T.T. Cloete is ’n Afrikaanse literatuur-veteraan, maar die pad daarheen was nie altyd sonder duwweltjies of opdraande nie. Armoede, swak gesondheid en die dood is van die gereedskap wat die bekroonde digter help slyp het, maar soos T.T. Cloete skryf, as jy in jou lewe net geluk en vreugde ken, net voldoening, net vervulling sal jou bestek maar klein wees. Elphia Baard vertel sy verhaal.

Photograph of T.T. Cloete taken by Janine Nel

Teksaanhaling: ”Ek het talle getuienisse swart op wit van mense wat sê my digkuns het vir hulle iets beteken. Dit is waaroor dit gaan, jy moet skrywe sodat dit iets vir ander beteken. ”

Hy het grootgeword op ’n plaas naby die Vredefortkoepel, daar waar ’n meteoriet eens geval het en die landskap in ’n krateragtige paradys omskep het. Volgens T.T. Cloete se pa is dit die naaste aan die engele waar ’n mens kan bly. ’n Klip wat van die meteoriet afgebreek het, het op die plaas geval en as kind het TT op hierdie klip gesit, oor die plaas getuur en met die engele gesels, sy eie hemel op aarde. ’n Mens wonder of dit dalk juis dié engele is wat in sy oor gefluister het, “die aarde is deur ’n Digter gemaak”.

’n Jong TT het op daardie klip gesit, min wetend dat sy woorde eendag mense sou aanraak, dat hy ’n groot nalatenskap tot Afrikaans sou agterlaat of bykans 20 gesogte literatuurtoekennings sou wen, waarvan drie Hertzogpryse en een ’n goue orde vir voortreflike diens is.

“Ek het later jare terug gegaan na die plaas, maar toe was die klip nie meer so groot soos wat ek gedink het hy is nie,” vertel  die 89-jarige Afrikaanse veteraan, amper asof ’n metafoor vir die reus van ’n literator wat hy geword  het. Vandag word die soms amokmaker, digter van erotika en Afrikaanse-fakkeldraer op ’n rolstoel rond gestoot, sy bene lyk swaar, sy plooie en grys hare verklap sy ouderdom. Oud ja,  maar steeds vlymskerp.

TT  onthou sy kinderdae op die plaas as “gelukkig, natuurlik en avontuurlustig.” Dit was gevul met oneindige dae van kettie skiet, onwettige treinritte en kaalvoet loop. Toe die aand te vinnig gekom het en die oggend ondenkbaar ver gevoel het. “Ons het gereeld kettie gaan jag, en droëperskes geëet, as jy nie genoeg klippe het nie, skiet jy sommer die mossie met die perskepitte in jou sak.”

Hy het dwarsdeur die jaar kaalvoet geloop, deur die dorings en oor die yskoue ryp. “In die oggende het ons die koei gemelk en dikwels was dit baie koud. Dan druk jy maar jou tone in die warm koeimis vir die ekstra hitte en jy wag totdat die koei urineer sodat jy weer jou voete kan afspoel. Ons het darem ons voete gewas voor ons skool toe gegaan het.”

In TT se tienerjare het sy pa die plaas by Vredefort verkoop omdat hulle finansieel gesukkel het en die plaas nie meer produktief was nie. TT kon nie verstaan waarom sy pa die plaas naby die engele wou verruil vir ’n plaas by Ventersdorp nie. “Maar, toe ek die engel wat op die buurplaas rondloop, sien, het ek besef dit was toe nie so ’n slegte skuif nie.” Die einste engel  se naam was Anna van Zyl, wat toe later jare TT se vrou en muse  sou word.  TT beskryf haar as, “die digter in my, sonder dat sy ooit ’n enkele

vers hoef te geskryf het.”

Anna het sewe jaar gelede haar stryd teen kanker verloor. Die dag toe hulle die kanker in Anna ontdek, het hy vir haar briewe begin skryf. In die vyf jaar wat sy teen kanker baklei het, het hy nooit vir haar die briewe gegee nie. Ná haar dood het hy aangehou met die briewe. “Ek kommunikeer deur my briewe met Anna, veral as ek raad nodig het, dan skryf ek ‘Anna wat sou jy gedoen het?’ Ek kry soms so antwoorde. Ek glo in die metafisiese. Daar is ’n God.” Tussen die wyshede en storievertellings word TT se  glimlag al dowwer.  En sy oë gly oor jou, sagte oë, “Ek soek haar steeds in alles. Ek soek haar in ander se gesigte, ek soek haar in ’n boek, in ’n boom. Ek soek haar ná sewe jaar steeds, maar ek kry haar nie.” Maar wie sal die liefde ooit kan verstaan of in ’n laboratorium kan meet hoé mens nog vir sewe jaar na iemand kan verlang? “Die liefde is ’n misterie net soos die dood. As jy vir iemand lief is, kan jy hulle in jou inkorporeer en deel van jou maak. Liefde is gee met ’n eggo. Jy gee en jy kry ook terug.”   

