Vryheid in harmonie

Optredes by die opening van die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, voor verskeie staatshoofde soos Pres. Nelson Mandela, Thabo Mbeki, Nicholas Sarkozy en George HW Bush, asook Prins Philip, Hertog van Edinburg, die Onse Vader in Afrikaans in Westminister-abdy, en verskeie oorsese toere na Europa en die VSA.

Met dié – en talle ander hoogtepunte – op sy kerfstok, het die gewilde Stellenbosse Libertaskoor die afgelope naweek sy dertigste bestaansjaar luisterryk op die wynlandgoed Leopard’s Leap by Franschhoek gevier. Die koor het ook sy nuwe CD getiteld Libertas Choir: We are the voice by dié geleentheid bekendgestel.

Onder begeleiding van prof. Johan de Villiers het die koor April 1989 sy buiging met die steun van Vroue vir Suid-Afrika gemaak. Sedertdien het die koor danksy borgskappe van Transnet, Het Jan Marais Nationale Fonds, Mediclinic en die Universiteit van Stellenbosch van krag tot krag gegaan en sy visie – om versoening, solidariteit, vrede en vryheid deur koormusiek, met eerbetoon aan God, vertroue, vreugde en dankbaarheid uit te leef – gestand gedoen.

Johan en Louwina de Villiers

Die Libertaskoor was Suid-Afrika se eerste permanente volwasse koor met ʼn volkome interkulturele samestelling wat al die bevolkingsgroepe van die land verteenwoordig. Hul liefde vir musiek en vermoë om te sing is die gemene deler.

Die koor se repertoire is omvattend: benewens standaard a cappella-musiek, sing die koor ook opdragverwerkings van tradisionele en kontemporêre Suid-Afrikaanse musiek. Daarbenewens tree die koor ook dikwels in samewerking met professionele simfonie-orkeste en soliste op in uitvoerings van oratoria soos Handel se Messias, Bach se Mis in B Mineur, Mozart, Brahms en Verdi se Requiems, Mendelsohn se Elia en Karl Jenkins se Stabat Mater en The Peacemakers.

Koorlede kom vanoor die hele Wes-Kaap en elke kultuurgroep help mildelik om outentieke weergawes van etniese koormusiek te bevorder. Die koor tree ook dikwels in woongebiede van sy lede, asook by kunstefeeste landwyd op.

Sedert 2017 begelei die Ramon Alexander Trio van Ramon Alexander (klavier/klawerbord), Chadley Gowar (baskitaar) en Annemie Nel (perkussie) die koor.

  • De Villiers is buitengewone professor in wiskunde aan die Universiteit van Stellenbosch en het twee wiskundehandboeke geskryf. Sy voortreflikheid as ondernemende koorafrigter is alombekend. Hy het koordirigeerkuns onder Lorna de Varon by die New England Conversatory of Music in Boston, en onder Robert Fountain by die Universiteit van Wisconsin in Madison, VSA gestudeer.
  • Sy vrou, Louwina, is al jarelank die koor se bekwame bestuurder.

Ton Vosloo, Andreas van Wyk, Christoff Pauw Snr.

Salie en Lisa de Swardt, Rudi de Bruin

Zebeth en Anton Moolman

Agter: Raymond Evertse, Christoff Pauw Jnr., Vernie van Rensburg. Voor: Jerome Koopman

Maryke van Velden, Aletta Dorfling

Marsha du Toit

Zolisza Tyhoda

Nicolene Murray, Colette Ways

Dertig jaar jonk!