MODEWERPER BLOM AL JARE IN NEW YORK

Henry Schickerling ontwerp vir operasterre soos Pretty Yende en Susan Graham, die soul-
ikoon Aretha Franklin en televisie se Judge Judy. Hy praat met MARGUERITE VAN WYK oor sy liefde vir
opera en vertel staaltjies oor superrykes.

MODEWERPER BLOM AL JARE IN NEW YORK

Henry Schickerling ontwerp vir operasterre soos Pretty Yende en Susan Graham, die soul-
ikoon Aretha Franklin en televisie se Judge Judy. Hy praat met MARGUERITE VAN WYK oor sy liefde vir
opera en vertel staaltjies oor superrykes.

MODEWERPER BLOM AL JARE IN NEW YORK

Photography

 

Henry Schickerling ontwerp vir operasterre soos Pretty Yende en Susan Graham, die soul-
ikoon Aretha Franklin en televisie se Judge Judy. Hy praat met MARGUERITE VAN WYK oor sy liefde vir
opera en vertel staaltjies oor superrykes.

Om kwart voor sewe op ’n milde, New Yorkse hersfsaand wag ’n lang, elegante man in swart by die fonteine voor die Metropolitan-operahuis 

Op my eerste reis na die Groot Appel is hy my “date” vir Bellini se Norma – en maak só my groot droom waar om ’n opera in die Met by te woon. Sy naam is Henry Schickerling, die Suid-Afrikaans gebore ontwerper wat al 33 jaar in Manhattan woon en praguitrustings vir operadivas en glansvroue skep. En ’n groot operakenner wat al die grootste sangers van ons tyd op die verhoog gesien het.

Galant van kroon tot toon, is hy sonder ’n sweempie aanstellerigheid. Dié kosmopoliet groet met ’n boeredruk – wat spruit uit kleintydse kuiers by oupa en ouma op die familieplaas Boschbult in die ou Wes-Transvaal, saam met ma Rina (93), pa Fred (oorlede), vyf boeties en sussie. 

“Mens betaal ’n helse prys om nie in jou geboorteland te woon nie. Gelukkig woon een van my broers ook in Amerika.” Hy besoek jaarliks sy ma, in ’n aftreeoord in Springs aan die Oos-Rand, en ander familie. En hy word steeds bekoor deur kleintyd lekkernye soos biltong, melktert en koeksisters. 

Sy tuiste in New York is Greenwich Village met sy kleindorpse gevoel, waar rolprentsterre soos Sarah Jessica Parker en Tom Cruise woon. Sedert 1983 huur Schickerling ’n dupleks dakwoonstel in die destydse huis van sy vriendin Salome Bruwer (reeds oorlede), voormalige Monitor-verteenwoordiger van dié SABC-radioprogram (toe nog SAUK) in New York. “Dit kyk uit op die tuin, met ’n Ernest Ullmann-beeld, wat Salome nog van Suid-Afrika ingevoer het.” Die Suid-Afrikaanse staatsman Jan Smuts se 92-jarige kleinseun, Jan Smuts-Clark, is sy buurman. New York is peperduur, maar hy wil vir so lank hy kan, daar werk.

Hy het reeds op laerskool in Linden, Johannesburg, uitgeblink met sy modesketse en geweet mode is sy toekoms. Sy pa was die Suid-Afrikaanse agent vir Bernina, die Switserse naaimasjien. “Die  radio- en televisiepersoonlikheid Riaan Cruywagen se ma het vertel ek het kleintyd al by die kerk die vroue se uitrustings gekritiseer. Ek het as kind gewens my ma was meer uitspattig, met rooi naels – en dat sy gerook het. Kinders is so simpel.” Maar hy onthou tot vandag nog sy ma se geel organzarok met swart kolletjies, plat swart hoed en swart seemsleer ooptoonskoene met hoë hakke wat sy na ’n troue gedra het. 

Ná skool is hy na Kaapstad en Londen vir opleiding. “Ek was omtrent elke aand tydens my studies in Londen in Covent Garden. En ek was in die hemel toe ek by Mila Schön in Milaan kon werk, want ek was naby die La Scala-operahuis. Soggens het ek verby Maria Callas se huis geloop. Ek het as tiener oor en oor na haar arias geluister, veral “Ocean! Thou Mighty Monster” uit Weber se Oberon.” In 1971 het hy Callas en die Italiaanse tenoor Guiseppe di Stefano in Londen gehoor. “Agterna het ons verhoog toe gestorm en sy het my hand geskud.”

Hy het sterre soos Leontyne Price, Grace Bumbry, Montserrat Caballé, Birgit Nilsson, Jessye Norman en Pavarotti tydens sy Europese verblyf beleef. “Ek was baie bevoorreg.” 

Terug in Suid-Afrika in die middel sewentigs, was hy bekommerd oor die politieke klimaat. Hy en ander ontwerpers het die South African Couture Syndicate gestig. In dié tyd het hy vir Barbara Barnard, die tweede vrou van die hartchirurg Christiaan Barnard ontwerp. “My blog* oor haar is die gewildste nog.” Hy het ook kliënte soos Marga Diederichs, die destydse presidentsvrou, gehad. 

Hy het hom in 1983 in New York gaan vestig. “ ’n Italiaanse vrou het my geborg om vir haar modehuis te werk en ek moes van onder af begin. Die New Yorkers was soms baie onbeskof. Ek moes van die goeie maniere wat ek by my ma my geleer het, vergeet, ter wille van oorlewing.” Ná vyf jaar het hy sy permanente verblyfpermit gekry en vir ’n groot New Yorkse modefima gewerk, maar  Woensdae en naweke sy eie mode-ateljee bedryf. In 2002  het hy en sy vennoot, Marion Milenovic, die ontwerpfirma Tosca New York, gestig. Dit is in die besige “garment district” aan Seventh Avenue.

