EKSOTIESE VERSKANSING

Toe die pandemie sy kop nog liggies uitgesteek het en die idee van maskers eksentriek en amper opwindend was, het hierdie produksiespan van DeKat daarvan ’n eksotiese mode-oomblik gemaak. Sonder die verwagting dat publikasie gekniehalter gaan word en ons vir twee jaar permanent met maskers sou moes loop. Of dalk vir altyd.

Eksotiese verskansing

Photography

 

Toe die pandemie sy kop nog liggies uitgesteek het en die idee van maskers eksentriek en amper opwindend was, het hierdie produksiespan van DeKat daarvan ’n eksotiese mode-oomblik gemaak. Sonder die verwagting dat publikasie gekniehalter gaan word en ons vir twee jaar permanent met maskers sou moes loop. Of dalk vir altyd.

Elzilda Becker, die redakteur en uitgewer, wou by die dieper betekenis van maskers uitkom: “Hoe dit jou verander, hoe anders mense lyk met maskers op. Of hoe dit deur die eeue gebruik is om iets weg te steek of iets te beklemtoon soos met die halfmaskers in die Ooste, of heeltemal soos in Venesië dat jy iemand anders kan word. Ek het geweet ERRE se klere gaan werk, Erika Groenewald se juwele sou daarby pas, Saadique Ryklief sou die hare reg doen en ek natuurlik hou altyd daarvan dat Merwelene my goed skiet. Toe kry ek vir Karin Orzol om alles bymekaar te trek.”

Die pret van 2019 met die skiet van die modeartikel van hierdie uitgawe is nog vars in die geheue van almal wat saamgewerk het: Die fotograaf, Merwelene van der Merwe, Elzilda Becker, maker van eksotiese maskers, ontwerpers Carina Louw en Natasha Jaume, haarstilis Saadique Ryklief; juwelier Erika Groenewald; grimeerkunstenaar Lesley Whitby en Karen Orzol wat die produksie hanteer het.

Die maskers is deur almal deur Becker self gemaak. Sy het leer gesny en gevou en gestik. Vir die een is selfs vyf maskers bo-op mekaar geplak en kan die draer die wêreld uit verskillende hoeke bekyk. Die een wat amper soos ’n kraag die gesig van agter omraam, is om te aksentueer. Net soos die een van stringe groot pêrels. “Die inspirasie is Venus wat uit die skulp verrys en dat pêrels nog altyd vleiend vir vroue was. Jou vel lyk altyd mooier langs pêrels.” ’n Spieël wat sy in skerwe gekap het, het ’n masker geword waarvan sy die meeste hou.  Maar uit versigtigheid is dit liewer op ’n winkelpop vir die foto.

“Ek het die idee van maskers só interessant gevind, want dit verskans ons ware self en word gekies om ’n beeld voor te stel van hoe ons wil hê ander ons moet sien,” sê Ryklief. Vir die stilering en haarstyle het hy van oordrewe strukture en vorms gebruik gemaak om die kompleksiteit van vroue uit te wys. “Dit kan gesien word uit die wye reeks se verwysing na Middeleeuse, Barok en futuristiese beelde. Die ongemak wat deur die Handmaid’s Tale-voorkoms ontlok word, is juis sodat vrae gevra word oor die objektivering van vroue terwyl dit ’n sterk en kwellende skoonheid weergee.”  Ryklief het die model Iman Mohidien vir die sessie gekies. Hy spreek die hoop uit dat ons na ’n post-Covid-tyd kan uitsien, maar glo hierdie foto’s sal die tyd van maskers verewig.

Carina Louw en Natasha Jaume, die ontwerpers en eienaars van die modehuis ERRE, is ’n kreatiewe span par excellence.  Hul klere wat vir hierdie artikel gekies is, het sterk silhoeëtte en het uitstekend gewerk saam met die bonkige juwele van Erika Groenewald, grimering deur Lesley Whitby en indrukwekkende haarstyle en maskers om die strakheid verder uit te dra.  Altwee dink terug aan die pret wat hulle met die dag se skiet gehad het (asook die Bravo TV-insetsel). Dis nie twee prima donnas nie, hulle is gemaklik en dink wyd en in skoon lyne.

Milner Fashion House, waar ERRE se reekse gemaak en vertoon word, het sy deure in 2020 Waterkloof, Pretoria, oopgemaak, maar Louw en Jaume span al sedert 2012 hul kennis en kundigheid saam in. Sedert hulle in 2013 by die SA Modeweek opslae gemaak het, word hul reekse op nasionale en internasionale loopvlakke gesien, die laaste daarvan verlede jaar in Oktober in Parys, Frankryk.

“Wat jy dra, is hoe jy jouself aanbied,” sê Groenewald wie se gesogte juwele gebruik is.  Sy haal vir Miucca Prada aan wat gesê het dat mode onmiddellike taal is.

Haar passie is vir ontwerp en argitektuur. Groenewald het ná ’n suksesvolle deelname aan ’n uitstalling einde 2012 haar unieke reeks in 2014 bekend gestel.  Vir haar stukke uit staal en halfedelgesteentes word sy geïnspireer deur industriële ontwerp en moedige stellings. Sy werk ook in opdrag in goud en ander gesteentes en sorg vir nuwe ontwerpe dwarsdeur die modeseisoene.

Groenewald se werk is gereeld op die loopvlak op die SA Modeweek te sien en as hoogpunt deel van die modeweek in Milaan in 2019.  Die ongewone en treffende juwele word ook gereeld in etlike publikasies vertoon.

“Ons het die wonderlikste dag saam met Elzilda en die span van DeKat gehad,” onthou Karin Orzol, die koördineerder.  “Wanneer ’n kreatiewe groep mense  koppe bymekaarsit, kom die inspirasie en magic.”

Die meesterlike oog van Merwelene van der Merwe het die werk van al die skeppers saamgevang en verbeeld. Die studioskote is later met tegnologie teen verskillende agtergronde geplaas wat grootliks tot die krag van die idee bygedra het.