GEMENE GROND

In Afrikaans beteken plaas ook plek en vir baie Suid-Afrikaners is die plaas die plek waar hulle vandaan kom, waar hul wortels is; dit is dus meer as bloot eiendom – dis ’n hoogs emotiewe begrip soos THERESA PAPENFUS verduidelik.

GEMENE GROND

Photography
 

In Afrikaans beteken plaas ook plek en vir baie Suid-Afrikaners is die plaas die plek waar hulle vandaan kom, waar hul wortels is; dit is dus meer as bloot eiendom – dis ’n hoogs emotiewe begrip soos THERESA PAPENFUS verduidelik.

 

 

Waarom fokus op plaasmoorde? 

My familie boer nie. My vriende en kennisse ook nie. Maar wys my deesdae ’n windpomp en ’n grensdraad en ek kyk lank. Daar is iets aan ’n windpomp wat vertel van ’n plan maak, van werk en hoop en opkyk vir uitkoms. Grensdrade beklem my. Hulle hou dalk die honde binne maar niks of niemand uit nie. 

Ek lees nie alles oor plaasmoorde nie. Wie wil nog weet van marteling met skroewedraaiers, tuinvurke, snoeiskêre, warm strykysters of elektriese bore, en mense wat bid om te sterf? Dis erg genoeg dat ’n buurvrou se pa en haar broer op ’n plaas vermoor is. En die vreemde vrou wat my en die labrador in die straat voorgekeer het, bly my steeds by. Sy het gevra of ons reun by hulle teef mag kuier, want die kinders vra hondjies. Vandat hul oupa en ouma op die plaas vermoor is, hoor ek later, hou die kinders nie op om te neul oor hondjies nie.

Om jou oor plaasmoorde te ontstel, is nie in nie. Dis eintlik verdag. Dis gevaarlik en jy kan maklik regs lyk, rassisties selfs as die lot van boere en werkers jou raak. Tel dus jou woorde. Jy wéét nie hoe gaan dit op die plase nie, of die werkers billik vergoed en menswaardig behandel word nie. Almal weet tog boere is haastige, regse manne in tweekleurhemde wat in hul bakkies rondjaag met werkers agter op. Hulle vang sotlike goed aan en skiet vir niks. Veg met oorgawe vir ons weerlose renosters en ons donkies en verguis mense wat hulle mislik gedra, ander beledig en hul gevoelens krenk. Gedenk die sondes van drie eeue voordat jy iets oor plaasmoorde sê. Dit kan aanstoot gee.

“Kill the boer, kill the farmer.” ’n Stadion is genoem na die voorsanger in hierdie koor. Hy is self al oorlede, maar die woorde leef nog. Met gevolge. Dalk was die kreef veronderstel om teen dié tyd daaraan gewoond te wees, want boeresimpatiseerders praat hulle maklik vas.

My ouma Annie was ’n soort boeresimpatiseerder.

So, dalk word ek oud, dalk is dit in my bloed. Ouma Annie het die arme boere altyd bejammer. Sy het haar vasgepraat, en ons het vir haar gelag. Ouma Annie het haar nooit oor boere se veiligheid bekommer nie. Daar was geen woord soos “plaasmoord” nie. Ouma Annie was begaan oor die stryd teen die natuur, siektes, droogte, sprinkane en pryse wat net klim, die hemel weet waarheen. 

My pa het sy skoonma reggehelp. Sy kan haar eerder oor die arme onderwysers bekommer as sy oortollige simpatie het, het hy een Sondagmiddag aan tafel gesê. Onderwysers werk hulle dood, word te min betaal en nie genoeg waardeer nie. Die boere kla met die witbrood onder die arm. Hulle het vleis, eiers, melk en botter in oorvloed. As hulle piep oor ’n bietjie droogte, snel die regering hulle te hulp en siedaar, die volgende ding waarvan jy hoor is nóg ’n rekordoes! Nes die vorige jaar. Dan koop al wat boer is ’n nuwe trekker, en ’n Mercedes sommer ook.

Ouma Annie het effentjies gesug en haar vurk neergesit. “Ja Charlie.” Haar mond het twee dun strepies geword. “Maar darem tog …”  Sy het iets genoem van ’33 se groot droogte, ’n ou storie oor Friesland, die plaas in die Oos-Kaap waar my ma grootgeword het. Ons het baie gehoor van die jaar toe die bodem uit die wolprys geval en oupa Flip byna niks gekry het nie, selfs vir die mooiste wol. Daar was die vreeslike droogte, toe Oupa pasgebore lammers keelaf moes sny om die ooie te red. Hul leë geblêr het dae lank oor die veld opgeklink. Ek was bly my pa boer nie.