Martha Lunzer, ’n persoonlike aankoper van Boedapest, wat baie vir Ortodokse Jodinne gewerk het, het doerie tyd hope kliënte na my verwys. Ek glo my pad is deur ’n Hoër Hand bepaal.” Hy is lid van die Marble Collegiate Church in die skadu van die Empire State-gebou.

As Schickerling oor sy lewe in ontwerp in New York begin praat, is daar baie staaltjies. Diskresie is egter sy middelnaam. Hy ontwerp vir “blou bloed” en sy maat, soos die Arabiese koningsgesin. En vir ’n goeie vriendin van koningin Elizabeth van Engeland. “Ek moes dit baie stil hou toe dié kliënt van Washington DC die troue van prins Charles en Camilla en later dié van prins William en Kate, sou bywoon. Nie eens die Obamas is uitgenooi nie.”

Schickerling is saggeaard, maar laat hom nie uitbuit nie. “As iemand my klere rondruk, sê ek ferm: ‘Die klere behoort nie aan jou nie, hanteer dit met respek.’  Ek komplimenteer divas vir hul talent, maar daar hou dit op. Dan doen ons besigheid.”

Deur die beroemde afdelingswinkel Saks Fifth Avenue ontmoet hy mense wat al ’n miljoen dollar (R14 000 000 ) op ’n slag dáár bestee het. “Private aankopers lig Tosca in oor dié vroue se voorkeure – enigiets ’n nuwe diamanttiara tot  ’n groen rok met ’n pers blom. Ons ontvang hulle in ’n private sitkamer.”

Maar hy glo ook jy hoef nie ryk te wees om goed te lyk nie: “Doen moeite, versorg jou hare en naels, en tik parfuum agter die ore aan.” En geen liggaamvorm skrik  hom af nie. “Ontwerp is ’n vaardigheid, nie ’n kunsvorm nie.” Hy is ook “sielkundige”. “As vroue kla oor breë heupe, vra ek of dit haar nie goed te staan gekom het met kindergeboorte nie? Te veel mense is ontevrede met hul liggame.” Sy grootste kompliment is wanneer vroue in sy skeppings deur hul mans gekomplimenteer word. “Om ’n brandmaer model goed te laat lyk, is eenvoudig. Groter vroue is ’n veel groter uitdaging.” 

Sy kliënte sluit in die Suid-Afrikaanse sopraan Pretty Yende, vir wie hy al met behulp van mate wat oor die internet aangestuur is, perfek ontwerp het. “Met haar debuut in Carnegie Hall in New York , het resensente  haar verruklike sang asook haar uitrustings gekomplimenteer. Iemand uit die gehoor het  ‘You look beautiful’, geskree. Dít maak my gelukkig.” Die Russiese sopraan, Anna Netrebko, Sweedse sopraan Nina Stemme, en Amerikaanse sopraan Deborah Voigt, is ook kliënte. Sy grootste koper is die mezzosopraan Susan Graham. “Susan is lank en atleties, plat op die aarde en ek het dadelik van haar gehou.”

Een van sy hoogtepunte was om vir die Amerikaanse sopraan, Renée Fleming, vir haar Suid-Afrikaanse toer in 2009, te ontwerp. “Twee dae voor haar vertrek het ons in haar woonstel gaan pas. Drie aande later het sy in Durban opgetree. Ek het haar ontmoet deur die tenoor Johan Botha (onlangs oorlede aan kanker). Sy was uiters beleef.”

Hy het al agt rokke vir die Amerikaanse soulsangeres en liedjieskrywer Aretha Franklin ontwerp en hy was baie ingenome dat sy dié skeppings op die televisie en in Las Vegas, Los Angeles en Atlanta gedra het. “Wat ’n pluimpie om so ’n ikoon in ons klere te sien.”

Dan was daar  Judge Judy van TV-faam, wat deur Cindy Adams van The New York Post aanbeveel is. “Sy ken almal – van die Filippyne se Imelda Marcos (weduwee van die voormalige president en diktator Ferdinand) tot pres. Donald Trump. Sy woon in Park Avenue in ’n woonstel wat aan Doris Duke, wat een van die rykste vroue ter wêreld was, behoort het,” vertel Schickerling.

Schickerling bly verstom, hoewel geensins geïntimideer nie, deur die lewe van die superrykes. “Een van ons kliënte se susters het pas ’n Lichtenstein-skildery vir $100 miljoen (sowat R1 400 miljoen) verkoop en die geld vir tronkhervorming geskenk. Sy vlieg met haar private straler tussen New York en San Francisco asof dit ’n motorrit tussen Pretoria en Johannesburg is.” 

Hy is heel filosofies oor Amerikaanse modes en sê vroue daar is dikwels sportief en wil jeugdig lyk – maar dra ook modes wat “drop dead gorgeous” is. Dit is ietwat anders as Europese vroue se  “onderbeklemtoonde grasie”. “Die raad aan die bruidegom se ma: ‘Turn up, shut up and wear beige’, werk nie hier nie.”  New Yorkers dra baie swart. “In die suide van Amerika trek vroue egter vir hul mans aan – kleurvol en sexy.”

Die lang elegante man, kén sy storie. 

En toe die opera verby is daardie magiese herfsaand in New York, terwyl die gehoor Sondra Radvanovsky, in die rol van Norma, nog entoesiasties toejuig, sleep hy my ook in die hart van New York se wese in. Want hy fluister in my oor: “Nou moet ons hardloop, anders gaan ons die taxi mis.” En ons hol. Ek op my swart fluweelsteweltjies en hy met sy lang bene, die blink, swart New Yorkse nag in …

*New York Life – Day by Day.