ArgieweHoofartikelsKultuur

Indië rammel in Afrika se antieke geskiedenis

Hierdie artikel het oorspronklik in die 2003 Somer uitgawe van DEKAT verskyn. 

Ek het Ethiopië, die langsbestaande monargie, in Januarie 1972 verlaat. Die paleis en sy keiser, die koning van konings, Neguse Nagast Haile Tafari Sellasie, is tóé deur die aanslag van die sosialistiese revolusie tot ‘n val gebring. My motor is by die geleentheid met klippe bestook. Die jong revolusie is deur die Sowjet-Unie en Rooi China gemotiveer en aangeblaas. In dié revolusie is die troon van die Leeu van Juda wat in die 10e eeu vC deur Salomo aan Ethiopië geskenk is, verwerp.

Die beroemde Koningin van Skeba het op dié troon gesit en sy is opgevolg deur haar seun Menelik I, wie se pa die einste koning Salomo was. Die troon het Ethiopië (die land van Drawidies-Koesjitiese southandelaars) en sy vele afhanklike state op die vasteland met Asië verbind. Die verhouding was gebou op ’n 2000 jaar oue tradisie van handeldryf deur Drawidiese Indiërs op die kontinent.

Dit word beskou as een van die langste en voordeligste buitelandse betrekkinge wat die mense van Afrika tot dusver geniet het. Die verhouding tussen Ethiopië (soos wat Afrika vroeër genoem is) en Groter Indië was so heg dat klassieke aardrykskundiges probleme gehad het om te besluit of Ethiopiërs (dus Afrikane) Indiërs was of Indiërs Ethiopiërs.

Dié antieke band vorm die spil van die antieke en prekoloniale geskiedenis van wat ons vandag Afrika noem.

Die sosialistiese revolusie het niks gevoel vir geskiedenis nie, veral nie vir antieke geskiedenis nie. Hulle het nooit gewonder waarom daar tot in die Moderne Tyd geen koninkryke en groot state in Afrika suid van die Sahara was nie. Maar dié vraag het mý gefassineer.

As ’n Fulbright-student het ek navorsing gedoen vir ’n doktorale proefskrif oor die Christen-Indiese (Canarin) deelname aan die Portugese goudhandel tussen Mosambiek en Indië van 1506 tot 1752. Vir my navorsing het ek van die chaotiese Ethiopiese stad Addis Abeba na Goa, die voormalige Portugese kolonie in Indië, vertrek. Goa was die regeringsetel vir die Indiese ryk Ultramar wat van Kaapstad tot Nagasaki gestrek het.

Ons is die eerste oggend in ’n woonstel op die vierde verdieping in Panaji, Goa om 04:00 wakker gemaak deur ’n gerammel wat uit alle oorde geklink het. Dit was nie die gerammel van ’n oorlog nie, net die lawaai van Goaans-Indiese vroue wat besig was met hul oggendtaak: die maal van speserye (kruie) vir hul gesinne. Hulle het swaar maalstene (rogddo of ragado in Konkani) met ’n diep gat in die middel vir die vysel gebruik. Ons het gou gewoond geraak aan die gerammel, maar toe nie besef dat die rammelende vysel op die klip eendag ’n bewys sou wees van die band tussen Indië en Afrika nie.

In 1979-81, terwyl ek besig was met postdoktorale navorsing aan die Universiteit van Kaapstad, het ek ’n boek Indo-Africa: Towards a New Understanding of the History of Sub-Saharan Africa gepubliseer. Hierdie boek het op historiese, taalkundige en kulturele gronde gewys dat die vroeë geskiedenis van Afrika onlosmaaklik verbonde is aan die antieke geskiedenis van Indië.
Die boek is deur baie onbevooroordeelde lesers verwelkom, maar die ortodokse argeologiese establishment het heftig gereageer teen die boek. Die argeologiese establishment was toe besig met die kortsigtige (nou totaal verouderde en betreurenswaardige) Afrosentriese model, die Sentraal-Bantoe-beeskultuur-model van Suidelike, Oostelike en Sentraal-Afrika se voorgeskiedenis.

Dis ’n simplistiese model waarin die hoogste prestasie van die swart Afrikaan se ‘beskawing’ berus op ’n beeskraal, net tydelik van aard, en gebou van verganklike materiaal. Dit is dus duidelik dat volgens dié model die klipwerk van Leopard’s Kopje en die bou van die Zimbabwe ruïnes nie moontlik was nie.

