ONDER DIE TEKEN VAN DIE SEKELMAAN
Vir eeue is die naam Isis in Afrika geassosieer met die Egiptiese godin Isis, wat siele na die onderwêreld gehelp het, maar nou het Isis onheilspellende assosiasies met dood, verwoesting en fanatiese fundamentalisme, DE WET POTGIETER doen verslag.
ONDER DIE TEKEN VAN DIE SEKELMAAN
Photography
Vir eeue is die naam Isis in Afrika geassosieer met die Egiptiese godin Isis, wat siele na die onderwêreld gehelp het, maar nou het Isis onheilspellende assosiasies met dood, verwoesting en fanatiese fundamentalisme, DE WET POTGIETER doen verslag.
Vir die doel van dié artikel gaan ek nie in detail ingaan oor die huidige toestand in die Cabo Delgado-provinsie in die noorde van Mosambiek nie, maar net probeer om al die historiese feite en die aanloop na die opbou van ISIS op ons voorstoep chronologies uiteen te sit. Ons sit op ʼn tikkende tydbom.
Ek is so paar ’n jaar gelede behoorlik gekruisig toe ek durf waag het om te skryf dat Al-Qaeda besig is om ondergrondse netwerke in Suid-Afrika te vestig. Nadat my boek Black Widow, White Widow verskyn het, het daar nog talle feite aan die lig gekom en volgende jaar sal ek die boek bywerk. Dit sluit inligting oor die onheilige alliansie van elemente binne die ANC met radikale Moslemekstremiste in.
Net vir die interessantheid. So ’n jaar of wat gelede kom kuier ʼn voormalige ondersoeker van die polisie se Crimes Against the State (CATS) en sy vrou in Kaapsehoop en vra vir my of ek onthou hoe ek in 2010, met die aanloop na die Wêreldbeker-sokkertoernooi, deur elemente in die media en van regeringskant stilgemaak is oor my waarskuwings dat Al Qaeda ʼn aanval beplan.
“Wel, ek kan nou maar vir jou vertel dat die Volkswagen Amarok wat later my amptelike polisievoertuig geword het, vóór die toernooi bo in Afrika gesteel en afgebring is na Suid-Afrika en hier omskep is met die doel om dit te gebruik as ʼn motorbom in ʼn aanval op een van die stadions,” het hy daardie dag aan my gesê.
Daardie beplande aanval en Al Qaeda se planne om die sokkerbyeenkomste te ontwrig, is stil-stil in die kiem gesmoor. Hoe dit gedoen is, is ʼn storie vir ʼn ander dag.
Die oorsprong van Mosambiek se sorge
Dit is nou net ʼn bietjie meer as ʼn jaar gelede dat ISIS vir Suid-Afrika gewaarsku het dat hulle ʼn “nuwe front” binne ons landsgrense sal open indien ons militêr in die Cabo Delgado-konflik betrokke raak.
Ondanks die dreigemente is daar 1500 lede van die Suid-Afrikaanse Spesmagte in die noorde van Mosambiek in die hawestad van Pemba ontplooi om saam met die Rwandese troepe die Islamitiese ekstremiste die stryd aan te sê.
En hier in Suid-Afrika kan ons maar net asem ophou en hoop ISIS begin nie ʼn terreurveldtog om hul dreigemente gestand te doen nie. Dat hulle wel daartoe in staat is, is nie te betwyfel nie. ISIS het reeds vir jare ʼn stewige ondergrondse netwerk landswyd gevestig.
In Julie 2019 kontak een van my intelligensiebronne my met die nuus dat 90 goed opgeleide lede van ISIS in die laaste 30 dae die noorde van Mosambiek uit Tanzanië geïnfiltreer het en op pad is na die hawe van Nacala. Die aanvanklike inligting het daarop gedui dat dié groep vraghouers met dwelms moes gaan beskerm waar dit van skepe afgelaai word.
Die groep het vanaf Zanzibar gekom en het Tanzanië as deurgangsroete gebruik om die grens na Mosambiek oor te steek. Hoewel daar verskeie ander groepe vroeër ingekom het, was die groep van 90 die grootste groep in daardie stadium.
Die infiltreerders was goed opgeleide oorlogsveterane uit Afghanistan en Pakistan en toegerus met van die beste wapentuig wat hulle in die hawe van De Praia gaan oppik het.
Volgens ʼn navorsingstuk, The Emergence of Violent Extremism in Northern Mozambique, was een van die leiers ʼn Gambiër, genaamd Musa. Die ander een was ʼn Mosambieker wat bekend staan as Nuro Adremane.
