KAROO ART HOTEL

Op Barrydale is die dorpshotel weer die middelpunt van die dorpslewe. MARLIZA VAN DEN BERG beleef die nuwe Karoo Art Hotel wat onlangs weer sy deure oopgemaak het.

KAROO ART HOTEL

Photography

 

Op Barrydale is die dorpshotel weer die middelpunt van die dorpslewe. MARLIZA VAN DEN BERG beleef die nuwe Karoo Art Hotel wat onlangs weer sy deure oopgemaak het.

Op Barrydale is die dorpshotel weer die middelpunt van die dorpslewe. Marliza van den Berg beleef die nuwe Karoo Art Hotel wat onlangs weer sy deure oopgemaak het. 

Dis laatmiddag toe ek voor die Karoo Art Hotel in Barrydale se hoofstraat stop.  Vlae hang sag aan vlagpale aan die balkon van die boonste verdieping.  Klaviermusiek klink uit die hotel se binnekant. Nie tipiese hotelportaalmusiek nie. Vrolike musiek. Op die breë hotelstoep sit ’n paar mense. ’n Gesellige kombinasie van dorpenaars en besoekers. Mense op reis langs die bekende Roete 62 deur die Klein Karoo. Duskant die klassieke monochroom kombinasie van swart en wit teëls van die trappe en voorstoep, staan die hotel se voordeur sedert Maart vanjaar weer wyd oop.     

Die ontvangs is tipies van die plattelandse hotelle van destyds, maar die eklektiese binnekant vol kuns en kleur verklap ’n varsheid wat sê ons leef nou, maar alles wat klein dorpshotelle van destyds  spesiaal gemaak het, word hier herleef. Dis vol nostalgie en hartlikheid. Klein glasies sjerrie word op ’n ronde skinkbord aangebied. Die klavier speel steeds iewers uit die gesellige binnekant.  

Vroeg in Maart het die hotel ná ’n lang stilte heropen. Die nuwe eienaars is Rick en Sue Melvill van die bekende handelsnaam Melvill and Moon, wat luukse, ouwêreldse leer- en seildoekbykomstighede maak. Die koop was toevallig.  Rick was op pad terug van ’n motorfietsrit van die Tankwa Karoo. Sy pad het deur Barrydale geloop en ’n advertensie het aangekondig dat die hotel op veiling verkoop word. Rick het die veiling misgeloop, maar by navraag verneem dat die hotel steeds beskikbaar is. Die res is geskiedenis en Barrydale kon nie vir beter eienaars vra om weer lewe in die dorpikoon te blaas nie.

Hulle droom was om ’n klassieke Karoohotel te skep met ’n vars nuwe gevoel. Soos hulle retro-Safarihandelsmerk wou hulle ook die romanse van ’n tyd wat verby is, vasvang.  Ongeforseerd en sonder pretensie. Dit was nie ’n gewone hotelopknappingsprojek nie en die plaaslike mense is met groot baniere deel van die restourasieproses se vordering gemaak. “Dit was eerder soos huis mooimaak,” vertel Sue.  “ ‘n Voortdurende proses wat laag vir laag aangepak is. Ons wil vir gaste ’n huis weg van hulle eie een skep met ouwêreldse hotelbederwe.”

Elke kamer is eiesoortig met ’n unieke binnekant en name soos Groot en Klein Karoo, The Aloe en The Bird Room. Die Prynnsbergkamer vertel van die eienaars se statige sandsteen herehuis op ’n landgoed buite Clocolan in die Oos-Vrystaat. Die eiendom is verkoop en baie van die antieke stukke is na die hotel gebring.

Muurskilderye deur die plaaslike kunstenaars Quiton Farro en Mandy Brockbank in die slaapkamers skep atmosfeer. Die beddens is bedek met wit linne en die badkamers het klassieke wit en swart teëls en plek-plek ’n tikkie rooi retro. Die gevoel is ontspanne, gemaklik en rustig met ’n goeie skoot statigheid. Die mure hang vol kuns van plaaslike kunstenaars wat als te koop aangebied word. Tydens my besoek het 120 werke van die plaaslike kunstenaar Nigel Hewitt se private versameling in die hotel gehang.

Getrou aan die naam Karoo Art Hotel, is kuns hier ’n integrale deel die hotel se bestaan en lewe. Dis in die kos van die Karookombuis en die fyn kuns van eienaarskap, die tradisionele bakkersoond met die houtvuur, die plaaslike kunswerke en selfs die kuns van ’n egte plattelandse “kroegkruip”. Dis die kuns van leef. Die kuns van goed leef.

Kursusse in verskeie kunsvorms is deel van die hotelkalender. Onlangs is een oor die kuns van memoires skryf gehou. Binnekort volg een oor die kuns van susterskap. Kookklasse deur die sjef Derek Lowe word ook aangebied. Die hotel het ’n manier om elke kreatiewe kraan oop te draai en jou gevoed en begeesterd met jou vertrek te laat.

Daar is ’n regte outydse rolprentteater waar jy Gone With the Wind, Casablanca en ander klassieke treffers wil kyk. ’n Kaartkamer vol padroetes help jou om per motor, motorfiets en bergfiets die omgewing te verken. Jy sal interessante plekke, staproetes en al die moontlikhede wat in die wel en wee van ’n plattelandse dorp en omgewing geweef is, kan ontdek.