Na bewering was die enigste ware rykdom wat ’n man kon besit, iets wat kon loop. Daarom het die Afrika-mans in beeste en vroue belê. Om vroue (waKAZI in Shona, in-gqadi in Xhosa, mu-kazi in Ila Tonga, m-kazi in Njanja) en bywywe in harems aan te hou, was makliker as om graan in graanstore te berg.

Vroue was die boere, pottebakkers en selfs mynwerkers, maar is uit die mondelinge tradisie gelaat. Hulle konings en leiers het Indiese bhang (dagga) gebruik en groot hoeveelhede bier gedrink. Dit word weerspieël in die pottebakstyle want ’n spesiale klas potte is ontwikkel waarin bier gehou is. Goud is deur die slimmes van die klein landelike gemeenskappe ontgin na gelang van die goeddunke van hul daggarokende en bierdrinkende leiers.

Volgens dié Afrosentriese feëverhaal, het die suiwer inheemse Afrika-ryk tot ’n einde gekom toe die haremvroue en bywywe moeg geword het om al verder en verder te loop om die lande te versorg en vuurmaakhout te kry. Die luisterryke hoofstad van die sogenaamde Zimbabwe-koninkryk is toe in 1450 verlaat, geriefshalwe net voordat die vroeë Portugese seevaarders die prag en praal kon aanskou.

Snaaks genoeg word die “groot staat” nie in een enkele Middeleeuse Arabiese bron vermeld nie. ‘n Twaalfde eeuse aardrykskundige verwys daarna bloot as die ruïne van ‘n fort. En in die vroeë 1500’s het die Portugese in Mosambiek geglo dat ‘n duiwel dit lank lank gelede gebou het.

Dit is inderdaad gebou lank voordat die swart Bantoesprekende mense deur Indiese karavane na die goudstreke van Masjonaland (Zimbabwe) ge-bring is. Dit was juis die Indiese karavaanhandel met Wes-Afrika wat gemaak het dat van die Negermense van die tropiese woude draers vir die karavane, huurarbeiders, knegte, vennote en selfs bloedverwante geword het. Dit het daartoe gelei dat hul identiteit verander het en hulle mettertyd Bantoes genoem is.

My boek het onvermydelik afgestuur op ’n botsing met dié Afrosentriese siening van Afrika se verlede. In die boek het ek aangevoer dat geen landelike bierdrinkende man en ook nie hul vroue ooit die behoefte sou hê om die harde graniet te kap om Great Zimbabwe te bou nie. Gelei deur goeie bewyse het ek ’n ander geskiedenis aangebied waarin Indiërs Afrika verken en sy bevolking sedert die Vediese of vroeë Bronstydperk beïnvloed het. Deur dié invloed het handel met Asië begin, is die goudmyne van Afrika ontdek en bedryf, is ’n teologies gesofistikeerde godsdiens gebring wat die behoefte vir die bou van klipstrukture laat posvat het onder die jagterversamelaars van landelike Oos-, Sentraal- en Suider-Afrika. Die streke was toe slegs deur Kung (Boesmans) en in die noorde deur swart Nilotiese stamme bewoon.

In ortodokse argeologie is my boek verban, die uitgewer gedreig en is daar aangevoer dat daar nooit enige ‘wesentlike bewys’ gevind is van Indiese invloed of teenwoordigheid in antieke Afrika nie. Volgens hulle was Indo-Afrika fiksie, ondanks die feit dat Gertrude Caton-Thompson tydens opgrawings in 1929 by die Zimbabwiese ruïnes in opdrag van en volgens “instruksies” van die British Association for the Advancement of Science, ’n groot hoeveelheid Indiese krale in hierdie ruïnes gevind het. Slegs haar geduld om te sif vir die krale het haar beperk om meer te vind. Haar finale gevolgtrekking was dat “handel met Indië ’n belangrike stimulus was wat gelei het tot die ontwikkeling van die inheemse Zimbabwiese kultuur”.

Great Zimbabwe

Daarom is dit geen verrassing nie dat ons die Indiese woord vir goud, sjona, as die kernbenaming aantref vir Afrika se goudstreek, MaSJONAland in Zimbabwe.

Vir ortodokse argeologie begin die geskiedenis van Sentraal- en Suider-Afrika met die Europese kolonisasie, en wel ná 1500. Selfs die ontdekking in die 1890’s van “’n klein bruin mannetjie met [lang] steil swart hare gebind in ’n kort tipe varkstert” op die bodem van ’n antieke goudmynskag van die Champion-myn by Gwanda in Masjonaland kon hulle nie van standpunt laat verander nie.