My ma het mooier stories ook gehad. Van hulle plaasmaats, wat Xhosa gepraat het. Van skeertyd, toe spanne uit Transkei opgedaag het, stofbruin skape tussen hul knieë vasgedruk en die skêre deur die digte vag laat flits het. Wanneer die dier vrygelaat is, was hy koel en lig en wit, so mooi soos ’n prentjieskaap in ’n storieboek.

Een jaar het die kapok so dik gelê dat die kinders ’n sneeuman kon bou. ’n Paar half verkuimde lammers is in die kombuis ingedra en voor die koolstoof neergesit. Die stoof het lewe gestraal soos ’n warm ma en die lyfies het op die vloer begin roer. Toe my broer gebore is, het my ma vir hom die wiegeliedjies gesing wat sy by ’n Xhosavrou op Friesland geleer het. Voor haar dood het sy beroerte gekry. Toe sy bykom, het sy Xhosa gepraat en die verpleegsters uit die Oos-Kaap se witbroodjie geword.

My pa het ook plaasstories gehad. Hy was van ’n Bolandse plaas waar sy mense geslagte lank geboer het. Hulle het geweet van raap en skraap en bid vir uitkoms. Ook hulle het die Groot Depressie beleef toe die wynmark in duie gestort het. Die boere moes hul vate onder die toesig van die aksynsbeampte leeg tap. Filemon Baadjies was bitter ontsteld en het die oordeel oor oupa Johannes aangekondig. Die seur sal swaar gestraf word vir hierdie gruwelike sonde, hierdie vermorsing van goeie wyn, het Baadjies waarsku, “dit terwyl die Here wyn uit water moes maak”.

 Albei oupas is lank voor my geboorte dood. Ek skat hulle het hul sondes gehad, al het my ouers met respek en deernis oor hulle gepraat. Van oupa Flip weet ek dat hy almal wat oor sy grond getrek het na beter weiding, huis toe genooi het. Ouma Annie was altyd gereed vir minstens drie onverwagte eters.

Oupa Johannes het glo meer van boeke as van boerdery gehou. Blykbaar was hy ook nie ’n wafferse sakeman nie. Die ses pond wat ’n koper hom vir ’n bees aangebied het, het hy as onaanvaarbaar afgewys. “Ek ken hierdie bees,” het mense hom hoor sê.  “Ek weet hy is nie ’n pennie meer as vier pond werd nie.”

Oor die plase van my ouers se kindertyd het ek net uit stories geken. Die enigste plaas wat ek beleef het, is op die Vrystaatse vlaktes, waar ons soms gekuier het. Dit was ’n spogplek wat geslagte lank aan die familie behoort het. Tydens die Anglo-Boereoorlog is die plaas verwoes en die vroue en kinders konsentrasiekamp toe geneem. Ná alles het hulle teruggekom en gewerk met wat oor was. Die beeldjie van fyn, gekleurde porselein is weer opgegrawe uit die wegsteekplek teen die koppie agter die huis. Dit het ’n ereplek gekry, amper perfek behoue. Net die punt van die porseleinhond se neus, wat effens bo die grond uitgesteek het, is verweer. 

Die huismense het ander kleinode ook uitgestal. Daar was ronde klippe wat hulle in die veld gekry het. In die middel was netjiese gate, getuienis van die eerste mense van die land wat hul pyle skerpgemaak het toe hulle daar rondgetrek het en gejag het. En gejag ís. Gemene grond lê vol stories.

Wanneer ons gaan kuier het, het my ma klere vir die werkers en hul kinders saamgebring. Petrus en Mieta het aansien gehad. Petrus was doenig by die perde. Dis hy wat hulle versorg het, die wildstes kon ry, die jonges getem het. Die mak skimmels Rex en Bluebird was saam in die kampie om die groentjies te kalmeer. Die plaas was so bekend om sy perde dat die blinkbruin Figaro selfs vir ’n cowboy-fliek gebruik is. Kopers van oorsee het vullens uit dié stalle kom kies. Voor hul koms het Petrus gekeer en gepleit. Wanneer ’n gunstelingvul verkoop was, was hy so kwaad en bitter dat hy soms dae lank nie met sy werkgewer wou praat nie.