Hier bied die hoteleienaar, met sy fedorahoed en klassieke Tweed-baadjie, aan om jou tas te dra. Die gesinshond Charlie is alomteenwoordig waar Sue ook al beweeg. Soms lê hy op die hotelstoep of langs die ontvangstoonbank. Soms op die fluweelbank in die voorportaal. Hy is deel van die hotel soos die drankwinkel reg oorkant die straat en die Pakistanse Algemene Handelaar aan die sykant van die hotel. 

 Daar is baie ouwêreldse tradisies wat hulle wil terugbring. Soos tee wat vroegoggend op ’n skinkbord na jou kamer gebring word en met ’n sagte klop aan die deur aangekondig word.  Jou leerskoene wat met slaaptyd buite jou kamerdeur gelos word en soggens blinkgevryf staan en wag. Outydse messegoed met sagte room gekleurde beenhewwe. Silwer servetringe.    

Almal voel welkom en die hotel is weer die middelpunt van die dorp en sy mense. Dis ’n plek vir ontmoet en bymekaarkom. Vir vierings en kuiers. En vir toeriste is dit kosbaar. Dis die plek waar jy wil bly as jy ’n deurwinterde reisiger is en tyd wil spandeer om ’n plek en sy mense te beleef. Dis hier waar jy die dorp en sy mense ervaar en moeiteloos kan inval by die bekoring van woon in Barrydale sonder dat jy ’n huis of plaas daar besit.

Daar is ’n gesellige bakkery in die hoek van die voorportaal. Hier stop dorpenaars vroegdag vir vars oondgebakte brood, bagels of croissants uit die klein bakoondjie in die klipmuur.  Sommige, kan jy sien, het letterlik in die opstaan die klere van gister wat oor die stoel gehang het, aangetrek, die kleingeld op die bedkassie gevat en gekom. Sommige steek vas vir koffie op die voorstoep. Daar is ’n argelose gemaklikheid. Laatmiddag stop hulle vir ’n glas wyn, verwyl die laaste deel van die dag op die hotelstoep en bly dan sommer vir aandete. Gin & tonic of die tradisionele sonsakdrankie is hier nie ’n terloopse bederf nie. Dis ’n instelling. En as dit te vroeg vir sommige voel, word die jenewer op ’n silwer skinkbord uit ’n deftige teepot en mooi teekoppies bedien. Met ’n suurlemoenskyfie en ys.

Die beginsel van jy leef net eenkeer, word hier uitgeleef.

 Hier beleef mens die ritme van die Karoodorp en hoor die kerkklok uurliks slaan. Jy ervaar die dorpslewe en sien die laatmiddagson se goue glim op die Langeberge as jy op die voorstoep uitstap.

Vroegaand ruik mens geroosterde lamsvleis en roosmaryn. Olielampe skyn sag en voordrankies word op die stoep of by die gesellige kroeg vol hout en warmte langs die kaggel gedrink terwyl Richard klavier speel.

Etes is hartlike geleenthede in die eetkamer met Aga-stoof, mure met sagte room en dofgroen handgeverfde strepe, wit tafeldoeke, donkerhout meubels en lapservette. Die spyskaart bied die Klein Karoo op jou bord, bedien saam met plaaslike wyne. Geregte soos Kaaps-Maleise lamskerrie, beesfilet met pietersieliebotter, vars kabeljou van Stilbaai, pasta en risotto wat deurwinterde vleiseters hul vleis voor sal verruil. Sielskos, talmkos, onthoukos. Dis kos wat maak dat jy net daar wil eet as jy oorbly of spesiaal daarheen ry vir die kos.

Slaap saans tussen wit linnelakens en voel die vars Karoolug wat van buite deur die oop skuifraamvenster inwaai. Daar is ’n kraffie water op die bedkassie en ’n magnoliaboom buite. Die kerkklok bevestig jy is op ’n dorp weg van die stad se gewoel. En soggens ruik jy weer die vars brood.

In die eetkamer tydens ontbyt sien jy die eienaar Rick. Pas terug van sy vroegoggend swem in die koue water van die bergpoele langs die Tradouwpas. Dis ’n dorpsinstelling om elke dag van die jaar te gaan swem. Somer en winter streep die dorpenaars na die swemplek.

Op die tafel is daar regte vars uitgedrukte lemoensap, goeie koffie en ’n verskeidenheid ontbytgeregte. Tuisgemaakte muesli, gestoofde droëvrugte, tradisionele spek en eiers en selfs mieliepap met botter en suiker. Op ’n mooi dag kan jy buite op die nuut geboude agterstoep langs die kruietuin en die terrasse van bruin Barrydale-klip ontbyt geniet.

Buite in die straat begroet ’n ander tradisie jou. Ingestel toe die hotel sy deure in Maart  oopgemaak het. Elke dag skryf ’n gas sy of haar aanhaling van die dag op ’n swartbord voor die hotel neer. Foto’s op Instagram vertel die storie.  “Art is life”, “Happy end of lockdown day” en ’n gryskop staan glimlaggend langs sy woorde “Forever Young”.  Langs die swart bord kondig ’n ander een aan dat vars Paasbolletjies om 10 uur uit die oond kom.

Om hier te bly is soos kuier by familie sonder verantwoordelikhede en geite. Jy gaan jou gang en daar is geen voorskrifte nie. Jy kan “opdress” vir aandete of kom soos jy wil. 

Hier vermeng als moeiteloos, ongeforseerd en gemaklik. Dis ’n mengsel van die onverwagse en vergete. Dis stopplek, blyplek en kuierplek die klassieke Karoo-manier.

Kontakbesonderhede

www.karooarthotel.co.za

e-pos reservation@karooarthotel.co.za

Adres: Van Riebeeckstraat 30, Barrydale