaar hou. Die isolasie hoef nie ’n doodloopstraat te wees nie. Dit kan ontvou soos die opwinding in Langstraat of skyn soos die Kersfeesliggies in Adderleystraat in Desember. Met my vingers sal ek die buitelyne van papierblomme kan teken. Ek sal die sterre soos appels in die melkweg kan pluk. Ek sal die korrelrige sout met my vingerpunte op my vel onder my oë op my wange kan voel. Die anatomie van alleenheid en ekstases sal nuwe note maak soos fynbos op Tafelberg ná ’n verwoestende brand. Terwyl die mis doodstil toesak op die stad kan ek in my dagboek deur die vrees en isolasie beur. Dankbaar vir my lewe soos die blougroen blare van die soutbos wat altyd teruggee. Ek sal met my twee hande my ore vashou, my oë toemaak en dan weer langsaam oopmaak en dink aan Anne Frank wat in ’n weggesteekte agterkamer geskryf het: “I don’t think of all the misery but of all the beauty that still remains.”

Bron: Alle aanhalings is uit gedigte van Wilna Stockenström.