Die navorsingswerk is saamgestel deur Greg Pirio en Robert Pittelli, die president en ʼn medewerker van die Amerikaanse Empowering Communications. Hulle is bygestaan deur Yussuf Adam, ʼn medeprofessor van eietydse geskiedenis aan die Universiteit van Eduardo Mondlane in Maputo.
Uit hul navorsing het dit geblyk dat Nuro Adremane ʼn beurs gekry het vir opleiding in Somalië. Hy het deur Tanzanië en Kenia gereis om by Somalië uit te kom. Verskeie ander lede van die infiltrasiegroep het op soortgelyk wyse vir opleiding gegaan.
Die Gambiese leier van die groep het uit sy pad gegaan om mense uit sekere segmente van die samelewing in Mosambiek te gaan werf. Mense met griewe teen die veiligheidsmagte, die internasionale mynmaatskappy wat daar ontgin en die nasionale polisie.
Hoewel dit nie bevestig kon word nie, was die aanvanklike vermoede dat die Jihadiste sou probeer om die steun van Renamo-rebelle in die gebied te kry in hul beplande stryd teen die Frelimo-magte.
Die dwelms kom van die papawervelde van Afghanistan af en word per pad na Pakistan vervoer, waarvandaan dit na die Lamu-eiland aan die noordoos-kus van Kenia verskeep word. Daarvandaan na Pemba-eiland in die Zanzibar-skiereiland tot by Nacala. Die eindbestemming is dan Durban wat die uiteindelike wêreldwye verspreidingspunt is.
Nog ʼn bekende internasionale kenner op die gebied van Islamitiese ekstremiste het aan my bevestig dat dit Al Shabaab-vegters is wat met die koms van ISIS hul bondgenootskap verskuif het vanaf Al Qaeda na die meer ekstremistiese terreurgroep.
Etlike maande voor die Julie 2019-infiltrasie was daar reeds begin met aanvalle in die Cabo Delgado-provinsie toe ʼn swaar gewapende groep militante drie polisiekantore in Mocimba da Praia, ʼn klein dorpie 590 km vanaf die Nacala-hawe aangeval het.
Twee polisiebeamptes is vermoor, vuurwapens en ammunisie gebuit waarna die groep die dorpie beset het. Die plaaslike inwoners het na die groep as die “Al Shabaabs” verwys. Kort nadat inligting oor die eerste vlaag grusame aanvalle op die plaaslike bevolking in die Cabo Delgado-provinsie begin bekend raak het, is daar aanvanklik na die ekstremiste as Al-Shabaab verwys weens hul klaarblyklike verbintenis met die Somaliese ekstremistiese groep.
Mettertyd het die terreurgroep ʼn eie identiteit begin opbou en bekend begin staan as Ansar al-Sunna. Ander benamings wat na dieselfde groep verwys is al-Shabaab, Ahlu al-Sunna, Swahili Sunna en Ahlu Sunna Wal Jammah.
Met hierdie aanval kon die Mosambiekse weermag nog daarin slaag om terug te slaan en ná ʼn uitgerekte skietgeveg het hulle die oorhand gekry en 16 militante doodgeskiet. Sedertdien het Mosambiek die inisiatief verloor.
Dit was vir my ook toe al duidelik dat die Mosambiekse regering nie heeltemal op hoogte is van wat daar ver in die noorde van hul land aan die broei was nie. Ek is deur topintelligensiemense in Mosambiek genader en gevra of ek bereid is om ʼn gesprek met hulle te voer oor die inligting wat ek het.
Ná twee dae van samesprekings met hulle in Maputo het ek besef dat daar op daardie vlak nie baie liefde verlore is tussen Mosambiek en Suid-Afrika nie. Uit verdere navorsing oor die geskiedenis van die jarelange Mosambiekse burgeroorlog, het dit duidelik geword dat daar ʼn paar van die ou, en nou reeds bejaarde, Frelimo-generaals is wat deel is van ʼn magstryd oor die beheer van die rykdomme in grondstowwe in die verre noorde van hul land. Dis ʼn gebied waar die hele wêreld wedywer vir beheer oor die mildelike gas en olie in dié gebied.
Een van die generaals is inderdaad in beheer van die gesogte Nacala-hawe waardeur die vraghouers met dwelms en ander smokkelware van oraloor as deurgangsroete gebruik word. Nacala-hawe hanteer sowat 300 vraghouers per maand met dwelms wat vanaf Afghanistan en Pakistan afkomstig is.