Dit, terloops, is die perfekte beskrywing van ’n tipiese Indiese goudmynwerker. Ook nie die meer as 1200 goudmyne wat deur Indiese mynbouvaardigheid en tegnologie bedryf is, is as wesentlike bewys van Indiese betrokkenheid in die goudmynbedryf van Afrika aanvaar nie.

Ek moes hierdie ‘wesentlike’ bewys vind. Ek het die uitdaging aanvaar en het in 1983 die antieke goudvelde van Chiremandelle” (afgelei van die Drawidiese Giri Mandaram = woonplek van die gode) in die Masising-gebied – vandag Lydenburg – gaan verken. Die hange van die Sterkspruit-vallei lê besaai met antieke klipruïnes. In die vroegste Europese literatuur word dit met die Tswana-naam litaku beskryf. Litaku beteken bloot ‘klipruïnes van antieke tye’.

Daarmee word geensins deur die Tswanas aanspraak op die ruïnes gemaak nie.

In ortodokse argeologie word sonder enige bewys bespiegel dat die Tswanas of in ander gebiede die Sotho’s, Swazi’s, of Vendas hierdie strukture gebou het en daarin gewoon het. Deur dit te doen, is die ortodokse argeoloë napraters van die Voortrekkers se wanopvatting.

Die Voortrekkers was veeboere en op hul trektogte, het hulle hierdie litaku op verskeie plekke teëgekom. Omdat hulleself beeskrale van klip gebou het waar hulle hulle ook al gevestig het, het hulle gedink die ruïnes is beeskrale van klip. Die Voortrekkers het dit daarom “kafferkrale” genoem. Die ortodokse argeoloë het die naam verander, maar die Voortrekkers se wanpersepsie oor die aard van hierdie klipstrukture behou.

Toe die sendeling Robert Moffat in 1829 naby Mosega verby een van hierdie litaku ry, het hy die afvallige Ndebele-hoofman Umzilikazi (Silkaats) – wat van sy heerser, Koning Tsjaka Zoeloe gevlug het – beskuldig dat sy vegters verantwoordelik was vir die grootskeepse vernietiging van die “klipdorpe”.

Umzilikazi het die wanindruk van die sendeling dadelik reggestel deur te sê dat die “ruïnes van dorpies” oorblyfsels is van VROEË TYE en nie die gevolg is van sy vegters se plundertogte nie. As Moffat hier nie reggehelp is nie, sou hy ’n onskuldige man en sy mense van ’n misdaad beskuldig het wat hulle nooit gepleeg het nie. Ernstiger nog – hy sou die geskiedenis van Afrika met eeue ingekort het. In werklikheid met meer as ’n millennium, omdat hierdie litaku merendeels in die eerste millennium nC gebou is. Dit is lank voordat enige Tswana sy opwagting suid van die Limpopo gemaak het.

Gelukkig het Moffat sy kortsigtigheid ingesien en die Ndebele-hoofman gelyk gegee.

Ons wag steeds op ’n soortgelyke erkenning van die ortodokse argeoloë en terwyl ons wag, word antieke litaku landwyd as bouklip gebruik en sodoende verwoes. Wie sal nou daarin belangstel of geld gee om honderde sogenaamde veekrale te bewaar? Die verband tussen die litaku en die bekende etniese groepe is nooit vasgestel nie. Dis hoofsaaklik te wyte aan wanpersepsie soos in 1801 deur Petrus Borcherds opgeteken is met verwysing na die “Letako” by Dithakong in die huidige Noordwes-Provinsie, … “selfs nie eens die oudste inboorlinge kon ons die geskiedenis van hulle bestaan of vernietiging gee nie.” Hout, modder, doringbosse, riete en ander verganklike materiaal was die tradisionele boumateriaal van die swart Afrika-stamme.

Antieke gouddelwerye en ertsmaalplekke kan by talle litaku langs Sterkspruit by Masising gesien word.

