Mnr. Hoed in die Groot Appel
Albertus Swanepoel – nou al 27 jaar in New York – is gemaklik in die geselskap van grotes soos die Amerikaanse redakteur van Vogue, Anna Wintour, en werk op Broadway-treffers soos Hello, Dolly! Dat hy wêreldwyd bekend is, is ‘n veertjie in sy hoed – en vir Suid-Afrika. Deur MARGUERITE VAN WYK.
Mnr. Hoed in die Groot Appel
Photography
Albertus Swanepoel – nou al 27 jaar in New York – is gemaklik in die geselskap van grotes soos die Amerikaanse redakteur van Vogue, Anna Wintour, en werk op Broadway-treffers soos Hello, Dolly! Dat hy wêreldwyd bekend is, is ‘n veertjie in sy hoed – en vir Suid-Afrika. Deur MARGUERITE VAN WYK.
Met reg, kan ons hom Suid-Afrika se Mnr. Hoed doop.
In New York se garment district ontmoet ek hom in ‘n in eetplek, The Vine, waar hy my uitnooi vir ‘n lekker hamburger en limonade en ons katte en opera gesels. Hy vertel ook hoe hy sy wonderlike Suid-Afrikaanse vriende mis. “New York is ’n tawwe stad, maar die leefwyse is ongelooflik,” sê hy in sy diep stem. Hy is New York-sjiek in sy losserige swart hemp, steenkleur broek, maar wanneer hy ons bestellings plaas, is sy aksent ’n gawe kombinasie van Afrikaanse harder klanke en Amerikaans. Bekoorlik. En hy groet met ’n regte beerdruk, en ’n skamerige glimlag. “Ek is eintlik ’n donker wolk, vol melancholie,” sê hy. Moeilik om te glo dié ou sonder aansittiterigheid ontwerp vir groot modename soos Valentino, Prada en Michael Kors.
Sy skeppings pryk in glanstydskrifte soos Harpers Bazaar, Vogue (wêreldwyd), Vanity Fair en Glamour. Dikwels op die voorblad en selfs in nuusblaaie soos Time en The New York Times.
Hy werk ook op opwindende Broadway–produksies soos die musiekblyspel Hello, Dolly! wat New York gaande het met Bette Midler as die ster. Sy hoede versier die enigmatiese troutoneel aan die einde van die musiekblyspel. Dit was ’n tegniese uitdaging, vertel hy. “Dit het drie dae geneem om elke hoed, uit die 1890’s – en daar was 12 – te maak. “Die hoedjies was kleinerig, van brokaat en sy, met baie lint en blomme,” vertel hy.
Swanepoel vertel: “Om die finale kleedrepetisie by te woon was ’n hoogtepunt.” Hy is mál oor dié musiekblyspel – die joie de vivre, die liefde wat oorwin – en het die fliekweergawe, waarin Barbara Streisand die hoofrol speel, al verskeie keer gesien.
Vanjaar het Swanepoel ook van die hooftooisels vir nóg twee Broadway-produksies gemaak – Charlie and the Chocolate Factory en A Dolls House Part II – en verlede jaar vir The Front Page, ook op Broadway.
As klein seuntjie het hy altyd onder die tafel by sy ma, Mimi, met lappies gespeel. Hy het skone kunste aan die Universiteit van Pretoria studeer voor hy sy modepassie kon uitleef by die eertydse Leggatts Academy of Design, waar hy ’n diplomakursus voltooi het. Sy hoogs suksesvolle Quartus Manna-etiket (Quartus is sy middelnaam) het gevolg en in 1987 wen hy die Coty-toekenning as topontwerper in Suid-Afrika. Die buiteland het gewink.
“Eintlik wou ek my in Parys vestig.” Maar hy en sy vrou (hulle is jare gelede geskei), het met vakansie na New York gegaan. Daar het hy ’n werkaanbieding gekry. Hulle het ’n ruk lank handskoene gemaak om aan die lewe te bly en in ’n woonstelletjie so groot soos ’n besemkas gebly, vertel hy.