Dié Frelimo-generaal werk in die dwelmhandel baie nou saam met ʼn vooraanstaande en omstrede sakeman van Maputo wat reeds geruime tyd op die Amerikaanse FBI-lys van mees gesoekte persone is. DeKat is ook bewus wie die kontakpersone van die internasionale dwelmsindikaat in Suid-Afrika is en wie die twee topfigure in die ANC is wat politieke beskerming aan dié onaantasbares bied.
My vermoedens oor die bedenklike reputasie van die Suid-Afrikaanse intelligensiegemeenskap is toe verder versterk uit gesprekke met die Indiese regering. Daar is vir my gesê dat Indië vrees dat ISIS pogings kan aanwend om aanvalle, grusamer as die een op die Hotel Moembaai, van stapel te stuur. Die Indiërs het veral belanggestel in inligting oor die stroom onwettige Pakistanse burgers wat wederregtelik deur Suid-Afrika beweeg juis omdat hulle weet dat Suid-Afrika tans die Mekka vir die verkryging van onwettige reisdokumente is.
Alle paaie lei na Mbombela (Nelspruit)
In Suid-Afrika het die pad Laeveld toe die hoofweg vir onwettige immigrante geword om Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente en paspoorte te kom koop. Tot ʼn paar jaar gelede was Durban die Mekka vir onwettiges, maar sedertdien was daar ʼn skoonmaakproses by daardie kantoor van die departement van binnelandse sake en dit het gehelp om in ʼn groot mate die onwettige handel in dokumente hok te slaan.
Of dit nou die honderde onwettiges is wat daagliks die onbewaakte grens in die omstreke van die Lebombo-grenspos en elders tussen Mosambiek en Suid-Afrika onverhinderd oorsteek, en of dit die “vlugtelinge” en diesulkes is, wat met die hulp van korrupte lughawepersoneel by O.R. Tambo Internasionaal, voet aan wal sit in ons land – alle paaie lei na binnelandse sake in Mbombela vir die verkryging van die nodige, helaas onwettige, dokumente.
Volgens goed geplaaste intelligensiebronne het die Pakistanse terreurgroep, Sipah-e-Sahaba, ʼn radikale organisasie wat in Pakistan as ʼn Sunni-oppergesaggroep in stryd is met die minderheidsgroep, die Shia Moslems, reeds ʼn goed gevestigde ondergrondse netwerk om onwettige ekstremistiese Moslems in Suid-Afrika te fasiliteer.
“Dis ʼn baie goed geoliede netwerk,” is aan DeKat verduidelik. “Van die fasiliteerders op voetsoolvlak wat die nuwe aankomelinge bystaan, tot die “regte” staatsaanklaers om hul sake te “hanteer” indien van die onwettiges onderweg deur wetstoepassers vasgetrek word.”
Voorts is daar ook ʼn netwerk van prokureurs en advokate op ’n grondslag van 24 uur beskikbaar wanneer hierdie onwettige immigrante in hegtenis geneem word.
Met hul aankoms in Suid-Afrika word die onwettiges opgelaai en na veilige huise in Mbombela en Komatipoort geneem. Daar is ook veilige huise by Naas, naby die grens op die pad tussen Komatipoort en die Swaziland-grens.
ʼn Intelligensiebron beskryf hoe daardie pad – dit staan bekend as die Managa-pad – vanaf 17:30 tot 19:30 ʼn behoorlike bynes van bedrywighede word wanneer minibustaxi’s en ander voertuie daar intrek om sake te doen met die onwettiges wat die vorige nag uit Mosambiek ingesluip het en in die beboste gebied sit en wag vir moontlike vervoer na die veilige huise.
Hy het bygevoeg dat baie van daardie insurgente voormalige Somaliese soldate is.
Die identiteit van twee plaaslike Pakistani’s wat ʼn baie winsgewende besigheid as tussengangers tussen die onwettiges en korrupte immigrasiebeamptes in Nelspruit fasiliteer, is aan DeKat bekend. Die een se kantoor is in die Nedbanksentrum in Nelspruit en die ander een doen sake in Komatipoort naby die Total-vulstasie.
Die transnasionale sindikaat in onwettige mensevervoer
Die hoof van die Pakistanse sindikaat is gesetel in Maputo waarvandaan sy netwerk help om hoofsaaklik Pakistani’s en Bangladesji’s Suid-Afrika in te smokkel, maar talle onwettiges van ander Asiatiese lande maak ook van sy dienste gebruik.
