laasnag ‘t jy ‘n lied geword – francis grobler

jy’t kort-kort omgekyk en nie in sout verander nie

en al was jou voete in vlug het jy geweet hoe diep die

grond moes breek voor die berge sou skuif en dat daar ‘n

psalm anderkant die breeklyn van bitterheid was

 

maar jy’t nooit geweet hoedat na-nagte

die ingeswarte gisters en drifsels en droef

uit jou slaap sou roep nie want jou

oë was vraend soos ‘n soektog

 

jy’t ook nie die inmurging van waan só ruim

vermoed of dat bloed uit die

binnelope van jou are kan val wanneer jou

kop jou lyf so vreeslik diep dring nie

 

en ek –

ek’t nooit geweet hoe besete ink in die

leë lyne tussen strofes kan spartel of

hoe moedswillig ellipse die einde van

‘n slotvers kan stip nie

 

want kyk hoe doof raak die beeldhouers vir die

klank van die beitel wanneer versmakers hulself

ter dood dig in die leemtes van

droomskelette en ou vlindermurg

 

maar –

my tussenstoof-stiltes sal altesaam

waarmakings word en opsteier in ‘n

stom ovasie aan die klamkant van my kyk

 

want teen ligdag was daar sterstof om jou mond want

ek weet jy‘t laasnag die son se voete gesoen

en die volklanke van gebreekte water

aan jou kroon gehang

 

en vanoggend was jy ongeskonde –

‘n wordende lofsang in die

reinste vorm van ‘n

varsgebore psalm

 

en ek was bly – want dalk ‘t jy laasnag ‘n lied geword

 

francisgrobler2018©

By |2018-12-18T11:00:14+02:00December 18th, 2018|Kultuur, Skrywers, Taal, Uncategorized|