HOE RY DIE BOERE SIT-SIT-SO DEUR KALIFORNIË
Post-pandemie wil algar mos weer die wêreld bereis! Gestel jy het twee weke in Kalifornië, maar verdien nie in dollers nie: Wat kan jy sien? CARINA STANDER neem jou op ‘n reis van 4 000km deur sneeuparke en woestyne, spookstil myndorpies en plesierige stede.
HOE RY DIE BOERE SIT-SIT-SO DEUR KALIFORNIË
Photography
Post-pandemie wil algar mos weer die wêreld bereis! Gestel jy het twee weke in Kalifornië, maar verdien nie in dollers nie: Wat kan jy sien? CARINA STANDER neem jou op ‘n reis van 4 000km deur sneeuparke en woestyne, spookstil myndorpies en plesierige stede.
Ons reis van twee weke en 4 000km skop af in dolbesige Los Angeles. Dis middernag en steeds dreun die voertuie bumper-aan-bumper. Dis hier waar die televisiereekse uit ons tienerjare vandaan kom: Beverley Hills, Melrose Place, LA Law. EK kyk uit vir Hollywood se sterre, maar almal is seker aan’t skiet of verskiet. Die rooi tapyt is uitgerol vir oormôre se Oscars.
Okiedokie, woerts dan maar verder na sonnige San Diego, waar die tuinpark die ene orgideë en Spaanse fonteine is en waar ek my verlustig aan kunsgalerye met Rembrandt en Ruben, ‘n fotouitstalling van Annie Leibowitz en dertien museums. Amerikaners dink darem maar gróót! lig ek my kêps.
Woestynkonyne
Sondagoggend raak ons nuuskierig oor die platteland. Ons kies koerts verby beesplase en windpompe. Snuffelwinkels verkoop walnut swirls en ouwêreldse cherry cake. Sneeuslierte waai oor die pad.
Anza-Borrego is ‘n klipwoestyn gevorm deur ‘n oerou see. Ons stap deur verweerde vulkaanpieke na ‘n klein palmboom-oase. Krulhoringbokke skuil in die ligpers berge. Hier is veldblomme. Stofstorms. Geheimsinnigheid. In die lente is die woestyn ‘n fees van kleur, nes Namakwaland.
Die middagson gloei in die plooie van die berg toe ons Joshua Tree binnery. Dié woestynpark was die inspirasie agter U2 se 1987-musiekalbum, Joshua Tree. ‘n Prêriewolf kom pof sy stert en snuif spitssnoet aan ons wiel. ‘n Woestynkonyn laat spaander oor die stofpad. Die karvensters is óóp en die country musiek kraak oor die radio terwyl ons die wildernis verken. Dis ‘n ou gewoonte van ons om, waarookal ons in die wêreld toer, die karradio aan te skakel en na die streek se musiek te luister. Hou stil en klim uit. Die stilte sing. Ons stap na rotstekeninge van Indiane, verby kaktusse en duisende Josuabome wat wit blom.
Die aand kampeer ons onder die sterre tussen groot, wolfkleurige rotse. Ek droom dat ek in ‘n cowboy fliek speel. ‘n Man boelie ‘n vrou, toe pluk ek ‘n rewolver uit, skiet hom sommer uit die heup en skop hom met my staalpuntstewel dat hy woer. Nou nie juis my vredeliewende self nie, maar die volgende oggend lees ek verdwaas: Die klipkoppe waar ons oornag het, was honderd jaar gelede die kampplek van cowboys!
