jy’t geweet ek’s nie Jesus nie

 

jy los my om modder op jou oë te smeer

al weet jy ek dra geen krag in die soom van my kleed nie

en tog hurk jy langs die langsteelrose en sleutels

wat ek tot in die middel van die arena gooi

al weet jy dit werk nie vir die leeus wat

só dorstig om jou sirkel nie

 

jy’t ‘n kruis oor jou bors getrek want jy was bang

en ek ook

want hulle het jou naam soos laster uitgespoeg

en daardie nag het ek kelims voor my ruite gehang

sodat die oggend nie my oë kon kry nie en eers tóé

het ek geweet hoe verlate verdriet in die

sirkel van haar eie arms ‘n mens-ding werklik los

 

want sien

ek’t nooit vermoed dat die git van ‘n

onverdedigbare uitspraak só morsig

teen die koepel van die hemel bly klou

as ‘n nag nie wil opgee of

hoe ysig die kranse teen ‘n rug word as

die roes oornag in elke grendel gaan sit nie

 

en kyk hoe steriel lê sand wat doodraak vir tyd

in die vrugsak van ‘n uurglas wanneer

die hartaar van ‘n woordenaar vol voue lê en

elke sug so vreeslik week word omdat

hande wat bewe nie  brood kan meermaak nie

 

ag

soveel sonwentelings moes jy

wind-in beur teen die snerp van

moedswillige winters sonder dat ek

die storm kon stilmaak of die

tafels vol versinsels en afgerigte rites

kon omgooi

 

want die draers van ‘n skuinser lig vee

steeds die glans uit die spreeus se vlerke

hulle knoop die wolke se voete sodat die

wind sy asem ophou en die

water nooit woestyn toe kom nie

 

ek’t probeer –

Godweet ek’t probeer maar die kwartels ken nie my stem nie

en die maan wat ek by die poorte van my brief wou hang

tuimel so swaar uit my palms

 

ja kyk hoe bloei die bome gom uit hulle stamme as

ykers die Waarheid gelykpreek en die

blaam van elke barabbas uit die galge sny

in ‘n opgeleide broeitaal wat al vlotter word as die

wêreld nie kyk nie

 

maar ek sal aan jou asem blý gryp soos die

waarmaak van ‘n sprokie en jou

dors sal ek wortel in die diepkant van ‘n droom

ek sal jou drywings heg aan die vrugwand van ‘n vers

totdat die ink soos ‘n geheime lering

oudword in die kreukels van my hande

 

en jy sal weer lag stig in die hemel en

die aandster sal verskiet in die plooitjies om jou oë

en dalk sal my mond ‘n weiveld van rus word

en proe soos die bies van die aarde

want ek sal sterre vir jou verf teen die nag se swartste uur

en ‘n saadbed met my hande maak en ek sal

witstamwoude daarin plant

 

ek sal ‘n vlag oopvou van skarlaken

en ‘n seil daarvan span

en jy sal ‘n kruis daaroor trek –

met dertien wit sterre

vir die wedervaart van ons stom verbond

 

en dalk sal my woorde word  soos die

sproei van branders teen jou wang en

‘n stille applous vir jou borskas vol gate

of vir die wildernisse van jou verstand

want net ons sal weet dat die kleur van

dromers in die prismas van hulle eie spore spartel

 

francisgrobler2018©

By |2018-11-23T14:02:17+00:00November 23rd, 2018|Kultuur, Kuns, Skrywers, Taal|