Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat deur Jens Friis vier ‘n langverwagte, omvangryke optekening van dié dorp se wel en weë: sy geskiedenis, geboue, mense. Op vele vlakke is dit nie bloot oor ‘n spesifieke dorp nie, maar oor ‘n Suid-Afrikaanse landelike gemeenskap, sê Friis.  Is dit jou soort wortelwêreld?  Jy sal in dié boek belangstel as jy die geskiedenis en jou herkoms koester en vir die nageslag wil bewaar, glo hy. 

Philippolis is ‘n pragtige Karoo-dorp – ‘n dorp met ‘n lang en ryk geskiedenis aan die onderpunt van die Vrystaat.  Deur die eeue het die Boesmans, toe die Griekwas en later die Trekboere wat die Oranje vanuit die Kaapkolonie oorgesteek het deur die Transgariep, hul veel laat drink by dié dorp se twee fonteine.

Eens het die hoofpad tussen die Kaap en die Witwatersrand hierdeur geloop.  Die sluiting van die destydse “N1” was ‘n groot terugslag, maar die voordeel is dat dit die dorp in ‘n tydsvakuum geplaas het met groot toeristebemarkingsgeleenthede.

As gevolg van Friis (45) se agtergrond en opleiding was hy die ideale kandidaat om die omvangrykste boek nog oor Philippolis te skryf.  Hy is hier getoë – net nie gebore nie, want die naaste hospitaal was in Colesberg.

Tans is hy ‘n Johannesburger, maar wil oor enkele jare in Philippolis kom aftree.  Intussen kuier hy gereeld by sy pa se sorgsaam gerestoureerde Groenhuis-gastehuis.

Friis het ‘n meestersgraad in menseregte (cum laude) en is ‘n toegelate advokaat, maar het joernalistiek verkies.  Hy was redakteur van die Philippolis Pos(t) en Bloemnuus, die grootste tweetalige gemeenskapskoerant in sentraal Suid-Afrika.  Hy doen gereeld reisskryfwerk vir vele publikasies. Sy twee Facebook-blaaie, Great Karoo en Philippolis Groenhuis, word deur talle belangstellendes gevolg.

“Nooit skryf ek weer ‘n boek van hierdie omvang in drie maande nie.  Dit tap jou, maar as die kalf in die put is, dan gaan sit jy voor jou rekenaar – veral as dit iets is wat jy al dekades lank wou doen,” sê Friis.

Die rede waarom hy in ‘n boek gedryf is om dit te skryf was omdat die Hoërskool M.T. Steyn vir die eerste keer in 16 jaar ‘n algemene reünie beplan het vir 2 tot 4 November 2018.

“Jy moet nou ‘n boek skryf,” het Marnie van Wyk gepor. Die reünie was sy breinvrug. Baie ander mense moes ook gevoel het dat die tyd ryp was, want die bestellings vir boeke het ingestroom,” sê Friis.

“Ten spyte van ‘n druktyd wat uit die staanspoor op die horison gewink het, het die boek relatief maklik gekom weens ‘n onblusbare passie vir my geboortewêreld waarvan ek ‘n deurgronde kennis het én ‘n onuitputbare bron van foto’s – dermate dat ek maklik nóg ‘n boek oor Philippolis die lig sou kon laat sien as daar die nodige aanvraag voor is.”

Philippolis se middedorp. Foto: Jens Friis

Nêrens is jy meer bewus van Philippolis se ryk geskiedenis as in Bo-Voortrekkerstraat nie. Langs dié denneboom-omsoomde straat staan hulle ingeryg: die Victoriaanse Jacobson-biblioteekgebou, die Transgariep-museum, Adam Kok se raadsaal en kanonne, sê Friis.

“Hier is ook menige wit ou geboue met ’n donkergroen dak, bome en rantjies wat die nedersetting skans teen die ergste westewinde van die Suid-Vrystaat. Dit is in hierdie kom dat dr. John Philip van die Londense Sendinggenootskap moes meehelp om onder die San en Khoi ’n sendingstasie tot stand te bring. ’n Bykomende voordeel van so ’n sendingstasie sou wees dat dit as pos kon dien om boere dop te hou wat onwettig oor die Oranjerivier trek.

“Van albei dié funksies het egter weinig gekom. Die San, die Khoi en mettertyd die Griekwas was nomadiese volke wat nie op een plek kon of wou woon nie. Hulle moes jag en daarom rondtrek. Die trekboere het só oor die Oranjerivier gestroom dat die gebied rondom Philippolis mettertyd deur die Republiek Oranje-Vrystaat van die Griekwas gekoop is.  Van die Engelse se planne om die Boere te stuit, het niks gekom nie.”

Volgens Friis is daar heelwat te doen in die omgewing. “’n Hanetree ver is die Gariep- en die Vanderkloof, die twee grootste damme in Suid-Afrika. Die Oranjerivier, wat deur dié twee vloei, bied uitstekende visvang-geleenthede.

Op pad na die viswaters is dit goed om jou oë oop te hou, want in dié distrik is meer as 200 voëlspesies, waaronder honderde skaars bloukraanvoëls.”

“Die tydskrif Getaway het Philippolis al aangewys as een van sy gunsteling-dorpies in Suid-Afrika saam met Clarens, Prins Albert, Darling en Dullstroom.  En met rede. Hier is stilte en skoon lug in oorvloed, fonteinleiwater, genoeg parkeerplek op straat, groot erwe en sonsondergange soos net die Karoo kan bied.

“Inwoners meen hulle het die beste van albei wêrelde.  Vanweë die internet, outomatiese telefone en satelliet-TV hoef jy nie op die platteland in ’n ‘klein wêreld’ te leef nie – selfs op Philippolis met sy 4 000 inwoners. Misdaad word beperk deurdat almal mekaar ken.”

Nes Getaway is ander besoekers beïndruk. Só skryf ’n paar uit New York in die Groenhuis-gastehuis se besoekersboek: “Philippolis seems an oasis after driving through the Karoo.”

Vir ’n Johannesburger was dit “like visiting friends on their farm – wonderful”, terwyl ’n Kapenaar meen: “Ek het amper vergeet daar is plekke waar so met die donker, die stilte en die sterre gemors word…en waar die gasvryheid so ruim is.”

Nou het Friis sy wêreld geboekstaaf in Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat.

“Jens gee vir ons ons ‘n helder beeld van Philippolis met deernis, agting en prikkelende inligting.  Dit is ‘n moet vir die boekrak,” vat Pieter Fourie, Hertzogprys-wenner, saam.