Lank Lewe Mary
Die internasionaal gerekende Suid-Afrikaanse kunstenaar, Mary Sibande, het in Desember 2021 die jaarlikse Helgaard Steyn-prys verower. Haar beeldhou-installasie, In the midst of chaos there is opportunity, het dié kroon besorg. MICHÈLE MEYER het respek gaan betoon.
Lank Lewe Mary
Die internasionaal gerekende Suid-Afrikaanse kunstenaar, Mary Sibande, het in Desember 2021 die jaarlikse Helgaard Steyn-prys verower. Haar beeldhou-installasie, In the midst of chaos there is opportunity, het dié kroon besorg. MICHÈLE MEYER het respek gaan betoon.
Hierdie deel van Jozi is nie die fraiingkant nie. Oemfende minibusse en Uberbestuurders wat die teerpad soos die palm van hul hand ken, reguleer die gedrang. Onder brûe is die graffiti kunswerke en sypaadjies ruik na kos van Etiopië tot Mexiko. Ek probeer gladdejafel lyk op pad na die gebou Arts on Main in Maboneng. Maar ek staan uit; die bleekste siel op die blok.
Mary Sibande se omvangryke teenwoordigheid vul die hoë, ligte ateljee. Ek gaan haar koninkryk binne met twee rose uit my tuin, ’n nederige gif. Sy ruik behaaglik daaraan, die glasbotteltjie kry ’n ereplek op haar werktafel. Neffens ’n lak-rooi skedel. Sy selfoonkiek die tablo. “ ’n Stillewe! Ek noem dit Delight.” My dag is gemaak.
Van waar, Sibande?
“Ek het al solo’s en groeptentoonstellings die wêreld oor gehad, maar alles het tog hier begin. Ek wil nou híér wees. Boonop … ek moet sorg dat ek myself bewys … dis ’n geweldige voorreg om eerbetoon in Suid-Afrika te kon ontvang. Ek dank die Helgaard Steyn-trust vir sy bedrae tot die herstel van historiese narratiewe en ondersteuning van die Suid-Afrikaanse kultuurlandskap.” Wat opval, is die volkome afwesigheid van selfbeheptheid.
Mary Sibande is in 1982 in Barberton, Mpumalanga gebore. Haar pa, Aaron Sibande, het die jaar tevore by die Suid-Afrikaanse weermag aangesluit. “Hy was selde tuis. Ons het vier foto’s van hom gehad – een daarvan in sy weermaguniform. Ek sou neul tot my ma dit uithaal en ek onverpoos na die man in uniform kon staar. Ek kom uit ’n lang geslagsregister van huiswerkers. My oumagroot, ouma en ma het almal brood verdien deur skrop en poleer … nederige omstandighede. Die bekende Jock of the Bushveld-standbeeld was net buite die lokasie waar ons gewoon het. Elke dag het ek afgekyk daarna, teen die lae rantjie. Ek het gewonder hoekom ’n standbeeld só staan dat dit die oog afwaarts dwing.’n Standbeeld moet mens tog laat opkyk – monumentaal wees!” Einste bewus wees van haar afwesige pa, geslagslyn se nering, asook die legendariese Jock eggo later essensieel in Sibande se werk.
“Ek was ’n eerste generasie student. Dit het my losgeknoop van die huishulpuniform, ek was gelukkig. Van jongs af was ek gek na modeneigings, en het ampertjies gaan mode-ontwerp studeer.” In 2004 verwerf Sibande ’n diploma in beeldende kunste aan die Witwatersrand Tegniese Kollege, en in 2007 haar honneursgraad in dieselfde vakgebied, aan die Universiteit van Johannesburg. “Ek wou my voorliefde vir materiaal laat jel met deeglike kunskennis.”
Van Barberton met die afkyk-brak, volg talryke loopbaan-hoogtepunte. Sibande word vereer met verskeie internasionale residensies, genootskappe en ampstermyne. Haar werk word wêreldwyd deel van groeps- en solotenstoonstellings asook biënnales by meer as 23 instellings. Sy wen die Standard Bank Jong Kunstenaarsprys vir Visuele Kunste (2013), die Universiteit van Johannesburg se Alumni Dignitas-prys (2014) en die Smithsonian National Museum of African Arts-prys (2017).
Konsep-koningin
In haar ateljee skuif grense. “Materiaal fassineer my, die essensie van vesel. Dis waar mode en kuns vervleg: ek probeer couture kuns maak, materiaal manipuleer.”
“Ek eksperimenteer, oordink, doen navorsing, bevraagteken die geskiedenis. Van my idees marineer vir jare. Wanneer die elemente werk, wéét ek wat moet gebeur. Ek werk altyd in ’n span, die konsep is myne, maar ek vertrou my span. Dan rol ons! Stikster, fabriseerders, fotograaf, soms ’n regisseur om my te rig vanuit ’n eksterne hoek. Na voltooiing van die laaste element word die werk ’n intieme vertoning. Dis dán wanneer ek (in die geval van fotografiese drukwerk) ’n fotograaf en regisseur se oog nodig het. Dra ek self die uitrusting, het ek ’n regisseur nodig, dan kan ek akteur wees. My vennoot – sy verwys só na haar eggenoot, Lawrence – is ’n puik regisseur.”
