Help studente om hul studiedrome met lenings te bewaarheid.

Om jou drome van tersiêre studies te verwesenlik en jouself akademies verder te bekwaam sodat jy goed toegerus is om ʼn bevredigende en lonende betrekking los te slaan, raak vir al hoe meer studente buite bereik. Weens die steeds stygende koste van tersiêre onderwys, kan al minder jong mense ná graad 12 verder gaan studeer.

Alles is egter nie verlore nie: by die Noordelike Helpmekaar-studiefonds, byvoorbeeld, kan ʼn mens tot R60 000 per jaar leen – teen van die billikste terugbetaal-voorwaardes waaraan jy kan dink!

Die fonds – wat geen bande met die Helpmekaar-kollege of -skool het nie – dateer uit die twintigerjare van die vorige eeu. Dit het in die ou Transvaal doodgeloop, maar het in 1962 herleef toe 12 leningsaansoeke goedgekeur is.

Tot nou toe is meer as 2 000 studente finansieel gehelp om hul toekomsdrome te bewaarheid.

Helpmekaardag

Die Noordelike Helpmekaarstudiefonds kan teruggevoer word na 10 November 1917 toe Helpmekaardag verklaar is.

So is daar ʼn datum gekoppel aan wat sekerlik een van die merkwaardigste gebeurtenisse in Suid-Afrika se geskiedenis sou wees – die Helpmekaarbeweging – waar het alles begin.

Die Anglo Boere-oorlog is in 1902 met die Vrede van Vereeniging beëindig. Benewens die geweldige trauma wat beleef is, het die oorlog ook groot verarming te weeg gebring. In 1910 kom die Unie van Suid-Afrika tot stand, steeds met hegte bande aan Engeland en word die 4 kolonies saamgevoeg om ʼn verenigde Suid-Afrika te vorm.

Die Rebellie

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 stem Suid-Afrika toe om, op Britse versoek, Duitswes-Afrika (Namibië) aan te val en te annekseer omdat dit ʼn Duitse kolonie was. Vir baie mense was dit onaanvaarbaar, want in die woorde van oudpresident Steyn was dit ondenkbaar dat “die kinders van die konsentrasiekampe” oorlog moes maak teen die Duitsers wat die Boererepublieke tydens die Anglo-Boere-oorlog ondersteun het. Die Rebellie breek uit en nagenoeg 11 000 persone neem deel.

Met die beëindiging van die Rebellie is baie van die rebelle beboet en moes hulle ook skadevergoeding betaal. Vir die Vrystaat, waarvandaan die meerderheid van die Rebelle gekom het, was die bedrag nagenoeg £336,000. Dit is ʼn reuse bedrag as in ag geneem word dat ʼn gegradeerde onderwyser met £120 per jaar begin het.

Die Helpmekaarbeweging

Op Bethlehem word besluit “Ons moet saamdra en saamwerk” om die eise te betaal en die beweging word later die Helpmekaar genoem. Soortgelyke verenigings ontstaan ook in Transvaal en Kaapland. In Julie 1917 word ʼn kongres van die onderskeie Helpmekaar-verenigings gehou en word verneem dat daar nog ʼn tekort van ʼn £110,000 oor is – bykans ʼn onmoontlike doelwit om, ná alles wat reeds gedoen is, te bereik. 10 November 1917 word as Helpmekaardag verklaar met die doel om genoeg geld in te samel om dan al die skuld af te betaal.

Die Kaapse koerant, Die Burger, tree met groot geesdrif toe en maak bekend dat ʼn boer van die Paarl aangebied het om £500 tot die Helpmekaarfonds by te dra as 500 persone in Suid-Afrika elk £100 skenk. Baie mense was skepties oor die doelwit, maar landwyd is daar met entoesiasme toegetree tot die fondsinsameling.

Kerke het van deur tot deur gekollekteer, vroue en vroueverenigings het geld ingesamel met basaars, pieknieks en so meer en uit die jeug self het 44 £100 skenkings gekom. Aan een skool het die seuns in die koshuis besluit om ʼn kwartaal lank nie botter te gebruik nie en die geld aan die Helpmekaar te skenk. Uit die gemeenskap is daar toe vir hulle botter geskenk, ʼn aanbod wat hulle aanvaar het met die versoek of hulle dit nie ook kon verkoop om hulle Helpmekaarbydrae aan te vul nie.

Gesinne het klaar gekom sonder vleis en suiker om die geld wat so bespaar is, te skenk, kinders het uit hul sakgeld bygedra en gesellighede is afgelas. ʼn Bankrotboer het 2 hoenders gegee met die woorde: …”ik is geheel uitgeboer en dit is alles wat ik kan gee”.

Op 8 November, 2 dae voor Helpmekaardag, was die getal honderdponders 1,187. Uiteindelik was daar 1,361 – in vandag se terme ʼn bedrag van meer as R150 miljoen binne 4 maande (as ʼn beginner onderwyser se salaris toe, met die aanvangsalaris vandag, as vergelykingsbasis gebruik word). Die geskiedenis van Helpmekaar is ʼn lewende bewys van wat bereik kan word met empatie vir mekaar, samewerking en entoesiasme.

Nadat al die skuld vereffen is, het geld oorgebly wat deur die onderskeie provinsies aangewend is vir studiehulp. Helpmekaar vandag Dalk minder bekend is dat studielenings vandag nog beskikbaar gestel word vir verdere opleiding. Die Kaapse Helpmekaar bestaan onafgebroke sedert hul stigting en die Vrystaatse Helpmekaar funksioneer onder die vaandel van die Vrystaatse NG Kerk. Die Noordelike Helpmekaarstudiefonds gee tans studielenings van tot R60 000 met ʼn rentekoers van 3% onder prima.

  • Besoek www.noordelikehelpmekaarstudiefonds.org