ONDERNEMER IN MURG EN BEEN

Besigheid kom neer op die praktiese toepassing van die studie van menslike gedrag. Besigheid is mense, en mense is die mees komplekse en interessante wesens wat bestaan – moontlik in die heelal. Geniet dit om ’n verskil te maak aan die wêreld en aan mense se lewens – en as jy geseënd is om in die proses ook geld te maak, geniet ook dit, as ’n bonus. Dít is onder meer van die raad wat Hendrik Marais, topondernemer en stigter van die selfdoen-maatskappy, Eureka, asook van die bekoorlike en unieke boetiekhotel en -venue, Forum Homini in die Wieg van die Mensdom, vir voornemende ondernemers het. WILMA DE BRUIN het wyd en syd met hom gesels, onder meer oor sy liefde vir ondernemerskap en onderwys, sy ‘pers koei’-benadering en wat hy vorentoe nog wil, nee, gaan aanpak.

ONDERNEMER IN MURG EN BEEN

Photography

 

“Besigheid kom neer op die praktiese toepassing van die studie van menslike gedrag. Besigheid is mense, en mense is die mees komplekse en interessante wesens wat bestaan – moontlik in die heelal. Geniet dit om ’n verskil te maak aan die wêreld en aan mense se lewens – en as jy geseënd is om in die proses ook geld te maak, geniet ook dit, as ’n bonus. Dít is onder meer van die raad wat Hendrik Marais, topondernemer en stigter van die selfdoen-maatskappy, Eureka, asook van die bekoorlike en unieke boetiekhotel en -venue, Forum Homini in die Wieg van die Mensdom, vir voornemende ondernemers het. WILMA DE BRUIN het wyd en syd met hom gesels, onder meer oor sy liefde vir ondernemerskap en onderwys, sy ‘pers koei’-benadering en wat hy vorentoe nog wil, nee, gaan aanpak.

V: Op jou persoonlike webwerf staan die volgende prominent onder jou naam: “I’m passionate about entrepreneurship and education.” Vanwaar dié liefde?

A: My pa het ernstig geglo in die waarde van onderwys en ondernemerskap – die vlam wat hy aangesteek het, het my reeds vroeg geïnspireer en plesier gegee, wat ek weer graag met ander wou deel.

Die vermoë om dinge te verstaan, maak baie deure oop – hiervoor lê onderwys die grondslag. Ondernemers is die mense wat die wêreld ’n beter plek maak vir almal – sosiale entrepreneurs, intrapreneurs of entrepreneurs wat hul eie sake begin, maak ’n verskil. Ek glo ons almal het die behoefte om die wêreld beter te laat as wat ons dit gekry het – onderwys en ondernemerskap is die sleutels hiervoor.

V: LLL, oftewel Lewenslank Leer/Lifelong Learning, is deesdae ’n ‘buzz topic’ [mode-onderwerp]. Wat is jou persoonlike siening van Lewenslank Leer en hoe vind jy baat daarby?

A: Lewenslank leer begin al baie vroeër as wat mense besef – kinders so jonk soos ’n jaar leer maklik en vinnig en moet hard werk as hulle nie ’n klomp vaardighede reeds voor skool aanleer nie: ’n groot faktor in SA onderwys se probleme.  

Mens hou natuurlik aan leer tot jy eendag doodgaan. Hoe meer geïnteresseerd jy in alles is, hoe meer leer mens en hoe meer bevredigend is die lewe. Dood sal ons gaan, maar aanhou leer, rek die goeie deel van die lewe – en in die meeste gevalle sommer jou dae op aarde ook.

V:Wat lees/leer jy graag?

A: Ek is mal oor lees, dis loshande die lekkerste en effektiefste manier van kennis/stories/begrippe oordra.

Om te verstaan hoe dinge werk, gee my groot lekkerkry! Ek lees wyd: evolusie, biologie (veral hoe die brein werk), filosofie, geskiedenis, politiek, wetenskap, besigheid, ekonomie, onderwys – met nou en dan ’n lekker storieboek. Lees vat tyd, so mens skuif maar rond tussen onderwerpe.

V: In ’n vorige onderhoud met jou, het jy lekker uitgewei oor die ‘pers koei’-benadering in ondernemerskap – vertel asb waarom dit so belangrik is om jou van jou mededingers te onderskei.