Volgens TT was hy ’n lui skolier omdat dit nie vir hom moeilik was om in Vredefort se klein skooltjie eerste te staan nie. Dit was eers toe hy in standerd nege by die Hoërskool Monument beland het dat hy met sy neus in die boeke begin sit het. “Dit was vir my ’n vernedering om 60ste van 65 in my klas te staan. Ek moes ewe skielik meeding met mense soos Ina Rousseau, Connie Mulder en Willem de Klerk. Die pak wat my juffrou en my pa my gegee het, kon my nie maak leer nie, maar Monnas het my reggekry.”

TT gee ’n kuggie en steek met sy krom vingers ’n jellieboontjie in sy mond

terwyl hy homself meer gemaklik in sy rolstoel in skuifel. Hy vee met sy hande oor sy bene. “My hele lewe was gelukkig, behalwe dat ek  in my eerste studiejaar polio gekry het, maar dit het my ook baie geleer. Dit het my geleer dat dit wat jy oorhou, moet jy oppas en jy moet dit nie vermors nie.” Die polio het TT se liggaam al op ’n vroeë ouderdom begin aftakel, hy het die beweging in baie van sy gewrigte verloor en daarom moes hy vroeg aftree.

“My aftrede is nou al ver langer as die tyd wat ek gewerk het, maar ek werk nog altyd.” Sy nuutste digbundel, Die ander een is ek, het op vanjaar se Woordfees binne ’n paar uur uitverkoop en deesdae hou hy homself besig om sy briewe aan Anna persklaar te maak, gaslesings by die Noordwes-Universiteit as buitengewone professor te gee en daar is ook nog ’n roman wat op sy rekenaar vir hom lê en wag.

TT beskryf homself nie as ’n skrywer of  ’n digter nie, maar eerder as ’n “naprater”. “Ek kan praat en ek kan dig, maar ek kan alleen gedigte skrywe omdat ek ’n brein het wat ek nie self gemaak het nie en ’n taal het wat ek nie self uitgedink het nie. Dus is ek in alle opsigte ’n medeskepper.”

Al het TT as kind begin dig, het hy eers op 56 gedebuteer met sy digbundel Angelliera. Hy was geïntimideer deur die groot digters van sy tyd soos N.P. Van Wyk Louw,  Elisabeth Eybers en WEG Louw. “Ek het gedink wat kan ek nou nog sê?” Die pad na TT se digtersloopbaan was nie altyd maklik nie en nes kleintyd moes hy dikwels hierdie pad kaalvoet oor die dorings en ryp aanpak.

Die geboorte van TT Cloete as digter is ’n somber, maar merkwaardige storie. TT gee ’n laggie en vertel: “Ek was al baie siek in my lewe, en ek het nog elke keer by die dood omgedraai. Ek het ernstige trombose opgedoen en almal het gedink ek sal nie die paal haal nie.

“Toe vat hulle my Oubosstrand toe, my vrou het gesê jy vat die gedigte wat jy geskryf het en jy gaan agter in die kar lê en jy gaan soek vir ’n bundel. Ons het die eerste aand geslaap op Bloemfontein ek het daar die eerste bondel weggegooi. Die tweede aand op Cradock het ek weer weggegooi. Die derde aand het ons geslaap op Port Elizabeth en ek het nóg weggegooi. En die gedigte wat ek by Oubos oor gehad het, daaruit het ek my eerste digbundel saamgestel, omdat my vrou gesê het ek moet,” sê hy met ’n stout glimlag.

TT kyk af na sy hande en met ’n skuurgeluid vryf hy hulle teen mekaar. “Ek sal Anna ewig dankbaar wees dat sy my omgepraat het.”

TT skryf nie om pryse te wen nie, hy skryf vir mense en dit is ook waarom hy sy gedigte as nalatenskap aan Afrikaans wil agterlaat. “Ek het talle getuienisse, swart op wit van mense wat sê my digkuns het vir hulle iets beteken. Dit is waaroor dit gaan, jy moet skrywe sodat dit iets vir ander beteken.

Wat sê TT oor vandag se Afrikaans? Hy is bekommerd oor die taal. Wat hom ontstel, is die Tourette-sindroom wat kop uitsteek in die moderne poësie. Hierdie sindroom laat vloek jou teen jou eie wil.  “Deesdae is daar in die Afrikaanse digkuns hierdie vuil taal. Dit is aandagtrekkery. As jy vloek, kyk mense vir jou. Gaan staan en vloek in die straat dan sal jy sien mense kyk vir jou. Dit is asof die mense nie iets het om te sê nie … dit is juis die ding, jy moet iets hê om te sê.”

Die Engelse begrippe wat jongmense deesdae so tussendeur hul Afrikaans vervleg, grief hom. “Dit is ’n bietjie erg. Ek weet nie hoekom mens moet praat van ’n song in plaas van ’n liedjie nie. Baie mense ken nie meer hul eie taal nie. Afrikaners pleeg linguistiese selfmoord.

“Dit is eintlik die rugbyspelers en die mense met hul songs wat die taal so vol Engelse begrippe laai. Dit is nie nodig nie, Afrikaans is ’n mooi taal.”

En die dood? “Ek is nuuskierig daaroor. Ek wil nie graag doodgaan nie, maar ek is nie bang nie. Ek het al baie by die randjie van die dood omgedraai. Ek het al gehoor hoe ander sê ek is klaar, maar ek is nog nie klaar nie.”