Die Italiaans-Portugese João Albasini, wat ’n Hottentotvrou en etlike Bantoevroue gehad het, het tussen 1834 en 1846 in die Sterkspruit-area gebly. Albasini se volgelinge is die Tsonga-sprekende MaGwamba. Hulle het ’n eienaardige gewoonte gehad om hul neuse (ook wange en borste by vroue) te tatoeëer met rye knoppies so groot soos ertjies. Dit is verkry deur die vel met ’n klein hakie terug te trek nadat dit met ’n skeermes gesny is. Dan is daar oker, as en ’n soort medisyne ingevryf. Die blouerige knoppe (keloïdes) op hul neuse, wat in Chopi tsindova of magwava, genoem word het aan hulle die naam MaGoa-pha besorg. Dit beteken ‘geskende MaGoa’ (waar MaGoa na hulle gemengde afkoms, Indies-Tsonga verwys).

In Hollands staan hulle bekend as Knobneusen en in Engels as Knobnosed.

Die MaGwamba van Albasini is hoofsaaklik afkomstig uit ’n tak van Tsonga wat bekend is as Baloi (BaLoyi) of BaNwalungu. Plaaslik beteken dit ‘die mense van die noorde’. Hul oorspronklike tuiste was onder die Nyai in Masjonaland, en daarna in moderne Chopiland aan die Mosambiekse kus. Hulle was die mense van die handels-karavane en aan die Basotho’s bekend as mpfumba.

Gedurende hul verblyf by Masising het Albasini se Knopneus-MaGwamba vir hul wit leier Juwawa (verwringing van João – hul troetelnaam vir hom), ’n stel koppe gemaak. Een was teriomorfies of ’n dieregesig, gemaak van gebakte klei. Die neuse en wange van hierdie terracottakoppe is geskend met dieselfde patroon knoppies as die tatoeëerknoppe op die gesigte van Juwawa se MaGwamba. Die getatoeëerde wanglyn is slegs by Tsonga as verfraaiing toegevoeg toe hulle in noue kontak met die Hoëveldse Pedi gekom het wat tradisioneel soortgelyke patrone op hulle gesigte gemaak het. Dit was tussen 1821 en 1851, kort voor en gedurende die tyd van Albasini.

Die terracottakoppe wat in die veld in ’n hoop opgestapel was en gedeeltelik met grond bedek was, is in 1956 of 1957 deur ’n tienjarige skoolseun, Karl von Bezing, ontdek. Teen 1962 het Von Bezing besef dat hy moontlik ’n belangrike ontdekking gemaak het. Hy het na die terrein teruggekeer en die gebreekte stukke bymekaar gemaak waarin hy sewe “kleikoppe” herken het.

Hy het dit na die Universiteit van Kaapstad gebring waar die sewe terracottakoppe in 1966 deur prof. Ray Inskeep herkonstrueer en aangeteken is. Met geld van die Raad vir Geestes-wetenskaplike Navorsing is tussen 1974-78 uitgebreide uitgrawings gedoen by die plekke wat deur dr. Von Bezing uitgewys is, asook by ’n nabygeleë donga en ander gate wat belowende kenmerke getoon het.

Op die diepte van 450 tot 650 mm is in een van hierdie gate wat ’n hele ent van die hoop terracottakoppe was, ’n stuk houtskool gekry wat ’n koolstofdatum van 540 nC ± 50 gelewer het.

Die knopneus-terracattokoppe se ouderdom is toe hiervolgens bepaal. Die koppe was afkomstig van ’n “hoop” op ’n onverweerde plat stuk grond teen ’n effense helling, terwyl die houtskool afkomstig was van ’n afgeleë en erg verweerde gat. En hoewel uitgrawings by die kopterrein geen spore van argeologiese oorblyfsels getoon het nie en ook geen organiese materiaal vir koolstofdatering gevind is nie, is die koppe geplaas in die tyd van die Romeinse onttrekking uit Brittanje, terwyl die omliggende klipstrukture die litaku, gedateer is uit die 17e eeu.

Om dit te jukstaposisioneer met die bewese geskiedenis van die MaGwamba, impliseer dat die mense met ’n identiese patroon van knopneustatoeëring in die 5e eeu nC op hierdie terrein gebly het en toe weer absoluut toevallig in die 19de eeu.

Dit, ondanks die feit dat geen soortgelyke knopneuskoppe ooit elders in Afrika gevind is nie. In amptelike literatuur word daarop aanspraak gemaak dat die “beeldhouers” wat hierdie koppe gemaak het van “Wes-Afrikaanse afkoms” is.

Dié soort politiek-korrekte redenasie se oorsprong kan net in beesmis lê. Nietemin, die terracottakoppe is as egte produkte uit die 5e eeu verklaar, terwyl ’n verklaring daarvoor gesoek is onder die plaaslike stamme van die 20e eeu. Ten spyte daarvan dat ons heeltemal geen bewyse het van soortgelyke Sotho- of Tswana-mense in Masising of enige ander plek in Suid-Afrika in die 5de eeu nC nie.

