Gielie Hoffmann: Lewe se oomblikke Vasvang in Naam Van Dier Dorp

RENEÉ RAUTENBACH-CONRADIE/Die veerkragtigheid, lewensgevoeligheid, merkwaardige wysheid en humorsin van hierdie pre-middeljarige rubriekskrywer en bestuurskonsultant het nou lyf gekry. Tot groot vreugde van menig ’n aanhanger (lees volgeling) en leser.

 Gielie Hoffmann se boek Naam Van Dier Dorp is so pas op sy webblad bekend gestel. En, bygesê, binne 24 uur was daar reeds ’n buitengewone aantal bestellings.

 Gielie, is rysig van gestalte en gees. Hy het ’n innemende manier om mense dadelik te laat voel of hulle hom lankal ken (en summier geheime sal uitlap), en is geen onbekende by die geskrewe woord nie. Verlede week nog het hy ’n uitmundende skrywe oor die tannies in sy lewe op die muur van Knaap gepubliseer. Voorts is hy al vir ’n hele paar jaar as rubriekskrywer bekend .

As lid van Generasie Z –of Gen Z, liewer— en die vernuwende denke is dit tekenend dat hy sy boek op hierdie manier vrygestel het. Hy beskou “Facebook vir die tannies, Instagram vir die vriende, X vir die nuus, Tik Tok vir die influencers en Grindr, wan en dan, vir die dieper dors”.

“Die laaste 15 jaar spandeer ons almal toenemend tyd op sosiale media.  En is dit vir baie van ons ’n plek waar ons ervarings vaslê.

“Meer as ‘n outydse joernaal,” antwoord hy op vraag oor motivering vir die boek.

“Ek het mettertyd my stem as skrywer op sosiale media gevind en danksy stories wat ek daar publiseer het op 30 ‘n rubriek begin skryf vir Netwerk24 vir 2.5 jaar en daarna vir Beeld vir 2.5 jaar.”

 

Op vraag hoe ’n soort kind hy was (15 vrae met Laureen Rossouw in Vrye Weekblad) was sy antwoord: “Bedrywig. Honger. Aan die lees. Gefokus maar vriendelik. Lank”. Mens kan jou dit die oulike kind voorstel, want hy is dit nog alles. Iemand in wie se geselskap jy wil wees,

“Kleintyd was ek mal oor ’n telefoonboekie, met die lettertjies abcde aan die kant af.  So ook indeks-kaartjies by die biblioteek.  En ’n ouma se resepte-leêr.  Alles maniere om inligting te rangskik.”

Die titel van die boek sal by die meeste van ons  verskillende herinneringe uit kinderdae oproep,  “Ons het in afperiodes op laerskool Naam Van Dier en Dorp gespeel.  Waar jy ’n letter toegewys word en so vinnig as moontlik ’n naam, van, dier en dorp met daardie letter moes neerskryf, byvoorbeeld Bouwer Bosch Bok Barberton. Stories dus oor mense en plekke wat hy or die jare gepen het.

“Met dit als in ag genome het ek 15 jaar se sosiale media plasings gefynkam, die bestes gevind en dit as basies gebruik vir hierdie boek, as ’n manier om klomp lukrake stories, sketse en stukkies te verpak dat dit as ’n geheel ook sin maak.

Ek het oor ’n 100 000 woorde se stories gekies en ewe skielik minder sleg gevoel dat ek nog nie ’n tradisionele boek geskryf het nie – ek was eintlik toe al die tyd baie produktief!  Met die hulp van ’n redakteur het ek dit verminder.  So dis die kern van die boek: ’n vooraadopname van my argief van kort, intense oomblikke die laaste 15 jaar.

Indirek werk hy dus al 15 jaar aan die boek. As mede-lid van sy driegenerasie- skryfgroep kan ek getuig van sy geesdrif met weeklikse bymekaarkomste en groter skryfwerkwinkels.  “Maar die proses van kies en keur en skaaf en poleer het byna ’n jaar gevat.”

Rubriekskryf, vertel hy, het hom geleer dat dit maklik is om vingers te wys, maar lesers nie daarvan hou om geboelie te word nie.  “Mens moet binnetoe kyk, en die moeilike vrae vir jouself vra, en soms nie die antwoorde bied nie,”

“So die temas is my blik op aktuele gebeure, die nuus van die dag, goed wat ek afluister in koffiewinkels, ervarings wat my laat dieper delf, omgang met popkultuur en op die ou einde ’n besinning van wie en wat ek is binne die groter gesprek wat daarbuite heers. Leser sweet hoe hy roerende storie kan skryf van ’n insident by ’n verkeerslig of in ’n kafee. Hy hét die oog en die oor vir ’n storie.

