’n Spiekeries nuwe kêrel
Ten midde van ’n kakofonie van voorsieningsketting-probleme wêreldwyd met rekenaarskyfietekorte kry Mercedes-Benz dit reg om ’n eersteklas produk na die mark te bring.
’n Spiekeries nuwe kêrel
Photography
Ten midde van ’n kakofonie van voorsieningsketting-probleme wêreldwyd met rekenaarskyfietekorte kry Mercedes-Benz dit reg om ’n eersteklas produk na die mark te bring.
Ons loer na die geskiedenis en sien dat die C Klas sedert 1982 die hoogste aantal sedaneenhede verkoop het van alle Mercedesprodukte tot nog toe, met ’n totaal van 10,5 miljoen voertuie in 100 lande. Veral gaaf vir die stimulus van ons ekonomie is die feit dat die produksie plaaslik in Oos-Londen plaasvind. Dit is een van net drie C Klas-fabrieke wêreldwyd.
My benadering tot ’n voertuig begin by hoe die voertuig vertoon en dié spiekeries nuwe kêrel lyk werklik indrukwekkend met sterk lyne en ’n minimalistiese inslag – dit herinner aan ’n groot roofdier wat laer sak vir ’n stormloop op ’n prooi, maar met grasie en spoed. Sien mens hom in die truspieël aankom, is daar ’n byna onwillekeurige impuls om opsy te skuif.


Met die inklimslag is dit opvallend hoeveel vernuwing plaasgevind het. Sitplekke is gemaklik. Die instrumentpaneel is eenvoudig en ergonomies. Moderne voertuie in ’n poging om ook alle elektroniese ekstratjies te adverteer kan maklik verval in goedkoop plastiek rammelkasse met meer verwarring as ’n passasiersvliegtuig se kajuit. Mercedes slaag daarin om ’n verstommende reeks toebehore, vermoëns, rekenaarkoppelings, mobiele aansluitings, interaktiewe insette, voertuigverstellings en beheer van veiligheidseienskappe so netjies te verpak dat dit glad nie steurend is nie – maar dis daar en hoogs bruikbaar. Inteendeel, dit gaan die verkoopsman ’n rukkie neem om jou deur al die moontlikhede te laat reis.
Die groot sentrale 26 of 30 cm LCD-raakskerm, wat oënskynlik in die lug dryf, is waar die al die digitale aksie plaasvind. Dit word genoem MBUX ( Mercedes-Benz User Experience) wat gawe byvoordele insluit soos oor die lug opgradering van sagteware vir sowel die digitale ervaring as enjin- en voertuigbeheerstelsels. Die uitstekende navigasieprogram, telefonie, musiek en die res van die stroom van apps wat deesdae die norm is, is maklik te vind en te gebruik.
Die instrumentpaneel voor die bestuurder kan in drie modes aangepas word volgens die bestuurder se smaak in Disceet, Sporty, en Classic.


Dan na die aandrywing. Die C200 2L petrol ontwikkel 150 kW teen 300 Nm met ’n interessante Boost-funksie wat 15 kW en 200 Nm ekstra krag kan lewer. Boost word gedryf deur die 48 V knormoer/generator kombinasie eenheid. Ek wonder of mens dit ’n “knortor” kon noem? Hierdie eenheid laat die C Klas stilweg funksioneer as ’n hibriede-brandstof- elektriese voertuig met al die groot brandstofbesparing sonder om dit aan die groot klok te hang. Die effek is eenvoudig fenomenaal met ’n groot dieselsedan wat net 4,4 tot 5,2 liter gebruik in die kombinasie brandstofverbruiksyfers. Die petrolvariasie se syfer is 6,3 tot 7. Die C200D-diesel lewer 147 kW en 440 Nm met ’n soortgelyke Boost-funksie. Al hierdie krag word seepglad deur ’n 9G-Tronic nuut opgegradeerde verkoelde ratkas gevoer.
As iemand vra hoe vinnig die C Klas is, antwoord ek graag: “Vinnig genoeg.” Die krag- en ratkasrespons is so goed dat die subjektiewe ervaring van spoed selfs vinniger voel as wat die syfers weergee, maar 5,4 sekondes van 0 tot 100 is werklik vinnig genoeg! As mens die spoed dan nog veerlig, veilig en gemaklik hanteer, dan word dit ’n ervaring.
Remme is uitstekend soos te verwag van ’n luukse voertuig, maar die stuurmeganismes is nuut en uniek. Die aktiewe agterwielstuur wat teen ’n lae spoed help om skerper te draai en makliker te parkeer, verander na ’n dieselfde-kant-toe stuur oor 60 km per uur. Dit verbeter hantering dramaties. Die stuur kan dalk bekende tegnologie in renmotors wees, maar is fantasties in ’n luukse gebruiksmotor vir elke dag.

Nagbestuur kry ook ’n hupstoot met hoëspesifikasie LED-hoofligte. Die ligte word intelligent beheer om beter lig volgens die sensors te straal na areas met swak beligting. Aanpassings word in millisekondes gedoen. Komplekse tegnologie word gebruik, maar die ervaring is eenvoudig ’n helder verligte pad vorentoe en om draaie, sonder om aankomende verkeer te verblind.
Opsionele ekstras is daar vele van te kies soos verfkleur, wiele, HUD, sondak, sleepstang, ens. Maar die basiese voertuig is gemaklik, modern, veilig, flink, lig op brandstof en word gedek deur uitstekende diens.
Die konsepsuele benadering van voortreflike eienskappe, hoë bou gehalte, goeie ontwerp, maar min opheffing gee ’n gesofistikeerde pakket met sterk aantrekkingskrag vir dié wat weet wat hulle wil hê. ’n Mens kan ’n luukse ryervaring verwag op die langpad – en in die stad – elke dag vir baie jare.