A: Seth Godin vertel die storie van al die bont, wit en swart Frieskoeie. Hoewel elkeen uniek is, staan nie een uit of kan mens ’n spesifieke een onthou nie – behalwe as sy pers is! Om jou besigheid te laat uitstaan, mense terug te bring vir nog en hulle te kry om jou aan te beveel, moet jy sorg dat wát en hóé jy dit aanbied, so anders is, so uitstaan, dat jou klante jou nie kan vergeet nie.

V: Wat het aanleiding gegee tot jou “Eureka”-oomblik?

A: Ek was gefrustreerd met die klein opbrengs vir die baie moeite om los skroefies en ander hegters te verkoop. Ek het geglo ander hardewarehandelaars het dieselfde frustrasie en sal graag by my koop as ek ’n praktiese plan kan uitwerk. En siedaar: dis hoe EUREKA, letterlik, die lig gesien het! Tans is Eureka se omvattende reeks produkte in meer as 3000 winkels en kleinhandelsgroepe oral in Suid-Afrika en Namibië. 

Ons volg ’n wetenskaplike verpakkingsmetode om alle klante tevrede te stel: van kleiner  selfdoenverbruikers tot groot kontrakteurs. Wat kleiner klante veral nuttig vind, is die produk-inligting en kleurkodering. By Eureka verstaan ons ook maar alte goed hoe kosbaar vloerruimte is, en met ons pasgemaakte uitstalrakke, help ons winkeleienaars om hul ruimte kostedoeltreffend te benut én wins te optimaliseer.

V: Jy vertel graag jy’s in der waarheid ’n smous: hoe het dié smous so suksesvol geword?

A: Die eerste beginsel van verkoop, is dat die koper beter af moet wees met jou produk of diens as met sy geld. Jy mag nie iets verkoop om jouself te bevoordeel ten koste van ’n klant nie. ’n Goeie smous gebruik sy oë, ore en kennis om presies uit te vind wat sy klante nodig het – en verskaf dit dan aan hulle op so ’n spesiale manier dat dit ’n onvergeetlike ervaring word. Dit werk vir mode, roomys, karre – en skroefies!

Mettertyd raak die dinge wat jy verkoop meer kompleks in hulle onderbou. Dis meer organisatories en meer konseptueel, minder fisies. Selfs ons skroefies word as ’n holistiese konsep aan winkels verskaf en glad nie as kommoditeit nie.

V: Daar was wel ’n paar minder suksesvolle pogings langs die pad…watter lesse het jy daaruit geleer?

A: Die spreekwoord,  ‘aanhouer wen’, is waar; maar so ook is Salomo se advies ‘Moenie by ’n swak saak staan nie’. Sukses hang af van die regte keuse tussen vasbyt en ’n projek wat nie lewensvatbaar is nie, gou te los, ego ten spyt. 

Ek het ’n besigheid gehad om kluise te maak, ons het opvoedkundige boeke en CDs oor die pos verkoop, in Eureka het ons verskillende soorte gom in oranje sakkies probeer verkoop, ook elektriese proppe en gloeilampe. Elke idee het van buite goed gelyk, maar ná ’n kort lopie, het ons besef ons aannames was verkeerd en meer tyd en geld sal nie genoeg help nie. As ons by swak sake bly staan het, sou dit ons baie duur te staan gekom het.

V: Jy en Karina is ’n wenspan wat vernuwende idees betref. Daarvan getuig ’n hele paar van julle projekte, onder meer ‘Brain Boosters’. Hoe motiveer/inspireer julle mekaar?

A: Ons uitgangspunt is om ’n wesenlike verskil te probeer maak – en niks is moeite nie, ook nie in die klein dingetjies in en om die huis nie.

V: Jou boetiekhotel en -venue, Forum Homini (in die Wieg van die Mensdom naby Krugersdorp) is nog ’n droom wat bewaarheid is. Wat beteken dit vir jou? 

A: Om mense en menslike gedrag te probeer verstaan, is ’n goeie begrip van evolusie besonder waardevol. Daarby hou ek baie van lekker kos (en kosmaak). 

