KUNSTIG, BRUIKBAAR EN GEMAKLIK

Ongewone, gesogte meubels uit Franschhoek laat monde oophang en asems wegslaan. Eietydse ontwerpe met ’n ernstige verskil in vorm, lyn en tekstuur kry ter plaatse en oorsee staanplek om ’n storie te vertel van die moderne ontwerpmilieu van Suid-Afrika. RENÉE RAUTENBACH CONRADIE vertel meer.

KUNSTIG, BRUIKBAAR EN GEMAKLIK

Photography
  Ongewone, gesogte meubels uit Franschhoek laat monde oophang en asems wegslaan. Eietydse ontwerpe met ’n ernstige verskil in vorm, lyn en tekstuur kry ter plaatse en oorsee staanplek om ’n storie te vertel van die moderne ontwerpmilieu van Suid-Afrika. RENÉE RAUTENBACH CONRADIE vertel meer.
“Ons meubels se ontwerpe omarm kuns, bruikbaarheid en gemak,” sê die jong ontwerper en maker Christine Goosen, ’n nooi Jacobs van Trompsburg in die Suid-Vrystaat.  “Die teenstrydige eienskappe van staal en glas of van wol en hout herinner ’n mens dikwels aan die landskap en grasvelde van spesifiek die Vrystaat.” Banke, stoele, drankkabinette, lessenaars, sytafels, bedkassies en koffietafels is amper onvanpaste benamings vir die stukke wat elkeen ’n kunswerk is. Die benaming Felt(Veld)Scape van haar groot bank vat haar uitgangspunt vas: “Ek is sentimenteel oor die wolplaas waar ek grootgeword het. Waar ons ook al woon, is ons gaste en ons omgewing die gasheer. In hierdie ruimte omvou Moeder Natuur ons sodat ons in die sagtheid van die aarde se fyn lae vertroosting kry.” Christine is in 2019 by die Design Indaba as Ontluikende Kunstenaar (Emerging Creative) aangewys. Sy het as die jongste van vyf dogters van PD en Hendrien op Vlakfontein in die distrik Trompsburg grootgeword en is terloops pas 30. Pa PD is die sesde geslag Jacobs wat met merino’s boer en spesialiseer in fynwol. Ma Hendrien teel met friesperde sedert sy ses merries by haar oupa as ’n trougeskenk per trein ontvang het. Op sy beurt was die oupa een van die eerste mense wat met friese in Suid-Afrika begin teel het.
Om van al die ander bedrywighede op die plaas nie te praat nie – dis mense hierdie wie se hande vir niks verkeerd staan nie. ’n Raakvatgesin wat nie skrik om ’n ding aan te pak nie. En boonop veelsydig met talent toebedeel is. Al vier haar susters is ewe klein van postuur en ewe sterk én suksesvol in hul verskillende velde. Die tekstuur en skoon lyne van die Suid-Vrystaatse landskap wat haar na aan die hart lê, word uitgebeeld in die funksionele stukke en artikels. Die vervilte fynwol wat van haar se pa se produksies af kom, het gesorg vir die stoffering van die FeltScape-bank en vir die Wool Ombre-reeks se oorgetrekte stoele is wol uit die groter Suid-Afrikaanse opbrengs gebruik.  “Vir die maak van hierdie bruikbare kunswerke (die bank en stoele is inderdaad kunswerke) gebruik ons die oeroue proses van viltmaking waarby die individuele vesels van die wol met die hand verwerk word om hierdie merkwaardige produk te kry.” Omdat die meeste plaaslike wol vir verwerking uitgevoer word, voel Christine die Jacobs Collection dra tot die volhoubaarheid van die wolpraktyk by. “Ons belê in die plaaslike kundigheid en dra so tot die betrokke gemeenskap se bestaansreg by.” “Of jy dit nou ken of nie, kan Feltscape se bank jou die wye grasvelde of rotsagtige koppies van die Vrystaat as ’n plek van estetiese en spirituele belang laat voorstel.” Die lyne en patrone van die meubels is sterk en argitektonies en is die goue draad wat die versameling bind. Om sulke groot meubelstukke te maak, lyk meer na ingenieurswerk as iemand met ’n skone kunste-agtergrond. Maar dis hierdie jong vrou se innoverende vermoë en artistieke oog om vorm en lyn só aan te wend dat dit in ongewone kunsartikels eindig. Van skinkborde, koffietafels, lessenaars, bedkassies tot verskeie soorte stoele en banke word op aanvraag vervaardig.
Christine het haar graad in die skone kunste aan Stellenbosch Universiteit behaal. Haar man, Henk Goosen, is ’n bedryfsingenieur en het “handige inligting”, maar het sy eie loopbaan en werk. Henk se ouers het op Franschhoek gewoon en dis hoe die twee ná hul troue daar beland het. Sy het aanvanklik in die meubelwinkel van Mark Bain op die dorp gewerk, maar nadat hy oorlede is, op haar eie aangegaan. “Mark het ’n geweldige invloed op my gehad en ek het baie van die tegniek by hom geleer.” Christine werk met verskillende materiale soos staal en hout en dan natuurlik die vervilte wol. Vir die Cape Art Fair in Februarie waarvan Investec die hoofborg was, het Christine aan die borge haar reeks gewys en van haar meubelstukke verskaf. Die kenmerkende bank wat asems wegslaan, het toe ’n ereplek in die BBP-sitkamer gekry. Hierdie bank het ’n staalbasis en is eers gestoffeer en toe naatloos met die wolbekleedsel afgerond. Christine laat die wol elders vervilt en kleur. Die wisselende lanolientellings van die verskillende fynwolbale bring onverwagse resultate — soos dat swart kleurstof soms as olyfgroen uitkom en ander kleure ook verrassings oplewer.  Dit is alles deel van die oogmerk dat funksionele ontwerp die samevoeging van verskillende stowwe van kwaliteit is wat sorg vir estetiese lyne, gerief en gemak. Waar die kontras van sagte stowwe soos wol en hout teenoor harde staal in kombinasie sorg vir skoonheid. “Lyn is koning in hierdie wêreld en strukturele details word omarm eerder as versteek.” Vir van die meubelstukke soos die drankkabinette en ander kaste word swart afwerking verkry deur staal met epoksi-deklae. Christine hou die meeste van swart omdat dit die sterkste met die staal saamwerk, maar kliënte kan enige kleur aanvra. Geriffelde glas word ook gebruik. Vir oorsese bestellings word die meubels meestal verskeep en daar is ook al dringender versoeke per lugvrag gestuur.   Onderskrifte 1        Die Felt(Veld)Scape-bank met die staalonderstel en stoffering van verfilte wol wat aan die Vrystaatse landskap herinner. Waarop jy kan sit of leun nes jy wil. 2        ’n Skarabee-konsole met bokant van houtsneewerk. Die swart bak bo-op is ’n dekoritem. 3        Hoepelstoele wat ook met gekleurde, vervilte wol gestoffeer is. 4        Die Serala-drankkabinet met ’n swart epoksi-deklaag op staal. 5        Koffietafel met argitektoniese lyne is van staalwerk en glas. Die skinkbord is van koper. 6        Dié bank van staal en hout word ’n “kiri”-bank genoem.