Christine het haar graad in die skone kunste aan Stellenbosch Universiteit behaal. Haar man, Henk Goosen, is ’n bedryfsingenieur en het “handige inligting”, maar het sy eie loopbaan en werk.
Henk se ouers het op Franschhoek gewoon en dis hoe die twee ná hul troue daar beland het. Sy het aanvanklik in die meubelwinkel van Mark Bain op die dorp gewerk, maar nadat hy oorlede is, op haar eie aangegaan. “Mark het ’n geweldige invloed op my gehad en ek het baie van die tegniek by hom geleer.” Christine werk met verskillende materiale soos staal en hout en dan natuurlik die vervilte wol.
Vir die Cape Art Fair in Februarie waarvan Investec die hoofborg was, het Christine aan die borge haar reeks gewys en van haar meubelstukke verskaf. Die kenmerkende bank wat asems wegslaan, het toe ’n ereplek in die BBP-sitkamer gekry.
Hierdie bank het ’n staalbasis en is eers gestoffeer en toe naatloos met die wolbekleedsel afgerond. Christine laat die wol elders vervilt en kleur. Die wisselende lanolientellings van die verskillende fynwolbale bring onverwagse resultate — soos dat swart kleurstof soms as olyfgroen uitkom en ander kleure ook verrassings oplewer.
Dit is alles deel van die oogmerk dat funksionele ontwerp die samevoeging van verskillende stowwe van kwaliteit is wat sorg vir estetiese lyne, gerief en gemak. Waar die kontras van sagte stowwe soos wol en hout teenoor harde staal in kombinasie sorg vir skoonheid. “Lyn is koning in hierdie wêreld en strukturele details word omarm eerder as versteek.”
Vir van die meubelstukke soos die drankkabinette en ander kaste word swart afwerking verkry deur staal met epoksi-deklae. Christine hou die meeste van swart omdat dit die sterkste met die staal saamwerk, maar kliënte kan enige kleur aanvra. Geriffelde glas word ook gebruik.
Vir oorsese bestellings word die meubels meestal verskeep en daar is ook al dringender versoeke per lugvrag gestuur.
Onderskrifte
1 Die Felt(Veld)Scape-bank met die staalonderstel en stoffering van verfilte wol wat aan die Vrystaatse landskap herinner. Waarop jy kan sit of leun nes jy wil.
2 ’n Skarabee-konsole met bokant van houtsneewerk. Die swart bak bo-op is ’n dekoritem.
3 Hoepelstoele wat ook met gekleurde, vervilte wol gestoffeer is.
4 Die Serala-drankkabinet met ’n swart epoksi-deklaag op staal.
5 Koffietafel met argitektoniese lyne is van staalwerk en glas. Die skinkbord is van koper.
6 Dié bank van staal en hout word ’n “kiri”-bank genoem.