Ons gasheer sou hom nie aan ’n werker se nukke steur nie. Dit was sy plaas en hy het gedoen wat vir hom reg gelyk het. Soos ander boere het hy ’n skooltjie laat bou, ’n gekwalfiseerde onderwyser aangestel en sy salaris betaal. Petrus se jongste kind het uitgeblink. “Hierdie kind van jou is slim, Petrus. Jy moet kyk dat hy leer,” het hy beveel. “Ek sal betaal.” Dit het so gebeur, en die seun het ’n gerekende radioloog geword.

Jare later het my broer met sy eerste liefde getrou. Die onthaal was in die tuin en die werkers het gesing vir die meisiekind wat voor hulle grootgeword het en die seun wat hulle al so lank ken. Toe het Petrus opgedaag, ouer, maar regop en deftig op die rug van die spierwit Arabierhings wat net hý kon ry. Hy het Vodka se leisels ingetrek, na die bruidspaar gedraai en ’n toespraak gemaak wat geïnspireer is deur lewenservaring en vog.

Die plaas behoort nie meer aan my skoonsus se mense nie, nes die plase van my grootouers. Ek wonder wat van Petrus en Mieta se ander kinders geword het, waar Filemon Baadjies se mense nou is, of die nasate van die vrou wat my ma help grootmaak het.

Ek weet nie of daar nog op Friesland geboer word nie. Die wynplaas het ’n woongebied geword. Die ou opstal staan nog, en van die strate is na my mense genoem. Ons seun woon in die omgewing, naby die plek waar sy oupa druiwe getrap en koekemakrankas gesoek het tussen die varkore in die vlei.

I had a farm in Africa.

Iewers was ’n plek waar ook my mense was, waar my manier van dink en doen beslag gekry het lank voor my bestaan.

Nostalgie vertel nie die hele storie nie, dit weet ons. Die ruimte van weleer was ligjare van Eden af en die distels en dorings, die onreg en onmin was wit in die blom. My verste voorsate het selfs slawe gehad.

Wanneer hulle oorneem, sê ’n man in ’n rooi werkersoorpak en ’n duur horlosie aan die arm, sal Afrikanermans hulle plek ken.

Sy woorde is groter nuus as die plaasaanvalle kort daarna. Ek onthou my eertydse buurvrou en die vrou wat hondjies wou hê om die kinders te troos. Ek dink aan al die slagoffers wat elke week meer word. Was hulle rassiste? Almal? Sê nou hulle was almal vreeslik sleg, bars en onbillik deur die bank. Kon hulle dan maar ly, sterf? Dalk was hulle knap en talentvol, soos die baas van die Vrystaatse plaas, of staatmakers soos Petrus en Mieta. Sou hul moorde dan ontstel het? Dalk was hulle doodgewoon, soos die oupas wat ek net uit foto’s geken het, of die vrou wat vir my ma Xhosawiegeliedjies geleer het, of  legendes soos Filemon Baadjies wat deel is van die storie van my mense. Sou hulle lot dan getel het? 

Die ou familiekerkhof van die wynplaas bestaan nog. Dis mooi versorg, net langs die roostuin wat oumagrootjie Bella se trots was. Soms hou ek daar stil en lees die name van verre voorsate op die stene.

“Bury them alive!” skree ’n adjunkminister toe ’n bespreking van plaasmoorde uiteindelik in die parlement plaasvind. Sy kollegas lag. Min het die bespreking bygewoon.

Moord is die grofste skending van die eerste mensereg. In Afrikaans beteken “plaas” ook “plek”. Wat het ’n mens in plaas van jou plek?

Daarom steur ek my aan plaasmoorde, verstaan ek nie die stille aanvaarding wat ander se lewens kos nie. Hulle het getel, hierdie mense. Elkeen, al ken ek niemand nie. Wat maak dit saak of hulle goed was of sleg, ryk of arm, wit of bruin of swart, mans of vroue, oues, kinders, babas, mense in hul fleur of bejaardes in rolstoele, uitblinkers of sukkelaars, regs of links, dwars of voorbeeldig? Of ’n bietjie van alles, gewone landsburgers wat wil werk en leef? So is ek ook, van dieselfde stof. 

Syfers tel gevalle.

Wit kruise gedenk.

Grensdrade beskut ’n klompie wat alles verskaf wat ek eet. Hulle was die baanbrekers van ons samelewing. Hulle sal die bittereinders ook wees. Dis hulle  wat weet ons slaag deur eie pogings, maar volkome uit genade. Dis die boere wat ’n plan sal maak, vandag en môre.

En so lank as wat hul plek hulle nog ken.

*Waar persone of hul naasbestaandes nie geraadpleeg kon word nie, is hul name verander of verswyg.