Die kompetisie in New York is straf. Hy moes iets vind wat hom sou onderskei in die modewêreld. En só begin sy hoedloopbaan.Vir ’n ruk lank het hy onder Janine Galimard, ’n hoedemaker wat in die 1950’s en ’60’s vir Balanciaga in Parys gewerk het, gestudeer. Aanvanklik het hy vryskutwerk gedoen en lank as assistent vir die hoedemaker Madame Lola gewerk. Later het hy vir Lynne Mackey gewerk, wat baie vir teaterproduksies ontwerp het.
“Ek is mal oor opera, ballet en die teater en besoek gereeld die Metropolitan Opera en Carnegie Hall. Ek was al so gelukkig om van die grootste wêreldsterre, soos ons eie sopraan Pretty Yende, die Russiese sopraan Anna Netrebko en die Mexikaanse tenoor Rolando Villazón, te sien.”
Swanepoel se opgang in New York het eers ná sowat 15 jaar gebeur. Dit was vir seker nie net glinster nie, vertel hy. In 2004 het hy met ontwerpers soos Marc Jacobs, Proenza Schouler, Carolina Herrera, Alexander Wang en Tommy Hilfiger begin saamwerk. Teen 2008 het die pryse begin instroom. Sy curriculum vitae laat jou swymel.
“Dit was ’n groot eer,” sê hy daarvan dat hy in 2008 met die Council of Fashion Designers of America (CFDA) se Vogue Fashion Fund-toekennings ’n naaswenner was en in 2009 genomineer is vir die Swarovski CFDA-bykomstighedetoekenning.
In 2014 was hy ook een van die wenners van die Suid-Afrikaanse styltoekennings en hy is, as ’n oudstudent, deur die Universiteit van Pretoria vereer. Die lys is lank.
Vandag is hy dankbaar dié pryse het sy loopbaan na ’n ander trajek verskuif – maar hy glo jy moet altyd beter doen. Om selfvoldaan te wees, lei tot middelmatigheid, en dit is vir hom nie ’n opsie nie.
Ondanks al die pryse, meen hy een van sy grootste loopbaanhoogtepunte was om deel te neem aan ’n uitstalling in die Victoria en Albert-museum in Londen in 2009. Die Brit Stephen Jones, een van die grootste hoedghoeroes, het Swanepoel genooi om aan die uitstalling, HATs, An Anthology In Fashion, deel te neem.
Volgens Swanepoel se hoedfilosofie, moet ’n hoed jóú nooit dra nie. “Dit is bietjie soos parfuum. Dit moet nie oordonderend wees nie. Ek haat daardie perdryhoedens wat so oorweldigend is.” Opgesmukte hoede is totaal ouderwets, reken hy.
“Om ’n hoed te dra, verg selfvertroue. Jy sê: ‘Kyk na my’. Maar jy wil ook effe skuil daaragter.” Hy sal vir enigiemand ’n hoed ontwerp. “Solank dit nét nie vir ’n Kardashian is nie.”
Hy sê ook: “Hoedens moet nie splinternuut lyk nie, eerder bietjie ingeleef. Jy moet ’n hoed verkieslik ook kan inpak as jy reis.” Met skeppings wat getuig van fyn vakmanskap, kan dit enigiets van 20 minute tot 55 uur neem om een te voltooi. Sy goedkoopste hoed, van lap, kos R2 000 en sy duurste het by R52 000 gedraai.
Baie bekendes dra sy hoede. “Sarah Jessica Parker het van my hoede in die televisieprogram en fliek Sex and the City gedra. Yoko Ono het ná ’n modesessie summier my hoed gekoop. Julia Roberts, Kate Winslet en Daniel Craig dra gereeld van my hoede vir modesessies. Sally Field het een van my hoede gedra in ’n ou televisiereeks van Brothers and Sisters.”