Om self te publiseer lyk na ’n waagstuk. Waarom hierdie besluit?

“Jong, ek het baie daaroor gedink.  Uitgewers is kort-kort op my spoor vir ’n manuskrip.  In daardie opsig is ek bevoorreg.  Ek het die grootste agting vir skrywers.  Maar dit pla my altyd dat die narratief rondom skrywerwees in Afrikaans dieselfde is:  daar is nie ‘n leserstal nie, daar is nie geld te make nie, dat uitgewers en boekwinkels skrywer uitbuit ens ens.

Baie van sy vriende is meestal kreatiewe entrepreneurs en in sy werk het hy baie te doen met mense wat klein besighede wil laat groei.  “So daar word ek blootgestel aan mense wat eienaarskap neem en dinge self doen.  Kunstenaars, musikante, akteurs, ontwerpers ens.”

In daardie opsig is skrywers baie uitgelewer en bang vir die besigheid van skep, reken hy.

Derhalwe het hy besluit om sy boek deur al die tradisionele prosesse te sit – redigering, taalversorging, bladuitleg, voorbladontwerp – “nes ‘n tradisionele uitgewer sou, maar self verantwoordelikheid te vat vir elke stap en my te omring met bekwame mense. Daar is natuurlik ’n finansiële implikasie vooraf.  Maar as model maak dit meer sin vir my as skrywer.”

“En met koeriers wat deesdae vinnig om elke hoek en draai iets kan aflewer kan iemand nou ’n boek sonder probleme by hul voordeur afgelewer kry in plaas van boekwinkels wat nie voorraad het of nie die boek aanhou nie.”

Naam van dier en dorp word slegs op sy webblad gieliehoffmann.co.za verkoop – dis reeds nou bestelbaar en word versprei vanaf 15 Oktober – en geskied soos enige aanlynverkoop.  Die e-boek sal begin-Oktober op Amazon beskikbaar wees.

Groot nuus is dat hy hoop om sy eerste roman in 2025 te publiseer e nook so te versprei. –met die vertroue dat hierdie sakeplan suksesvol gaan wees.

 Is sy wye ondervinding bydraend tot die boek en hierdie sakeplan?

 “Ek werk as ’n bestuurskonsultant rondom verandering, kultuur en prestasie in die sport- en sake-omgewing. Veerkragtigheid is ’n hoeksteen van hierdie werk en keer-op-keer sien ek dat mense wat suksesvol is, ongeag terugslae, mense is wat eienaarskap neem.”

“In hierdie lig wil ek liewers die verantwoordelikheid vat, en risiko bestuur, maar dan ook op die einde daarvoor vergoed word.”

Of hy nou skoolsale vol leerders aanpor tot veerkragtigheid,  atlete van verskeie aktiwiteite tot groter hoogtes, dieptes en afstande motiveer, boekgesprekke met skrywers vernuftig lei of bloot net met aandag luister en reageer op almal om hom—hy het ’n teenwoordigheid en ’n oor. En hy bemoedig.

“Ek hoop die boek – as individuele stories maar ook as geheel – is iets wat mense laat lag, laat dink, laat oorweeg, laat reflekteer en laat voel.  Dis die krag van boeke.  En veral dan in hierdie tye waar sosiale media al hoe meer ’n wapen word en al hoe minder genuanseerde gesprekke toelaat. Ek wil niemand van niks oortuig nie.  Dit bly die grootste voorreg dat mense my woorde wil lees en daarop reageer en nou gaan daar ‘n konkrete iets wees wat hulle in hul gaan kan vashou.”

Dis met voorbarigheid, dalk, dat ek Gielie ’n nabye vriend, vertroueling en steunpilaar kan noem. Ons is deel van ’n drieledige, drie-generasie skryfgroepie wat weekliks bymekaargekom het en om ’n tafel gesit en skryf het en ook skryfwerkwinkels saam bygewoon het. Soms het ons etery ingemeng met die konsentrasie, maar Michele Meyer se treffer Moer is gepubliseer en siedaar hier is Naam Van Dier Dorp. En ons wag vir die roman in 2025.