Forum Homini – overgeset synde die plek waar mense met mense gesels oor mense en waar ons vandaan kom – oor ’n lekker bord kos en in ‘’n pragtige natuurvriendelike omgewing, was die ideale manier om hierdie belangstellings bymekaar te bring. Kortom, ek wou evolusie vir mense meer toeganklik maak en nie iets wat jou geloof ondermyn nie, maar aanvaar as wonderlike manier van hoe ons geskep is. 

Die droom van ’n boetiekvenue in die Wieg van die Mensdom, kon gelukkig waar word toe ek in 2005 besluit het om ’n Forum Homini as ’n ‘viering van die geboorte van die mensdom’ in hierdie area op te rig. Dié plek het al vir my, Karina en duisende gaste oor die afgelope 17 jaar baie plesier gegee.

As jy jou verbeelding gebruik, en Forum Homini se kunswerke en inkleding verken, gee dit jou ’n beeld van die mens se herkoms van die vroegste tye af: sy ingesteldheid, sy lewenswyse, sy ‘gereedskap’. Een van die beeldhouwerke by die ingang van die hotel, wys byvoorbeeld op treffende wye hoe die mens se brein met die verloop van die evolusieproses groter geword het. Insgelyks is die 14 wooneenhede ’n eietydse weergawe van die aanvanklike grotte waar ons oeroue voorgangers in die begin gewoon het. (Kyk gerus na die YouTube-insetsel by https://www.youtube.com/watch?v=bCwBiRSxKcc om ’n vollediger prentjie van Forum Homini te kry).

V: Jy glo oudword is ’n ‘kopding’: wat voer julle nog in die mou?

A: Oudword is ’n gegewe vir alles wat leef. Jou ingesteldheid en aksies maak wel ’n reuseverskil aan dié proses en ervaring en dit hang van jou bewustelike besluite oor dink en doen af. 

Na gelukkige agtien jaar saam in ’n “lewe apart, maar saam”-verhouding, het ons nou besluit om wel te trou (sonder om die leefstyl te verander). Dit gee natuurlik lekker geleentheid vir ’n uitgebreide wittebrood, maar ook om die verhouding te verdiep. Inderdaad, ons het geen planne vir aftree nie.

V: Beroepshoogtepunte?

A: Sukses, volgens my definisie, is om deurlopend, moeitewerd-doelwitte te stel, na te jaag en te bereik. Ek het deurlopend baie van hierdie doelwitte bereik.

V: Nog ’n paar nuttige wenke vir ondernemers?

A:   –     Maak seker klante-ervarings sal uitstaan en onthou word.

  • Om te weet, moet jy meet. Sonder goeie data kan mens nie goeie besluite neem nie.
  • Bestudeer klante se leefstyl, omstandighede en werk uit wat verskil aan hulle lewens gaan maak. Formele marknavorsing met vraelyste en fokusgroepe het min waarde vir werklike innovering.
  • Sien om na jou personeel, dan sal hulle na jou klante omsien en hopelik baie lank saam met jou werk. Vier van die agt hoogs talentvolle mense in my topbestuur is al dertig jaar plus by Eureka. Dis die moeite werd om so ’n kultuur aan te moedig dat mense se behoeftes om sowel te groei as om te behoort deurlopend op langtermyn bevredig kan word.
  • Wees die voorbeeld. 
  • Die doel en missie van ’n onderneming is om ’n verskil te maak – nie om geld te maak nie. Winsmaak is wel nodig en bewys dat die besigheid waarde skep, dws mense is bereid om meer te betaal vir diens of produk as koste om dit te lewer.
  • Wins en kontant is nie dieselfde ding nie: albei is nodig vir voortbestaan. Maak seker jy verstaan, in detail, hoe jou kontantvloei werk en watter faktore dit beïnvloed: dié onder jou beheer sowel as ekstern; nie voorspelbaar of onder jou beheer nie.
  • Bestuur risiko uiters oordeelkundig. Doen stappe om jou kans op en opbrengs op sukses te verbeter – en skade te beperk as dit nie volgens plan werk nie. Moenie die plaas verwed nie (behalwe as die plaas reeds verlore is). Onthou, almal wat sukses behaal, het risiko’s geneem – maar nege uit die tien wat risiko’s geneem het, het misluk.