Albertus word geensins deur wêreldgebeure geïnspireer nie. “Dit maak my bloot angstig. Ek probeer hersikuleer en volhoubare goed maak. My groot inspirasie is die natuur. Etniese lap, opera, ’n mooi skildery, ’n toneel uit ’n ballet, New Yorkse straatstyl – en in ander wêreldstede – of ’n klein detail in ’n handsak of skoen, ’n vintage-element, is die dinge wat my bekoor en my gedagtes op loop sit.”
Hy reken jy kan van enige materiaal op aarde ’n hoed maak. “Dit moet net nie baie dig geweef wees nie, want dan kan dit nie rek nie. Dit is belangrik om die tekstielstof te respekteer – soos wat alle ontwerpers weet wanneer hulle iets maak.”
Hoewel hy ’n stadmens is, is daar iets aan Afrika se stilte wat hom keer op keer verkwik. Hy het al aan die pers erken hy sou ’n wildbewaarder wou wees as hy nie mode-ontwerper geword het nie. “En ek mis biltong en karringmelk oorsee. Ek probeer Suid-Afrika gereeld besoek. My ma is vyf jaar gelde oorlede, my pa, Jan Albertus, is al 30 jaar gelede weg. Die wye oop lug, die sterre en braaivleis in die Krugerwildtuin, waar ek van my gelukkigste kinderherinneringe het, doen iets vir my. Dit herlaai my weer vir die betonoerwoud. Dit is net jammer kampe soos Skukuza en Onder-Sabie is nou soos shopping malls. Ek verkies die stiller plekke, soos Satara, Pretoriuskop en Tambotie.”
Hy is nou druk besig met Michael Kors se somerreeks vir 2018, wat in September op die loopplank was. Die baret, na aanleiding van Dior se modeskoue in Parys, en Griekse vistermanskepse is groot. “Klokhoedjies (cloche), is ook in, maar tricky, want dit kan maklik na kostuumdrag lyk. En wyerandhoede is ook die neiging vir vroue.” Met die name waarmee hy sy hoede doop – soos Kidster, Ulla, Butch, Lucca Black, Bolton en Deux– is mens sommer dadelik lus om een van dié skeppings op jou kop te sit.
Hoe hou hy dit al so lank in New York uit? “Die modewêreld is ingestel op jeug, eerder as vaardigheid. Ek is ’n dinosaurus. Ernstig. Dit gaan eintlik nie meer oor kennis of talent nie. Kendall Jenner, jammer om te sê, is ’n uitstekende voorbeeld. Sy het geen talent nie en is van die bekendse mense ter wêreld – “suksesvol”. Mense kry werk op grond van Instagram-volgelinge, dit is asof kennis nie meer tel nie. Daar is baie hoedemakers wat nie veel weet nie, geen opeliding gehad het nie, maar werk kry. Hulle het geld en kontakte. Gelukkig is daar darem nog mense wat kennis en vaardigheid respekteer …”
Op ’n ligter noot, sy liefling-kat Pookers, hou hom ook “mens” …
Swanepoel het al enkele kere eenmalige reekse vir die eksklusiewe en luukse Bergdorf Goodman se mansafdeling in New York, Target, Club Monaco, The Gap en J Crew ontwerp. Hy is ook bekend in Japan en Korea. Sy hoede is ook te koop in Amerikaanse modewinkels soos Barneys, The Apartment en Tomorrowland.
Maar self dra hy nie juis hoed nie. “Dit sal maar silly lyk as ek met een van my skeppings rondloop. Ek werk die meeste van die tyd. Ek dink ook nie ek hoef ‘uitstalling A’ van my werk te wees nie. As dit bitterlik koud is, dra ek ’n fedora of ’n trapper (strikspanner)/beanie. Ek is ook mal oor ’n cowboyhoed, maar het nie sommer die selfvertroue om dit te dra nie.”
Mnr. Hoed weet duidelik waarvan hy praat.
Jy kan maar net jou hoed vir hom afhaal.