Kaapse Maleise geregte is deesdae baie gewild. Gerard het saam met tweelingsusters Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien aan huis in in Landowne gekuier. Hulle maak seker dat dié nalatenskap lewend gehou word deur middel van sosiale media, ‘n boek en TV-reekse.

Hulle het hom gewys hoe om “Fluitjies” te maak.

Hoendernekkie-kerrie

(Genoeg vir 6 – 8)

Mense noem hierdie gereg baie keer armmanskos omdat hoendernekkies gewoonlik weggegooi of baie goedkoop verkoop word. Die suster het grootgeword met hoendernekkies … in ‘n kerrie, ‘n bredie of ‘n smoortjie. Hulle oorlede mammie kon hoendernekkies in ‘n wonderlike dis vol geure verander, met liefde gemaak. Hulle eie families hou vandag ook daarvan en hulle maak hierdie gereg dikwels, veral op koue wintersdae, en sit dit voor saam met rys of varsgebakte brood.

Bestanddele:

60 ml (1/4 k) kookolie

2 uie fyngekap

3 kardemompeule

2 kaneelstokkies

2 brandrissie, in dun skyfies gesny

1 kg hoendernekkies, skoongemaak

sout na smaak

22.5 ml (1½ e) fyngersperde koffel

15 ml (1 e) gerasperde vars gemmer

5 ml (1 t) borrie

30 ml (2 e) geroosterde masala

30 ml (3 e) rooi-blaar masala

5 ml (1 t) fyn komyn

5 ml (1 t) fyn koljander

6 aartappels, geskil en in kwarte gesny

250 ml (1 k) gekapte vars koljander

Metode:

  1. Verhit die olie in ‘n groot kastrol oor matige tot hoë hitte, voeg die uie, heel speserye en brandrissies by en braai vir 3-5 minute, of totdat die uie deurskynend en goudbruin op die randjies is.
  2. Voeg die hoendernekkies, sout, knoffel en gemmer by en braai vir 5 minute. Voeg die res van die speserye by en roer goed.
  3. Voeg 375 ml (1 ½ k) warm water by, sit die deksel op die kastrol en laat kook vir 10-15 minute oor matige hitte. Roer af en toe.
  4. Voeg die aartappels en 250 ml (1 k) warm water by en laat prut oor lae hitte totdat die aartappels sag is. Voeg die koljander by en die gereg is gereed om voor te sit. Dit is heerlik saam met basmati-rys en ‘n uiesambal.

Variasie:

Jy kan hoendernekkies met 8-10 hoenderporsies vervang vir ‘n voedsame en meer vullende kerrie.

Roti

Kaaps-Maleise roti is … heerlike, botterige lagies. Byt jy daarin, het dit ‘n delikate smelt-in-die-mond-smaak wat die perfekte pasmaat is vir enige soort kerrie, want dit slurp al die heerlike gekruide sous op. Die susters het hierdie resep op die jeugdige ouderdom van 12 begin maak, en kan met redelike sekerheid se dat hulle nie kan onthou hoeveel keer hulle dit al sederdien deur die jare gemaak het nie.

Bestanddele:

6 x 250 ml (6 k) koekmeel

5 ml (1 t) sout

45 ml (3 e) kookolie

500 ml (2 k) warm water

150 g botter, by kamertemperatuur

Metode:

  1. Meng die meel, sout en olie in ‘n groot mengbak. Voeg die water geleidelik by en meng totdat sagte deeg vorm. Plaas die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak en knie tot dit glad is. Bedek die deeg met ‘n afdroogdoek en laat vir 10 minute rus en afkoel.
  2. Plaas weer die deeg op ‘n meelbestooide oppervlak en rol dit in ‘n lang reghoekige vorm uit. Smeer die botter oor die hele oppervlak van die deeg en rol dit op om ‘n lang rol te vorm. Sny dan die rol in 4-5cm stukke – ongeveer die grootte en vorm van ‘n tennisbal. Druk elke stuk een keer liggies met jou handpalm en plaas dit op ‘n meelbestrooide groot, plat bord. Bedek met kleefplastiek en plaas vir 1 uur in die yskas om koud te word.
  3. Rol die roti-balle in ronde skywe – ongeveer die grootte van ‘n groot bord – uit op oppervlak wat liggies met olie gesmeer is. Braai in ‘n kleefvrye pan tot goudbruin aan albei kante.