ek’t jou sag gedra –

soos ‘n laatlam

jou laat groei in die

vrugkleur van ink en

verwonderd gestaar toe die

massa deel in ‘n duisend vlerke

 

maar ag

kyk hoe vergeet nóg ‘n droom

homself in die oorskot van beloftes en

kyk hoe draf ‘n jakkals weg met

nageboorte in sy bek

 

jy kón die hemel uitskryf soos ‘n duif

maar die musiek wou nie speel nie en

die wind se voete kon nie dans nie

toe bly sy weg

 

maar jakkalse moet eet

en drome bly maar prooi

en kraaie sal als wat blink uit

die vrugsak pik –

en mense ook

 

ek’t jou sag gedra

so vreeslik sag gedra

maar sterre wat doodbrand

breek soos blare

 

francisgrobler2018©