Teen ʼn fooi van sowat R70 000 word die onwettiges gehelp om in Gujarat bymekaar te kom en dan word hulle vanaf Moembaai in Indië na Maputo gebring waar sommige daarin slaag om visums vir Suid-Afrika te koop. Die ander word oor die grens gesmokkel om dan smiddae langs die pad opgelaai te word.
Indien van die onwettiges iewers langs die pad afgetrek en in hegtenis geneem word, is daar regsverteenwoordigers wat 24 uur per selfoon bereikbaar is om die nodige “reëlings vir onbevange deurgang” te fasiliteer.
Wetstoepassers het ʼn tyd gelede tydens ʼn klopjag op duisende niksvermoedende Suid-Afrikaanse burgers se bankbesonderhede afgekom. Dié bankbesonderhede word deur die sindikate as “bewyse” aangebied dat die visum-aansoekers finansieel daartoe in staat is om ʼn bestaan in die land te kan maak.
Terwyl die sindikaatbaas, Mnr. X, alles uit Mosambiek beheer, sorg sy broer aan die anderkant dat die “kliënte” in Moembaai op die vliegtuie kan kom. Mnr. X laai hulle by Maputo-lughawe op en hulle word eenkeer per week deur die Lebombo- of Mananga-grensposte gefasiliteer, of by die grense afgelaai om oor te loop en ʼn saamrygeleentheid na elders in Suid-Afrika te vind. Die volgende stop vir diegene reeds in besit van visums en reisdokumente is Patelstraat in Benoni aan die Oos-Rand. Daar verdwyn hulle van die radar af.
Mnr. X is in die verlede verskeie kere in hegtenis geneem, maar slaag telkens daarin om sy vryheid los te koop.
Prof. Theo Neethling, departement politieke studie en regeerkunde, Universiteit van die Vrystaat.
Ek gaan drie punte maak rakende die huidige situasie:
Die Rwandese magte is baie professioneel en het in die afgelope weke ‘n groot verskil gemaak aan die situasie in Cabo Delgado waar hulle tans saam met die Mosambiekse magte teen die insypelaars (Ansar al-Sunna) optree. Daar is duidelike suksesse aangeteken met verskeie insypelaars wat om die lewe gebring is en ‘n klomp ander wat gearresteer is. Dit moet ongetwyfeld as positief beskou word. Wat die dinamika van die streekpolitiek betref, het pres. Paul Kagame kennelik ‘n stewige voet in die deur in Mosambiek gekry terwyl die SAOG-magte daarenteen tot dusver nog geen werklike bydrae gelewer het nie. Selfs die SANW – die belangrikste onder die SAOG-magte – het nog niks meer as ’n voorspan (advance team) ontplooi nie, terwyl Zimbabwe se rol waarskynlik tot opleiding beperk gaan wees. Die SANW sou egter van besondere waarde kan wees in die handhawing van maritieme veiligheid deur met sy vloot te verhoed dat die insypelaars vanaf die kus ondersteuning ontvang. Portugal is natuurlik ook betrokke in ’n militêre opleidingsrol.
By alles hierbo moet ’n mens egter toevoeg dat teeninsurgensie-operasies ten diepste gaan oor harte en verstande (hearts and minds) asook die lojaliteit van die plaaslike bevolking. Dit is operasies wat baie tyd en geduld verg, soos ons opnuut in Afghanistan gesien het. Hier is nog ’n baie lang pad om te loop omdat die Mosambiekse regering Cabo Delgado as ’n provinsie in die verre noorde oor baie jare sedert onafhanklikheid afgeskeep het en daar baie lae vlakke van vertroue in die regering in Maputo is. Cabo Delgado is sosio-ekonomies in alle opsigte ver agter die meer welvarende suidelike dele en dit kan nie met militêre operasies omgekeer word nie. Daar is net een oplossing: veel beter regering vanuit Maputo en ’n plan vir die sosio-ekonomiese opheffing van Cabo Delgado.