Dis warm. Die son staan stil. En ons vat ons die soutpanpad van verlate Route 66. Die petrolpompe en poskantore op die roete is al dekades lank gesluit, maar ‘n klompie wildvreemde karakters woon hier tussen die treinspoor en vulkaankrater. ‘n Jong vrou sit in ‘n stowwerige voortuin tussen skopfietsies en verroeste karre. Sy kyk hoe die lewe saam met die Harley Davidsons voor haar oë verb jaag. By Newberry Springs gaan sit ons op die skelrooi leersitplekke van Bagdad Café. Blonde Anthea werk haar lewe lank al hier. Sy verwelkom ons in haar heiligdom van cowboy-plakate. In 1988 is ‘n fliek in die einste ‘n padkafee geskiet. Die musiekboks speel met muntjies. In die gees van die plek bestel ons Pepsi, buffalo burgers en chips. Toe ek die kok se oorjas sien, word ek vir ‘n week lank ‘n vegetariër.
Waar die bosreus woon
Takboktroppe wei in die herfswoude van Sequoia Nasionale Park. ‘n Prêriewolf drafstap nuuskierig nader. Aan die voetheuwels waarsku ‘n bordjie: “Bear active area.”
‘n Gryskopvrou gaffel die sneeu van haar voorstoep af. Hier is niks minder nie as 1 300km staproetes in Sequoia, maar behalwe vir ‘n fotograaf en jong avonturier met ‘n houtbeen, is die landskap mensverlate. Met sneeukettings aan ons wiele durf ons die bergpas na Gaint Forest aan – die woonplek van General Sherman. Wat volume betref, is dié bosreus die grootste ter wêreld: ‘n deursnee van 10m, 80m hoog, 1 385 ton. Die rooibruin stam is diep gegroef – brandwonde. Vuur is nodig vir oorlewing, dit laat saad ontkiem. Toe ek die 2 500 jaar oue sequoia se bruin groefstam streel, val sneeuvlokkies soos bloeisels uit dié mensverlate katedraal. Stil. Groots. Heilig. Slierte waai soos woorde van bo – brandwarm fluisterings, plofsag.
Vandaar is ons na Yosemite Nasionale Park. Jaarliks word die dié gletservallei deur vier miljoen mense besoek, maar in die winter is dit stil. Granietkoepels hou wag. Dit voel asof ons in ‘n kersfeeskaartjie stap. Sneeu sif in fynskrif tussen my vingers. Sneeu knars onder my stewels. Sneeu val geluidloos oor my rooi serp en wolmus. Sneeu stort oor ‘n drielaag waterval – die hoogste in Noord Amerika. ‘n Prêriewolf draf nader. Eekhorings verjaag mekaar deur ‘n botstil eikewoud – die takke soos flambojante frille van ‘n sigeunerrok. Oral wit gedigte op wit papier.
Ons loop al langs ‘n rivier van ys-eilande. Gerrit gaan ski vir die eerste keer in sy lewe en keer glimlaggend terug met wit spikkels op sy krulle. Ons kuier voor ‘n kaggel, warmsjokolade in die hand en kyk hoe die eekhorings mekaar in ‘n eikeboom rondjaag.
Die aand is hy nuuskierig oor hoe dit voel om in sneeu te kampeer. Ek is nie lus nie, maar hy vra so mooi en slaan die tent eiehandig op. Middernag is dit -6°C. Die koue byt deur ons matras. Ons vlug kar toe. Ek kry myself vreeslik jammer. Later dog ek: ‘ ‘n Man wat nie waag nie, sou my verveel. Die einste dwase dapperheid het ons al op fantastiese plekke uitgebring.

Goue grond
Ná die bibbernag migreer ons na die warmer Gold Country: Jackson, Murphys, Sutter Creek, Columbia, Plymouth, Mokelumne Hills. Alles goudmyndorpies uit toeka se tyd. Sommiges het ná die goudstormloop in spookdorpies verander, maar ander word springlewendig gehou met kinders wat spoelgoud sif, kelners in kostuums, outydse plaasgereedskap, stoomtreine en perdekarre. ‘n Landelike sjarme.
Sacramento het ‘n statige skoonheid, al het dié dorp al talle aardbewings oorleef. Dis winter, maar die stermagnolias blom wit en die pruimbome stoot bloeisels uit. Ons backpackers vir die aand is ‘n Victoriaanse huis met fyn muurpapier en klaviere, kaggels en koekievorms teen die kombuismuur.
