hulle sal ons sonne breek

 

vandag het ek my voete weer verpas

en my spoor het vreemd geraak vir my trap

want ek wonder of die wêreld weet

hoe vreeslik stil ‘n snik kan ruk

as die aarde sy nate uit jou

borskas skeur en die hemel

haar wind uitval teen jou keel

 

want ek onthou hoe ’t die

walms van ons trane soos klam kelders

in ons kele gehang en ons harte

so allenig en halfkaal soos die

bieg van ‘n ouman gestaan ‘t en ons

die bloed daarvan in ons hande moes hou

 

en jy’t gesê mens bloei net tot dit water word want

uitgebloeide goed kan nie pyn stig nie

 

en ag

ek wou nooit die drif uit jou dig of

skuinser kruise teen jou nagte kom rym nie

of jou soos ‘n raaisel uit my kop laat verkas of

dodder teen jou kraag lê nie

 

ek sal seker maar weer

my tent in enkelvoud span onder die maan

en wag op die fabeltaal van verbeelde vlerke

om naby die salwings van jou hart en hande te kom

of dalk sal jy tog ‘n verweg antwoord vir my

kreun in jou slaap

 

kyk

daar’s alge in my oë

en die droef bly tog só stagnant

en kyk hoe vermom ek die ure

en hoe roer my takke elke keer

as die aarde asemhaal

 

jy sal ‘n krans lê teen my bors

want ek sal eerste wees

 

en daardie dag

sal ek ophou bid en die

legioene in my hart sal

gruis uit die berge beitel tot die

aarde sonder kartel staan

want die nag sal krom trek en

ek sal woedend wees

 

want hulle het elke straal van ons

ingemurgde deeltaal uit ons kele gebreek

toe ons besig was om die son te sluk

 

francisgrobler©

 

 

By |2018-11-12T14:25:14+00:00November 12th, 2018|Boeke, Kultuur, Skrywers, Taal|