Daar sal ook ’n stewige plan moet kom om die groot buitelandse beleggers so vinnig moontlik weer op koers te kry en die risiko op beleggings in die natuurlike gasbedryf te minimaliseer. Die onlangse besluite van die petroleumreuse, Total en Exxon Mobil (as die grootste beleggers in Mosambiek se natuurlike gasontginning), om hulle bedrywighede op die ys te plaas, was bitter slegte nuus vir die toekoms van die Mosambiekse ekonomie, omdat opbrengste uit natuurlike gasontginning daardeur met minstens ’n paar jaar uitgestel is. Daar is ongeveer ’n dekade gelede al voorspel dat die finansiële opbrengste uit die natuurlike gasprojekte die grootte van die Mosambiekse ekonomie amper kan verdriedubbel. Vir die Mosambiekse regering met sy enorme internasionale skuldlas is dit noodsaaklik om die gasontginning so spoedig moontlik op dreef te kry, maar dit alles is tans in groot onsekerheid gehul en Total en Exxon Mobil sal nie hul bedrywighede hervat nie sonder ’n drastiese afname in risiko op hul reusebeleggings nie.
Willem Els, senior opleidingskoördineerder vir die Enact Program
Ons het ná ongeveer twee jaar se onderhandeling toegang tot op die hoogste vlak in Cabo Delgado gekry om ’n studie daar te gaan doen. Die oorgrote meerderheid van die studies oor die situasie in Cabo Delgado was net lessenaastudies. Ons het met meer as 300 respondente onderhoude gevoer, van slagoffers van die insurgensie tot vlugtelinge en polisie- en weermaglede, senior regeringsamptenare en die gewone publiek.
Dit is ’n omvattende studie en ons is tans besig om die data in te voer en te verwerk. Die studie behoort lig te werp op verskeie vraagstukke en ook van die aannames te bevestig of te weerlê. Die belangrikste is om empiries vas te stel wat die belangrikste aansporings was vir die algemene opstand en insurgensie aan die kusstreek van die provinsie.
Ons beoog ook om ná die analisie verskeie voorstelle en moontlike oplossings vir die insurgensie voor te lê aan wetgewers, nie net om die toestand in die provinsie terug te laat keer na normaal toe nie, maar ook om soortgelyke ongelukkigheid en opstande in die toekoms te voorkom.
Van die belangrikste drywers wat begin deurskemer het, is die algehele gebrek aan goeie regering wat die mense totaal en al gemarginaliseer het as gevolg van ’n absolute afwesigheid van die regering ten opsigte van die lewer van die basiese “political goods” soos basiese dienslewering.
Verder blyk dit ook dat korrupsie van staatsamptenare endemies, en een van die belangrikste oorsake of drywers blyk te wees. Dit sluit al die staatsinstansies, maar veral die polisie en weermag in wat hulself blykbaar skuldig maak aan enorme vergrype en magsmisbruik ten koste van die plaaslike bevolking.
Dit moet in gedagte gehou word dat die afleidings gemaak word aan die hand van data wat ingevoer word en dat die finale analise eers ná afhandeling van die prosessering van al die data gedoen sal word. Nog een grief wat deurskemer, is die hantering van die regering van die ryk minerale neerslae in die provinsie waaruit die plaaslike gemeenskappe blykbaar min of geen voordeel trek nie. Die Engelse term, “resource curse”, kom baie sterk deur en ook heel voortydig wat niks goed voorspel nie.
In sekere kringe word daarna ook as die “pre-source curse” verwys deurdat die inkomste van die ryk vloeibare gasneerslae blykbaar voortydig deur die korrupte elite spandeer is met die sogenaamde “hidden debt scandal”. Dit is duidelik dat die swak en onbevoegde bestuur van die uiters ryk grondneerslae daartoe gaan lei dat Mosambiek beslis nie die sogenaamde “resource curse” gaan vryspring wat reeds in al die Afrikalande behalwe Botswana voorkom nie.
Die ryk minerale neerslae word ontgin en bevoordeel die ryk en korrupte politieke elite en buitelandse beleggers sonder dat dit die plaaslike bevolking en land bevoordeel, met geen langtermynbeplanning wanneer die ryk neerslae uitgeput is nie. Mense word ontwortel en van hul grond afgesit sonder behoorlike vergoeding.
Mosambiek kan een van die rykste lande van sub-Sahara-Afrika word as hulle die beginsels van goeie bestuur vir hul mense en ryk grondstowwe toepas. Daarsonder dit sal die ontevredenheid in Cabo Delgado heel waarskynlik versprei en uitbrei na ander provinsies soos Niassa en Nampula en moontlik verder.
Francis val vas by Nagkantoor op Kaapsche Hoop waar sy kuier met De Wet Potgieter en sy hond Potlood, waar dié bekende skrywer, ondersoekende joernalis, redakteur en navorser gesels oor sy nuutste publikasie Kruisvuur, wat die land omtrént aan die gons het. Koop jou digitale uitgawe by https://dekatdigitaal.co.za