Die plesierige stad
Dis ‘n taaiwarm dag toe ons San Francisco binnery. Uit die bloute speel “Welcome to the hotel California” oor die karradio – ‘n fliekoomblik! Ons slenter deur die poorte van Chinatown. Die strate is tjokkervol vir die Chinese Nuwejaarsfees. Ek vergaap my aan dogtertjies in eendjie-, donkie- en draakkostuums, Samurai gevegdansers en skoonhede op vlotte. Hier in Chinatown word sambreeltjies en kimonos, versuikerde dadels, gedroogde seeperdjies, swart rys en vreemdsoortige knolle verkwansel. Die olifanttande wat te koop is, was glo die tande van mamoete wat eeue onder die sneeu bewaar was. As dít die waarheid, sluk ek ‘n swaard. Die toetentaal oorwerkte bakkers by die Fortune-koekiefabriek lyk ook nie juis fortunate nie…
Musée Méchanique is ‘n prettige versameling van driehonderd antieke penniearkades. Vir ‘n pennie kan jy armdruk met ‘n seerower of kyk hoe houtpoppies orkes speel. Met die draai van ‘n slinger klim Marilyn Monroe uit haar kooi. Terwyl ek en my vlam mekaar soen, meet die masjien ons liggaamshitte en passie in persentasie. Ons presteer.
Vanaf Coit-toring lees mens die stad soos ‘n oop boek. Ruim parke. Victoriaanse strate. Die eilandtronk, Alkatraz. Doer is die beroemde Golden Gate – hordes immigrante se eerste ontmoeting met die stad van belofte. Die mengelmoes van vreemde kulture gee aan SanFran ‘n heel eksentrieke karakter. Baie inwoners met wie ons te doene kry, kan g’n snars Engels praat nie. Ek ontmoet darem ook fynproewers van die taal by City Lights, die legendariese boekwinkel wat in die sestigers deur die Beat-digters gestig is. ‘n Hele vertrek word aan Allan Ginsberg, Leonard Cohen, Rainer Maria Rilke en Rimbuard gewy. Ek sak weg in ‘n rusbank en lees en lees tot die aarde beginne bewe.
Kuslangs
Laatmiddag toer ons kuslangs verby stil strande en lighuise. Koeie wei op kranse langs die Stille Oseaan. In die landelike Pescadero koop ons artisjokbrood en olalieberry pie.
Santa Cruz se perdjiekarousel is sedert 1911 propvol jillende kinders. Tipies van die popkultuur word hier spookasem, burgers, sodas en draailekkergoed by die kilojoels verorber.
In die louwarm dennewoude van Pacific Grove oorwinter 10 000 monargvlinders. Hulle beweeg stadig, geruisloos soos herfsblare. Dit is ook paarseisoen vir Kalifronië se grootste see-olifantkolonie en op Piedras Blancas skuifel ‘n bul met ‘n krulsnoet sy logge twee-ton-lyf. Sy harem wyfies lê op die strand en bewonder sy vetrolle.
Die kusroete neem ons verby boheemse kliphuise en bejaarde sipresse. In die klein Cambria is die strate met feëtjieligte versier. ‘n Vriendelike rooikopvrou lei ons na ‘n dakkamertjie met ‘n donsveerduvet. Knus-knus.
Die laaste dag rits ons deur heuweldorpies waar swart koeie met volroom in die uiers wei. Twaalf takbokooie draf oor die pad. Solvang is ‘n dierbare Deense dorp, kompleet met windmeulens, tulpe, brosbeskuit en ‘n museum gewy aan sprokieskrywer Hans Christian Anderson. Santa Barbara se hofhuis is gebou in die Spaans-Moorse styl met muurskilderye, geriffelde dakteëls en blou en geel Tunisiese teëls. Allermooi. Trots oorhandig die gids ‘n brosjure. “Welkom in Kalifornië!” lees ek ons moedertaal in die verre vreemde.
Bron: www.lonelyplanet.com