Peinsend oor die ongerymdhede het ek in die tuin van mnr. Weilbach, die destydse eienaar van die plaas, geloop. Terwyl ek die blomme onder die vensters bewonder het, het ek ’n blom gesien wat oënskynlik uit ’n soliede klip gegroei het. Nadat ek die klip skoongemaak het, het ek opgemerk dis ’n soliede harde doleriet (ysterklip) met ’n 12 cm-gat in die ronde plat bokant. Met die eienaar se toestemming het ek die klip uit die grond gehaal. Die klip was sowat 40 cm in deursnee en sowat 50 cm hoog, met ’n gat regdeur geslyt waardeur die blom se wortel kon groei. Die eienaar was verras om dit te sien en het geen idee gehad wat dit kon wees nie. Ek kon skaars glo wat ek sien.

Ja, ek was op my eerste ontdekkingstog om bewyse van Indiese betrokkenheid by die antieke goudmynbedryf in Afrika te kry en hier kry ek toe op die plaas die myne en ertsmaalklippe, maar ek het nie verwag om ook bewyse vir die teenwoordigheid van Indiese vroue in Afrika te vind nie. Tog was dit wat ek pas vantevore uit die blombedding gehaal het, niks anders as ’n egte Indiese spesery-maalvysel nie – die egte rogddo van Goa.

Een van dieselfde maalvysels wat my in 1973 in Panaji wakker geraas met hul gerammel.

Nadat ek die egte Indiese maalvysel in Afrika se goudveld gesien het, kon ek my die Indiese prospekteerder of mynwerker se vrou voorstel wat haar masala gemaal het. Ons weet dat antieke Indiese prospekteerders, mynwerkers en handelaars van hulle vroue saamgeneem het na Indonesië, en saam met hulle het ’n hele kulinêre kultuur gekom, waaronder speserye, kruie, graansoorte, maalklippe en -vysels. Dit het die kultuur van hierdie Indiese Eilande geweldig verryk.

Die gevolg hiervan is veral sigbaar in Bali wat die gevoel van ’n klein Indië uitstraal. Dit het my laat dink aan die Afrika-vrou wat (volgens argeologiese ortodoksie) veronderstel was om goud te ontgin, maar nooit Indiese spesery-masala gemaal het nie.

Interessant genoeg, hul maalklip word in Tswana tshilò genoem. In Transvaal se Tsonga beteken sila ‘om graan op ’n klip te maal’, ku-sila beteken in Noord-Sotho en XiRonga onderskeidelik ‘om te maal’. Al hierdie woorde is onteenseglik afgelei uit Indiese tale, naamlik die Sanskritiese sila, Kannada sila-patta ’n plat klip vir die maal van speserye, ens’. En in Tamil verwys sil na ’n ‘maalklip vir speserye’. Laasgenoemde woord dra ook die rammelgeluid van die gemaal oor. Dis duidelik: die Indiese invloed in Afrika strek veel wyer as die goudmynbedryf.

Dit het neerslag gevind in die kombuise van Indo-Afrikaanse huishoudings en is vandaar na ander huishoudings en na die hele kultuur versprei.

En daar steek nog meer in. Seilvaart na Indonesië was makliker as oor die Indiese Oseaan na suidoostelike Afrika (Sofala, Inhambane, Delagoabaai). Daar was min of geen Indiese vroue op die Indiese goudmynvelde in Afrika nie. Baie Indiese mans het dus geen ander keuse gehad as om met die plaaslike Kung (Boesman), later Quena en baie ander Neger- en Bantoevroue te trou nie.

Hier kry ons ’n interessante resultaat van hierdie ondertrouery. In etlike Bantoetale is die woorde vir ’n ‘vrou’ en ‘getroude vrou’ wat die hart en siel van elke huishouding en nasie raak, afgelei van die Tamil (Drawidiese) woord kadi of kati vir ‘troue’ en ‘huwelik’.