Sophie heers
Die sentrale vrouefiguur in Sibande se installasies en fotografiese drukwerke, is Sophie, die kunstenaar se alter ego. “Sophie word na my eie liggaamsbeeld afgegiet. Haar narratief verteenwoordig die drie geslagte huiswerkers waaruit ek kom: Grootjie Sophie/Elsie, ouma Sophie/ Merica, en ma Sophie/Velucia. Ek durf nie hul storie opeis nie, dis gekoppel aan ’n veel breër geskiedenis.
“Sophie se karakter is ’n versameling herinneringe en belewenisse. Haar oë is altyd geslote, soos iemand wat droom. Sophie ontken haar omgewing, sy’s in haar eie wêreld … die waarnemer sien wat Sophie daar aanskou. Mense kan raaksien wat hulle wil, dis dáár waar dialoog inkom. Dialoog kan slegs plaasvind by waarneming.”
In Suid-Afrika is verdrukking van veral vroue in die arbeidersmark maar te bekend. Sophie word in dié konteks deurlopend outeur van ’n nuwe narratief. Met klemverskuiwing na standvastigheid en deursettingsvermoë, bevry sy Sibande se voorsate, en vroue per se. “Sophie kon mettertyd haar kopdoek en voorskoot begin lostrek, laat gaan … sy’t haar verlede gedekonstrueer.”
Die simboliek van kleur speel ’n sleutelrol in Sibande se oeuvre. “Met die eerste Sophie-uitstalling, in 2009, was die installasie in ’n perdeskoenvormige ruimte. Grootouma Sophie was by die ingang, gevolg deur ouma en ma. Hul beelde was in blou skakerings geklee. Blou, my kleindag onthou van huiswerkeruniforms, mynwerkeroorpakke en kerkgroepe in blou geklee by byeenkomste. Blou, modekleur van geloof en arbeid.
Net verby die uitgang was die vierde Sophie; ek, Mary. My soektog na ’n kleur om daardie Sophie se wegbreek uit die blou te vergestalt, was intens. Navorsing het my gebring by purper, wat skrams onder mý Sophie-kledingstuk uitgesteek het. Purper simboliseer kosbaarheid en was eens slegs deur koninklikes en kerkleiers gedra.
Ek kon vry kom van arbeider-blou omdat ek kosbare geleenthede gehad het. Dáárdie Sophie se flerts purper het haar onderskei, ’n swart vrou wat in 1982 gebore is, met ’n lewe totaal verskillend van dié van albei haar ouers. Die blou reeks het ’n dagboek geword waaruit die purper reeks progressief gevloei het.”
Rasende rooi
Elke paar jaar verander die tematiese kleur waarin sy werk. “Toe purper uitgeput was, was ek swaar swanger, plat in die bed … so einde 2014. Ek was nog nooit meer uitgeput nie. My ervaring van die groeiende fetus binne my was dié van ’n wese wat my van binne leeg gesuig het. Ek was intens emosioneel. Dae lank het ek gelê en televisienuus kyk, toenemend bewus van Suid-Afrikaners se ontsettende woede. My fokus was emosie, veral die kollektiewe waarmee ek gekonfronteer is. Ek het begin soek na visuele verteenwoordiging van emosie. Emosie het my studieveld geword; toleransie teenoor intoleransie, geduld teenoor ongeduld, waagmoed, teleurstelling. Boaan die lys: woede. Enter the hell-hounds!
In die Nguni-taalgroep bestaan ’n sambreelterm vir uiterste woede, naamlik “rooi hond”. Dit impliseer dat iemand só kwaad is dat die gelaat rooi word daarvan. Só het rooi ’n ketting geword waaraan ek die rasende woede van ons samelewing kon koppel.” Sibande moes besluit op ’n hond, verteenwoordigend van die rooi hond. Dis daar waar Jock toe terugspring uit haar geheue.
“Dit moes eenvoudig daardie Staffordshire Bull Terrier wees. Ek het begin ontwerp en só is die berugte bloedrooi hell-hounds gebore.” Agter ons staan drie van die beelde, gegiet in hars. Allesbehalwe dierbare, mens-vriendelike staffies. Hierdie ís die rooi gevaar.
Bekroonde werk
In the midst of chaos, there is opportunity is ’n transendensie van die Sophie-narratief. ’n Afgietsel van Sibande eie lyf beeld haar uit as ’n ruiter aangetrek in bloedrooi gevegsdrag. Sy word omring deur aggressiewe mitiese diere en vroulike figure op speelperdjies wat herinner aan lewensgroot speelgoedsoldaatjies.
“Die vrouesoldate verwys na my pa, soos vergestalt deur my ma se stem. Hulle is ook tekenend van hoe swart gesinne oor geslagte heen gefragmenteer is deur die myn- en vervaardigingsbedrywe. Só het vroue matriarge geword, die sisteem het mans weggeraap. Hierdie ongeorganiseerde peloton allegoriese soldate simboliseer afwesige manlikheid en die gepaardgaande chaos wat dit tot gevolg het.”
Ek dink hardop, hoe salig moet dit wees om die pryswenner van die Helgaard Steyn-trust te wees. Lank lewe Mary! Mary Sibande skud haar kop. “Ek wil net genoeg wees, my kuns moet net genoeg wees. Ek het nóg stories om te vertel, visueel. Solank ek getrou bly aan die bron. Aan Sophie, my Ware Noord.”