In die Chopi-taal wat deels Indiese voorouers het, beteken, msi-kati ‘’n getroude vrou’, en in Xhosa, die oudste Nguni-taal, verwys in-gqadi, ’n duidelike afleiding van die vorm na ’n ‘regterhandvrou’, wat die hoofgetroude vrou of getroude vrou is. Dit verwys duidelik na die hoë status van die vroue wat met Indiese mans getrou het. Die moderne weergawe hiervan kry ons in die Swazi-samestelling in-khosikati ‘vrou’, ‘dame’, in Xhosa in-kosikazi ‘hoofskap’ en in Zulu in-kosikazi ‘hoofvrou’, waar dit gebruik word om ’n vroulike verwantskap aan te dui wat voortspruit uit die troue en huwelik.

Dit kom weer voor in die Xhosa-vorm um-fazi vir ’n ‘vrou’ en ‘getroude vrou’. Net so beteken, um-fazi in Zulu ‘getroude vrou’ terwyl ubu-fazi, ‘vrouskap’ of ‘vrouwees’ beskryf. Dit laat geen twyfel dat ondanks die aansprake van die ortodoksie dat *kati,–gkadi, -kazi, en –fazi ontwikkel het uit die kunsmatig gerekonstrueerde “Ur-Bantoe”-woord –kali, wat geen betekenis het en nooit onder die Nguni-sprekende mense van Suid-Afrika voorgekom het nie. Hul woord vir ‘getroude vrou’ en ‘vrou’ is te danke aan hulle antieke intieme verhouding en ondertrouery met Drawidiese goudsoekers aan wie se tale hulle dit ontleen het. Dit word nog verder bevestig in Sjona (insluitend Karanga, Korekore, Manika en Zezuru) van Masjonaland, waar die fonologies gelokaliseerde mu-kadzi ‘vrou’ en ‘getroude vrou’ beteken, – dis ongetwyfeld afgelei van Tamil kadi vir ‘trou’ en ‘huwelik’.

Hierdie ontdekking werp aansienlike lig op die vraag oor die oorsprong van die Nguni. Een van die implikasies van hierdie ontlening is dat die ritueel van trou en huwelik wat die status van ’n meisie verander na ’n vrou en getroude vrou heel waarskynlik in die vroegste tye deur die antieke Indiese goudmynwerkers en handelaars aan hierdie en ander Bantoegemeenskappe bekendgestel is.

Dié ontdekking mag aanleiding gee tot sekere rammelinge in die Afrosentriese ortodoksie, maar in werklikheid verhef dit die Xhosa-, Karanga-, Zulu-, Swazi-, en ander Bantoesprekende gemeenskappe uit die beesmiskulture wat deur die ortodoksie aan hulle toegewys is, deur hulle te verbind met die gevorderde gemeenskappe van die antieke wêreld. Dis geen nietige openbaring nie.

Alle nasies wat hulle name in die oudste geskiedenisboeke ingegrif het, kon slegs deur handel, tegnologiese, wetenskaplike en godsdienstige wisselwerking daarin slaag, en ook omdat hul betrekkinge met ander nasies gehad het, want hulle het almal van mekaar geleen. Dit is die betekenis van die gedeelde maalklippe in Indiese en Afrika-kombuise.

Hulle het vir eeue saam gedrink en geëet voordat hulle tussen die 9e en 15e eeu geleidelik geskei is deur die uitwerking van Moslem-uitbreiding en slawerny in die Indiese Oseaan.

Daaropvolgende Christen-uitbreiding en kolonisasie het die twee kante weer eens saamgebring, maar onder ander sosiale en politieke omstandighede. Om die historiese feit te erken, kan net tot beter begrip tussen die twee diverse gemeenskappe lei.

Dit gee ook sin aan die stelling van President Nelson Mandela toe hy in 1992 aan die Indiese krieketspan gesê het: “Ek’s ’n patriot, maar Indië is my tweede tuiste!” (The Citizen 28 Okt. 1992, p. 2).

About author

Articles

DEKAT is an award-winning lifestyle icon that celebrated its 35th birthday in 2020. Enjoyed by modern, free-thinking readers DEKAT is an award-winning lifestyle icon.
Related posts
DEKATvFeatured postHoofartikels

Plesierige ‘Dekat’ begin weer op SABC 2 wys

’n “Eksentrieke mens of ses” wat in elke dorp woon, word in die derde seisoen van die…
Read more
Food & travelHoofartikels

Die Wêreld Wink

Na verwagting gaan Suid-Afrika sy eerste vroulike wynmeester (Master of Wine) van kleur binne die…
Read more
CalendarEventsKosKultuur

River Café pop-up

Vergelegen Wine Estate, located in Somerset East, is focusing on fresh, local produce at its latest…
Read more